deur Totius
Daar het ‘n doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.
En eendag kom daarlangs
‘n ossewa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.
“Jy het mos doringstruikie
my anderdag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie plat getrap.”
Die ossewa verdwyn weer
agter ‘n heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.
Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.
Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.
Ook het die loop van jare
die wonde weggewis –
net een plek bly ‘n teken
wat onuitwisbaar is.
Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.
Die volk van die Boere kan nie op ewigheid van selfgenesing of heropstanding droom nie.
Die Boere is besig met stomp en steel uitgeroei te word. Of is die Boerevolk reeds dood?
As daar nog n’res van lewe in die Boerevolk is is nie erder die volgende oproep van Totius van toepassing?
Kom burgers, trek die perde reg;
nou vrou en kind goeien-dag geseg.
Jongkêrels, los die nôi se hand;
en seuns, verlaat jul moeders, want
daar gaan ’n strydroep deur die land!
Gryp nou die teuels by mekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
Die regterhand gryp die visier,
die bors oorkruis ’n bandelier;
die spore in die sonskyn blink,
stiebeuels teen mekaar weerklink,
die ketel aan die saal rinkink.
Kom burgers, hou nou by mekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
Laat aan die trippelaar sy pas,
maar hou die vuurge hengste vas.
Die agterstes moet ingalop
tot midde in die ruitertrop—
die ponie en die bossiekop.
Kom burgers, ry so by mekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
Trek burgers, almal nou geteld,
al vort maar deur die wye veld;
en of jul al omlaag verdwyn,
of op die heuwels weer verskyn—
wys steeds die volle slingerlyn.
Kom burgers, trek so by mekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
Jaag burgers, jaag oor rant en rots,
wanneer jul teen die vyand bots.
Ruk in, spring af en pos gevat
aan die onverwrikb’re ryperd-blad.
Mik fyn, kyk waar die stoffie spat!
Staan burgers, staan dan by mekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
En moet jul val, val dan met eer,
met d’oog die vyand toegekeer!
Val op die grense, man en perd,
die oue vierkleur is dit werd
en d’ eerkroon wink al uit die vert’.
Val burgers, val dan by mekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!