brexit-leave-celebration-7Vroeg verlede Vrydagoggend het die trane oor die wange van Christine Amanpour, die bekende CNN-joernalis, geloop. Amanpour, deel van die ou orde op nuustelevisie, kon tydens ’n regstreekse uitsending vanuit Londen haar skok en teleurstelling met die uitslag van die referendum oor die Verenigde Koninkryk se lidmaatskap van die Europese Unie, nie keer nie.

Amanpour was nie alleen nie. Sou jy vroeg Vrydagoggend tussen televisiekanale skakel sou jy van die een skokbeeld na die ander gaan. Die pyn was sigbaar op die gesigte van joernaliste en kommentators wat almal geglo het dat die gewone mense in Brittanje nie sovêr sou gaan om op te staan en te sê: Genoeg is genoeg nie.

Die groepering van politici, sakelui, akademici en skyn elitistiese denkers wat oortuig was dat ’n meerderheid van kiesers sou stem om in die EU te bly, kon Vrydagoggend nie hul skok en teleurstelling keer nie. Daar was werklik tussen hierdie mense die oortuiging dat die meerderheid van Britte soos getroue stemvee hul sogenaamde goeie raad sou volg.

Toe die Europese Unie na die Tweede Wêreldoorlog tot stand gekom het, was die bedoelings suiwer. Europeërs moes nooit weer die wapen teen mekaar opneem nie. Deur die skep van ’n organisasie met gedeelde belange sou samewerking en vertroue geskep word, wat sou verhoed dat Europa se verlede van bloedige oorloë herhaal sou word.

Wat het sedertdien gebeur? Soos wat die EU in Brussel, België gevestig geword het, het die burokrate die een plan na die ander beraam om politieke en ekonomiese funksies en uiteindelik mag na hulself op te wentel. In 1952 is ’n Europese hof in Luxemburg ingestel en sedertdien moes talle Europese lande sien hoe beslissings van hul eie howe sekondêr tot beslissings van die Hof van Justisie van die Europese Unie gestel is.

In 2002 is die Europese geldeenheid, die Euro, ingestel en monetêre eenheid in Europa is as ’n belangrike prioriteit geïdentifiseer. Sedertdien het talle lande in Europa berou ontwikkel oor hul besluit om hul eie geldeenheid vir die Euro te verruil. In 2014 het die Europese Sentrale Bank sy nuwe hoofkantoor in Frankfurt, Duitsland betrek. Die gebou wat aanvanklik 500 miljoen Euro moes kos het teen sy voltooiing ’n allemintige 1,2 miljard Euro gekos.

Vandag werk byna 200 000 mense vir die Europese Unie en al sy burokratiese filiale en afdelings. Die Europese Unie se jaarlikse begroting is byna 150 miljard Euro wat deur die 28 lidlande betaal moet word. Die sowat 350 miljoen Pond per week wat deur die Britte aan die EU betaal is, sal binnekort deur ander lidlande opgemaak moet word.

Vandag sien ons in talle Europese lande hoe begrotings op bejaardesorg, onderwys en veiligheid besnoei word, hoe onwettige immigrante oor grense stroom en hoe besluite oor die lot van Europese volkere deur burokrate in Brussel geneem word. Sewentien miljoen Britte het verlede week besluit dat hulle genoeg hiervan gehad het. Die skynelite van verontwaardigdes sal vinnig moet besef dat hierdie net die begin van die herstrukturering van verhoudinge in Europa is.