fbpx

inlPicsCopy of PN EFF5521Ek kon nie help om die berig op Maroela Media oor die EFF se politieke werwing in Hermanstad met skeptisisme en teleurstelling te lees nie. Skepties is ek oor die hoop wat die gemeenskap het dat daar heil by die EFF te wagte is. Vermoedelik word die EFF gesteun omdat hulle beloftes bied oor grond en behuising. Moontlik uit vrees. Opportunisties gebruik die EFF die geleentheid om te wys dat hulle as party ook wit steun kan kry.

Aan die ander kant is ek teleurgesteld in die sogenaamde vryheid wat die nuwe demokratiese bedeling in Suid-Afrika klaarblyklik bied, maar dat dit in realiteit op marginalisering van minderhede uitloop. Nie net is ek teleurgesteld in die bedeling waarmee ons te doen het nie, maar ook in die wyse waarop daar binne die Afrikaanse gemeenskap ʼn reuse kloof tussen ryk en arm ontstaan het. Terwyl die rykes dit kan regkry om hulself teen die demografiese verskuiwings te verskans, is arm blankes oorgelewer aan ʼn onbarmhartige lot.

Uit my eie ervaring kan ek net ʼn paar probleme noem waarmee arm blankes op ʼn daaglikse basis te doen kry. Meeste van hul kan nie medies bekostig nie en moet van staatshospitale gebruik maak. Taxi’s moet gebruik word vir vervoer. Dwelms en drank is probleme wat gesinne verwoes. Hul moet ook blyplek vind in minder gegoede gebiede, waar misdaadsyfers gewoonlik hoër is. Hul word slagoffers van geweld, diefstal, gesinsverbrokkeling en verwaarlosing deur hul eie mense. Jong kinders loop op straat rond, sonder dat hul ouers iewers opgemerk word. In baie gevalle maak oupa en ouma die kleinkinders groot. Dit is maar net wat ek van binne die veiligheid van my eie motor al opgemerk het.

Vanweë die skeiding tussen arm blankes en ryk blankes ten opsigte van die onderskeie woongebiede, het ons in die reël al hoe minder bewus geword van die nood van mede-Afrikaners. Hoewel daar verskeie organisasie soos Helpende Hand is wat dankbaar hiermee, help is die mees fundamentele probleem dat ryk en arm Afrikaners vandag in verskillende wêrelde leef en byna van mekaar vergeet het.

Die arm blanke vraagstuk gaan nooit volkome opgelos word nie. Die Bybel leer ons dat daar altyd rykes en armes sal wees. Tog meen ek dat ons ʼn verantwoordelikheid het om beter om te sien na mede-Afrikaners wat in armoede verkeer. Hiermee sê ek nie dat ons net ʼn verantwoordelikheid het om na arm Afrikaners om te sien nie, maar wel dat die verantwoordelikheid die swaarste weeg en prioriteit behoort te geniet.

Om behoorlik na mekaar om te sien, is dit nodig om mekaar meer te sien. Dit is nodig dat ryk en arm nie in aparte wêrelde leef nie maar tussen mekaar, sodat die wat meer ontvang die kan help in nood. ʼn Gemeenskaplike grondgebied kan dus ʼn groot stap vorentoe wees. Sou ons nader aan mekaar woon, sal ons ook meer bewus word van mekaar se lyding en ook beter weet hoe om hand by te sit. Hoewel die demokratiese bedeling waarin ons leef vir verskeie individue geweldige voorspoed gebring het, blyk dit nie die geval vir die Afrikanergemeenskap as ʼn geheel te wees nie. Die armblankes in Hermanstad wat die EFF steun is maar net ʼn simptoom hiervan.