Laat ons nou nie ook Oikofobies raak nie

Oikofobie‘n  Jong en begaafde Nederlandse skrywer het behoorlik die kat in die hoenderhok losgelaat met twee opspraakwekkende boeke wat die afgelope twee jaar uit sy pen verskyn het. Thierry Baudet publiseer gedurende 2012 die boek De Aanval op de Natiestaat waarin hy ‘n sterk argument lewer vir die behoud van die nasiestaat in Europa. Baudet se boek lewer ‘n kritiek op toenemende pogings van die politieke elite in Europa om die nasiestaat af te breek deur landsgrense meer irrelevant te maak en sodoende een groot Europa te verwesenlik.

Vanaf 1 Januarie vanjaar kan burgers van Bulgarye en Roemenië, beide redelike arm Oos-Europese lande, sonder enige toestemming in ander lidlande van die Europese Unie gaan werk. ‘n Groot meerderheid van Nederlandse burgers is ten sterkste hierteen gekant omdat dit werksgeleenthede van Nederlanders ontneem en salarisse afdwing wat weer tot ‘n swakker lewenstyl kan aanleiding gee. Ten spyte van die groot teenstand onder gewone Nederlanders, steun die oorgrote meerderheid van politici in Nederland egter wel die verdere oopgooi van Nederland se reeds byna onsigbare landsgrense.

Baudet vra in sy boek die belangrike vraag oor of die wêreld werklik meer vry en veilig sal wees indien die nasiestaat wat op ‘n basis van gedeelde waardes en ‘n gesamentlike kulturele identiteit gebou is, stelselmatig afgebreek word.

In opvolg op hierdie belangrike vraag skryf Baudet in sy onlangs gepubliseerde boek, Oikofobie, oor die rede waarom daar so ‘n aanslag op die nasiestaat in Europa is. Oikofobie volgens Baudet, is ‘n angs vir die eie. Oikofobie staan teenoor xenofobie wat ‘n angs vir mense anders as jy beteken. Een van die gevolge van die Tweede Wêreldoorlog, asook die aftakeling van kolonialisme is dat Europeërs ‘n vrees vir hul eie identiteit ontwikkel het. In Nederland speel dit af deur die drang na globalisme. Die aantal Nederlanders wat hul kinders na Engelse skole stuur, iets wat enkele dekades gelede nog totaal ongehoord was, styg skerp en Nederlanders probeer toenemend “globaal” oorkom.

Terwyl ons as Afrikaners nog debatteer oor patriotisme word patriotisme in Europa gelykgestel aan rassisme en Naziïsme. Baudet skryf dat Oikofobie daartoe lei dat Nederlanders hul waarde in die wêreld gering skat en dat hulle voortdurend daarna streef om deur goeie gebruik van Engels ‘n mate van aanvaarding te kry en afstand van hul eie identiteit te skep.

Volgens Baudet is daar drie oorsake van Oikofobie naamlik die uitdagings wat ‘n toenemende multikulturele samelewing in Nederland vir sy burgers inhou. Verdere redes vir Oikofobie is die globalisme wat deur Europese integrasie aangedryf word en die moderne kunste.

Die Afrikaner beleef vandag ook toenemend ‘n soort Oikofobie. Veral in die media moet ons gedurig Afrikaners hoor wat probeer om tog nie te Afrikanerrig oor te kom nie. Die drang om in ‘n globale wêreld aanvaar te word laat mense selfs verengelsing op hulself afdwing. Ook die moderne Afrikaanse musiek, boeke en teater lewer ‘n groot bydrae hiertoe. Net ‘n besef dat jy ten spyte van ‘n liefde vir identiteit steeds suksesvol kan wees, sal hierdie probleem kan teenwerk. Afrikanerorganisasies sal op moderne wyses ons mense weer trots op hul Afrikaneridentiteit moet maak.

Laat Sharon ons van pragmatisme leer

Die afgelope naweek is een van die grootste leiers wat Israel nog opgelewer het, Ariel Sharon, oorlede. Sy dood is ‘n soort anti-klimaks nadat hy vir sowat agt jaar in ‘n koma was. Sharon het op 4 Januarie 2006 ‘n beroerte gehad. Op daardie stadium was hy op die kruin van sy politieke loopbaan.

Wat Sharon se loopbaan merkwaardig gemaak het, was sy sterk verbintenis tot ‘n volhoubare Israel. Hy het reeds in 1948 as jong soldaat naam gemaak in die Onafhanklikheidsoorlog. Sharon word vandag nog beskou as een van die beste bevelvoerders wat die Israelse regering ooit opgelewer het. Hy was nie net ‘n goeie bevelvoerder nie, maar ook ‘n uitmuntende militêre strateeg wat lof verdien vir vele van Israel se militêre suksesse.

Sharon was vir die grootste deel van sy loopbaan ‘n voorstander van die oprigting van Israelse nedersettings in die Palestynse gebiede van die Gaza-strook en die Wesbank. Kort nadat Sharon in 2001 Eerste Minister van Israel geword het, het hy egter ‘n ander deuntjie begin sing. In 2004 kondig hy die onttrekking van Israel uit die Gaza-strook aan. Volgens alle verwagtinge was sy plan om gedurende 2006 met onttrekkings uit die Wesbank te begin. Sharon se patriotisme teenoor en liefde vir Israel kan nie betwyfel word nie. Hy is egter as ‘n verraaier uitgemaak omdat hy besette dele van die Wesbank aan die Palestyne wou teruggee.

Kyk ons na die Israel van vandag besef ons dat ‘n volhoubare Israel sal afhang van vrede met die Palestyne en vrede met die Palestyne sal net moontlik wees indien Israel uit groot dele van die Wesbank onttrek. Daar is natuurlik ander vereistes soos dat die Palestyne alle aanvalle op Israel moet staak, ook, maar die hoof struikelblok vir vrede is tans die groot aantal Israelse nedersettings in Palestynse gebiede.

Wanneer ‘n mens buite die praktiese politiek staan en nie self vir die oplossing van moeilike vraagstukke verantwoordelik is nie, is dit maklik om suiwer beginsels te handhaaf. Sharon se lewe is ‘n voorbeeld daarvan. Voordat hy Eerste Minister was, was dit maklik om ‘n voorstander van Israelse nedersettings in Palestynse gebiede te wees, terwyl jy ook ‘n permanente oplossing vir die Israel-Palestynse vraagstuk wou sien gebeur. Toe hy Eerste Minister word, het dit hom gedwing om nuut na die vraagstuk oor nedersettings te kyk.

Die Israelse voorbeeld herinner ons tog aan die Afrikaner van die 1980’s. Die meeste Afrikaners het in daardie jare nog geglo dat die Afrikaner vir altyd beheer oor die hele Suid-Afrika sou behou. Geen plan wat die opoffering van dele van Suid-Afrika voorgestel het ten einde vir die Afrikaner ‘n volhoubare tuiste te verseker, het steun geniet nie.

In 1994 het ons, ons Vryheid verloor. In ons strewe na selfbeskikking sal die Afrikaner meer pragmaties en minder kieskeurig moet wees.

Afrikaners moet konserwatiewe tradisie herstel

Afrikaners het ‘n lang en mooi geskiedenis van konserwatisme. Reeds aan die begindae is die konserwatiewe agrariese kultuur van die Nederlanders wat in die Kaap gevestig het en die sterk waardes en diepe geloofsoortuigings van die Hugenote uit Frankryk saamgevoeg in ‘n besonderse konserwatiewe kultuur.

Terwyl die res van die Westerse wêreld gedurende die 1960’s en 1970’s in opstand teen die konserwatisme gekom het, het Afrikaners steeds tot in die 1990’s grootliks hierdie kultuur behou. Gedurende die laat 1980’s het meer as 80% van Afrikaners nog weekliks kerk toe gegaan.

Vandag sien ons egter dat Afrikaners in allerhande rigtings van sy konserwatiewe wortels afdwaal. Met die opkoms van vêrregse organisasies in die 1980’s is die persepsie ook geskep dat konserwatiewe Afrikaners en regse Afrikaners dieselfde ding is. Daar is egter ‘n groot verskil. Konserwatiewe mense glo in die voortdurende behoud van die goeie en om deur die aanvaarding van realiteite om ons die beste uit ons verlede te neem en daarmee ‘n realistiese beter toekoms te bou.

Konserwatiewe mense is pro-aktief, maar versigtig en beginselvas, dog buigsaam en realisties. Konserwatiewe mense is ook op die positiewe ingestel en glo in die roeping en die moontlikheid om in moeilike omstandighede steeds gelukkig en suksesvol te wees. Konserwatiewes laat hulle deur hul beginsels en die werklikhede om hulle lei terwyl regses meestal deur emosie gedryf word.

Regses is meestal ook beginselvas en opregte Afrikaners wat diep besorg is oor hul mense. Hulle is ongelukkig dikwels ook reaksionêr en  glo veel meer in revolusie en grootskaalse verandering ten einde by hul doelwitte uit te kom. Sulke Regse bewegings hou risiko’s vir die Afrikaner in, omdat diesulkes nie besorg is oor die gevolge van hul woorde en dade nie, maar eerder fokus op die grootskaalse omvorming van die omgewing waarin hulle hulself bevind. Die gevolge van hul dade is iets waarmee hulle later sal saamleef.

Sedert die 1990’s het die konserwatiewe tradisie onder Afrikaners ook na links weggekalwe. Dit is eenvoudig sigbaar in die groot afname in kerkbywoning onder Afrikaners, die omhelsing van die verbruikerskultuur en individualisme en die aanvaardiging van die totale afbreek van ‘n eens waardegedrewe gemeenskap deur wetgewing wat aborsies, pornografie, homoseksuele huwelike en ander dergelike sondes goedkeur. Baie Afrikaners doen vandag op Sondae inkopies, spandeer al hoe minder geld op maatskaplike en kulturele akitwiteite in hul gemeenskappe en het lankal egskeidings as “normaal” begin aanvaar.

Indien ons vir onsself ‘n toekoms in Suid-Afrika wil skep, sal ons as Afrikaners terug moet draai na ons konserwatiewe tradisie. ‘n Tradisie gebou op instellings soos die gesin, ons kerke, die gemeenskappe waarbinne ons woon en ons kulturele en burgerlike organisasies.

Die leiers in ons gemeenskap moet ouers, onderwysers, predikante en die leiers van burgerlike organisasies wees. Ons moet ons toekomsplanne bou op ons geloof, kultuur, tradisies en ‘n besef dat jou verstand eerder as jou emosies ‘n beter rigting sal aantoon. Met ‘n roepingsbesef en ‘n herbeklemtoning van die gesin, die gemeenskap en die volk sal ons vir Afrikaners hoop op ‘n beter toekoms kan skep.

Die Vryheidsgesinde Afrikaner se verhouding met ons stamlande

Dit is alombekend dat Afrikaners se bande met ons stamlande in Europa gedurende die tweede helfte van die 21ste eeu ernstige skade gelei het. Die ANC se propagandaveldtog teen Afrikaners was uiters suksesvol en lande, organisasies en individue wat eens ons vriende was, is oornag in haters van die Afrikaner omskep.

Burgers van lande van regoor die wêreld het tydens die Tweede Vryheidsoorlog aan die Boere se kant geveg. Die lys in die voorportaal van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein is ‘n goeie bewys van die omvang van vriendskap wat tydens die oorlog teenoor die Boere geheers het. Ook na die oorlog was die bande met Europa sterk.

Ons weet egter almal wat na die 1948-verkiesing gebeur het. Die resultate van die propagandaveldtog wat teen die Afrikaner gevoer is, is vandag nog oral sigbaar. Vra maar enige ouer Nederlander, Fransman of Duitser wat hy van Afrikaners weet en dink en woorde soos “rassisme” , “apartheid” en “menseregteskendings” sal waarskynlik aangehoor moet word.

Kan die Afrikaner se beeld in die buiteland en in besonder in ons stamlande weer herstel word? Kan ons weer sterk bande met Europese lande bou?

Om hierdie vrae te beantwoord, sal ons eers moet besef dat wat verby is, verby is. Ons kan niks aan die geskiedenis doen nie. Daarmee saam sal ons moet aanvaar dat ons beeld in die buiteland steeds sleg is en dat dit tyd sal neem om te herstel. Europa van vandag lyk ook heelwat anders as die Europa van 1899. Een van die grootste nagevolge van die Tweede Wêreldoorlog is ‘n verskuiwing na links in Europa en in besonder weg van identiteit en die soewereine nasiestaat.

Deur op die behoud van ons Afrikaneridentiteit  en ons strewe na selfbeskikking te fokus, sluit ons onmiddellik ‘n groot deel van die Europese bevolking uit. Enige poging om die Afrikaner se beeld oor die algemeen in Europa te probeer verbeter, sal dus ‘n moeisame en bykans onmoontlike taak wees.

Daar is egter goeie nuus. Regoor Europa is daar sterk politieke partye, burgerlike organisasies en verenigings wat weer die klem op identiteit en die nasiestaat begin plaas. In Nederland is daar die Partij Voor De Vrijheid en organisasies soos die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging en die Nederlands Zuid-Afrikaanse Werksgemeenschap.

In Vlaandere is daar Vlaams Belang en die Vrienden van Zuid-Afrika. In Frankryk groei Front National tans sterk. Afrikaners moet bande met hierdie partye en organisasies smee, eerder as om te probeer om die algemene beeld van die Afrikaner onder die massas in Europa te herstel.

Nog ‘n groot voordeel is tyd. Die generasie van die 1960’s en 1970’s se opstande is besig om oud te word. Nuwe generasies Europeërs staar hoë werkloosheid, verarming, toenemende misdaad en die verbrokkeling van hul kulture en tale in die gesig weens die toestroming van immigrante en asielsoekers, maar ook weens regerings se pro-Europa en anti-soewereine staat-standpunt oor dekades heen.

Toekomstig geslagte Europeërs sal heel waarskynlik weer met erns na die behoud van hul identiteit begin kyk. Die Afrikaner sal en kan met hulle aanklank vind.

Afrikaners en hul reaksie op Mandela-sterfte

Afrikaners se reaksie op die dood van voormalige president Nelson Mandela is nogals deur twee teenpole gekenmerk. Aan die een kant ‘n oordrewe verromantisering wat aan afgodery grens. Aan die ander kant ‘n reaksie van mense wat dink dat as hulle ‘terroris, terroris’ van hul dakke gaan afskree die wêreld skielik minder van Mandela gaan hou.
Beide hierdie reaksies dui op ‘n soort verwardheid en die voortdurende leemte aan leierskap onder Afrikaners. Ons mense het ‘n diep behoefte om hulself oor ernstige sake waarmee hulle wroeg uit te druk, maar is onseker oor hoe om dit te doen. Een groep Afrikaners het die diepe behoefte vir aanvaardiging en dat die wêreld normaal na hulle moet kyk. Niemand wil die muishond van die wêreld wees nie en baie Afrikaners streef na ‘n beter beeld in die internasionale spieël. Deur van Mandela ‘n afgod te maak hoop hulle om as normaal geag te word.
Die ander groep het die behoefte om hul woede oor plaasmoorde en al die geweld teen ons mense, maar ook diskriminasie teen Afrikaners en die uitbuiting van ons mense op ekonomiese gebied, uit te druk. Ons mense wil net ‘n billike kans hê om binne ‘n veilige omgewing waar almal ‘n gelyke kans het om hulself uit te leef, vir hulself ‘n toekoms te kan skep. Hierdie mense druk hul woede uit deur met harde taalgebruik teenoor Nelson Mandela te reageer.
Beide hierdie groepe se behoeftes is verstaanbaar. Eintlik mag en moet alle Afrikaners daarna streef om groter aanvaarding in die wêreld te geniet. Ons mag terughunker na die steun wat die Boere tydens die Tweede Vryheidsoorlog geniet het. Ons het ook ‘n reg om ons woede en frustrasie met die huidige politieke bestel in Suid-Afrika uit te druk. Indien Afrikaners nie hul frustrasie kan en gaan uitdruk nie sal net meer van ons mense emigreer of totaal apaties teenoor ons eie toekoms begin staan.
Die probleem vandag is dus nie dit waaroor ons, onsself wil uitdruk nie, maar eerder hoe ons, onsself uitdruk. Die reaksie op Mandela se dood is ‘n uitstekende voorbeeld van hoe dinge nie gedoen moet word nie.
Daar is egter uitsonderings. Carel Boshoff, president van die Orania Beweging het in reaksie op Mandela se dood onder andere die volgende gesê: “Mnr Mandela wou ’n nalatenskap van versoening hê; ons sê versoening is ’n goeie ding, maar dit kan net op erkenning gebou word – en erkenning is die grondslag van vryheid.”
Flip Buys van Solidariteit het gesê: “Die probleem is dat die ANC versoening verskraal tot inlywing by die meerderheid. Wanneer die prys van versoening die opheffing van ons bestaan beteken, raak die prys te hoog. Die grondslag van ware versoening is wedersydse erkenning en respek. Dit is die basis van die versoening wat ons moet bevorder.”
Afrikaners mag dus reageer op hul behoeftes en frustrasie. Maar laat dit by erkenning en respek begin en laat dit nie reaktief wees nie, maar wel gefokus op ‘n beter toekoms vir ons eie mense eerder as ‘n verdere vertroebeling van ons posisie in Suid-Afrika.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel