Sterk selfbeskikkingswinde in Europa

FreedomDie Vryheidsparty van Suid-Tirool in die Noorde van Italië het ‘n pragtige bemarkingspamflet. Op die voorkant van die pamflet is die foto van ‘n swanger vrou met die byskrif: “Europa is swanger en sy verwag vyf nuwe state.” Die Vryheidsparty is die hoofopposisie in Suid-Tirool en strewe vir onmiddellike onafhanklikheid van Italië. In die onlangse verkiesing in Suid-Tirool het dié party se steun skerp toegeneem.

Die vyf nuwe state waarna die Vryheidsparty verwys is Suid-Tirool, Vlaandere, Katalonië, Skotland en Venesië. Al vyf hierdie gebiede streef tans na selfbeskikking van onderskeidelik Italië, België, Spanje en die Verenigde Koninkryk. Hierdie vyf streke het ook reeds ’n groot mate van outonomiteit. In Suid-Tirool kry die provinsiale regering reeds sowat 90% van sy belastinggeld van die Italiaanse regering terug. Die provinsie het volle beheer oor die meeste staatsdepartemente insluitende onderwys, kultuur en ekonomiese sake. In al vyf hierdie streke het die steun vir onafhanklikheid ten spyte van ‘n reeds groot mate van outonomiteit die afgelope paar jaar beduidend toegeneem.

Vroeër vanjaar het die drie partye in Vlaandere, wat vir onafhanklikheid van België staan, vir die eerste keer in jare meer as 50% van die steun van Vlaminge in ‘n peiling geniet. In Katalonië is die meerderheid parlementslede ten gunste van onafhanklikheid. Volgens peilings het steun vir onafhanklikheid onder Katalane van 34% in 1996 tot 55% in September vanjaar toegeneem.

Ook in Venesië in Italië is daar toenemend steun vir onafhanklikheid. Onlangse peilings toon dat tussen 70% en 80% van die inwoners van Venesië ten gunste daarvan is om ‘n onafhanklike staat tot stand te bring.

Skotland is tans die beste voorbeeld van ‘n streek wat na onafhanklikheid streef. Dié land beplan om volgende jaar op 18 September ‘n referendum te hou met die doel om onafhanklik van die Verenigde Koninkryk te raak. In die Skotse parlement is 55% van parlementslede ten gunste van onafhanklikheid. Die Skotse Nasionalistiese Party het in 2011 ‘n historiese meerderheid in die Skotse verkiesing behaal, en beskou dit as ‘n mandaat om onafhanklikheid te verwesenlik. Verlede week het die Skotse eerste minister, Alex Salmond, ‘n dokument van meer as 600 bladsye waarin sy party se strategie vir onafhanklikheid uiteengesit word, bekend gemaak. Skotland mag dalk net teen volgende jaar hierdie tyd onafhanklik van die Verenigde Koninkryk wees.

Nie een van hierdie streke wat na onafhanklikheid streef, hoort tuis in die lande waarvan hulle tans deel is nie. In die meeste van die gevalle is hierdie streke na oorloë by lande ingedeel waarvan hulle nooit deel wou wees nie.

Europa is dus tereg swanger en een of ander tyd gaan daardie vyf babastate gebore word.

Afrikaners wat selfbeskikking nastreef, kan gerus by hierdie streke gaan leer oor die bou van ‘n sterk onafhanklikheidsbeweging, en die belangrikheid van meerderheidsbesetting in ‘n geografies afgebakende gebied. Slegs dan sal ons ook ernstig oor onafhanklikheid kan begin dink. Sonder ‘n werklikheid op die grond bly die strewe na selfbeskikking net ‘n droom.

Laat linkse leuens ons nie onderkry

Die voormalige Amerikaanse president Ronald Reagan, het die frustrasie van konserwatiewe bewegings regoor die wêreld goed opgesom toe hy gesê het: “Wel, die probleem met ons linkse vriende is nie dat hulle niks weet nie, maar dat hulle so baie dinge weet wat nie waar is nie.” Die realiteit wat ons en baie andere vandag nog beleef, is dat linkses alle waardes, of minstens die bietjie waardes wat hulle nog mag hê, oorboord sal gooi in hul stryd om ideologiese meerderwaardigheid.

Vroeër vanjaar tydens ‘n besoek van die Nederlandse politikus, Martin Bosma aan Orania, bespreek ons juis hierdie ooreenkoms tussen ons en Bosma se party, die Partij voor de Vrijheid (PVV). Nederland is reeds sedert die 1960’s besig om dramaties te transformeer met die twee grootste stede, Amsterdam en Rotterdam waar Nederlanders binne die volgende paar jaar ‘n minderheid sal wees. In Rotterdam is byna 40% van die bevolking Moslems en die stad het reeds ‘n Moslemburgemeester van Marokkaanse afkoms. Minder as 80% van die inwoners van Nederland is nog van Nederlandse afkoms en met ‘n klein bevolkingsaanwas onder Nederlanders en ‘n veel groter bevolkingsaanwas onder immigrante uit Afrika en die Midde-Ooste is die syfer besig om skerp te daal.

Sedert die 1960’s toe die probleem van massa-immigrasie uit Moslemlande in Nederland begin posvat het, was daar gereeld politieke leiers wat hulself daarteen uitgespreek het. Keer op keer is hierdie individue deur die politieke elite verguis en as ekstremiste en rassiste afgemaak. Die media-elite het alles in hul vermoë gedoen om hierdie persone te diskrediteer terwyl gevestigde organisasies soos politieke partye, regeringsdepartemente en vakbonde dit byna onmoontlik vir hulle gemaak het om polities te organiseer. Twee bekende Nederlanders wat hulself teen massa-immigrasie uitgespreek het, die politikus en parlementslid Pim Fortuyn en die filmregisseur en skrywer Theo van Gogh is sedert 2000 weens hul standpunt oor immigrasie koelbloedig in die openbaar vermoor.

Na hierdie moorde het die politikus Geert Wilders as die belangrikste stem teen massa-immigrasie en die totale verval van die Nederlandse identiteit na vore getree. Toe hy in 2004 as parlementslid vir die Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) sy kommer oor die insluiting van die Moslemland Turkye by die Europese Unie uitspreek en voorspel dat so ’n insluiting tot grootskaalse immigrasie van armes uit Turkye aanleiding sal gee, word hy uit die party geskop. Regoor Nederland probeer politici, die media, vakbonde en ander linkse organisasies om Wilders te verguis. Maar  ten spyte daarvan bly Wilders aan as onafhanklike parlementslid en in 2006 wen sy nuutgestigde party, die PVV nege setels in die Huis van Verteenwoordigers. Sedertdien het die PVV se steun skerp toegeneem en peilings toon dat die PVV tans die gewildste party in Nederland is. Dit alles ten spyte daarvan dat daar ’n totale aanslag teen die party en sy lede is, met politici, joernaliste, vakbonde, staatsdienswerkers en selfs onderwyses wat waar hulle gaan die PVV as ekstremiste en rassiste uitmaak. Wilders kry gereeld dreigemente van mense wat hom eerder dood as lewendig sal wil sien en hy word beskou as die Nederlandse politikus wie se veiligheid die meeste bedreig word.

‘n Meerderheid van Nederlandse burgers was nog altyd teen massa-immigrasie, veral uit nie-Westerse lande, gekant. Tog gaan die linkse politieke elite konstant voort met hul pro-immigrasiebeleid. Hul beste metode om hul beleid te beskerm is om dit slegs as ‘n voortsetting van die waardes van verdraagsaamheid en medemenslikheid waarvoor Nederland nog altyd bekend was, aan te bied. Dit veroorsaak dat soveel as 40 000 mense uit Derdewêreldlande jaarliks asiel in Nederland kry. Indien iemand homself hierteen uitspreek, dan word beweer dat hy teen die goeie ou Nederlandse waardes is. Linkses skroom nie om deur leuens, ondemokratiese aksies en karaktermoord enigiemand wat anders as hul dink te probeer vernietig nie. Natuurlik is die immigrasie van armes uit die Derde Wêreld deel van die behoud van linkse politieke partye en organisasies.

Bosma beskryf die linkse aanslag op anti-immigrasiepartye en -individue uitstekend in sy boek, De schijn-élite van die valse munters. Volgens Bosma is Nederlanders so moeg vir die gevolge van massa-immigrasie dat die voortdurende linkse aanslag op die PVV nie meer genoeg is om kiesers teen die party te laat draai soos wat keer op keer sedert die 1960’s met anti-immigrasiepartye in Nederland gebeur het nie.

Die toestroming na Nederland sedert die 1960’s lei vandag tot ‘n toename in Moslem-ekstremisme. Van Gogh se moordenaar was byvoorbeeld ‘n immigrant met Nederlandse en Marokkaanse burgerskap wat haatlike Islamitiese uitsprake teen Van Gogh gemaak het. Voorts veroorsaak die toestroming probleme met ‘n toename in misdaad, werkloosheid en ander maatskaplike probleme. Dele van Amsterdam en Rotterdam is vandag bykans no-go-areas met Slotervaart in die weste van Amsterdam waar polisielede sedert 2006 in gewone kleredrag die strate patrolleer om volgens die politici nie die Marokkaanse en Turkse inwoners uit te lok nie.

Regoor Nederland skiet Moskees tans op met minstens ses Moskee-geboue in Amsterdam alleen. In skole ontstaan probleme weens die groot aantal Moslemleerlinge wat nie Nederlandstalig is nie en ook nie die Nederlanders se kultuur deel nie. Nederlanders is moeg vir die massa-immigrasie uit Moslemlande, maar weens politieke korrektheid en die stryd om die voortbestaan van die sosialisme gaan die linkse elite in Nederland voort om te maak asof daar nie ‘n probleem is nie. Erkenning van jou eie identiteit is boos, behalwe natuurlik as jy nie wit is nie.

Daar is sterk parallelle tussen die linkse aanslag op die voorbestaan van die Nederlandse identiteit en dit wat vandag in Suid-Afrika met die Afrikaner gebeur. Natuurlik is die aanslag op die voortbestaan van die Afrikaner se identiteit reeds heelwat verder gevorder as wat in Nederland die geval is, maar die aanslag van links op enige poging om die behoud van ons identiteit, is duidelik. Veral Orania loop voortdurend deur onder die volslae aanslag van die linkse elite. Die Demokratiese Alliansie spreek homself gereeld teen die beskerming van die Afrikaneridentiteit uit. Die DA predik eerder integrasie en die skep van ‘n identiteitlose nuwe Suid-Afrikaner. Die media se aanslag op Afrikanerselfbeskikking is self meer verstommend. ‘n Onlangse artikel oor Orania in MyTyd in Rapport was deurspek van leuens en onwaarhede. Dit is alles deel van die linkse joernalis (haar linkse waardes kan maklik op die internet uit haar geskrifte opgespoor word) se poging om ten koste van enige joernalistieke waardes Orania te probeer vernietig. Verlede jaar verskyn ‘n tesis van ‘n bekende professor waarin na die manier waarop Orania homself isoleer deur “die groot heining met lemmetjiesdraad wat die dorp omring”, verwys word. Daar is natuurlik glad nie ‘n heining om Orania nie, maar ‘n leuen was maar net dié professortjie se manier om Orania ook in akademiese kringe te diskrediteer.

Tog is Afrikaners sat vir wat in Suid-Afrika aangaan en is daar daagliks ‘n styging in die steun wat Orania geniet. Dit is sigbaar in die styging in die Orania Beweging se ledetal, die styging in die aantal besoekers aan Orania en die styging in algemene navrae vanaf mede-Afrikaners. Net soos wat die PVV se boodskap in Nederland ten spyte van die linkse aanslag groter steun begin kry, slaag ons ook daarin om meer en meer Afrikaners van ons saak te oortuig.

Na die lees van Bosma se boek besef jy hoe onmoontlik sy en Wilders se poging in 2004 om ‘n nuwe politieke beweging te skep, moes lyk. Tog is die PVV vandag ‘n gewilde party en geniet sy boodskap oor immigrasie en die behoud van die Nederlande identiteit toenemend steun. Ons stryd om die behoud van die Afrikaner se identiteit deur die skep van ‘n Afrikanergebied in die Noordwes-Kaap lyk dalk ook nog vir ons ‘n onmoontlike taak. Soms maak die aanslag van links ‘n mens moeg, veral as die linkse elite bestaande uit politici, akademici en joernaliste alles in hul vermoë doen om ons te diskrediteer. Moed verloor kan ons egter nie, want ons mense soek ‘n oplossing en ons weet dat ons aan die regte oplossing werk.

Jaco Kleynhans is uitvoerende hoof van die Orania Beweging. Hierdie artikel het oorspronklik in die Orania Beweging se ledetydskrif, Voorgrond, verskyn.

Brief: Booyens het ideologiese agenda

Hierdie brief het op 30 Junie in Rapport verskyn:

Hannelie Booyens se artikel oor Orania in MyTyd (23 Junie) laat my dink aan ’n fotograaf wat op Photoshop gespeel het en nie kon ophou om aan ’n goeie foto te torring nie.

Groot dele van die artikel is eerlik en in pragtige taal geskryf en wys tereg op talle mooi dinge en ook die leemtes in Orania se mondering, maar die ander helfte is ’n poging om deur afleidings en vooroordele haar eie ideo­logiese stempel af te druk op ’n gemeenskap wat lankal by die ou ideologiese skeidslyne verby is.

Uit die 1 000 inwoners in Orania is 300 skoolgaande in ons twee plaaslike skole. Hannelie dink egter hier is min kinders en dat Orania se ideaal saam met die klompie ou mense hier sal uitsterf. ’n Ernstige joernalis sou die aanname dat Orania net uit bejaardes bestaan, nagegaan het.

Twee helderoranje borde waarop die een besoekers verwelkom en die ander ons gemeenskap se verjaardag aankondig, word as “oranje-geskakeerde volkstaatpropaganda” afgemaak. Orania is juis gekant teen die eng propagandistiese wyse waarop gemeenskappe in Suid-Afrika vandag voorgesê word en het nog nooit so ’n strategie voorgestaan nie.

Ons poging om Kleingeluk, ’n ou woonbuurt vir bruines, te omskep in ’n plek waar Afrikaners uit alle inkomstegroepe tuis voel, word beskryf as ’n groeiende plakkerskamp. Wel, daar is geen plakkershuise in Orania en veral nie in Kleingeluk nie.

Oor die wêreld heen is daar toenemend steun vir minderhede se reg tot selfbeskikking. Minderheidsregte en die idee van vreedsame selfbeskikking (soos in Orania), word as ’n liberale beginsel beskou, maar Booyens beskryf dit as ’n “fanatiese en benouende Christelike lewensbeskouing”.

Sy het duidelik nog nie veel moeite gedoen om oor Quebec, Katalonië, Vlaandere en Suid-Tirool te lees nie. Selfbeskikking raak die inding en nie een of ander agterlike idee soos sy dit voorhou nie.

Kom ons fokus eerder op Orania se trekfaktore

Afrikaners wat na selfbeskikking binne ‘n eie demografiese gebied strewe, insluitende baie Oraniërs, maak gereeld die fout om te veel op die stoot- eerder as trekfaktore te fokus wanneer hulle mense probeer oortuig om hierheen te trek.

Ons weet almal hoe sleg dit op sekere terreine in Suid-Afrika gaan. Plaasmoorde en misdaad in die algemeen is ‘n enorme probleem. Diskriminasie teen Afrikaners in die werkplek, maar ook op taal- en kulturele vlak neem voortdurend toe. Daar is sekerlik baie rede om te glo, soos wat ons tereg glo, dat daar geen toekoms vir Afrikaners in die Suid-Afrika van vandag is nie. Dit beteken egter nie dat Suid-Afrika moet misluk vir Orania om te slaag nie. Om die waarheid te sê Orania sal beter daaraan toe wees indien Orania en Suid-Afrika kan slaag.

Ten spyte van korrupsie, misdaad en diskriminasie is daar steeds baie goeie dinge in Suid-Afrika. Ek het onlangs na ons Europese toer nuwe respek gekry vir Suid-Afrika se lughawens en lugdienste. Suid-Afrika is ‘n mooi land en ons almal geniet die wildtuine, die see en al die bekoring wat die land vir ons inhou. Ons almal is afhanklik van produkte en dienste wat slegs gelewer kan word indien Suid-Afrika se infrastruktuur in plek is. Vroeër vanjaar was ek verras deur die effektiewe diens van die Departement van Binnelandse Sake se kantore in De Aar en Kimberley. In Kimberley is dit byna so maklik om jou bestuurslisensie te gaan hernu as wat dit is om ‘n brood of melk te gaan koop.

Wat probeer ek hierdeur sê? Probeer ek sê dat dit eintlik beter gaan in Suid-Afrika as wat ons vermoed dit wel gaan? Nee, nie noodwendig nie. Wat ek eerder probeer sê is dat ‘n volhoubare en groeiende Orania afhanklik is van mense wat hierheen trek omdat hulle ‘n toekoms vir die Afrikaner se taal, kultuur, geloof en tradisies aan die suidpunt van Afrika wil verseker, eerder as mense wat hierheen vlug weens woede oor al die slegte dinge in Suid-Afrika.

Wat ek ook probeer sê is dat Orania sal sukkel as Suid-Afrika misluk. In Europa het ek gesien hoe suksesvol ‘n land of selfs net ‘n semi-outonome streek is, indien die Grootboet darem nog op sy bene kan staan. Die Duitse minderheid bestaande uit 77 000 mense in die suidooste van België is ‘n goeie voorbeeld. Hulle het ‘n groot mate van eie regering, maar is tog steeds afhanklik van België vir sommige dienste en infrastruktuur. Liechtenstein is ‘n klein staatjie langs Switserland. Dié land is ook baie suksesvol, maar sal sukkel om sonder die dienste van Switserland te funksioneer. Daardeur sê ek nie dat Orania nie êrens in die toekoms op sy eie sal kan staan nie, maar dat ‘n mens volgens jou vermoëns realisties moet wees. ‘n Orania van 77 000 mense sal homself ook omtrent 90% kan regeer, maar indien die hele Suid-Afrika om hom misluk, sal hy probleme kry met telekommunikasie- en posdienste, aflewering van produkte, uitreik van reisdokumente en die lewering van diplomatieke dienste aan sy inwoners. ‘n Orania van 250 000 inwoners mag dalk ‘n ander saak wees.

In Orania glo ons in groeiende selfbeskikking waar ons in vreedsame naasbestaan ‘n toekoms vir ons mense in ‘n eie gebied probeer uitkerf. Ons moet moeite doen om Afrikaners daarbuite eerder te oortuig om positief saam te kom bou aan ‘n nuwe toekoms as om in negatiwiteit na Orania te vlug.

Arbeid en die verval van die Westerse beskawing

Die voortdurende vraag na goedkoop arbeid is besig om in Europa, Noord-Amerika en natuurlik ook Suid-Afrika die spore van ‘n Westerse beskawing stadig maar seker dood te vee. Tydens ‘n besoek aan die VSA was dit opmerklik dat die hotelskoonmaker van die een of ander arm Sentraal-Amerikaanse land afkomstig was en die taxi-bestuurders van lande soos Pakistan en selfs Ethiopië.

In Europa word arbeid toenemend deur mense van Moslemlande en die Ooste verrig. Die Afrikaner het sy vermoë om sy eie lot te beheer juis weens die verslawing aan goedkoop nie-Afrikanerarbeid verloor. Saam met die Afrikaner se verlies aan selfbeskikking het Suid-Afrika se toenemende Afrikanisering en dus uitskuif van Westerse beginsels en lewenstyle gekom.

Arbeidsbehoeftes bring vandag in die Westerse wêreld groot demografiese veranderinge mee. Demografiese veranderinge het ‘n groot invloed op die stand van die Westerse beskawing omdat bekostigbare arbeid gewoonlik uit die Derde Wêreld afkomstig is. Teen 2050 sal minder as 50% van die VSA se bevolking wit wees. Die nuwe mengsel van inwoners van Afrika-, Oosterse-, Midde-Oosterse- en Suid-Amerikaanse afkoms skep stelselmatig ‘n nuwe soort beskawing wat sterk in kontras met die moderne Westerse beskawing staan. Die Amerikaanse skrywer Pat Buchanan het bereken dat ‘n meerderheid van Amerikaanse burgers teen 2050 van Derde Wêreldse afkoms sal wees. Reeds teen 2020 sal sterfes van Amerikaners van Europese afkoms geboortes verbysteek en sal die land se wit bevolking begin krimp. Vermenging met ander rasse word nie eens hierby ingereken nie. Tans is een uit elke tien huwelike in die VSA tussen persone van verskillende rasse.

In Europa, die wieg van die Westerse beskawing, is daar reeds ‘n afname in die wit bevolking te bespeur. Die geboortekoers in Wes-Europa het ook oor die afgelope paar jaar skerp afgeneem, met slegs immigrante uit die Derde Wêreld wat ‘n geboortekoers van bo die vervangingskoers handhaaf. Die Moslembevolking in Wes-Europa het die afgelope 10 jaar verdubbel en sal van nou tot 2015 weer verdubbel. In Brussels in België is die ses babaname wat tans die gewildste is Mohamed, Adam, Rayan, Ayoub, Mehdi, Amine en Hamza. Dieselfde gebeur dus in Europa as in die VSA: Die wit bevolking krimp weens lae geboortekoerse en vermenging met ander rasse, terwyl die getalle van burgers van Derde Wêreldlande skerp toeneem weens ‘n konstante invloei, asook hoë geboortekoerse.

Wat in Europa en die VSA gebeur, gebeur ook in die ou kolonies soos Australië, Nieu-Seeland, Kanada en natuurlik ook Suid-Afrika. Dit is egter nie net immigrasie en die geboortekoers wat die Westerse beskawing bedreig nie, maar ook Westerlinge se totale onvermoë om ons literatuur, filosofiese denkrigtings, kuns, argitektuur, geskiedenis, geloof en politieke raamwerke aan ‘n volgende geslag oor te dra. ‘n Studie onder Britse hoërskoolleerlinge het getoon dat skaars 30% van die leerlinge weet waar die Boere-oorlog plaasgevind het en slegs 16% weet wie was in bevel van die Britse troepe by Waterloo. Plaaslike studies onder Afrikanerleerlinge het ookal hul totale onkunde oor ons eie Afrikanergeskiedenis, literatuur en algemene denke, tradisies en gewoontes uitgewys.

Ek onthou goed die kommentaar van twee kinders wat saam met hul ouers in die ry agter ons gesit het tydens ‘n vertoning van die Ons vir Jou-musiekblyspel ‘n paar jaar gelede. Die kinders wou die heeltyd by hul ouers weet hoekom die ouers nog nooit vir hulle van die Boere-oorlog vertel het nie. Wat ‘n skande!

Die realiteit waarmee Orania vandag werk, is ‘n vervallende Westerse beskawing wat slegs gestuit kan word deur die gebruik van eie arbeid, ‘n hoër geboortekoers en die konstante gefokusde oordrag van ons kultuur aan ‘n volgende generasie. Orania is binne die Westerse beskawing uitstekend hiervoor gerat omdat ons reeds deur ons eie instellings, eie kultuurgeleenthede en vakansiedae ‘n platform vir die behoud van ons Westerse identiteit begin skep het.

Die huidige verval van die Westerse beskawing is nie iets nuut nie. In die sesde eeu tydens die vroeë Middeleeue was daar ook ‘n groot verval van die Westerse beskawing. Een van die redes vir dié verval was juis ook migrasie uit Oos-Europa en die sogenaamde ‘barbaarse invalle’. Tog is die Westerse kultuur in kloosters en ander plekke in stand gehou en kon dit later weer groei en tot hernude ontwikkeling van Wes-Europa aanleiding gee.

Die Weste is nie gedoem nie, maar die Westerse beskawing word wel ernstig bedreig. Orania se voorbeeld van die gebruik van eie arbeid en die skep van eie instellings is ‘n goeie begin. Ons sal egter nog baie meer moet doen om werklik ‘n noemenswaardige rol in die behoud van die Westerse identiteit te speel.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel