Demokrasie dien nie meer sy doel in die Westerse wêreld

Regoor die Westerse wêreld word ‘n interessante politieke tendens die afgelope tyd waargeneem. Politieke leiers en regerende partye is toenemend ongewild, maar die landsburgers beskik nie werklik oor die vermoë om die probleem aan te spreek nie.

In die VSA daal die steun wat President Barack Obama geniet steeds byna daagliks en is hy nou byna so ongewild soos wat President George W. Bush op dieselfde tydstip van sy presidentskap was. Amerikaners sal egter vir jou sê dat die idee wat in 2008 in die VSA geheers het dat Obama werklike positiewe verandering sou meebring heeltemal vervaag het. Obama se presidentskap word net soos dié van Bush gekenmerk deur geheimsinnigheid, ombekwaamheid en politieke moddergooiery wat met tye die regering lamlê. Amerikaners is omtrent siek vir politici, maar weet nie regtig hoe om die situasie te verander nie.

In Europa speel dieselfde probleem af. David Cameron in Engeland is uiters ongewild, maar geen ander politieke leier bied werklik ‘n alternatiewe visie nie. In Frankryk is Francois Hollande so ongewild dat ‘n groot aantal mense wat vir hom gestem het vandag baie spyt daaroor is. Italië beleef tans politieke chaos met korrupsie, rugstekery en ‘n totale politieke verlamming wat tot woede onder kiesers aanleiding gee. Die een regeringskoalisie na die ander stort in duie terwyl Italië se ekonomie ook ‘n voortdurende afwaartse kurwe toon. In Nederland is die regerende koalisie van die Volksparty vir Vryheid en Demokrasie en die Partij van de Arbeid so ongewild dat sou ‘n nasionale verkiesing vandag plaasvind beide partye se steun gehalveer sal word. Dié twee regerende partye het ook verlede week tydens munisipale verkiesings in Nederland sleg pakslae gekry. Dieselfde tendens van politieke ongewildheid geld in die meeste lande in die Weste en in besonder in Europa.

Een rede vir die ongewildheid van politieke leiers in Westerse lande is natuurlik die voortslepende ekonomiese probleme. Werkloosheid is steeds hoog in die VSA en Europa en regerings slaag nie daarin om hul staatskuld onder beheer te kry nie. Verder veroorsaak massa-immigrasie uit derde wêreldlande groot ongelukkigheid by gewone burgers wat met hierdie immigrante vir werksgeleenthede, mediese sorg, onderwys en ander dienste moet meeding, terwyl die regerende elite eenvoudig die politieskorrekte ding doen deur nie immigrasie in te perk nie.

Die probleem bly egter nie net hierby nie. Die dieperliggende oorsaak van kiesers se woede met politici lê in die verwydering wat daar toenemend tussen gewone landsburgers en die politieke wêreld plaasvind. In Europa word besluite in Brussel geneem sonder enige demokratiese reg van landsburgers in lidlande om werklik ‘n inset daarop te lewer. In die VSA het die politieke bedryf wat op groot skaal in Washington D.C. waargeneem kan word soos ‘n ekonomiese sektor op sy eie geraak. Geen politieke instelling is meer daar om die mense te dien nie, maar die stelsel is eerder daar om die politici te dien. Suid-Afrika verskil nie soveel van die VSA en Europa nie.

Of dit nou die ANC of DA of watter ander party of koalisie is wat regeer kan die vraag gevra word of so ‘n regering werklik die mense dien en of die meerderwaardigheid van die politieke elite eintlik maar na kiesers as ‘n soort minderwaardige gepeupel kyk. Dié situasie is nie volhoubaar nie en veral in die VSA en Europa gaan ‘n nuwe soort politieke revolusie vanuit die burgery waarskynlik in die komende jare die speelveld totaal hervorm.

Die Afrikaner moet vermoë om nuut te kan skep herontdek

Die Afrikaner se kort geskiedenis vertel die verhaal van ‘n besonderse skeppingsvermoë. Gaan stap jy deur die strate van Stellenbosch beleef jy die Afrikaner se vroeë argitektoniese vermoë. Dorpe regoor Suid-Afrika vertel hoe hierdie vermoë met tyd ontwikkel het om by omgewing, klimaat en beskikbare boumateriaal aan te pas.

Besoek jy enige goeie kunsmuseum soos die Pretoria Kunsmuseum vertel die werk van kunstenaars soos Pierneef van die Afrikaner se vermoë om wëreldklas kuns te lewer.

Nog ‘n hoogtepunt is die Nasionale Afrikaanse Literatuurmuseum en Navorsingsentrum in Bloemfontein. Die omvang van die Afrikaner se vermoë om oor 350 jaar ‘n literatuurskat saam te stel, word hier ten toon gestel en dit is ‘n bewys van ‘n hoogsgesofistikeerde volk.

‘n Groot skat van monumente, museums, beelde, skilderye, boeke en musiek lewer ‘n bydrae om ons te herinner aan ‘n tyd toe die Afrikaner op skeppende wyse, trots sy kultuur, tradisies en volkslewe vertoon het.

Die vraag vandag aan ‘n moderne Afrikanervolk is of ons steeds dieselfde skeppingsvermoë het. Voldoen die veiligheidskomplekse waar ons mense woon aan die vereiste van ‘n volk om goeie argitektuur te skep?

Voldoen die moderne kuns aan ons vermoë om soos Pierneef, Bettie Cilliers-Barnard en Johannes Meintjes wêreldklas kuns vorendag te bring?

Lewer Afrikanerskrywers vandag nog die gehaltewerk van Van Wyk Louw, Totius en Jan F.E. Celliers?

NP van Wyk Louw het geskryf: “…en al die pyn van ons volk-word moet eenmaal onder die volkere sin kry totdat hulle sê; “Daarom dan moes dié volkie so swaar hê en bly lewe… dat hy so ‘n skoonheid kon voortbring!”

‘n Volk bring skoonheid voort deur sy literatuur, argitektuur, musiek, beeldhouwerk, skilderwerk en ander skeppende kunste. Eens op ‘n tyd was die Afrikaner een van die skeppendste volke in die wêreld. ‘n Monument daarvoor staan in elke gebou, boek, liedjie, skildery en ander kunswerk wat oor eeue heen geskep is en vandag regoor Suid-Afrika en die wêreld vir almal te siene is.

Dit help egter veel indien ‘n volk nie kan aanhou skep nie. Regoor die wêreld sien ons vandag dat materialisme daartoe lei dat mense kitsskoonheid soek in plaas van skoonheid wat uit ‘n diepe besef van identiteit in die vorm van kuns na vore gekom het. Wie bou nog ‘n huis wat ‘n storie oor ons kultuur en tradisies kan vertel? Hoeveel films, musiek en boeke delf diep om die Afrikaner se wese te beredeneer en ten toon te stel?

Van Wyk Louw het ook geskryf: “As ‘n mens van die magtigste lande hul groot en blywende kuns wegneem, dan verloor hulle hul betekenis in die geskiedenis, dan word hulle net enorme versamelings menslike materiaal wat sinloos aankom en doodgaan.

So glo ook dat die taak van Suid-Afrika nie is om vet en ryk aan aardse goedere te word nie, maar om groot en mooi dinge voort te bring wat aan latere geslagte die betekenis van ons lewe hier sal openbaar. Die kuns maak die lewe sinvol, nie die lewe die kuns nie.” Laat ons as Afrikaners ons vermoë om skeppend te wees herontdek en daardeur ‘n bydrae tot ‘n sinvolle bestaan hier in Afrika vir onsself verseker.

 

Laat ons soos die Tirolers die vlam van vryheid lewend hou

Die Tiroolse volk het onlangs weer op kleurryke wyse Andreas Hofer-dag gevier. In Meran in Suid-Tirool het soos elke jaar ‘n groot aantal Tirolers in tradisionele klere opgedaag om dié rebelleleier te onthou. Hofer word deur ware Tirolers as ‘n groot volksheld geag en die Tiroolse volkslied vertel ook die verhaal van Hofer  se heldedade tot met sy teregstelling deur Napoleon se magte.

Die Tiroolse volk se verhaal klink baie soos dié van die Afrikaner. Hul stryd was soos ons s’n ook nog deur eeue ‘n stryd om vryheid. In 1805 is Tirool van Oostenryk na Beiere oorgedra. Gedurende daardie tyd was Beiere saam met die Franse ‘n magtige groepering in Europa en die Tirolers was ‘n klein, landelike volk wat meestal uit boere bestaan het. Hofer was kort na die oordrag aan Beiere bekend as ‘n rebel en het regoor Tirool burgers tot rebellie aangemoedig. In 1809 breek die rebellie van Tirool teen Beiere en die magte van Napoleon uit. Letterlik ‘n Dawid teen Goliat stryd. Die Tirolers moes met minderwaardige wapens en selfs plaasimplemente hul vryheid probeer terugkry.

Kort na die uitbreek van die rebellie verower Hofer en sy sowat 20 000 man Innsbruck en beweeg daarna suid om Bozen, vandag die hoofstad van Suid-Tirool, te bevry. Soos wat die tyd verloop het, stuur Napoleon egter meer en meer soldate en uiteindelik na die aanvanklike sukses van die Tirolers word Hofer en sy manne die berge in gedryf. Hofer wyk uit oor die berge en gaan kruip weg vir die vyandige magte. ‘n Beloning van 1500 gulde word uitgereik vir enige inligting oor waar hy wegkruip en dit lei tot verraad deur sy eie buurman. Die Italiaanse magte wat aan die kant van Napoleon gestaan het, vang Hofer en neem hom na ‘n stad in Italië waar hy tereggestel word.

Sedertdien is Hofer dié simbool van die eeue-oue stryd om vryheid wat deur die Tirolers gevoer word.  Hofer se verhaal het in ‘n groot mate bygedra tot die behoud van die Tirolers se vryheidstryd en veral in Suid-Tirool, wat na die Eerste Wêreldoorlog, weer hul vryheid verloor het en by Italië ingelyf is, het Hofer se lewensverhaal, wagmoed, dapperheid en durf gereeld die vlam van vryheid lewendig gehou.

Vandag word Hofer deur Tirolers onthou, nie net deur monumente en gedenkdae nie, maar ook deur ‘n volgehoue stryd om vryheid. Die Tirolers voel dat hulle dit aan Hofer se nagedagtenis verskuldig is om nie hul vryheidstryd te versaak nie.

Die Afrikaner se verhaal klink baie soos dié van die Tirolers. ‘n Goeie, boerenasie wat deur die eeue gereeld sy vryheid aan wêreldmagte moes afstaan. Die afgelope dekade of twee het ons verhaal egter ‘n ander pad begin loop. Dit kan tereg gevra word: Het ons anders as die Tirolers die nalatenskap van ons voorsate versaak deur die vlam van vryheid in onsself te blus of kan ons die klein smeulende kooltjie vuur weer in ‘n lewendige vlam van vryheid omskep?

Laat ons by Hofer en die Tirolers, maar ook ons eie voorsate leer en op ‘n beskaafde, maar gefokusde wyse die vlam van vryheid weer onder ons mense laat brand. Hofer het juis gesê: “Ek sal nie my lewe vir ‘n leuen verruil nie.”

Selfregering kan krisisse in Oos-Europa help oplos

Die krisis wat die afgelope tyd in Oekraïne ontstaan het, herinner ons aan die kompleksiteit van internasionale betrekkinge. Beide die VSA en Rusland probeer reeds vir jare op ‘n onoortuigende wyse die res van die wêreld daarvan oortuig dat dié twee lande die strydbyl begrawe het en ‘n gesonde verhouding handhaaf. Wanneer ‘n krisis soos dié in Oekraïne uitbreek, wys dit egter dat die Koue Oorlog nog lank nie verby is nie.

Gedurende die bestaan van die Sowjetunie het heelwat Russe in Oekraïne hervestig en vandag is sowat 17% van Oekraïne se 45 miljoen inwoners Russies. Gedurende 2010 is ‘n pro-Russiese president in Rusland verkies. Viktor Yanukovych is ook in 2004 tot president verkies, maar dié uitslag is later nietig verklaar weens verkiesingsbedrog. Na sy verkiesing in 2010 het Yanukovych stelselmatig begin om Oekraïne weg van die Weste en nader aan Rusland te posisioneer. Die uiteinde hiervan was sy besluit laat in 2013 om nie ‘n samewerkingsooreenkoms met die Europese Unie te sluit nie. Opstande het gevolg en op 22 Februarie vanjaar is hy deur die parlement as president verwyder.

Rusland het met woede hierop reageer en die afgelope Saterdag het Russiese soldate die semi-outonome provinsie van die Krim-skiereiland ingeval en het Rusland beheer oor dié provinsie oorgeneem. Sowat 60% van die Krim-skiereiland se bevolking is van Russiese afkoms.

Die inval van die Russiese weermag in ‘n ander outonome land het die VSA en ander Westerse lande die geleentheid gegee om hul opgeboude woede vir Rusland na vore te bring en daar is die afgelope paar dae hard teenoor Rusland reageer. Wat die uiteinde van die konflik gaan wees is nog onduidelik. Een moontlikheid is dat die Krim-skiereiland by Rusland ingelyf word en dat Oekraïne aanvaar dat hy ‘n deel van sy grondgebied verloor het. Nog ‘n moontlikheid is dat Rusland tot ‘n onderhandelde skikking met Oekraïne kom en dat die Krim-skiereiland sy outonomiteit behou. ‘n Ander moontlikheid is dat die Krim-skiereiland onafhanklik word en as nuwe land noue bande met sy grootboet, Rusland smee. Die laaste moontlikheid is die van oorlog waar die Weste en in besonder die VSA in gewapende konflik met Rusland betrokke raak. Oorlog is egter onwaarskynlik omdat die meeste Westerse lande tans nie daarvoor kans sien nie.

Dit alles beteken egter nie dat Rusland en die VSA minder gaan grom vir mekaar nie. Die VSA wil sy posisie as wêreldleier herbevestig en Rusland wil verlore aansien herwin en ‘n groter rol in wêreldpolitiek speel. Die enigste verloorder in die huidige krisis sal die mense van Oekraïne wees. Die langtermynoplossing vir Oekraïne en ander Oos-Europese lande sal die vreedsame verdeling van grondgebied vir verskillende volkere wees. Selfbeskikking vir minderhede in Oos-Europa eerder as meer mag en invloed vir die bestaande groot wêreldmagte sal ‘n beter langtermynoplossing wees.

Die minderheidsgroepe van Oos-Europa verdien om hulself te regeer eerder as om in state waar hulle nie tuis hoort nie te wees of om deur ‘n wêreldmag soos Rusland ingesluk te word. As die Weste vir iets goeds wil staan, moet hulle eerder dít bevorder.

Konsentrasie nodig om impak te maak

Gedurende die 1990’s is daar gereeld na Afrikaners as onmisbaar verwys. Ten spyte van grootskaalse emigrasie na lande soos Australië en Nieu-Seeland was veral Afrikaner dokters, ingenieurs en sakemanne belangrik vir die volhoubaarheid van gemeenskappe, groot maatskappye en selfs die hele Suid-Afrikaanse ekonomie. Afrikaners het belangrike rolle in byna elke sektor van die ekonomie vertolk en sou  jy in 1994 alle Afrikaners uit die Suid-Afrikaanse ekonomie moes onttrek, sou alles waarskynlik platgeval het.

Afrikaners maak vandag ongeveer 5% van die Suid-Afrikaanse bevolking uit en is van alle bevolkingsgroepe in Suid-Afrika dié een wat die meeste oor die lengte en breedte van die land versprei is. Selfs in stede soos Pretoria en Bloemfontein waar daar redelike groot konsentrasies van Afrikaners voorkom en waar Afrikaans steeds ‘n openbare teenwoordigheid het, maak Afrikaners steeds ‘n klein minderheid van die totale bevolking uit. Byna in elke dorp en stad in Suid-Afrika daal die persentasie Afrikanerinwoners.

Daarmee saam moet en sal Afrikaners se onmisbaarheid ook begin verdwyn. Daar bestaan geen twyfel oor die hoë vlakke van opleiding, vaardighede en entrepreneurskap wat steeds vandag onder Afrikaners teenwoordig is nie. Ten spyte daarvan dat Afrikaners uit die staatsdiens en semi-staatsinstellings gedwing is en dat Afrikanerjongmense toenemend sukkel om weens diskriminerende regeringsbeleid toegang tot werksgeleenthede in die formele sektor en veral groter maatskappye te kry, speel Afrikaners steeds ‘n belangrike rol in die land se ekonomie. Hierdie rol is vandag egter minder werd as wat dit 20 jaar gelede was.

Ja voortdurende emigrasie van sommige van die besopgeleide en mees bedrewe Afrikanersakemanne, vakmanne en professionele persone dra by tot die laer vlak van impak wat Afrikaners maak, maar die realiteit dat ons voortdurend, waar ookal ons woon, ‘n kleinerwordende minderheid is, is selfs belangriker.

Die Duitssprekende Suid-Tirolers in die Noorde van Italië is een van die besopgeleide en mees entrepreneuriese volkere in die wêreld. Hulle is ‘n klein volkie van 350 000 mense. Die provinsie Suid-Tirool presteer beter as die res van Italië op byna elke ekonomiese terrein. Hierdie volk maak maar 0,5% van Italië se bevolking uit en sou hulle soos Afrikaners regoor die lengte en breedte van hul land versprei moes gewoon het, sou hul impak baie kleiner gewees het. Een suksesvolle ingenieur of een bekwame dokter in ‘n plattelandse dorp waar munisipale dienste in duie stort, werkloosheid styg, ondernemings maand na maand sluit en misdaad hoogty vier kan hoe goed wees, maar hy sal baie min impak aan die omstandighede om hom kan maak.

Afrikaners kan hoe briljant ook wees, en baie van ons mense is tereg briljant en slaag in moelike omstandighede om bo uit te kom, ons impak in Suid-Afrika sal bly afneem omdat ons demografies ‘n kleiner en kleiner deel van die land sal uitmaak. Die enigste manier om dit teen  te werk is deur te konsentreer. Fisies te konsentreer en ‘n gebied of gebiede te beset waar Afrikaners ‘n groot genoeg deel van die bevolking uitmaak om wel ‘n groter impak te maak. Konsentrasie sal deel van ons strategie moet word indien ons die Afrikaner se voortbestaan wil verseker.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel