fbpx
(c) National Army Museum; Supplied by The Public Catalogue Foundation

(c) National Army Museum; Supplied by The Public Catalogue Foundation

Vele organisasies en groeperinge, selfs volkere, sal so ’n stelling maak: Ons het die grond met bloed gekoop. Dit verwys dan natuurlik nie na ’n transaksie waar bloed as ruilmiddel gebruik is nie, maar na die stryd waarmee grond verkry is. So word dan aan besitreg van grond ’n historiese legitimiteit gegee asof die feit dat jou voorgeslagte, of moontlik jou huidige geslag, die prys betaal het in die konflik oor die eienaarskap van grond. Ek wil nie ons eeue lange stryd om bestaansreg hier aan die Suidpunt van Afrika negeer tot niks nie, inteendeel dit vorm juis ’n onontbeerlike deel van ons identiteit en moet juis om hierdie rede erken en selfs herdenk word. Ek erken en vier ons volkshelde wat meermale die hoogste prys betaal het vir hul strewe na vryheid. Ek betoog egter dat so ’n bloedprys nie as kaart en transport kan dien vir ons besitreg op die grond nie. Ek betoog verder  dat die beginsel van ‘Ek-was-eerste-hier’ of dan besitreg gekoppel aan proto-habitasie van ’n bepaalde gebied ook nie aangebied kan word as ’n ewigdurende reg op daardie grond nie. Met so ’n argument sal ons oupas, wat dalk noodgedwonge die familieplaas moes verkoop,  se vooraf-teenwoordigheid op die grond mos dien as bewys van ons eie besitreg daarvan. Op hierdie weg lê waansin. Vanuit ’n Bybelse-Joods-Christelike perspektief sou die beloofde land, Kanaän, nooit aan die volk wat uit Egipte gelei is, mag behoort nie.  Die verdere vraag rakende proto-habitasie as reg tot grondbesit is die beskikbaarheid van werklike betroubare historiese of selfs argeologiese bewyse. Ek dink aan drie kinders wat baklei oor ’n swaai by die parkie. “Ek was voor jou hier!” roep die een. Die ander antwoord: “My pa het die swaai in sy werkswinkel gebou.” Die derde een: “My oupa het die grond geskenk waar die parkie gebou is.” Met ’n oorvereenvoudiging van die oplossing sou ek die kinders waarskynlik beurte gegee het. Beurtswaai, beurtkrag, beurtwater, beurtgrond. Agter hierdie komiese oorvereenvoudiging skuil daar moontlik meer van die ernstige werklikheid as wat ons sal wil erken. Beurtgrond, denkende die geskiedenis van die mensdom, met fokus op die volkekundige asook nasionale-staatkundige aspekte blyk beurtgrond ’n meetbare en duidelik waarneembare praktyk te wees. As voorbeeld en ek reken daar is vele gevalle wat genoem kan word, maar as enkele voorbeeld wil ek graag na Israel bly verwys.

Die geografiese gebied, alhoewel die grense gereeld gewissel het, kan oorkoepelend identifiseer word as die gebied wat ten tye van Salomo se regering sy mees definieerbare ook grootse afmetinge aangeneem het. Dit is ook, soos in die onderstaande kaart met die rooi grense aangedui relativeerbaar teenoor vandag se grense vir die staatkundige Israel.

israel_map1 map_ancient

Vanuit die geskiedenis het ons alreeds vinnig by die twaalf-stamme se uittog vanuit Egipte en die inname van die land wat aan Abraham beloof is stilgestaan.  Die Ha’Aretz HaMuvtahat, beloofde land. Josua verklaar in 3:10 “Verder het Josua gesê: Hieraan sal julle erken dat daar ‘n lewende God tussen julle is, en dat Hy sekerlik die Kanaäniete en Hetiete en Hewiete en Feresiete en Girgasiete en Amoriete en Jebusiete voor julle uit sal verdrywe”

Duidelik het ander volkere proto-habitatiewe grondbesitreg gehad wat deur die beginsel van beurtgrond verval het. Beurtgrond deur ’n hoër gesag toegedeel en verordineer. God self stel die besitter van die grond aan, miskien eerder as ’n tipe rentmeester, ten koste van die proto-inwoners se reg op die grond. Ek wil ’n gevolgtrekking waag dat proto-habitasie as besitreg nie Bybels verantwoordbaar is nie. Die vraag is: Is gestorte bloed, stryd, swaarkry ’n geldige argument vir grondbesit of gaan so ’n besitreg ook deur die beurtgrond beginsel tot niet.

My Afrikanerhart wil  uitbasuin dat die grond met bloed gekoop is. My Calvinisties-teologiese opleiding roep tot bedaring en ernstiger besinning. Op grond van watter regs-beginsel het Israel grondbesit verkry? Ek is seker my regsgeleerde vriende sou ’n term en ’n hele paar voorbeelde kon noem, ek gaan dit egter vereenvoudig en die stelling maak: Israel (en ek verwys na die OT en nie 1948 nie) se reg tot grondbesit was geen reg nie, maar ’n voorreg lynreg en kongruent aan God se genade. Beurtgrond.

Met ’n vinnige reis deur Historiese Israel sien mens duidelik dat hierdie grondbesit gewissel het. Van ongeveer 859 v.C. merk mens die opkoms van die Assiriese ryk en hul konflik met Israel. Hulle oorheers mettertyd die hele Midde-Ooste, Israel ingesluit. Hierdie ryk kom tot ’n val in ongeveer 633 v.C. met die opkoms van die neo-Babiloniese ryk wat weer tot ’n val kom in 539 v.C. met die Persiese Ryk se oorname. Alexander die Grote se Ryk, die Grieke, kry dan weer ’n beurt en daarna die Romeine in Jesus se tyd. Hierop volg dan die tydperk waar die Germaanse groepe die Romeinse ryk tot ’n val bring en die totstandkoming van Europa. Dan kan ons waarskynlik spring tot 1948 en die totstandkoming van die huidige staat Israel.

Die enigste afleiding wat ek kan maak is beurtgrond, belofte van die land ten spyt. Die redes vir die wisseling van eienaarskap is legio, maar meestal in dieselfde trant: Ongehoorsaamheid. Die vraag wat Israel hulself kon afvra is waarskynlik: “Wat maak ons met ons beurt op die grond?”

Behalwe dat die besitreg op grond kongruent met God se genade is, is dit ook kongruent aan die besitter se gehoorsaamheid. Ek wil verder gaan deur te erken dat daar eintlik nie eens iets soos besitreg is nie. Psa 24:1  ‘n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;

Redes vir grondbesit is legio, dit is immers elke volk, elke familie, elke gesin se droom om grond te hê wat hul hul eie wil noem. Die mens het ’n onherroeplike affiniteit vir grond en dit lê veel dieper as bloot die benutbare eienskappe van grond. Ten diepste gaan dit oor die mens se strewe om aan en op hierdie planeet ’n vaste punt te hê wat hy sy huis kan noem. Sy plekkie binne hierdie ewigwisselende bestaan. Op grond word mens begrond, geaard, gerelativeer. Binne Plato se filosofie van ’n “lever and a fulcrum” is die grond vir die mensdom, vir ’n volk, die vastepunt waarmee die aarde beweeg word. Dit is dus te verstane dat elke groep wat homself groep ag, streef na grond.

Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan. Met so ’n geloofsoortuiging ontstaan die vraag na die redes hoekom grond wel eienaarskap wissel.  Dit sou binne ’n teologie van rentmeesterskap verstaan kan word. God deel immers gawes aan die mense, met die hoofdoel om sodanige gawes te benut tot eer en verheerliking van sy naam, tot uitbouing van sy koninkryk en tot seën van die begunstigde.

Soos ek Israel se geskiedenis bekyk, blyk al die bogenoemde doelstellings nie net die verwagte uitkoms vir grondbesit is nie, maar ’n vereiste vir die behoud van die gawes. Beurtgrond.

Binne ons Suid-Afrikaanse konteks sal ek dit weereens waag deur aan te bied dat proto-habitasie, alhoewel hoog op die politieke agenda soos die strewe na grondbesit ’n definieerbare afmeting aanneem, nie kan dien as rede, oorsaak, vir besitreg nie. So ook, baie duidelik sigbaar in die Afrikaner se verlies aan besitreg, is die aimathusia of bloedoffer nie ’n onvervreembare reg tot sodanige besit nie.

Ek wil die reg tot grond besit dan opsom: Wat jy met jou beurt op die grond doen, bepaal hoe lank jy op die grond sal voorreg hê. God gee jou ’n beurt op die grond, hoe lank jy daardie beurt gaan hê, word bepaal deur jou verhouding met Hom en sy verhouding met jou.

Ons het weer ’n beurt gekry op hierdie stukkie grond in die Bo-karoo, wat maak ons met heirdie beurt.