fbpx

_76676196_utopia-signSedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog word die Westerse wêreld toenemend deur ’n moderne stroming van utopiese denke gedomineer. Die groot droom om alle konflik, siektes, hongersnood en ander slegte dinge wat die wêreld oor eeue besig gehou het, uit te wis, het in Europa en die VSA onstaan.

Die rede vir hierdie utopiese denke is gesetel in teorieë dat politieke en ekonomiese gelykmaking tot ’n stelsel sal lei waar almal in die wêreld se voordele kan deel en dat niemand redes sal hê om teen ander te diskrimineer nie.

Sosialiste glo dat hierdie ideale bereik kan word deur die regulering van alle ekonomiese aktiwiteit en geforseerde gelyke uitsette, eerder as billike gelyke insette. Libertariërs glo in ’n vorm van absolute individuele vryheid waar die individu se ervaring van vryheid, motiewe om slegte dinge te inisieer tot ’n einde sal bring.

Die gedagte dat utopiese denke egter die fundamentele goeie moontlik maak, is verkeerd. Die utopiese denke van die Franse Revolusie het aanleiding gegee tot die onthoofding van duisende mense met ’n valbyl in Parys. In Duitsland het die utopiese denke van Adolf Hitler tot ’n wêreldoorlog aanleiding gegee.

Die kamma-kommunisme wat ons deesdae in China, Viëtnam en Venezuela beleef, is ook ’n vorm van utopiese denke. Die onuitvoerbaarheid van die utopiese denke lei egter hier nie tot dood en vernietiging nie, maar wel tot korrupsie, diskriminasie en armoede.

Die Amerikaanse skrywer Michael Lind sorteer utopiese denke binne drie kategorieë. Ekonomie utopia word deur libertariërs as die absolute vryemark beskou. Sosialiste sien dit as die punt waar die ekonomiese koek presies gelyk tussen alle mense op aarde verdeel is.  Nie die libertariërs of die sosialiste se utopiese ekonomiese idees is al êrens bewys nie. Libertariese ekonomiese denke oorskat die goedheid van die mens, terwyl sosialistiese utopiese denke reeds in Kuba verkeerd bewys is.

Op politieke terrein is dit veral die Amerikaners wat die afgelope jare deur hul inmenging in ander wêrelddele die utopiese denke waar elke land in die wêreld die Amerikaanse model van demokrasie beoefen, probeer bevorder het. Irak, Afganistan en Libië is drie van talle bewyse van hoe hierdie idees misluk het.

Lind verwys na ’n derde vorm van utopiese denke, namens morele utopiese denke, wat hy onder konserwatiewe Amerikaners ervaar. Lind, self ’n konserwatiewe denker, voer aan dat konserwatiewes vandag nie soos Josua probeer om die son in Gibeon te laat stilstaan nie, maar eerder soos in Jesaja 38 die son ’n paar treë terug wil laat tree.

Terwyl Christene almal moet glo en hoop dat die morele verval in die Westerse wêreld tot ’n einde sal kom, beskou Lind dit as onbereikbare utopiese denke om te dink dat vandag se immorele wêreld môre met een stem of een wet in ’n morele samelewing omskep kan word.

Weens utopiese denke laat Westerse lande miljoene immigrante toe, probeer hulle met hulpprogramme en soms oorlog, vryheid en demokrasie na lande bring waar die bevolkings nie in vryheid of demokrasie belangstel nie.

Indien Westerse bevolkings, insluitende die Afrikaner nie meer realisties en minder utopies in ons denke gaan wees nie, sal ons die pad van selfvernieting bly stap.