Jare gelede kry ek ’n oproep van ’n baie bekommerde ouderling. Ek antwoord, trek my baadjie aan en spring in die kar. Noodflikkerligte aan jaag ek na die adres. Onderweg daarheen flits die erns van die situasie voor my oë. Die ouderling, nog een van die jongeres in die gemeente, het laat weet dat hy bekommerd is oor sy vrou. Sy het nie by die werk opgedaag nie en sy antwoord nie haar foon nie. Binne die Suid-Afrikaanse konteks kan dit vele gevalle wees, dink ek by myself en die moontlikhede is almal redelik negatief. Roof, huisbraak, aanranding, kaping, ontvoering… ek ry al hoe vinniger.
Stofwolk om my kom ek tot stilstand voor hul motorhek. Ek druk die klokkie so ’n paar keer sonder sukses. Nou aanskou ek die imposante motorhek met daardie drie-punt duiwel-vurkies boaan, maar ook op gereelde tussenposes aan die palisades aangebring. Ek sal moet klim my fisiese vermoëns ten spyt.
Ek sal graag met u wil deel dat hierdie spesifieke motorhek en palisade so ontwerp is dat ’n nommer 10 mans-skoen net-net binne die gapings inpas. Dit is amper asof die hekmaker die presiese afmeting van my nommer 10 grasshoppers geneem het. Die sagte sool pas lekker in, maar enige opwaartse beweging skep die effek dat die sool reguit trek en lekker styf inwig tussen die staal. Uitdaging. Ek besef egter die erns van die situasie so druk deur, soos wat die duiwel-vurke ook deurdruk. Albei voete en hande juk bloei van die oorklim en my Edgars polyester-wol vermenging broek spog met ’n nuwe asemhalings-funksie.
Ek haas myself, uitasem om die rowwe baksteenhuis, tot by die deur wat gewoonlik as ingang dien, die agter skuifdeur. Ek klop. Ek klop weer. Ek hoor iets val binne en forseer die skuifdeur oop. Ek haas myself deur die sitkamer, ganglangs dan tot in die hoofslaapkamer, roepende na die dame.
Dit is hier waar ek Lot se verhaal herroep. In vele verhale, ook binne hierdie Bybelse verhaal, vind mens die verbod op kyk. Mens mag nie omkyk nie. Mens mag nie kyk nie. Orpheus en Eurydice. Lot en sy vrou. Medussa. In meeste sulke verhale word die helde-figuur verbied om te kyk. Hier staan die eerwaarde ouderlingsvrou, Eva in haar Adamsgewaad. Soos ’n ortodokse jood gryp ek na my afwesige Tefillin om so spoedig moontlik by die sewende gebod uit te kom. Dit was immers een van die jonger ouderlinge en sy veel jonger vrou.
“Ek het pille gedrink” hoor ek deur my blosende ore deur. “Ek’s jammer”
Tragies, maar amper soos die Griekse humor-tragedies. Nou tref die erns my eers. Ek sal hierdie dame by die hospitaal moet kry, maar ek sal eers en hierdie is veel ernstiger as die eerste nood, ek sal eers vir haar klere moet aantrek.
“Wie het julle te kenne gegee dat julle naak is” Hoor ek die Paradys-stem en kyk verward rond vir vye-blare soos die dame, heel bedwelmd op die deurmekaar bed gaan sit. Ek gryp die ligpienk Woolworths-buustehouer en al wegkykende gaan ek te werk. Die volgende fase kan ek nie eens in woorde omskakel nie. Ek het al gelees van sielkundige blokasies, my sinapse marsjeer deur die strate van my verstand met baniere, baniere met die woorde: ONS WIL NIE ONTHOU NIE. #memoriesmustfall. Ek voel die bloed opwel na my gesig soos ek hier sit en tik. In elk geval, een Woolworths-buustehouer, een swart broekie, een ligblou sweetpakbroek en een lospassende swart t-hempie later, worstel ek met die dame in my arms ganglangs, skuifdeur toe. Halfpad langs die swembad onthou ek my infiltrasie maneuvers oor die hek, draai om, kombuiswaarts op soek na ’n sleutel.
Hierdie verhaal het vir die dame en haar geliefde man darem ’n gelukkige einde. Vir die heros-karakter…wel hy worstel dekades later nog steeds met die letsel in sy psige.
gelukkig kry n mens krag na elke kruis , OF voor elke kruis
Ek het nou so lekker gelag! Ai!