fbpx

DX251259-e1417706926622

My treë kraak die amper verswelgende kombers akkerblare. Dit is hoog herfs en die oggendluggie byt aan my ore soos ’n Dobermann Pincher aan ’n hakskeen. Herfs, die blaf is dalk erger as die byt, maar die byt pla genoeg. Ek skop ’n klompie rooi en geel en bruin blare op. So tussen die son se stofstrepe deur lyk die kleure vanoggend soos ’n Marokkaanse mark; diep-rooi, helder-mosterd, sand-bruin. Met hierdie gedagte hunker my smaaksintuig na speserye: Paprika, Kaneel, Vanielje, Gemmer. So tussen die droë blare deur ruik ek die klein ou materiaal winkeltjie in my tuisdorp weer. Ek stap straat-af, sypaadjie-langs,  teen die groen en rooi en bruin palisade heinings, voete aan die Suidpunt maar my gedagtes vêr-vêr Noord by daardie sintuiglik-oorweldigende markte. Die blare suis-kraak ritmies onder my treë, kalmerend, bekend, hipnoties.

Met ’n allesoorweldigende skreeu-blaf-grom word ek uit my idilliese sluimer-droom geruk. Ongeveer ’n meter van my af troon ’n enorme perd-leeu-ondier. Die Latyns beskryf ’n dier met die woorde Canis Dirus (Vreesaanjaende Hond), die Engelse Dire Wolf. Uitgesterf? Ek dink nie so nie. Met die skielike ontploffing van klank en kwyl hier by my oor, dink ek egter nie aan Latyns nie, ek uiter ’n hele paar, heelwat eenvoudiger woorde.  Ek bevind my onwillekeurig besig met ’n strategiese terugval. Op ’n afstand wat ek reken veilig is, waarskynlik 5 of 10 meter meer as wat nodig is, staan ek, hardkloppend en uitasem geskrik. Boeglam is die woord, ek staan met al my boë heeltemal lam. Ek aanskou die perd-leeu-ondier ; agter sy  grynslag, of glimlag oor my retirering sien ek diep, donker sielvolle oë.  Ek sien die dier agter die tralies. Ek sien die diep stofpad wat hy teen die groen palisade langs uitgedraf het en ek beleef ’n verlange. Van my kant af, van sy kant af…ek is onseker.

Ons beleef ’n oomblik; miskien, as gevolg van adrenalien vergifting, beleef ek dat ons ’n oomblik beleef. Ek en hierdie pragtige dier. Ek staar vir etlike minute na hom; al grommende met sy enorme voorpote teen die palisade. Wat ’n dier!

Ek draai stadig , kraakblaar, weer in die rigting waarheen ek op pad was. Bewus van die blik wat my volg, stap ek voort. Ek hoor sy grom-blaf-draf agter my aan, seker maar om my te vergesel tot verby sy plek, of om te kyk of hy nie tog ’n happie mens kan bykry nie.

Ek wil u meedeel, dat hierdie bepaalde erf, wat tog sekerlik aan hierdie hond moet behoort, so op ’n slap draai in die pad geleë is. Soos ek aanstap en die klein blinde kol sigbaar raak, sien ek dat Canus Dirus se motorhek wawyd oopstaan. Veg of Vlug?

Tot my verbasing storm hy tot by die palisade paneel reg langs die gaping in die heining; hier staan hy en blaf en grom. Ek stap verby, vêr genoeg verby, maar verby soos ek onwillekeurig die Ave Maria neurie. Ek keer huiswaarts, brou ’n stomende koffie, steek vir my ’n Camel Filter aan en gaan sit op die stoep.

Hoekom het hy nie uitgekom nie? Hoekom is sy soektog na vryheid ’n uitgetrapte paadjie tot langs ’n oop hek? Ek blaas die stoom oor my koppie rand. Wat keer hom? Miskien is hy tevrede, miskien is die daagliks-afgemete graan en proteïene vermenging vir hom genoeg. Miskien is die mense goed vir hom, hy het nie te sleg versorg gelyk nie. Miskien bly hy juis daar omdat dit al is wat hy ken, omdat hy gewoond daaraan is. Miskien is hy so bang vir die buitekant soos wat ek was vir die binnekant.

Ek druk my stompie dood in ’n ou geel en blou asbakkie met die embleem van ’n skilpad op, afkomstig uit vroeëre politiek dae. Ek dink, die geure en reuke van Marokko vêr van my gedagtes. My gedagtes nou by palisades en Canis Dirus en vryheid.

Wat keer my vryheid? My afgemete bak kos aan die einde van die maand? Die feit dat my blyplek nie te sleg is nie? Is ek te bang vir die andersheid? Is ons hek ook oop? Ek staan op, stap na my foon toe en stuur ’n boodskap aan Lianda: “Lians, ek dink ons moet Orania toe gaan.”