Waarom ons erfenis op Erfenisdag beledig?

Dit het weer tyd geword om Erfenisdag in Suid-Afrika te vier. Dit bied die ideale geleentheid om die suksesse in ons verlede te ondersoek sodat ons daarop kan voortbou na groter hoogtes.

Met die oog hierop het ek ‘n gevoel onwerklikheid ervaar toe ek twee meningstukke op Netwerk 24 lees. Die eerste van Willemien Brümmer, agterkleinkind van CJ Langenhoven en die tweede van Ewan-Nize Gerber wat ‘n matriekleerling in Wellington is.

Hierdie meningstukke het mettertyd die gevoel van onwerklikheid vervang met gevoelens van hartseer en teleurstelling.

Hartseer omdat daar soveel mooi raakgeskryf word; in ‘n taal wat se  hoër funksies op sterwe na dood is.

En teleurstelling omdat dit my laat wonder of daar enigsins ‘n verksil is tussen die afbrand van ‘n ouditorium by ‘n universiteit en die afbrand van ‘n ryke kulturele tradisie?

In die tyd van kitskos, Wikipedia en flieks-op-aanvraag kan daar klaarblyklik nou net op een van twee maniere met die verlede omgegaan word: verheerlik of verag. Meestal in die vorm van verheerlik die erfenis van ander en verag jou eie.

Wat is dit wat Willemien en Ewan-Nize aanvuur om juis Erfenisdag te gebruik om hul eie erfenis te skend? Word hulle soos die studente wat betoog meegevoer deur die ideologie van die verhewe self wat tans onversteurd oor die landskap waai?

Die Jakobyne en die Bolsjewiste het aan ons die illusie geskenk dat ‘n idee wat vir ons goed klik vewerklik kan word deur bloot die erfenis wat in die pad daarvan staan te vernietig. Hierdie idee laat soos die beiteltjie van NP van Wyk Louw geen rots of selfs die aarde in sy pad staan nie. En tog laat hierdie verleiding van vernietig-om-te-vorder meer bloed in sy spore as enige van die ancien regimes wat dit veronderstel was om te verbeter.

Daar is ‘n meer volwasse manier om met die verlede om te gaan. Dit is om die goeie daaruit te neem en daarop voort te bou. Soos Isaac Newton wat gesê het dat as hy enigsins verder kon sien, dit was omdat hy op die skouers van reuse gestaan het.

Die “Suid-Afrikaner” se sukses sal daarvan afhang of hy erkenning kan gee en kan voortbou op die suksesse van die Khoi, San, Xhosa, Zoeloe, Pedi, Sotho, Venda, Tswana, Swazi, Ndebele, Engelse en ja, ook die Afrikaners.

Persoonlik het ek nie tyd of energie om by te dra tot ‘n Suid-Afrika waar my Afrikanerskap nie welkom is nie. Ek is ook nie die enigste een nie.

Vier jou erfenis daagliks

de-wetHierdie komende naweek word Erfenisdag landswyd gevier. Die gedagte agter dié vakansiedag was dat Suid-Afrika se diverse gemeenskappe van die geleentheid gebruik moet maak om hulle unieke kulture ten toon te stel. Intussen het die vakansiedag `n gedaanteverwisseling ondergaan en staan tans in die volksmond bekend as Nasionale Braaidag. Alhoewel braaivleis `n belangrike deel vorm van Suid-Afrikaanse kultuur kan daar geredeneer word dat die nuwe gedaante `n afgewaterde weergawe is van dit waarvoor Erfenisdag bedoel was. Daar kan egter ook geredeneer word dat die ander vakansiedae slegs vir laat slaap benut word en daar in elk geval minimale deelname is aan die geleenthede wat vir dié dae gereël word.

Suid-Afrika beleef tans `n era waarbinne kulturele diversiteit as `n meulsteen eerder as `n geleentheid gesien word. Dit is so dat diverse kulture `n uitdaging kan bied en dat `n land met elf amptelike tale strategies te werk moet gaan om te verseker dat elke taal sy regmatige plek kry. Wat ons egter tans sien is die marginalisering van inheemse tale, nie net Afrikaans nie, en die toenemende gebruik van Engels as amptelike taal. Dit is nie net by staatsdepartemente waar dit voorkom nie maar ook by groot besighede wat Engels as die korporatiewe taal beskou.

Ons sien tans by universiteite dat sommige studente `n veldtog genaamd #Afrikaansmustfall dryf. Hulle verwys graag na hulle rolmodelle as Steve Biko of Robert Sobukwe maar hulle veg vir Engels as onderrigmedium. Hulle praat van `n stryd teen kolonialisme maar wil sien dat die taal waaronder hierdie einste land gekolonialiseer is as enigste onderrigtaal op têrsiere vlak erken word.

Om die braaivleisvure word daar gereeld, met verwysing na die regering, gehoor: “Hulle gun ons niks nie.” Toe daar sprake was dat die standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein verwyder gaan word was daar massahisterie op sosiale netwerke. Maar hoeveel keer was jy daar? Hoeveel keer het jy jou kinders die standbeeld gaan wys en van Paul Kruger vertel. `n Geskiedenisdosent vertel een jaar op Aardklop dat hy `n vraag aan sy eerstejaarsklas oor Paul Kruger se regeringsbeleid stel. Die klas kan hom nie antwoord en later besef die dosent dat dit nie is omdat hulle nie Paul Kruger se beleid verstaan het nie – dit is omdat hulle nie weet wie Paul Kruger was nie.

“In vandag se staatskole leer jy mos nie meer van Kruger en De la Rey nie,” sal die verskoning kom. En dit is dalk waar, maar wat leer jy jou kinders van dié helde? Vertel jy vir hulle van die Groot Trek, die Slag van Bloedrivier, die oorwinning by Magersfontein en die nederlaag by Paardeberg?

Die vierde strofe van Die Stem van Suid-Afrika bevat twee baie belangrike reëltjies:

Dat die erwe van ons vadere

Vir ons kinders erwe bly

In daardie twee reëls word die wens uitgespreek dat ons kultuur, ons erfenis, ook oorgedra word aan ons nageslag. Of dit gebeur en of ons erfenis met tyd verdwyn berus by ons en ons alleen. In Orania is Erfenisdag nie `n amptelike vakansiedag nie, maar ons erfenis is verweef met ons daaglikse bestaan. Daar is Majubadag, Heldedag en ander vakansiedae wat ons die geleentheid bied om ons erfenis te vier. Maar selfs in Orania, met die vakansiedae, is dit nie genoeg om slegs met dié geleenthede ons geskiedenis te herdenk nie. Jou erfenis moet deel van jou daaglikse bestaan vorm.

Aanslag teen kerk in Europa kom ook van binne die kerk

1448Nadat ’n priester van die Katolieke Kerk in Rouen, Frankryk op 26 Julie vanjaar deur ’n ondersteuner van die Islamitiese Staat-terroristegroep vermoor is, het ’n spontane inisiatief in Swede ontstaan waar Christene aangemoedig is om ’n foto van hulself met ’n kruis om die nek te neem en dit dan op ’n Facebook-blad te plaas. Die inisiatief was daarop gefokus om Christene in Swede, maar ook van regoor die wêreld die geleentheid te gee om hul solidariteit met Christene wat in ander lande vervolg en vermoor word, te toon.

Verstommend was egter die reaksie daarna deur die Kerk van Swede. Dié kerkgroep het homself van die inisiatief gedistansieer omdat dit kwansuis on-Christelik sou wees om jou solidariteit met ander Christene te toon. Die kerk se hoof van kommunikasie het op sy Facebook-blad Christene gewaarsku om nie pro-Christelike boodskappe uit te stuur wat persone van ander gelowe uitsluit nie.

Intussen het die kerk se reaksie vir ’n kerklike opstand in Swede gesorg met 13 000 lede van die Kerk van Swede wat binne een maand na die insident hul lidmaatskap van die kerkverband gekanselleer het.

Ann Heberlein, ’n dosent in teologie aan die Lund Universiteit in Swede het geskryf dat die leierskap van die Kerk van Swede nie meer aan die hoof van ’n Christelike gemeenskap wil staan nie, maar dat hulle eintlik besig is om die kerkverband in ’n losse assosiasie van algemene morele waardes te omskep. Heberlein het hierdie skuif as walglik en humanisties beskryf.

Johanna Andersson, ’n priester in die Kerk van Swede en een van die inisieerders van die My Kruis-veldtog het intussen uit die kerk bedank. Sy beweer dat sy gediskrediteer is deur die leierskap van die Kerk van Swede en dat daar selfs beweer is dat sy ’n versteekte xenofobiese agenda het.

Volgens Andersson misbruik sommige sogenaamde Christenleiers in Swede vir Jesus en die Christelike geloof om hul eie politieke agenda van ’n liberale immigrasiebeleid en multikulturalisme te bevorder.

Die optrede van die Kerk van Swede is ’n algemene verskynsel in groot kerkgroepe in Westerse lande. Die Protestantse Kerk van Nederland het verlede jaar voorgestel dat een van die land se Christelike vakansiedae met ’n Moslemvakansiedag vervang moet word, sodat die indruk van inklusiwiteit geskep kan word. In Duitsland is ’n Protestantse predikant Olaf Latzel verlede jaar verguis toe hy in ’n preek teen dwaalleraars wat die Christelike geloof met ander gelowe gelykstel, gepreek het. Verskeie politici het gesê dat predikante nie toegelaat moet word om teen ander gelowe te preek nie omdat dit diskriminerend is.

Terwyl die Christendom in Europa verder agteruitgaan en groot kerkgroepe hul fokus sodanig afwater dat hulle ook nie meer as geloofwaardige Christelike instellings beskou kan word nie, is daar tog hoop in die toename van Christene, predikante en klein kerkgroepe soos die 13 000 mense in Swede wat weier om hierdie afwatering gelate te aanvaar. Die hoop vir die Christendom in Europa lê in klein, gefokusde groepe wat getrou aan die Bybel vashou om met selfvertroue die Woord te verkondig.

Blik na Buite. Belangrike gebeure die laaste tyd.

Sjina: 40 jare na die dood van Mao Tse-Tung. Die persoon wat Sjina in die 20ste eeu meer gevorm het as enige iemand anders en vir meeste mense waarskynlik nog steeds die bekendste persoon uit Sjina is, die kommunistiese leier Mao Tse-Tung, is 40 jaar gelede, 9 September 1976, oorlede.  Mao het egter nie skielik gesterf nie, maar was al 2 jaar gelede gemaodiagnostiseer met ALS-sindroom, wat beteken het dat sy beheer oor sy liggaamfunksies geleidelik ingegee het. Hy kon al vir maande voor sy dood nie meer behoorlik praat, asemhaal of beweeg nie en sy laaste buitelandse besoeker was in April 1976 by hom en dit was reeds met baie gesukkel. Hy het daarna ’n hartaanval gehad en is in September uiteindelik dood, op die ouderdom van 82 en na 27 jaar aan stuur van sake in Sjina. Dit was kenmerkend vir ‘n geslag diktators wat amper soos gode gesien en as onmisbaar hanteer is, soos ook Stalin of Franco, dat hulle nie kon aftree toe hulle gesondheid ingegee het nie. Mao veral is nog vir jare na sy dood soos ‘n god hanteer en enige afwyking van sy leerstellings is as godslastering beskou. Reeds 10 jaar voor sy dood, in 1966, het hy enige kans op ‘n meer realistiese koers met die sogenaamde kulturele revolusie, wat die revolusie probeer laat herleef het, die nekslag toegedien en talle versigtige hervormers of enige iemand wat nie radikaal genoeg was nie, is deur opgesweepte skares aangerand of gedood. Mao was radikaal tot op die been en kon nooit van revolusionêr tot politikus verander wat sy eie land se politiek betref het nie. Hy het eerder miljoene mense laat doodgaan van hongersnood, as om die fatale kommunistiese landboupraktyke te hervorm. Wat internasionale politiek betref het hy egter vriend en vyand verbaas toe hy in 1972 die Amerikaanse president Richard Nixon ontmoet het. Ideologies was hulle wêrelde van mekaar verwyder, maar Mao het toenemend in konflik met die eweneens kommunistiese Sowjet-Unie gekom en wou om die rede die VSA so vêr kry om neutraal te wees in ‘n verwagte groot konflik tussen die twee rooi reuse. Na Nixon se uittrede het Mao egter agterdogtig geword teenoor die VSA se pogings tot toenadering tot die Sowjet-Unie. Mao was verskeurd tussen sy hart, wat die hele wêreld met ‘n kommunistiese revolusie wou oortrek en sy kop waarmee hy besef het dat die VSA sterker as Sjina is en dat Sjina op sy eie is. Mao was meer bekommerd oor Sjina se eie veiligheid, veral tydens die Viëtnam-oorlog en was meer defensief as offensief ingestel. Die wêreld kan dankbaar wees dat Sjina internasionaal minder aggressief was as nasionaal, waar honderde miljoene Sjinese ‘n duur prys moes betaal vir Mao se radikalisme en onbuigbaarheid. Mao sê amper bomenslike status het natuurlik ook baie te doen met die lang en harde pad wat die Sjinese kommuniste (letterlik) moes stap met die Lang Mars om uiteindelik die mag oor te neem in 1949 en Mao wat sy mense bymekaar kon hou en kon inspireer. Sjina het al so veel bloedvergieting, oorloë en vernedering deur buitelandse magte ervaar dat ‘n kommunistiese oorwinning vir baie mense soos die begin van ‘n utopia gevoel het en hulle bereid was tot groot opofferings. Omdat hy die mense kon saambind en motiveer, het Sjina in sy tyd ontwikkel in ‘n wêreldmoondheid, waarop sy opvolgers opgebou het, maar dit kan eintlik ook van Stalin gesê word. Die bevolking het ‘n verskriklike prys betaal en onder geen ander bewind het so veel mense gesterf (skattings ryk van 40 tot 70 miljoen) soos onder die van Mao nie, wens teregstellings, hongersnood en dwangarbeid.

Die huidige Sjina het lankal wegbeweeg van radikale kommunisme, veral op ekonomiese terrein. Die proses is na Mao se dood deur Deng Xiaoping geïnisieer, nadat ‘n poging van Mao se weduwee en ander, om terug te keer tot radikale kommunisme, gefnuik is. Nogtans was daar nooit ‘n breuk met Mao as persoon nie, of ‘n kritiese uiteensetting met sy nalatenskap nie, soos wat dit na Stalin se dood in 1953 onder Nikita Kroesjtsjoff gebeur het. Mao se lyk lê nog steeds gebalsem in die mausoleum op Tianamenplein in die hart van Beijing en sy reuse- portret hang nog prominent daar.

Verwoerd se dood, waterskeiding in Suid-Afrika se geskiedenis

Vandag 50 jaar gelede, om 14:14, het dramatiese gebeure in die Volksraad (die destydse parlement) plaasgevind, toe net aan die begin van die sitting, toe parlementslede nog die saal binnekom, ʼn parlementsbode, Dimitrio Tsafendas, die eerste minister dr. Hendrik Verwoerd met ʼn dolk vier keer gesteek het. Dr. Verwoerd was feitlik oombliklik dood.

Toe die nuusberig die land tref kon mense dit nie glo nie. Dit is geen oordrywing om te sê dat die hele land in skok was, nie net die Afrikaners of die aanhangers van Verwoerd nie. So iets het nog nooit in Suid-Afrika gebeur nie, en dr. Verwoerd se posisie was op daardie stadium so sterk dat meeste gereken het hy sal nog lank die land regeer en sy groot projek van territoriale skeiding en langtermyn beveiliging van die Afrikaners en ander blankes in Afrika voltooi. Almal wat in daardie tyd gelewe het, kan die oomblik onthou toe die noodberig oor die radio gekom het of mense die verskriklike nuus vir mekaar oorgedra het. Talle het gehuil en die land het stilgestaan. Suid-Afrika sou nooit meer dieselfde wees nie. Die Afrikanervolk was in sy hart getref. Niemand kon die volk se strewe beter verwoord en verteenwoordig as dr. Verwoerd, en die mense het hom blindelings vertrou. Behalwe vir enkele radikales en kommuniste was daar ook onder meeste swartmense ontsteltenis. Verwoerd was nie hulle held nie, maar hy was gerespekteer as leier van die land en ʼn regverdige bedeling vir swartmense (uit sy oogpunt, en ook gemeet aan die omstandighede van die tyd) was een van sy hoofdoelwitte. Net ʼn paar dae voor die moord het Verwoerd juis samesprekings met die leier van Lesotho, Leabua Jonathan gevoer en daar is verwag dat ʼn rigtinggewende aankondiging oor die beleid teenoor Afrika binnekort sou volg.

Die groot vraag hoekom Tsafendas, wat eintlik ʼn niemand was, die moord gepleeg het, wie agter hom gesit het (indien wel) en hoe hy met sy twyfelagtige rekord en boonop nog as buitelander as bode aangestel kon word, is tot vandag toe onopgelos. Daar is allerhande teorieë en verduidelikkings, maar dit sal egter ʼn raaisel bly en soos die tyd aanstap, sal die spore net verder verwaai. Wat vir ons as Afrikaners egter belangrik is, is dat ons Verwoerd se nalatenskap en hom as leier, en as mens, moet onthou. Hy was nie volmaak nie en sy beleid kan om verskeie redes gekritiseer word, maar ten minste het Verwoerd ʼn plan gehad hoe om ʼn uiters komplekse samelewing soos Suid-Afrika te orden en om langtermyn vrede en stabiliteit vir al sy inwoners te skep. Dit is nie toevallig dat mense wat in sy tyd geleef het dit as goue era onthou waar Suid-Afrika in elke opsig sterk en voorspoedig was en die Afrikaners in beheer was.

Daar is ʼn spesifieke band tussen Orania en Verwoerd. Dr. Verwoerd het Orania nooit gesien nie, maar die geweldige Oranjerivier – waterskema wat dr. Verwoerd van stapel gestuur het, het die konstruksiedorp Orania veroorsaak, en, nog belangriker, het dit moontlik gemaak dat die droë Karoo tot ʼn vestigingsgebied vir Afrikaners kan ontwikkel, iets wat min mense in sy leeftyd raakgesien het. Daar is aanduidings dat Verwoerd so iets beoog het met die Oranjerivierskema. Sy vrou Betsie het in Orania die laaste jare van haar lewe deurgebring en sy dogter Anna en skoonseun Carel Boshoff word met reg as die stigters van Orania, die eerste volkstaatgroeipunt, beskou. Die leierseienskappe en versiendheid van Verwoerd het beslis vir Carel en Anna Boshoff beїnvloed en geinspireer. Daarom is dit ook net reg dat dr. Verwoerd in Orania deur die Verwoerdmuseum en verskeie borsbeelde geëer word. Nie omdat hy, soos tot vervelens toe deur mense wat min van hom weet herhaal word, die “vader van apartheid” sou gewees het nie, maar omdat hy aan die langtermyn voortbestaan en groei van die Afrikanervolk in Afrika en in vrede met ander volke geglo het en daarvoor planne gemaak het, net soos die mense wat Orania en die volkstaat vandag bou.Verwoerd

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel