Sjina: 40 jare na die dood van Mao Tse-Tung. Die persoon wat Sjina in die 20ste eeu meer gevorm het as enige iemand anders en vir meeste mense waarskynlik nog steeds die bekendste persoon uit Sjina is, die kommunistiese leier Mao Tse-Tung, is 40 jaar gelede, 9 September 1976, oorlede. Mao het egter nie skielik gesterf nie, maar was al 2 jaar gelede gediagnostiseer met ALS-sindroom, wat beteken het dat sy beheer oor sy liggaamfunksies geleidelik ingegee het. Hy kon al vir maande voor sy dood nie meer behoorlik praat, asemhaal of beweeg nie en sy laaste buitelandse besoeker was in April 1976 by hom en dit was reeds met baie gesukkel. Hy het daarna ’n hartaanval gehad en is in September uiteindelik dood, op die ouderdom van 82 en na 27 jaar aan stuur van sake in Sjina. Dit was kenmerkend vir ‘n geslag diktators wat amper soos gode gesien en as onmisbaar hanteer is, soos ook Stalin of Franco, dat hulle nie kon aftree toe hulle gesondheid ingegee het nie. Mao veral is nog vir jare na sy dood soos ‘n god hanteer en enige afwyking van sy leerstellings is as godslastering beskou. Reeds 10 jaar voor sy dood, in 1966, het hy enige kans op ‘n meer realistiese koers met die sogenaamde kulturele revolusie, wat die revolusie probeer laat herleef het, die nekslag toegedien en talle versigtige hervormers of enige iemand wat nie radikaal genoeg was nie, is deur opgesweepte skares aangerand of gedood. Mao was radikaal tot op die been en kon nooit van revolusionêr tot politikus verander wat sy eie land se politiek betref het nie. Hy het eerder miljoene mense laat doodgaan van hongersnood, as om die fatale kommunistiese landboupraktyke te hervorm. Wat internasionale politiek betref het hy egter vriend en vyand verbaas toe hy in 1972 die Amerikaanse president Richard Nixon ontmoet het. Ideologies was hulle wêrelde van mekaar verwyder, maar Mao het toenemend in konflik met die eweneens kommunistiese Sowjet-Unie gekom en wou om die rede die VSA so vêr kry om neutraal te wees in ‘n verwagte groot konflik tussen die twee rooi reuse. Na Nixon se uittrede het Mao egter agterdogtig geword teenoor die VSA se pogings tot toenadering tot die Sowjet-Unie. Mao was verskeurd tussen sy hart, wat die hele wêreld met ‘n kommunistiese revolusie wou oortrek en sy kop waarmee hy besef het dat die VSA sterker as Sjina is en dat Sjina op sy eie is. Mao was meer bekommerd oor Sjina se eie veiligheid, veral tydens die Viëtnam-oorlog en was meer defensief as offensief ingestel. Die wêreld kan dankbaar wees dat Sjina internasionaal minder aggressief was as nasionaal, waar honderde miljoene Sjinese ‘n duur prys moes betaal vir Mao se radikalisme en onbuigbaarheid. Mao sê amper bomenslike status het natuurlik ook baie te doen met die lang en harde pad wat die Sjinese kommuniste (letterlik) moes stap met die Lang Mars om uiteindelik die mag oor te neem in 1949 en Mao wat sy mense bymekaar kon hou en kon inspireer. Sjina het al so veel bloedvergieting, oorloë en vernedering deur buitelandse magte ervaar dat ‘n kommunistiese oorwinning vir baie mense soos die begin van ‘n utopia gevoel het en hulle bereid was tot groot opofferings. Omdat hy die mense kon saambind en motiveer, het Sjina in sy tyd ontwikkel in ‘n wêreldmoondheid, waarop sy opvolgers opgebou het, maar dit kan eintlik ook van Stalin gesê word. Die bevolking het ‘n verskriklike prys betaal en onder geen ander bewind het so veel mense gesterf (skattings ryk van 40 tot 70 miljoen) soos onder die van Mao nie, wens teregstellings, hongersnood en dwangarbeid.
Die huidige Sjina het lankal wegbeweeg van radikale kommunisme, veral op ekonomiese terrein. Die proses is na Mao se dood deur Deng Xiaoping geïnisieer, nadat ‘n poging van Mao se weduwee en ander, om terug te keer tot radikale kommunisme, gefnuik is. Nogtans was daar nooit ‘n breuk met Mao as persoon nie, of ‘n kritiese uiteensetting met sy nalatenskap nie, soos wat dit na Stalin se dood in 1953 onder Nikita Kroesjtsjoff gebeur het. Mao se lyk lê nog steeds gebalsem in die mausoleum op Tianamenplein in die hart van Beijing en sy reuse- portret hang nog prominent daar.