Nadat ’n priester van die Katolieke Kerk in Rouen, Frankryk op 26 Julie vanjaar deur ’n ondersteuner van die Islamitiese Staat-terroristegroep vermoor is, het ’n spontane inisiatief in Swede ontstaan waar Christene aangemoedig is om ’n foto van hulself met ’n kruis om die nek te neem en dit dan op ’n Facebook-blad te plaas. Die inisiatief was daarop gefokus om Christene in Swede, maar ook van regoor die wêreld die geleentheid te gee om hul solidariteit met Christene wat in ander lande vervolg en vermoor word, te toon.
Verstommend was egter die reaksie daarna deur die Kerk van Swede. Dié kerkgroep het homself van die inisiatief gedistansieer omdat dit kwansuis on-Christelik sou wees om jou solidariteit met ander Christene te toon. Die kerk se hoof van kommunikasie het op sy Facebook-blad Christene gewaarsku om nie pro-Christelike boodskappe uit te stuur wat persone van ander gelowe uitsluit nie.
Intussen het die kerk se reaksie vir ’n kerklike opstand in Swede gesorg met 13 000 lede van die Kerk van Swede wat binne een maand na die insident hul lidmaatskap van die kerkverband gekanselleer het.
Ann Heberlein, ’n dosent in teologie aan die Lund Universiteit in Swede het geskryf dat die leierskap van die Kerk van Swede nie meer aan die hoof van ’n Christelike gemeenskap wil staan nie, maar dat hulle eintlik besig is om die kerkverband in ’n losse assosiasie van algemene morele waardes te omskep. Heberlein het hierdie skuif as walglik en humanisties beskryf.
Johanna Andersson, ’n priester in die Kerk van Swede en een van die inisieerders van die My Kruis-veldtog het intussen uit die kerk bedank. Sy beweer dat sy gediskrediteer is deur die leierskap van die Kerk van Swede en dat daar selfs beweer is dat sy ’n versteekte xenofobiese agenda het.
Volgens Andersson misbruik sommige sogenaamde Christenleiers in Swede vir Jesus en die Christelike geloof om hul eie politieke agenda van ’n liberale immigrasiebeleid en multikulturalisme te bevorder.
Die optrede van die Kerk van Swede is ’n algemene verskynsel in groot kerkgroepe in Westerse lande. Die Protestantse Kerk van Nederland het verlede jaar voorgestel dat een van die land se Christelike vakansiedae met ’n Moslemvakansiedag vervang moet word, sodat die indruk van inklusiwiteit geskep kan word. In Duitsland is ’n Protestantse predikant Olaf Latzel verlede jaar verguis toe hy in ’n preek teen dwaalleraars wat die Christelike geloof met ander gelowe gelykstel, gepreek het. Verskeie politici het gesê dat predikante nie toegelaat moet word om teen ander gelowe te preek nie omdat dit diskriminerend is.
Terwyl die Christendom in Europa verder agteruitgaan en groot kerkgroepe hul fokus sodanig afwater dat hulle ook nie meer as geloofwaardige Christelike instellings beskou kan word nie, is daar tog hoop in die toename van Christene, predikante en klein kerkgroepe soos die 13 000 mense in Swede wat weier om hierdie afwatering gelate te aanvaar. Die hoop vir die Christendom in Europa lê in klein, gefokusde groepe wat getrou aan die Bybel vashou om met selfvertroue die Woord te verkondig.
Dit is ‘n belangrike stuk inligting en toeligting. Die situasie in Europa is baie meer ingewikkeld as ‘n eenvoudige stryd van Islam teen Christendom soos talle van ons mense dit probeer vertolk.
Hallo Sebastiaan, het jy dalk ‘n antwoord, waarom godsdiens en geloof as onbenullig vir Europeërs geraak het? Is dit as gevolg van liberalisme en sekulêre invloed? Die artikel was weliswaar skokkend.
Dit wil voorkom of welvaart ‘n groot bydrae gelewer het in Europa…mense is baie geneig om van God te vergeet wanneer dit so goed gaan.
Maar oppervlakkig verduidelik dit net die feit dat minder mense kerk toe gaan en nie noodwendig die liberalisme binne die kerk self nie.
Die liberalisme en afvalligheid binne die kerk self se oorsprong is sekerlik meer ingewikkeld, maar ek sou dink dis ‘n uitvloeisel, of ‘n produk, van ‘n samelewing wat deurdrenk is met liberalisme wat van kindsbeen af neerreen op elke kind wat uiteindelik die gevolg het dat die liberalisme in elke instansie beland en grootliks aanvaar word as die de facto “waarheid” of sinvolle posisie (wat natuurlik 24/7 op televisiekanale uitgeblaker word)…en selfs ook in die kweekskole en kerke baie prominent ervaar word.
Die bybel word dan afgemaak as net stories en riglyne wat maar geinterpreteer kan word na gelang van die persoon se eie perspektief en doelwitte (en die bybel onkundige sameleweing weet van niks beter nie). Ordentlike gebruik van skrifverklaring (hermeneutics) is een van die slagoffers van so ‘n samelewing. As dit gebeur dan verval die samelewing (gemeet aan bybelse standaarde) en dan relatief vinnig.
Die vrugte van liberalisme, wat in gevalle beskryf kan word as geesteversteurdheid as mens so kyk na die baie duidelike kognitiewe onegheid (cognitive dissonance) wat die liberale so worstel mee, kan weliswaar dalk gesien word as God se oordeel op so ‘n samelewing en hopelik is daar geleentheid vir bekering wat uivloei uit so ‘n situasie.
‘n Voorbeeld van die vrugte van liberalisme is die denke dat multi-kulturalisme ‘n uitstekende idee is en ‘n hoofweg na Utopia toe is. Van my perspektief is dit eenvoudig ‘n straf om met so ‘n samelewing te sit en veroorsaak eindelose moeilikheid en onenigheid (presies die teenoorgestelde van wat die liberale dan nou sou verwag).
‘n Land wat op ‘n liberale dominante trajek is het groot moeilikheid en om dit om te draai, bevrees ek, sal groot Goddelike ingryp benodig, en heel moontlik gebeurtenisse wat katastrofies van aard is.
Europa is in groot moeilikheid.