Hierdie komende naweek word Erfenisdag landswyd gevier. Die gedagte agter dié vakansiedag was dat Suid-Afrika se diverse gemeenskappe van die geleentheid gebruik moet maak om hulle unieke kulture ten toon te stel. Intussen het die vakansiedag `n gedaanteverwisseling ondergaan en staan tans in die volksmond bekend as Nasionale Braaidag. Alhoewel braaivleis `n belangrike deel vorm van Suid-Afrikaanse kultuur kan daar geredeneer word dat die nuwe gedaante `n afgewaterde weergawe is van dit waarvoor Erfenisdag bedoel was. Daar kan egter ook geredeneer word dat die ander vakansiedae slegs vir laat slaap benut word en daar in elk geval minimale deelname is aan die geleenthede wat vir dié dae gereël word.
Suid-Afrika beleef tans `n era waarbinne kulturele diversiteit as `n meulsteen eerder as `n geleentheid gesien word. Dit is so dat diverse kulture `n uitdaging kan bied en dat `n land met elf amptelike tale strategies te werk moet gaan om te verseker dat elke taal sy regmatige plek kry. Wat ons egter tans sien is die marginalisering van inheemse tale, nie net Afrikaans nie, en die toenemende gebruik van Engels as amptelike taal. Dit is nie net by staatsdepartemente waar dit voorkom nie maar ook by groot besighede wat Engels as die korporatiewe taal beskou.
Ons sien tans by universiteite dat sommige studente `n veldtog genaamd #Afrikaansmustfall dryf. Hulle verwys graag na hulle rolmodelle as Steve Biko of Robert Sobukwe maar hulle veg vir Engels as onderrigmedium. Hulle praat van `n stryd teen kolonialisme maar wil sien dat die taal waaronder hierdie einste land gekolonialiseer is as enigste onderrigtaal op têrsiere vlak erken word.
Om die braaivleisvure word daar gereeld, met verwysing na die regering, gehoor: “Hulle gun ons niks nie.” Toe daar sprake was dat die standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein verwyder gaan word was daar massahisterie op sosiale netwerke. Maar hoeveel keer was jy daar? Hoeveel keer het jy jou kinders die standbeeld gaan wys en van Paul Kruger vertel. `n Geskiedenisdosent vertel een jaar op Aardklop dat hy `n vraag aan sy eerstejaarsklas oor Paul Kruger se regeringsbeleid stel. Die klas kan hom nie antwoord en later besef die dosent dat dit nie is omdat hulle nie Paul Kruger se beleid verstaan het nie – dit is omdat hulle nie weet wie Paul Kruger was nie.
“In vandag se staatskole leer jy mos nie meer van Kruger en De la Rey nie,” sal die verskoning kom. En dit is dalk waar, maar wat leer jy jou kinders van dié helde? Vertel jy vir hulle van die Groot Trek, die Slag van Bloedrivier, die oorwinning by Magersfontein en die nederlaag by Paardeberg?
Die vierde strofe van Die Stem van Suid-Afrika bevat twee baie belangrike reëltjies:
Dat die erwe van ons vadere
Vir ons kinders erwe bly
In daardie twee reëls word die wens uitgespreek dat ons kultuur, ons erfenis, ook oorgedra word aan ons nageslag. Of dit gebeur en of ons erfenis met tyd verdwyn berus by ons en ons alleen. In Orania is Erfenisdag nie `n amptelike vakansiedag nie, maar ons erfenis is verweef met ons daaglikse bestaan. Daar is Majubadag, Heldedag en ander vakansiedae wat ons die geleentheid bied om ons erfenis te vier. Maar selfs in Orania, met die vakansiedae, is dit nie genoeg om slegs met dié geleenthede ons geskiedenis te herdenk nie. Jou erfenis moet deel van jou daaglikse bestaan vorm.
Ek stem heeltemaal saam.Bly die Afrikaner geskidenis onderrig en voortvertel.
Alleen so kan kinders dit ook verder dra.
Mooi bly altemaal,magdalena.
Dis baie waar