by Orania Beweging | Okt 12, 2016 | Nuus |
Talle kommentators bemoei in die hedendaagse vlugtelingkrisis in Europa die argument dat daar oor al die eeue vlugtelingstrome was en dat alle volke en nasies uit verskeie ander volke gevorm is en integrasie van die vreemdelinge na ʼn ruk wel slaag. Die argument is dat ons hier met ʼn natuurwet te doen het en nie dit moet keer nie, maar eerder tot voordeel van almal moet bestuur. Die Hugenote word dikwels aangehaal as ʼn voorbeeld van die suksesvolle integrasie van vlugtelinge wat ook die land van bestemming verryk het.
Die Hugenote se koms na Suid-Afrika is onder Afrikaners welbekend en dit is ʼn feit dat hulle binne enkele generasies ingesmelt het in die ontluikende Afrikanervolk en inderdaad ʼn positiewe en bevrugtende rol gespeel het. Die Franse taal het wel redelik gou uitgesterf, maar die sterk Protestantse oortuigings van die Hugenote het die bestaande Nederlandse Protestantisme versterk. Op die gebied van die ekonomie was die Hugenote meesal vaardige ambagsmanne en het ook die wynbou help verbeter, onder andere.
Die Hugenote in Suid-Afrika was egter net ʼn klein systroom van ʼn veel groter Hugenote-vlugtelingstroom na Protestantse lande in Sentraal-Europa, nadat hulle weens hulle geloof uit Katolieke Frankryk verdryf is na die ophef van die Edik van Nantes in 1685. Van die sowat 200 000 Hugenote wat uit Frankryk gevlug het, het die meeste na Engeland (sowat 50 000), Switserland (20 000) en na die verskeie Duitse state (50 000) gevlug, daarvan omtrent 20 000 na Pruise. Die Pruisiese heerser Frederick Willem het die vestiging van
Hugenote in sy yl bevolkte en arm koningryk aangemoedig en vir hulle selfs sekere vergunnings gegee. Pruise het nog steeds gely onder die gevolge van die Dertigjarige Oorlog (1618-1648) en groot dele van die land was yl bevolk en min ontwikkel. Nuwe setlaars is dus verwelkom. Dit was inderdaad ʼn vêrsiende daad en het Pruise gebaat, maar om die hedendaagse Duitse kanselier Merkel se uitnodiging aan veral Arabiese vlugtelinge enigsins met Frederik Willem se benadering te wil vergelyk is eenvoudig belaglik.
Die Hugenote in Pruise het dieselfde godsdiens gehad en was mense met skaars vaardighede. Alhoewel die “gewone” mense Duits gepraat het, was Frans die taal van die adellikes en die hoër orde van die samelewing, sodat hulle daar goed kon inskakel. Hulle kultuur was ook Europees en hulle was aanpasbaar. Nogtans het die integrasie van die Hugenote tyd geneem en nie alle inheemse mense was so opgewonde soos hulle koning oor die nuwe intrekkers nie. Vir ʼn paar generasies het die Hugenote veral onder mekaar getrou en eers na meer as 100 jaar het hulle ononderskeibaar van die ander inwoners geword. Net die Hugenote-vanne in sekere dele herinner nog aan dié stuk geskiedenis.
Meeste vlugtelinggolwe in die geskiedenis het egter gepaard gegaan met konflik en was allermins voordelig vir die inheemse bevolking. Ook die hedendaagse vlugtelinggolf bied min stof tot optimisme. Die godsdiens verskil hemelsbreed, kommunikasie sukkel uit gebrek aan ʼn gemeenskaplike taal, en die opleidingsvlakke is dikwels laag. Verder is Europa nou reeds oorbevolk en vestig die meeste vlugtelinge nie in landelike dele waar mense wegtrek nie, maar juis in die stede waarheen almal stroom.
Foto: Frederik Willem van Pruise verwelkom die Hugenote in Berlyn.
by Orania Beweging | Okt 8, 2016 | Nuus |
’n Afvaardiging van vyf persone van die Orania Beweging en Orania Dorpsraad is tans op besoek aan Europa. Die Orania Beweging onderneem elke tweede jaar ’n skakeltoer na Europa. Oor die afgelope paar jaar het die ondersteuning vir Orania in Europa wesenlik toegeneem en vyf lande, insluitende Nederland, Vlaandere, Duitsland, Oostenryk en Suid-Tirool word vanjaar besoek.
Tydens vanjaar se toer is 46 afsprake met organisasies, politieke partye, ondersteuners en potensiële ondersteuners geskeduleer. Tydens die eerste helfte van die toer is Nederland en Vlaandere besoek. Bande is gesmee met munisipale rade, burgemeesters, nasionale politici, burgerlike organisasies, akademici, kerkleiers en gewone individue wat graag meer van Orania wil weet en ons wil ondersteun.
Met die situasie in Suid-Afrika wat tans polities, ekonomies en kultureel versleg is dit vanjaar die fokus van die Orania Beweging om Europese leiers bewus te maak van die politieke onstabiliteit in Suid-Afrika sowel as van die erge misdaad en die aanslag op Afrikaans en Afrikanerkultuur wat tans beleef word.
Orania as alternatief vir Afrikaners word toenemend in Europa positief ontvang en wesenlike steun is die afgelope twee weke vir ons strewe gemonster. Oor die volgende paar dae sal gesprekke met ondersteuners, potensiële ondersteuners en politici in Duitsland, Oostenryk en Italië gevoer word.
Behalwe vir die politieke skakeling, is die Orania Beweging ook daarop gefokus om lede in Europa te werf en fondse vir maatskaplike projekte in Orania in te samel. Beleggers word ook vir die Orania Groeifonds gewerf. Verskeie Europese instellings het hulself reeds bereidwillig verklaar om fondse vir die Beweging se volgende groot behuisingsprojek in te samel.
by Orania Beweging | Okt 5, 2016 | Nuus |
Orania het talle nadele wat ontwikkelingsmoontlikhede betref: dit is vêr van die markte af geleë, die klimaat is hard en uiters, die afstande groot, die bevolking nog te klein om al die geriewe en dienste te regverdig wat ʼn stad het, ensovoorts.
Nogtans is dit duidelik dat Orania reeds ʼn suksesverhaal is, en besig is om nog ʼn groter een te word in die toekoms. Daar is talle geleenthede in die landbou, in die vervaardigingsbedryf, in die toerisme, handel ensovoorts. Wat Orania egter anders maak en hoekom ek oortuig is dat ons vorentoe nog meer voorspoedig gaan wees, is die een bestaandeel wat in die meeste gevalle in die res van Suid-Afrika ontbreek, en wie se afwesigheid die oorsaak is hoekom dinge op talle plekke nie vorder nie: dissipline en orde.
Amper elke krisis kan terug gevoer word na die afwesigheid van orde en dissipline. Die
korrupsie wat hoogty vier amper orals waar die regering betrokke is, is as gevolg van ʼn gebrek aan dissipline en orde. Jy word soos jou omgewing, en as almal korrup is en dit die norm is, en niemand aangespreek word nie, dan versprei die slegte gewoonte van die hoogste tot die laagste vlak soos ‘n kanker. As ʼn mens kyk na die internasionale korrupsie-indeks (van Transparency International), val dit op dat ryk en voorspoedige lande ook diegene met geen of bitter min korrupsie is, en anders om. Switserland is by uitstek ʼn voorbeeld van ʼn land waar orde, dissipline, veiligheid en ekonomiese voorspoed hand aan hand gaan. Net soos Orania is Switserland deur die natuur benadeel: geen toegang tot die see nie, moeilike terrein, min grondstowwe, mense woon verspreid. Die opkoms van die Verre Ooste as ekonomiese mag (Japan, Sjina, Suid-Korea, Singapoer, Taiwan en ander) het baie met hulle dissipline te doen. Selfs binne Afrika is daar voorbeelde wat uitstaan weens die afdwing van dissipline en orde, soos Rwanda.
Die huidige vlaag gewelddadige betogings by die universiteite het ook alles te doen met ʼn gebrek aan dissipline en orde. Studente kry ook die boodskap dat hulle sukses behaal met hulle vernietigende optrede, want verlede jaar het hulle ʼn 0% verhoging gekry na hulle betogings en geweldpleging, en ook hierdie jaar tree die owerheid sagkens teen hulle op en word hulle uit verskeie orde geprys vir hulle verkeerde optrede.
Waar leer jy dissipline? In die eerste plek by jou ouers, dan ook by die skool en binne die gemeenskap. Tans is daar ʼn bose kringloop buite Orania aan die gang: talle ouers het self sonder of met min dissipline grootgeword (die geslag wat in die nuwe Suid-Afrika groot geword het) en dit ook nie meer by die skool of tydens die diensplig geleer nie. Hulle kinders leer dit nog minder, want orde en tug druis mos nou in teen jou menseregte. (Ek veralgemeen nou. Natuurlik is daar ook onder die genoemde geslag heelwat mense met wonderlike dissipline). Op universiteit is dissipline ook nie meer te vinde nie, en die wangedrag van betogers word beloon en hardwerkende, gedissiplineerde studente gestraf. Die samelewing stel ook geen voorbeeld nie. Om die bose kringloop te verbreek is nogal moeilik en dit moet op alle vlakke gedoen word. Dikwels is dit net moontlik deur ʼn “reset” van ʼn samelewing, byvoorbeeld in die vorm van ʼn nuwe begin onder ʼn nuwe bewind, gewoonlik na ʼn lang tyd van vernietiging en agteruitgang.
Ons het ʼn groot taak en verpligting om dissipline in ons mense weer in te skerp. Die skole in Orania speel ʼn belangrike rol, maar dit is nie genoeg nie. Belangriker nog is ʼn kultuur van dissipline. Mense met ʼn slap houding moet nie daarmee wegkom nie. Dit mag wreed voel teenoor die enkeling, maar in die ou einde is dit tot almal se voordeel as daar dissipline en orde is. Dit is nie iets waarmee jy gebore word nie, maar wat jy aanleer, en niemand is te oud om te leer nie. Dit begin by klein dinge soos om nie rommel te strooi nie, om netjies te lyk en beleefd op te tree en eindig by die groot dinge soos ʼn bestuur sonder skuld en korrupsie en wat sy werk ten die beste van sy vermoë doen. Die kerke speel ook ʼn belangrike rol, want die beginsels van orde en dissipline loop soos ʼn goue draad deur die Bybel.
Vir ʼn besigheid wie se werkers gedissiplineerd is, is daar groot voordele: die werk word goed en betyds gedoen, daar word nie gesteel nie, daar is ʼn goeie verhouding tussen die werkgewer en werknemer, en die werknemers onder mekaar en les bes, deur dissipline word daar ʼn goeie omset verkry wat ook weer beter salarisse beteken.
by Orania Beweging | Sep 30, 2016 | Nuus |
Anders Fogh Rasmussen, die sekretaris-generaal van die Noord Atlantiese Verdragsorganisasie, skryf verlede week in die Wall Street Journal dat Amerika sy rol as internasionale polisieman moet behou en uitbou. Rasmussen probeer met die artikel die toenemende sentiment in Amerika dat dié land minder in buitelandse konflik betrokke moet wees, teenwerk.
Rasmussen bou sy argument vir die polisiemanrol van die VSA op sy persepsie dat dié wêreldmoondheid oor die materiële en morele basis beskik om op ’n doeltreffende manier die wêreld ’n veiliger plek te maak.
Volgens Rasmussen is die wêreld vandag toenemend ’n enkele globale nedersetting waar bure mekaar takel en die een konflik na die nader plaasvind. Rasmussen lewer dan ’n pleidooi dat die VSA die rol van polisieman, brandweerman en ook burgemeester moet speel. Die polisieman moet die wêreld patrolleer. Die brandweerman moet die vlamme van konflik blus en die burgemeester moet op ’n wyse manier die heropbouproses lei.
Die idee dat Amerika al drie hierdie rolle kan speel, is onderlê in die argument dat dié land se leiers nog altyd geweet het wat reg is vir die wêreld. Amerika as modeldemokrasie word voorgehou en die ekonomiese sukses van die land word gebruik om te bewys dat die Amerikaners iets weet en iets kan doen wat die res van die wêreld nog nie reggekry het nie.
Daar is egter ’n paar gate in Rasmussen se argumente. Eerstens is die wêreld nog vêr weg van die enkele globale nedersetting wat sommige wêreldleiers reeds raaksien. Die idee dat die wêreld tans deur konflik oorgeneem word, is ook verregaande. Hoewel ons daagliks in die nuus hoor van die oorloë, burgeroorloë, staatsgrepe en opstande is dit eintlik net ’n klein deel van die wêreld wat hierdeur geraak word. Die grootste deel van die wêreldbevolking leef tans in relatiewe vrede en stabiliteit.
Rasmussen se argument dat Amerika oor die vermoë beskik om ’n soort superregeerder in die wêreld te wees, is ook verkeerd. Beide op die terreine van die morele en die materiële bestaan daar vraagtekens oor Amerika se potensiaal om die rol van internasionale polisieman te speel. Die land se staatskuld staan reeds op byna 20 triljoen dollar en die rente hierop is jaarliks 500 miljard dollar. ’n Groot deel van die Amerikaanse federale begroting bestaan uit militêre spandering en dit sal moeilik verder verhoog kan word.
Wat die morele vraag aanbetref hoef ’n mens nie vêrder as Irak te kyk om te wonder of Amerikaanse leiers regtig altyd oor die vermoë beskik om die regte besluit oor wat reg is vir ander lande, te neem nie. Die Amerikaanse oorlog in Irak het in ’n katastrofe geëindig en lewensverlies, swaarkry en ’n konstante staat van chaos is steeds daagliks deel van Irakese se lewens.
Die belangrikste argument teen Rasmussen is egter die vraag oor of die res van die wêreld Amerika as sy polisieman wil hê? Die antwoord is waarskynlik nee. Die meeste lande en streke wil self verantwoordelikheid neem vir probleme en konflik wat hulle raak. ’n Streeksgefokusde benadering tot die oplos van konflik is baie meer sinvol as die idee dat Amerika almal se polisieman moet wees.
by Orania Beweging | Sep 30, 2016 | Nuus |
Ernest Hemingway se roman ‘The Sun also Rises’ vertel die verhaal van ‘n groep Amerikaners en Engelse wat vanaf Frankryk na Spanje reis enkele jare na die Eerste Wêreldoorlog. Die boek gee ‘n blik op ‘n generasie Westerlinge wat beroof is van die hoop wat tegnologiese vooruitgang tydens die vorige eeu gebring het; en veral op die geestelike foltering wat hul beleef in ‘n wêreld wat moreel uitgehol is.
In die boek word die karakter Mike Campbell, ‘n ongerehabiliteerde insolvent, gevra hoe hy bankrot geraak het. “Op twee maniere”, antwoord hy: “eers geleidelik, en dan skielik.”
Hemingway het hiermee die wese van agteruitgang vasgevang.
Male sonder tal gebeur dit dat mense terugkyk op ‘n ramp (ongeag of dit finansiëel, persoonlik of fisies van aard is) en word daar gevra “maar hoe kon hulle die gevaartekens vir so lank miskyk?” Die rede hiervoor is dat die gevaartekens eers na waarde geag word nadat die ramp plaasgevind het.
Anders gestel: Mense vind dit maklik om die gevaartekens weg te redeneer terwyl die agteruitgang nog geleidelik is. Dit lyk dan nog na ‘n eenvoudige taak om die probleem om te keer en almal hou moed en koers. Veral omdat mense moeilik afstand doen van dit wat hulle reeds belê het. In finansië terme is dit maklik om goeie geld agter slegte geld aan te gooi in die hoop om die aanvanklike slegte belegging goed te maak. Dieselfde emosies geld ons ander lewensruimtes.
Maar daar kom ‘n stadium waarop die onvermybare duidelik word. Die Franse Protestantse skrywer, Jakob Abbadie skryf in 1684 dat jy sommige mense om die bos kan lei, of selfs alle mense op ‘n bepaalde plek of tyd om die bos kan lei, maar dat jy nie alle mense vir alle tyd om die bos kan lei nie. Die waarheid word ontbloot almal poog om die skip gelyktydig te verlaat. Hetsy kort voordat die ysberg getref word of kort nadat dit getref is. Op daardie oomblik tree die bankrotskap skielik in.
In Suid-Afrika is Afrikaners oorreed om vir ‘n liberale demokrasie te stem. In ruil vir ons uitvoerende gesag, sou ons regte deur ‘n grondwetlike regstaat beskerm word. Daarmee het die “Nuwe Suid-Afrika” beloof om die Republikeinse waardes (dinge word gedoen in die beste belang van die geheel) wat Afrikaners oor eeue in Afrika versorg en gevoed het, uit te brei om ‘n Rennaisance in die townships en bantustans te weeg te bring.
Die ANC, daarteenoor sou enige iets en alles beloof sodat hul die mag kon kry, want hulle het geweet dat as hulle eers die uitvoerende gesag beheer, hul die hulpbronne van die staat saam met die oorweldigende getallemeerderheid van hul volgelinge sou kon gebruik om hul oorspronklike doelwit te bewerkstellig: ‘n imperiale bantustan in Suidelike-Afrika, kompleet met landhere en lyfeienes: landhere wat vet word op die land en lyfeienes wat krepeer op die krummels wat van die tafel val.
Die verhaal van agteruitgang speel tans voor ons oë af by die staatsuniversiteite. Lesingslokale wat afgebrand word is nie meer beperk tot die Universiteit van die Noorde nie, dit gebeur nou in RAU, Tuks, Kovsies, Maties en Ikeys. Morele bankrotskap het na ‘n lang tyd van stadige agteruitgang skielik ingetree by die hoomoedige en alwetende besture van hierdie ivoortorings.
Ons beleef hierdie proses ook in Springbokrugby.
Afrikaners word dikwels gemaan dat as Suid-Afrika brand, ons almal saam afbrand. Daardeur word ons gedurig berispe om nie te durf om op ons eie na ons eie belange om te sien nie. Hierdie bome-en-bos-wat-brand vergelyking hou egter nie meer water nie. Afrikaners is nie bome wat op een plek geanker is nie. Ons is vindingryke mense wat vir onsself kan dink en doen. Ons kan die verskil tussen ‘n bosbrand en ‘n sinkende skip sien. Ons weet wanneer ons vasgeplant is en wanneer ons kan beweeg.
Suid-Afrika is besig om stadig agteruit te gaan. Daar gaan ‘n dag kom waarop dinge skielik uitmekaar gaan val. Moenie vir daardie dag wag om te begin bou aan ‘n alternatief nie.
Mens hoef egter nie alles te verloor in ‘n ramp nie. Tewens daar is talle ondernemers wat uit die as van finansiële bankrotskap herrys om ongekende sukses te behaal. Henry Ford van die Ford motormaatskappy is ‘n bekende voorbeeld. Afrikaners het ook ons bankrotskap tydens en na die Anglo-Boereoorlog oorkom om die voorste ekonomiese en wetenskaplike suksesse in Afrika te behaal. Die tempo van herstel hang af van die mate waarop daar voorbereidings getref is vir die slegste voordat die ramp tref.
Orania word gebou as reddingsboot vir alle Afrikaners. Wanneer dinge skeefloop vir Afrikaners, gaan Orania jou nie die deur wys omdat jy te oud is vir ‘n visa nie, of omdat jy nie genoeg geld het nie, of omdat jy kinders het wat mediese versorging benodig nie of omdat jy nie goed genoeg gekwalifiseerd is nie, of omdat jy nie goed genoeg engels praat en skryf nie.
Orania is reeds ‘n beter dorp as enige van soortgelyke grootte in Suid-Afrika. Hoe meer Afrikaners nou betrokke raak, hoe groter gaan hy wees wanneer Suid-Afrika skielik bankrot is. Help Orania nou om te bou aan besighede wat werke kan verskaf, huise wat verblyf kan bied, boerderye wat kos kan gee en skole en ‘n universiteit wat aan ons kinders ‘n uitnemende toekoms as Afrikaners kan verseker.
Die bonus is, dat indien Suid-Afrika nie in ‘n ramp ontaard nie, en die onlangse munisipale verkiesing het ‘n bietjie hoop aangewakker, jou betrokkenheid by Orania nie verniet sal wees nie. In ruil vir jou belegging sal daar ‘n nuwe stad wees wat nuwe geleenthede vir Afrikaners – ons kinders – bied, ook in ‘n suksesvolle Suid-Afrika.