fbpx

Orania het talle nadele wat ontwikkelingsmoontlikhede betref: dit is vêr van die markte af geleë, die klimaat is hard en uiters, die afstande groot, die bevolking nog te klein om al die geriewe en dienste te regverdig wat ʼn stad het, ensovoorts.

Nogtans is dit duidelik dat Orania reeds ʼn suksesverhaal is, en besig is om nog ʼn groter een te word in die toekoms. Daar is talle geleenthede in die landbou, in die vervaardigingsbedryf, in die toerisme, handel ensovoorts. Wat Orania egter anders maak en hoekom ek oortuig is dat ons vorentoe nog meer voorspoedig gaan wees, is die een bestaandeel wat in die meeste gevalle in die res van Suid-Afrika ontbreek, en wie se afwesigheid die oorsaak is hoekom dinge op talle plekke nie vorder nie: dissipline en orde.

Amper elke krisis kan terug gevoer word na die afwesigheid van orde en dissipline. Diediscipline korrupsie wat hoogty vier amper orals waar die regering betrokke is, is as gevolg van ʼn gebrek aan dissipline en orde. Jy word soos jou omgewing, en as almal korrup is en dit die norm is, en niemand aangespreek word nie, dan versprei die slegte gewoonte van die hoogste tot die laagste vlak soos ‘n kanker. As ʼn mens kyk na die internasionale korrupsie-indeks (van Transparency International), val dit op dat ryk en voorspoedige lande ook diegene met geen of bitter min korrupsie is, en anders om. Switserland is by uitstek ʼn voorbeeld van ʼn land waar orde, dissipline, veiligheid en ekonomiese voorspoed hand aan hand gaan. Net soos Orania is Switserland deur die natuur benadeel: geen toegang tot die see nie, moeilike terrein, min grondstowwe, mense woon verspreid. Die opkoms van die Verre Ooste as ekonomiese mag (Japan, Sjina, Suid-Korea, Singapoer, Taiwan en ander) het baie met hulle dissipline te doen. Selfs binne Afrika is daar voorbeelde wat uitstaan weens die afdwing van dissipline en orde, soos Rwanda.

Die huidige vlaag gewelddadige betogings by die universiteite het ook alles te doen met ʼn gebrek aan dissipline en orde. Studente kry ook die boodskap dat hulle sukses behaal met hulle vernietigende optrede, want verlede jaar het hulle ʼn 0% verhoging gekry na hulle betogings en geweldpleging, en ook hierdie jaar tree die owerheid sagkens teen hulle op en word hulle uit verskeie orde geprys vir hulle verkeerde optrede.

Waar leer jy dissipline? In die eerste plek by jou ouers, dan ook by die skool en binne die gemeenskap. Tans is daar ʼn bose kringloop buite Orania aan die gang: talle ouers het self sonder of met min dissipline grootgeword (die geslag wat in die nuwe Suid-Afrika groot geword het) en dit ook nie meer by die skool of tydens die diensplig geleer nie. Hulle kinders leer dit nog minder, want orde en tug druis mos nou in teen jou menseregte. (Ek veralgemeen nou. Natuurlik is daar ook onder die genoemde geslag heelwat mense met wonderlike dissipline). Op universiteit is dissipline ook nie meer te vinde nie, en die wangedrag van betogers word beloon en hardwerkende, gedissiplineerde studente gestraf. Die samelewing stel ook geen voorbeeld nie. Om die bose kringloop te verbreek is nogal moeilik en dit moet op alle vlakke gedoen word. Dikwels is dit net moontlik deur ʼn “reset” van ʼn samelewing, byvoorbeeld in die vorm van ʼn nuwe begin onder ʼn nuwe bewind, gewoonlik na ʼn lang tyd van vernietiging en agteruitgang.

Ons het ʼn groot taak en verpligting om dissipline in ons mense weer in te skerp. Die skole in Orania speel ʼn belangrike rol, maar dit is nie genoeg nie. Belangriker nog is ʼn kultuur van dissipline. Mense met ʼn slap houding moet nie daarmee wegkom nie. Dit mag wreed voel teenoor die enkeling, maar in die ou einde is dit tot almal se voordeel as daar dissipline en orde is. Dit is nie iets waarmee jy gebore word nie, maar wat jy aanleer, en niemand is te oud om te leer nie. Dit begin by klein dinge soos om nie rommel te strooi nie, om netjies te lyk en beleefd op te tree en eindig by die groot dinge soos ʼn bestuur sonder skuld en korrupsie en wat sy werk ten die beste van sy vermoë doen. Die kerke speel ook ʼn belangrike rol, want die beginsels van orde en dissipline loop soos ʼn goue draad deur die Bybel.

Vir ʼn besigheid wie se werkers gedissiplineerd is, is daar groot voordele: die werk word goed en betyds gedoen, daar word nie gesteel nie, daar is ʼn goeie verhouding tussen die werkgewer en werknemer, en die werknemers onder mekaar en les bes, deur dissipline word daar ʼn goeie omset verkry wat ook weer beter salarisse beteken.