Ernest Hemingway se roman ‘The Sun also Rises’ vertel die verhaal van ‘n groep Amerikaners en Engelse wat vanaf Frankryk na Spanje reis enkele jare na die Eerste Wêreldoorlog. Die boek gee ‘n blik op ‘n generasie Westerlinge wat beroof is van die hoop wat tegnologiese vooruitgang tydens die vorige eeu gebring het; en veral op die geestelike foltering wat hul beleef in ‘n wêreld wat moreel uitgehol is.

In die boek word die karakter Mike Campbell, ‘n ongerehabiliteerde insolvent, gevra hoe hy bankrot geraak het. “Op twee maniere”, antwoord hy: “eers geleidelik, en dan skielik.”

Hemingway het hiermee die wese van agteruitgang vasgevang.

Male sonder tal gebeur dit dat mense terugkyk op ‘n ramp (ongeag of dit finansiëel, persoonlik of fisies van aard is) en word daar gevra “maar hoe kon hulle die gevaartekens vir so lank miskyk?” Die rede hiervoor is dat die gevaartekens eers na waarde geag word nadat die ramp plaasgevind het.

Anders gestel: Mense vind dit maklik om die gevaartekens weg te redeneer terwyl die agteruitgang nog geleidelik is. Dit lyk dan nog na ‘n eenvoudige taak om die probleem om te keer en almal hou moed en koers. Veral omdat mense moeilik afstand doen van dit wat hulle reeds belê het. In finansië terme is dit maklik om goeie geld agter slegte geld aan te gooi in die hoop om die aanvanklike slegte belegging goed te maak. Dieselfde emosies geld ons ander lewensruimtes.

Maar daar kom ‘n stadium waarop die onvermybare duidelik word. Die Franse Protestantse skrywer, Jakob Abbadie skryf in 1684 dat jy sommige mense om die bos kan lei, of selfs alle mense op ‘n bepaalde plek of tyd om die bos kan lei, maar dat jy nie alle mense vir alle tyd om die bos kan lei nie. Die waarheid word ontbloot almal poog om die skip gelyktydig te verlaat. Hetsy kort voordat die ysberg getref word of kort nadat dit getref is. Op daardie oomblik tree die bankrotskap skielik in.

In Suid-Afrika is Afrikaners oorreed om vir ‘n liberale demokrasie te stem. In ruil vir ons uitvoerende gesag, sou ons regte deur ‘n grondwetlike regstaat beskerm word. Daarmee het die “Nuwe Suid-Afrika” beloof om die Republikeinse waardes (dinge word gedoen in die beste belang van die geheel) wat Afrikaners oor eeue in Afrika versorg en gevoed het, uit te brei om ‘n Rennaisance in die townships en bantustans te weeg te bring.

Die ANC, daarteenoor sou enige iets en alles beloof sodat hul die mag kon kry, want hulle het geweet dat as hulle eers die uitvoerende gesag beheer, hul die hulpbronne van die staat saam met die oorweldigende getallemeerderheid van hul volgelinge sou kon gebruik om hul oorspronklike doelwit te bewerkstellig: ‘n imperiale bantustan in Suidelike-Afrika, kompleet met landhere en lyfeienes: landhere wat vet word op die land en lyfeienes wat krepeer op die krummels wat van die tafel val.

Die verhaal van agteruitgang speel tans voor ons oë af by die staatsuniversiteite. Lesingslokale wat afgebrand word is nie meer beperk tot die Universiteit van die Noorde nie, dit gebeur nou in RAU, Tuks, Kovsies, Maties en Ikeys. Morele bankrotskap het na ‘n lang tyd van stadige agteruitgang skielik ingetree by die hoomoedige en alwetende besture van hierdie ivoortorings.

Ons beleef hierdie proses ook in Springbokrugby.

Afrikaners word dikwels gemaan dat as Suid-Afrika brand, ons almal saam afbrand. Daardeur word ons gedurig berispe om nie te durf om op ons eie na ons eie belange om te sien nie. Hierdie bome-en-bos-wat-brand vergelyking hou egter nie meer water nie. Afrikaners is nie bome wat op een plek geanker is nie. Ons is vindingryke mense wat vir onsself kan dink en doen. Ons kan die verskil tussen ‘n bosbrand en ‘n sinkende skip sien. Ons weet wanneer ons vasgeplant is en wanneer ons kan beweeg.

Suid-Afrika is besig om stadig agteruit te gaan. Daar gaan ‘n dag kom waarop dinge skielik uitmekaar gaan val. Moenie vir daardie dag wag om te begin bou aan ‘n alternatief nie.

Mens hoef egter nie alles te verloor in ‘n ramp nie. Tewens daar is talle ondernemers wat uit die as van finansiële bankrotskap herrys om ongekende sukses te behaal. Henry Ford van die Ford motormaatskappy is ‘n bekende voorbeeld. Afrikaners het ook ons bankrotskap tydens en na die Anglo-Boereoorlog oorkom om die voorste ekonomiese en wetenskaplike suksesse in Afrika te behaal. Die tempo van herstel hang af van die mate waarop daar voorbereidings getref is vir die slegste voordat die ramp tref.

Orania word gebou as reddingsboot vir alle Afrikaners. Wanneer dinge skeefloop vir Afrikaners, gaan Orania jou nie die deur wys omdat jy te oud is vir ‘n visa nie, of omdat jy nie genoeg geld het nie, of omdat jy kinders het wat mediese versorging benodig nie of omdat jy nie goed genoeg gekwalifiseerd is nie, of omdat jy nie goed genoeg engels praat en skryf nie.

Orania is reeds ‘n beter dorp as enige van soortgelyke grootte in Suid-Afrika. Hoe meer Afrikaners nou betrokke raak, hoe groter gaan hy wees wanneer Suid-Afrika skielik bankrot is. Help Orania nou om te bou aan besighede wat werke kan verskaf, huise wat verblyf kan bied, boerderye wat kos kan gee en skole en ‘n universiteit wat aan ons kinders ‘n uitnemende toekoms as Afrikaners kan verseker.

Die bonus is, dat indien Suid-Afrika nie in ‘n ramp ontaard nie, en die onlangse munisipale verkiesing het ‘n bietjie hoop aangewakker, jou betrokkenheid by Orania nie verniet sal wees nie. In ruil vir jou belegging sal daar ‘n nuwe stad wees wat nuwe geleenthede vir Afrikaners – ons kinders – bied, ook in ‘n suksesvolle Suid-Afrika.

Blog Single

Eers geleidelik, en dan skielik

by | Sep 30, 2016 | Nuus | 3 comments

3 Comments

  1. Joop Swanepoel

    Ek het dit geniet om die stuk te lees

    Reply
  2. Sebastiaan

    Baie goeie stuk, Ebert. Ons moet aanhou om die boodskap uit te dra.

    Reply
  3. Trevin

    Hou aan om die boodskap uit te dra, Afrikaners is besig om wakker te word uit die slaap (diep koma).

    As ek die hoofskrif dalk kan omdraai soos volg:

    Eers het Orania stadig sukses behaal, en toe skielik.

    Voorwaarts!

    Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

15 − eight =