fbpx

Talle kommentators bemoei in die hedendaagse vlugtelingkrisis in Europa die argument dat daar oor al die eeue vlugtelingstrome was en dat alle volke en nasies uit verskeie ander volke gevorm is en integrasie van die vreemdelinge na ʼn ruk wel slaag. Die argument is dat ons hier met ʼn natuurwet te doen het en nie dit moet keer nie, maar eerder tot voordeel van almal moet bestuur. Die Hugenote word dikwels aangehaal as ʼn voorbeeld van die suksesvolle integrasie van vlugtelinge wat ook die land van bestemming verryk het.

Die Hugenote se koms na Suid-Afrika is onder Afrikaners welbekend en dit is ʼn feit dat hulle binne enkele generasies ingesmelt het in die ontluikende Afrikanervolk en inderdaad ʼn positiewe en bevrugtende rol gespeel het. Die Franse taal het wel redelik gou uitgesterf, maar die sterk Protestantse oortuigings van die Hugenote het die bestaande Nederlandse Protestantisme versterk. Op die gebied van die ekonomie was die Hugenote meesal vaardige ambagsmanne en het ook die wynbou help verbeter, onder andere.

Die Hugenote in Suid-Afrika was egter net ʼn klein systroom van ʼn veel groter Hugenote-vlugtelingstroom na Protestantse lande in Sentraal-Europa, nadat hulle weens hulle geloof uit Katolieke Frankryk verdryf is na die ophef van die Edik van Nantes in 1685. Van die sowat 200 000 Hugenote wat uit Frankryk gevlug het, het die meeste na Engeland (sowat 50 000), Switserland (20 000) en na die verskeie Duitse state (50 000) gevlug, daarvan omtrent 20 000 na Pruise. Die Pruisiese heerser Frederick Willem het die vestiging vanhugenotte Hugenote in sy yl bevolkte en arm koningryk aangemoedig en vir hulle selfs sekere vergunnings gegee. Pruise het nog steeds gely onder die gevolge van die Dertigjarige Oorlog (1618-1648) en groot dele van die land was yl bevolk en min ontwikkel. Nuwe setlaars is dus verwelkom. Dit was inderdaad ʼn vêrsiende daad en het Pruise gebaat, maar om die hedendaagse Duitse kanselier Merkel se uitnodiging aan veral Arabiese vlugtelinge enigsins met Frederik Willem se benadering te wil vergelyk is eenvoudig belaglik.

Die Hugenote in Pruise het dieselfde godsdiens gehad en was mense met skaars vaardighede. Alhoewel die “gewone” mense Duits gepraat het, was Frans die taal van die adellikes en die hoër orde van die samelewing, sodat hulle daar goed kon inskakel. Hulle kultuur was ook Europees en hulle was aanpasbaar. Nogtans het die integrasie van die Hugenote tyd geneem en nie alle inheemse mense was so opgewonde soos hulle koning oor die nuwe intrekkers nie. Vir ʼn paar generasies het die Hugenote veral onder mekaar getrou en eers na meer as 100 jaar het hulle ononderskeibaar van die ander inwoners geword. Net die Hugenote-vanne in sekere dele herinner nog aan dié stuk geskiedenis.

Meeste vlugtelinggolwe in die geskiedenis het egter gepaard gegaan met konflik en was allermins voordelig vir die inheemse bevolking. Ook die hedendaagse vlugtelinggolf bied min stof tot optimisme. Die godsdiens verskil hemelsbreed, kommunikasie sukkel uit gebrek aan ʼn gemeenskaplike taal, en die opleidingsvlakke is dikwels laag. Verder is Europa nou reeds oorbevolk en vestig die meeste vlugtelinge nie in landelike dele waar mense wegtrek nie, maar juis in die stede waarheen almal stroom.

Foto: Frederik Willem van Pruise verwelkom die Hugenote in Berlyn.