fbpx

anders-fogh-rasmussenAnders Fogh Rasmussen, die sekretaris-generaal van die Noord Atlantiese Verdragsorganisasie, skryf verlede week in die Wall Street Journal dat Amerika sy rol as internasionale polisieman moet behou en uitbou. Rasmussen probeer met die artikel die toenemende sentiment in Amerika dat dié land minder in buitelandse konflik betrokke moet wees, teenwerk.

Rasmussen bou sy argument vir die polisiemanrol van die VSA op sy persepsie dat dié wêreldmoondheid oor die materiële en morele basis beskik om op ’n doeltreffende manier die wêreld ’n veiliger plek te maak.

Volgens Rasmussen is die wêreld vandag toenemend ’n enkele globale nedersetting waar bure mekaar takel en die een konflik na die nader plaasvind. Rasmussen lewer dan ’n pleidooi dat die VSA die rol van polisieman, brandweerman en ook burgemeester moet speel. Die polisieman moet die wêreld patrolleer. Die brandweerman moet die vlamme van konflik blus en die burgemeester moet op ’n wyse manier die heropbouproses lei.

Die idee dat Amerika al drie hierdie rolle kan speel, is onderlê in die argument dat dié land se leiers nog altyd geweet het wat reg is vir die wêreld. Amerika as modeldemokrasie word voorgehou en die ekonomiese sukses van die land word gebruik om te bewys dat die Amerikaners iets weet en iets kan doen wat die res van die wêreld nog nie reggekry het nie.

Daar is egter ’n paar gate in Rasmussen se argumente. Eerstens is die wêreld nog vêr weg van die enkele globale nedersetting wat sommige wêreldleiers reeds raaksien. Die idee dat die wêreld tans deur konflik oorgeneem word, is ook verregaande. Hoewel ons daagliks in die nuus hoor van die oorloë, burgeroorloë, staatsgrepe en opstande is dit eintlik net ’n klein deel van die wêreld wat hierdeur geraak word. Die grootste deel van die wêreldbevolking leef tans in relatiewe vrede en stabiliteit.

Rasmussen se argument dat Amerika oor die vermoë beskik om ’n soort superregeerder in die wêreld te wees, is ook verkeerd. Beide op die terreine van die morele en die materiële bestaan daar vraagtekens oor Amerika se potensiaal om die rol van internasionale polisieman te speel. Die land se staatskuld staan reeds op byna 20 triljoen dollar en die rente hierop is jaarliks 500 miljard dollar. ’n Groot deel van die Amerikaanse federale begroting bestaan uit militêre spandering en dit sal moeilik verder verhoog kan word.

Wat die morele vraag aanbetref hoef ’n mens nie vêrder as Irak te kyk om te wonder of Amerikaanse leiers regtig altyd oor die vermoë beskik om die regte besluit oor wat reg is vir ander lande, te neem nie. Die Amerikaanse oorlog in Irak het in ’n katastrofe geëindig en lewensverlies, swaarkry en ’n konstante staat van chaos is steeds daagliks deel van Irakese se lewens.

Die belangrikste argument teen Rasmussen is egter die vraag oor of die res van die wêreld Amerika as sy polisieman wil hê? Die antwoord is waarskynlik nee. Die meeste lande en streke wil self verantwoordelikheid neem vir probleme en konflik wat hulle raak. ’n Streeksgefokusde benadering tot die oplos van konflik is baie meer sinvol as die idee dat Amerika almal se polisieman moet wees.