fbpx

TrooskosKersfees ete. Ek maak ‘n waarskynlik onwetenskaplike steekproef, siende ek self deel van die eksperiment is, sommerso tussen kennisse en by die kantoor. “Hoe lyk julle Kersete?” Ek verwag ’n legio antwoorde, ek sien in my geestesoog ’n wye verskeidenheid eksotiese temas, ek sien kalkoen en bloubessies, die realiteit troos my egter veel meer. “Koue gerookte varkboud of gammon soos my ouma dit noem, skaapboud in fyn repies gesny, meestal bietjie te droog gestoompot, aartappelslaai met uie, eier en liters mayonnaise, vrugtepons, gestolde wortelslaai, gestolde komkommerslaai, koue hoenderboudjies, frikkadelle, fillet of snoek op die kole …” ek sien ’n tendens en raak ietwat nostalgies. Ek blaai deur ’n argief  Nataniël resepte in my kas, heerlik, maar ietwat vreemd. Vandag is ek lus vir biltong, geelvet, lippebrandsout biltong, ek is lus vir biltong en my ma se warm boerbeskuit, so warm uit die oond, so voor dit gedroog is en soos sagte soet brood in my koffie agterbly. Ek dink aan die Anglo-Boereoorlog en hoe beskuit en biltong die krygers aan die lewe gehou het. Droë beskuit, droëvleis… noodvoorraad. Ek stel myself voor hoe die kommando in die koue winter om ’n vuurtjie sit en stukke biltong kerf, noodkos. Biltong en beskuit het ons bewaar teen die Engelse, biltong en beskuit word geneties in ons Afrikaner deoksiribonukleïensuur (DNS) ingeprogrammeer, biltong en beskuit hou ons aan die lewe, tot die bittereinde toe. Ons oorleef as gevolg van biltong en beskuit, ons stry voort omdat biltong en beskuit en twak ons aan die gang hou. Ek kerf biltong soos die bokke stert tussen die bene afstap, bittereinder, noodkos, trooskos. Ek gooi ’n stuk boerewors op die rooster, roer die poetoepap in die swartpot dat dit aan die houtlepel kleef, die stoom my hande onvou. Lekker, ek ruik die botter en mielies, ek voel getroos, voel weer mens, voel in die eenvoud van die pap en wors iets egs, iets  Afrikaner.

Kultuur is ’n dinamiese lewenskragtige ding. Dit verander, miskien is verander nie die regte woord nie, want verandering hou die element van andersheid in, dit verander nie, kultuur groei. Orania is ’n kultuurgemeenskap en binne Orania groei die kultuur, dit groei en word groot en kry vorm, dit groei uit die saad wat in 1652 hier geplant is, dit groei uit die saad wat ’n doringboompie langs die pad laat groei het oor wie Totius skryf.

Kultuur is egter nie iets vaag-filosofies nie, maar die tasbare, waarneembare leefstyl van ’n volk, letterlik die manier wat hulle dinge doen. Kultuur is langarm-sokkies en rugbytruie en “hy lyk vir my so baie soos tant Koek se hoenderhaan…” op troues; ook boeremusiek en kerkkoor, basaarpoeding en uitgerekte Psalm 100. Kultuur is dit wat ons definieer en dit is diepgewortel in ons erfenis, maar is ook iets wat groei, groter word en ook deur seisoene gaan.  Kultuur is egter begrond in wat ons eet, in ons trooskos, in koeksisters wat die volk uit die depressie laat opstaan het, in pap en wors wat my uit my depressie laat opstaan en mes en vurk opneem om voort te stry. Troos. Kultuur troos mens, dit troos jou soos ’n ma wat jou sus sê: “toemaar, jy is nou by die huis. Toemaar, jy is nou veilig.”

Ek kyk na die geelvet en speserye op die droëvleis en ek sny ‘n stukkie, ek eet ’n heilhappie op De Wet en De la Rey en op Jopie…ek lek my soutbrandlippe en word getroos aan my volk se bors: “Toemaar Pieter, jy is nou by die huis.”