In tye waar migrasiestrome meer as ooit oor lande spoel en blootstelling aan ander volke, tale en kulture alledags geword het, raak die vraag wie tot ʼn land of volk behoort oftewel deel daarvan kan wees, en wie nie, al hoe belangriker. Alle lande het in mindere of meerdere mate mense uit ander lande en kulture oor tyd geïntegreer, maar selde het immigrante in sulke groot getalle en uit kultureel en etnies heeltemal verskillende samelewings lande oorstroom soos in die laaste tyd. Die konsensus dat immigrasie meesal voordelig is vir die land van bestemming, word ook toenemend bevraagteken.
Die PEW Navorsingsentrum in die VSA het ʼn uitgebreide studie oor die kwessie wie tot ʼn land en volk behoort gedoen, onder die titel ‘What it takes to be truly one of us”. Verskeie uiteenlopende lande is ondersoek en inwoners oor die belangrikheid van verskeie kenmerke van “behoort”, soos taal, godsdiens, geboorteplek en nasionale gewoontes en gebruike ondervra. Die lande wat ondersoek is, is 10 Europese lande wat histories as “volkstate” ontstaan het (Brittanje, Frankryk, Duitsland, Swede, Hongarye, Griekeland, Spanje, Italië, Pole, Nederland), waarvan talle intussen behoorlik multi-kultureel geword het, 3 “Nuwe Wêreldlande” wat deur immigrasie ontstaan het (VSA, Kanada, Australië) en een Asiatiese “volkstaat” (Japan) wat min immigrasie beleef.
Taal is volgens die ondersoek die belangrikste kenmerk om tot ʼn land te behoort. In alle lande voel ʼn groot meerderheid so, waarby veral in Nederland (84%), Hongarye (81%) en Brittanje (81%) mense baie sterk voel daaroor, terwyl mense in Spanje (62%), Kanada (59%) en Italië (59%) relatief minder sterk voel oor die gebruik van die landstaal as vereiste om werklik te behoort. As egter diegene wat nog redelik sterk oor taal voel bygereken word, is dit in alle lande meer as 90% wat baie sterk of redelik sterk daaroor voel, slegs tussen 1% en 7% in die onderskeie lande ag taal as minder belangrik of onbelangrik as kenmerk deel wees.
Nasionale gewoontes, tradisies en gebruike, met ander woorde dit wat algemeen as kultuur beskryf word, as kenmerk van behoort verskil redelik wyd tussen die onderskeie lande. Hongare (68%) en Grieke (66%), al twee etnies redelik homogene lande, en in ʼn mate ook Pole (56%), voel baie sterk daaroor, maar selfs in lande wat gewoond is aan immigrasie, soos Kanada, Brittanje, Australië, Frankryk en die VSA is dit nog om en by 50% wat sterk daaroor voel. Nasionale kultuur speel ʼn ondergeskikte rol as kenmerk van behoort in lande met ʼn liberale uitkyk en ʼn onderontwikkelde patriotisme, soos Nederland (37%, Duitsland (29%) en Swede (26%). As diegene wat kultuur as effens belangrik beskou bygetel word, gaan die syfer vir bykans alle lande op na tussen 80% en 90%. Slegs in Duitsland en Swede is daar ʼn aansienlike hoeveelheid wat nasionale kultuur as min of glad nie belangrik ag nie (26% en 37%, onderskeidelik). Dit is ook nie toevallig dat dit juis die twee lande was wat hulle poorte oopgegooi het vir vlugtelinge uit die Midde-Ooste nie.
Om in die spesifieke land gebore te word, is vir 32% van alle ondersoekte lande se respondente baie belangrik. Ook hier is dit Hongare en Grieke, asook Japannese vir wie dit baie belangrik is om in die land gebore te wees om te behoort (52%, 50% en 50%). Vir meer as, of rofweg ʼn derde (tussen 42% en 32%) in Pole, Italië, Spanje, Groot-Brittanje en die VSA is dit baie belangrik om in die land gebore te wees, terwyl dit vir Kanadese, Nederlanders, Australiërs, Duitsers en Swede (tussen 21% en 8% wat sterk voel daaroor) ʼn ondergeskikte rol speel om in die land gebore te wees.
Godsdiens as kenmerk van behoort speel in meeste lande ʼn ondergeskikte rol, alhoewel daar duidelike verskille is. 54% van Grieke asook om en by ʼn derde (tussen 32% en 29%) in Pole, VSA, Italië en Hongarye voel dat om ʼn Christen te wees baie belangrik is om werklik tot die land te behoort. In meeste ander lande speel godsdiens egter ʼn ondergeskikte rol as merker om te behoort (minder as 20%), terwyl dit besonder laag is (10% of minder) in Frankryk, Nederland, Spanje en Swede. Frankryk (oorwegend katoliek), Nederland en Swede (tradisioneel protestants) is al vir geslagte lank sterk sekulêr, maar in Spanje, wat tradisioneel sterk katoliek was, het ʼn opvallende sekularisasie in die laaste om en by 20 jaar plaasgevind.
In alle lande is taal en kultuur die belangrikste kenmerke om te behoort, terwyl om daar gebore te wees en om ʼn Christen te wees (die vraag is nie in Japan gevra nie, alle ander lande is tradisioneel Christelik) as minder belangrik geag word. Net in Japan ag ʼn oorgrootte meerderheid (77%) dit as baie of effens belangrik om in Japan gebore te wees om ʼn Japannees te wees. Dit is omdat Japan baie min immigrante het en omdat daar ook relatief min Japannese buite Japan woon.
In alle kategorieë is dit die ouer mense van elke land wat sterker oor elke kategorie voel en, soos verwag kan word, ook aanhangers van behoudende en nasionalistiese partye, en mense wat godsdienstig is.
Die vraag oor wie behoort en wie nie behoort nie, word natuurlik ook in en vir Orania gevra. Geen ondersoek is oor die kwessie gedoen nie, maar hier is my waarneming:
Taal speel ʼn baie belangrike rol en nie-Afrikaanssprekendes is die absolute minderheid. Van hulle word verwag om Afrikaans in die openbaar te praat. Afrikaans alleen is egter nie genoeg nie, kultuur en godsdiens speel net so ʼn belangrike rol, en om tot die gemeenskap van Orania te behoort moet jy (my waarneming, ander mag verskil) Afrikaans praat (selfs al is dit nie noodwendig iemand se moedertaal nie), die Afrikanerkultuur uitleef en ʼn Christen wees (dit is, God Drie-Enig soos geopenbaar in die Bybel bely). Die vereiste om in Orania gebore te wees geld uit die aard van die saak nie in ʼn gemeenskap wat ontstaan het uit Afrikaners wat van elders in die land gekom het nie. Dis so vêr net jongmense wat in Orania gebore is. Ons kan egter nou reeds waarneem dat kinders wat in Orania gebore is, hier opgegroei het en die Orania -idee as ‘t ware met die moedersmelk ingedrink het, beter aangepas is as diegene wat in die res van Suid-Afrika opgegroei het.
Etnisiteit (volkskap, genealogiese afkoms) word doodgeswyg – polities inkorrek?
Hanno, in die PEW ondersoek was net sprake van taal, gewoontes, godsdiens en geboorteplek, nie ras nie.
Dit is tipies van links-liberale en multikulturele state en navorsers om die bestaan van ETNISITEIT, wat genealogiese afkoms insluit, te ontken en te verswyg – ETHNICITY is “the fact or state of belonging to a social group that has a common national or cultural tradition” ; “Ethnicity is defined in terms of shared GENEALOGY”. Dit hoef nie polities korrek ontken te word dat bv die Afrikaner (93% van Europese afkoms) en die Khoi-San (soos baie al meer bruines deesdae selfidentifiseer) verskillende etniese groepe (volke of volksgroepe) is nie. Selfs die VN en UNESCO ontken nie etnisiteit (insluitend afkoms) nie.
Sebastiaan, ek hou van dié pitkos artikel en dit gee my ‘n geheel nuwe perspektief oor Afrikanerskap.
Ek het nooit so daaroor gedink dat Afrikanerskap verwerf moet word en nie ‘n geboortereg is nie. Ook dat Afrikanerskap nie permanent is nie, maar ‘n afgeleide van wat en wie jy op ‘n bepaalde oomblik is. Of is ek dalk verkeerd?
Baie groete
Beste Pieter, dankie vir die kompliment. My waarneming is gerig op Orania, nie op die Afrikaner as geheel nie. Om ‘n Oraniër te wees is in ‘n sekere sin ‘n verwerfde identiteit, daarom noem ons onsself ook ‘n “intentional community” by gebrek aan ‘n goeie woord in Afrikaans. Feitlik alle Oraniërs is egter in Suid-Afrika gebore en binne ‘n Afrikaner-gesin. Die punt wat ek maak, en ek gebruik die PEW kriteria vir Orania, is dat jy, om in Orania as deel van die gemeenskap aanvaar te word, jy Afrikaans moet praat, ‘n Christen moet wees en die Afrikaner-kultuur en gewoontes moet aanhang, maar dat jy nie in Orania gebore hoef te wees nie, omdat dit nog ‘n jong gemeenskap is. Vir Afrikanerskap geld vir heelwat mense seker ook die beginsel om in Suid-Afrika gebore te moet wees, maar ek beskou dit as ‘n swak vereiste, want dan was dr. Verwoerd byvoorbeeld nie ‘n Afrikaner nie, en Afrikaner en Suid-Afrika is lankal nie meer sinoniem nie. Talle Afrikaners leef deesdae ook buite Suid-Afrika en hulle kinders word daar gebore en hulle word nog steeds as Afrikaners grootgemaak.