fbpx

Die meerderheid regeer en bepaal alles, so word dikwels gesê. Van meet af is die uitspraak bedoel om ons as klein minderheid moedeloos te maak, maak nie saak of die uitspraak vanaf die kant van die meerderheid, of uit ons eie geledere kom nie.

In der waarheid is die meerderheid egter ook divers en dikwels onaktief. Dit is nie die meerderheid wat regeer of die opinies bepaal nie, dit is ʼn self-aangestelde elite wat namens die meerderheid praat, of voorgee om te praat, maar wat self ook ʼn klein minderheid is.

In Westerse, dikwels etnies meer homogene lande as wat dit die geval is met Suid-Afrika, word daar dikwels gepraat van die “swyende meerderheid” wat dikwels nie saamstem met besluite van die elite nie, maar wat te ongeorganiseerd of te traag is om iets daarteen te doen.

In Suid-Afrika is die versinnebeelding van die swyende meerderheid onder Afrikaners diegene wat hulle stem dik maak by die braaivleisvure tussen hulle familie en vriende, maar wat nie die moed van hulle oortuiging het om enigiets verder te doen nie. Hulle is nie betrokke by ʼn party of organisasie nie, hulle stem dikwels nie eers nie en nog minder oorweeg Orania as ʼn alternatief.

In meeste moderne Westerse lande (en Suid-Afrika as ʼn mengsel tussen Weste en Afrika en as gemoderniseerde samelewing kan hierby ingesluit word) het die elite ʼn linkse agenda en bestaan uit ʼn gedugte, informele groep van sekere politici, mediamense, kunstenaars en akteurs en ander persone wat die verhoog beset en wie se stem orals gehoor word deur die swyende meerderheid. Hulle druk hulle agenda op die samelewing af, ongeag of die swyende meerderheid dit wil hê of nie. ʼn Voorbeeld daarvan is die sterk propaganda vir die gay-huwelik, wat waarskynlik deur die swyende meerderheid afgekeur word, maar wat nie die moed het om daarteen op te staan nie en wat onder die persepsie ly dat hulle dalk ʼn klein minderheid is en daarom moet stilbly.

Dat goed georganiseerde en bedrewe minderhede ʼn samelewing volgens hulle wil kan vorm, ken ons ook uit die ou Suid-Afrika, waar die Afrikaner Broederbond sy behoudende agenda kon bevorder, al was hulle getalle hoogstens enkele duisend. Aan die ander kant van die spektrum was die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party in getalle weglaatbaar en het om goeie redes nooit aan ʼn verkiesing deelgeneem nie, selfs nadat hulle ontban is, maar het nogtans die politiek in hulle rigting gedwing omdat hulle goed georganiseerd en aktief was. Of vat die rol van Moslems in Suid-Afrika, wat minder as 5% van die bevolking is, maar vir wie agteroor gebuig word met Halal voedsel, Islam bankdienste , klerekode ens. om dat hulle ʼn minderheid is wat met selfvertroue optree en vir wie talle bang is.

Ongeag óf diegene wat die koers bepaal namens die meerderheid praat (en self net ʼn minderheid is), óf namens die minderheid of watter groep ook al praat, ongeag of hulle agenda links of regs is of was, die punt is dat politieke en kulturele en politieke veranderinge deur ʼn goed georganiseerde klein groep bepaal word, nie deur die swyende meerderheid nie.

Die belDesign-Around-Vocal-Minority-702x336angrike punt vir ons as minderheid, selfs minderheid van ʼn minderheid is dat ons nie ʼn meerderheid hoef te wees om ʼn verskil te maak nie, en dat ons min getalle ons nie moedeloos hoef te maak nie. Ook die vryheidsgesinde beweging onder Afrikaners, waarvan die Orania Beweging deel is, is ʼn minderheid, maar ons het antwoorde, ons het ʼn ideaal en toewyding en ons kan ʼn verskil maak aan ons mense se lot.