fbpx

Dit is reeds amper ʼn jaar dat ek Orania my tuiste gemaak het. Onvoorsiene verwikkelinge het ons gebring na ons huidige tuisdorp. Met ʼn negatiewe uitkyk op die heel onskuldige dorpie het ek met ʼn baie kritieke oog alles gade geslaan. Baie gou het blomme gepryk waar ek dorings en distels verwag het. Die vriendelikheid van jonk en oud is prysenswaardig. Ryk en arm leef in ʼn harmonie ongeëwenaard in die res van Suid-Afrika. My oordeel oor Orania het stadig maar seker verander. Reg langs my het ʼn bejaarde man, oom Okkie, nie een oomblik laat verby gaan om te groet en te vra hoe dit gaan nie. So het ek die res van my bure baie vinnig leer ken, en op dieselfde manier is ons verwelkom deur ander inwoners. Baie vinnig het ons baie meer kuiergaste gehad as wat ek ooit in my vier-en-dertig jaar in Groblersdal gehad het. Wanneer ek vroeg gaan wasgoed ophang, weerklink die “More” groet uit verskillende rigtings, soveel so dat die dagbreek ʼn vreugde in jou hart laat ontstaan.

Aand vir aand staan ek verstom en kyk na die sterreprag waarvan ek so baie gehoor het. ‘Jy sal aan die sterre kan vat in die Karoo’ is die woorde van vele akteurs en sangers. As oud-Transvaler was my reaksie altyd: “Waarom sou dit nou eintlik beter lyk in die Karoo as in die Transvaal?” Groot was my verbasing daardie eerste aand, toe die sterreprag my mond laat oophang het. Dit is onbeskryflik, dit voel werklik of jy jou hand kan uitsteek, en as jy net vergenoeg kon reik, jy ʼn pragtige skitterende diamant in jou hand kan hou.

Soveel aande wanneer ek radio toe stap, vra mense my: “Waarom loop jy?” Waarop my woorde onomwonde dieselfde bly met elke vraag: “Het jy al die dassiepad gestap en het jy al in die aand huis toe gestap en die almag van Onse Hemelse Vader beskou: Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande? Het jy al op ʼn sterrenag buite gestaan en jouself gevang ophou asemhaal, asof die grootsheid saam met die verskriklike stilte jou tot jou knieë wil dwing?”

Die natuurlike gelag van kinders tot laat in die aand wanneer hulle hulleself in die strate van hierdie veilige heenkome bevind. Nêrens in die res van Suid- Afrika kan ek ʼn dorp oproep waar kinders se klokhelder stemmetjies jou begroet wanneer jy straat af wandel nadat die son sy kop gaan neergelê het nie. In ander dorpe staan kinders agter diefwering en veiligheidshekke verskans om hul veiligheid te verseker. Die verlangende ogies kyk na die grasperk wat so aanloklik lyk, waar jy kan rol, tuimel, wegkruipertjie speel en soveel meer, maar helaas die waagstuk is net te groot, die ondier wat moord, verwarring, verkragting en jou grootste vrese kan bewaarheid, skuil in die donker skaduwees van ons erwe. ʼn Kruising tussen die wreedheid van die hiëna, die slinksheid van die jakkals en die moordende doelgerigtheid van ʼn hondsdol hond, lê en loer na hulle vir ʼn maklike prooi. Wreed en onwerklik het dit geword, daarom klink dit ook onmoontlik dat daar êrens ʼn veilige hawe vir ʼn mens kan wees, ʼn plekkie waar jy rustig in die aand jou kop op die kussing kan sit, sonder dat dit nodig is om jouself in ʼn tronk toe te sluit en jy nie nodig het om die beste alarmstelsel aan te skakel nie.

Daar is arm en ryk mense in Orania en telkemale word die swaard bokant die dorpie se kop gehou van die misbruik van sogenaamde goedkoop blanke arbeid. Daar is wel diegene wat uit Orania gaan en met ʼn suur-druiwe-houding ʼn swak beeld van oorwerkte verarmde blankes verkondig. Dit is allermins die geval. Dit is wel waar dat blankes die werk doen wat aan swart werkers in die res van Afrika gegee word om te doen, en daarom het my respek vir sulkes die hoogte in geskiet. Hulle buig elke dag in ʼn ongenadige warm son en soms moet dinge teen ʼn onheilspellende tempo plaasvind om by vooruitgang te hou. Die pragstuk van Orania is dat ʼn minimumloon vasgestel is, hoër as wat in die res van Suid- Afrika geld. Bekostigbare hoë gehalte behuising word verskaf aan ʼn moeë liggaam na ʼn harde dag se werk. Elkeen steek sy hand uit en bou aan ons groeiende dorpie waarvan nie net die estetika jou verstom, maar wat ook ʼn veilige hawe vir ons kinders en kleinkinders wil wees.

Dit is wel waar dat die kruipende onheil altyd êrens sy kop wil uitsteek, maar met ʼn sterk veiligheidstelsel in plek en ʼn samewerkende gemeenskap, word ʼn unieke samelewing van liefde en trou geskep. ʼn Negatiewe benadering tot Orania is gewortel in absolute onkunde of haatspraak wat Malema soos ʼn lammetjie laat lyk. Met my meer as vyftig jaar ondervinding kan ek met oortuiging sê: Dit is onmoontlik om mense tevrede te stel wat nie tevrede wil wees nie of wat met ‘n absolute negatiewe uitkyk dag na dag leef.

Die diep Christelik gewortelde waardes waar na gestreef en wat in Orania beoefen word, is ʼn riem onder die hart van enige regdenkende ouer met betrekking tot die veilige opvoeding van sy en haar kroos. Met soveel liefde beur ouers voort om die gesin aanmekaar te hou, maar die verswakte waardes, verkrampte toepassing van wetgewing en algemene verslapping van godsdiens gedrewenheid, bring ʼn onnatuurlike skudding in die opvoeding van jou geliefdes mee. Die aanloklikheid van ʼn valse lewe word elke dag voor ons kinders se deure gelê, en maak nie saak hoe goed die opvoeding nie, daar bestaan altyd die moontlikheid van ʼn oomblik waar die een waarvoor jy so lief is, van balans gebring word en dan begin die ewige nagmerrie om uit die wrede kloue van hierdie ongenaakbare magte los te kom. Is Orania vry van sulke gevalle? Geen plek waar satan sy voetspore laat, kan vry wees nie, ons bly nog deel van die wêreld, maar omdat hier op ʼn streng Christelike fondasie gebou word, is dit makliker om sodanige probleme aan te spreek in raad en daad.

Kom ontmoet die plek waaroor vele bekendes hulle monde uitspoel. Die verbasing is op almal se gesigte wat met ʼn oop gemoed die doen en late van hierdie klein gemeenskappie kom bekyk en ondersoek. ʼn Onbekende besoeker van ʼn paar maande gelede het met verbasing gevra hoe die dorp dit dan regkry dat kinders onbekende groot mense vriendelik groet. Daar is twee gebooie wat God baie naby aan die hart lê: “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Mat 22:37-39). 

Daarom is hierdie woorde van Christus die hoeksteen van ons bestaan!