by Orania Beweging | Feb 3, 2022 | Uncategorized |
ʼn Dagsorgsentrum in Orania, Huppelkind, het onlangs die besluit geneem: Geen meer skerms en skermtyd nie!
Die besluit om die elektronika opsy te skuif, is reeds in 2021 prakties geïmplementeer en onlangs amptelike beleid geword. Volgens Esna Schumann, hoof van die instelling, spruit dit uit die erns wat Huppelkind maak met die pragtige musiek wat Cornelia Holm spesiaal vir Huppelkind komponeer en wat deel van die karakterontwikkelingprogram uitmaak. Dit, eerder as skermtyd, sal die fokus vir die kinders word.
Om na musiek te luister met die doel om die musiek en die taal te herken ontwikkel luistervaardigheid by kleuters reeds vroeg.
Kinders wat hierdie vaardigheid van ‘n vroeë ouderdom af inoefen en baasraak ervaar minder uitdagings wanneer dit by formele leer en lees kom.
“Om lekker buite te speel en te baljaar is tog veel beter én baie meer pret as om gedurig voor die televisie te sit.” Sê Esna, “Goeie opvoedkundige aktiwiteite wat fynspiere en denkvaardighede stimuleer is meer waardevol!”
Foto: ‘n Klas by Huppelkind Dagsorgsentrum na jaarvoltooiing

by Orania Beweging | Jan 31, 2022 | Uncategorized |
Optiese vesel internet in Orania:
infrastruktuur word gekoppel
Hoë spoed-internet is ʼn groot prioriteit vir die ontwikkeling van Orania, veral wat betref kenniswerkers en mense wat skaars vaardighede het of aanlyn entrepreneurs is. Vinnige internet is al vir ʼn rukkie in die pyplyn, en die Orania Dorpskantoor het vandeesweek ʼn groot stap geneem deur die hardelyn optiese vesel-koppeling te verbind met die nuutgeboude internettoring. Dit beteken verspreiding kan binnekort begin!
Die plaaslike verspreiding sal vir eers per mikrogolf geskied, terwyl ʼn optieseveselnetwerk plaaslik ontwikkel word.
Die Dorpskantoor, Stadsboufonds en ander rolspelers word gelukgewens met hulle harde werk en die groot stap vorentoe. Binnekort het Orania vinnige internet!
Foto onder: Die nuwe 50-meter toring deur die Orania Dorpskantoor opgerig.
Foto heel onder: Die grond word geboor vir die lê van kabels, met eie-arbeid natuurlik!


by Orania Beweging | Jan 31, 2022 | Uncategorized |
Majubafees: Orania vanjaar die gasheer
Op 27 Februarie 1881 het die Boere die Britse magte ʼn finale nekslag toegedien tydens die slag van Majuba, en só die Eerste Vryheidsoorlog gewen. Jaarliks vorm Majubadag deel van Orania se eie, amptelike vakansiedae.
Daar word egter ook jaarliks ʼn Majuba-fees by Majuba-berg, onder die beskerming van die Majuba Boerevolk Trust aangebied. Orania het vanjaar die voorreg om as gasheer die Majuba-fees te organiseer.
In 1981 is ʼn groot eeufees ter viering van die Slag van Majuba aan die voet van Majuba-berg gehou.
ʼn Groep studente en spesifiek die Cantusgilde van die Potchefstroomse Universiteit (PUK) het in die laat 1980’s weer begin met die jaarlikse herdenking van die oorwinnning by die Slag van Majuba. Dis juis hier waar die tradisie van ʼn jaarlikse Cantus op die fees ontstaan het en wat aan die fees ʼn unieke jeugdige karakter gee.
Personeel van die Orania Dorpskantoor, Orania Beweging en ander Orania instellings en vrywilligers sal DV vanjaar die reis na Majuba-berg aanpak om die fees te reël en die program aan te bied.
Die Boerevolk Trust het die volgende inligting op hulle webwerf
beskikbaar gestel:
“Dit is vir die Majuba Boerevolk Trust ’n voorreg om die naweek van 25 tot 27 Februarie 2022 weer die Majubafees saam met ons gasheer organisasie aan te bied. Vir 2022 is Orania as gasheer aangewys en geskied die beplanning en organisasie van die fees met die bystand van die Orania Dorpsraad en die Orania Beweging.
Die Majubafees is ’n unieke geleentheid om die laaste veldslag van die Eerste Vryheidsoorlog te herdenk. Die fees neem die vorm van ’n kampnaweek aan waar volksgenote aan die voet van Majuba kampeer en die prag natuur en geskiedenis kan inneem. Verskeie aktiwiteite word weer hierdie jaar in die program aangebied en kan feesgangers uitsien na skyfskiet, bergklim, cantus, Grietjie-kanon, jukskei, boogskiet, potjiekos kompetisie, perde kommando, boeresport, fakkelloop en vele meer.
Die Majubafees is daarvoor bekend dat, alhoewel alle ouderdomme tuis voel, groot getalle leerlinge en ander jeug die fees bywoon. Alhoewel verskeie aktiwiteite en items op die program verskyn neem die fees oor die algemeen die atmosfeer van ’n groot kuiergeleentheid tussen ons mense aan.”
Meer inligting is op die Orania Beweging en Majuba Fees se Facebookblaaie beskikbaar. |
by Orania Beweging | Jan 19, 2022 | Uncategorized |
Matriekuitslae in Orania: CVO-Skool 100% slaagsyfer en talle onderskeidings
Orania se CVO-skool matrieks se 2021 uitslae spog weer van harde werk en toewyding. Die matrieks het ‘n 100% slaagsyfer behaal en 82.3% het universiteitsvrystelling om aan ‘n universiteit van hulle keuse te gaan studeer.
Meer as 70% van die matrikulante kan spog met een of meer onderskeidings en die algehele klasgemiddeld is 64%.
Die klas se 17 matrikulante het ‘n totaal van 16 A’s en 29 B’s verwerf!
Die drie toppresteerders vir 2021 se matriekklas is Mariska de Wet, Pieter van Zyl en Divan Erasmus.
Mariska de Wet, vanjaar se toppresteerder in Orania CVO, het haarself ook onderskei op verskeie ander gebiede soos kultuur en sport. Dié prefek spog nie net met ‘n balkie vir akademie nie, maar ook Bybelkennis, beeldende kuns, kultuurfees, redenaars en netbal. Haar bedrywige program word binnekort voortgesit op die NWU se Potchefstroomkampus waar sy haarself in megatroniese ingenieurswese gaan bekwaam.
Foto’s VLNR: Mariska de Wet (drie onderskeidings), Pieter van Zyl (twee onderskeidings), Divan Erasmus (twee onderskeidings).



Orania CVO-skool se matrieks skryf die IEB (Onafhanklike Eksamenraad) se matriekeiendeksamen. Die IEB eksamen word nasionaal en internasionaal erken is gelykstaande aan die Verenigde Koninkryk se AS-vlak.
Baie geluk aan die matriekklas met julle goeie uitslae.
Die Orania Beweging wens hierdie jong volwassenes alles van die beste toe vir die toekoms!
Foto: Orania CVO-skool se 2021 matrieks.

Vir meer inligting oor Orania besoek die Orania Beweging se webblad
Vir navrae skakel gerus met inligting@orania.co.za
Om ‘n vriend van Orania (Orania Beweging lid) te word, volg hierdie skakel.
by Orania Beweging | Jan 18, 2022 | Uncategorized |
Besigtigingstoere dra by tot Orania se bemarking
Gedurende Desember 2021 het meer as 468 persone die gratis dorpstoer onderneem wat met ʼn minibus deur die Orania Beweging aangebied word.
Hennie Pelser, Hannetjie Conradie, John Strydom en Joost Strydom is die toergidse wat vir gemiddeld drie toere per dag verantwoordelik is. Hulle is die spreekbuise van ons dorp wanneer besoekers grootoog begin vrae vra en meer besonderhede oor ons spoedig-ontwikkelende dorp wil bekom.
Besoekers wat die besigtigingstoere onderneem kan ʼn vrywillige donasie maak wat weer aangewend word om tot uitgawes soos brandstof en meganiese onderhoud by te dra. Elke toergids se unieke aanslag maak die toere opwindend en sorg vir volledige inligting wat deur die Inligtingskantoor se personeel aangevul kan word.
Die Inligtingskantoor se geskenkwinkel moes bontstaan om in besoekers se behoefte aan aandenkings van Orania te voorsien. Daar word uitgesien na nog baie besigtigingstoere waartydens besoekers korrekte inligting oor die ontstaan, bestaan en toekoms van Orania kan kry.
Inwoners van Orania word uitgenooi om ʼn toer te onderneem indien hul dit lanklaas of dalk nog nooit gedoen het nie. Kontak die Inligtingskantoor van die Orania Beweging by 053 207 0004 om jou toer te bespreek. Skakel na die Orania Beweging se Inligtingskantoor vir ‘n gratis dorpstoer. Ondersteun die bemarking van Orania! Word ‘n Orania Beweging-lid / vriend van Orania en help die dorpstoere moontlik maak! Foto’s: Orania Beweging se toerbus in aksie! 
|
by Orania Beweging | Jan 17, 2022 | Uncategorized |
Orania Eiendomsontwikkeling se nuutste ontwikkeling van 20 eenhede in Karoosig fase vier, in Orania is ingelei met nuwe intrekkers wat besit geneem het van die eerste huis.
Hierdie ontwikkelingsprojek maak deel uit van verskeie ontwikkelaars se planne om deur aanbod in die mark te verhoog, huispryse in Orania (wat tans deur reuseaanvraag die hoogte ingeskiet word) te help stabiliseer.
Volgens die ontwikkelaar, Rikus van Staden, hoop hulle om hierdie projek wat vanjaar begin het en met heelwat ander projekte saamloop, in Desember 2023 afgehandel te hê.
Die twintig eenhede sal bestaan uit twaalf tweeslaapkamereenhede en agt drieslaapkamereenhede.
Omdat ontwikkeling in Orania so vinnig gaan en die behoefte so groot is, oorweeg Orania Eiendomsontwikkeling (OEO) tans om ʼn nuwe opsie aan voornemende intrekkers te stel. Die opsie sal bestaan uit ʼn sogenaamde ‘dophuis’, wat beteken dat die binnenshuise afwerking nog nie gedoen is nie, wat korter ontwikkelingstyd benodig en die koper die geleentheid gee om afwerking binne die huis na eie smaak te doen. Dit sal dinge soos teelkeuse, verf, kaste, krane en kaste aan die koper laat om self in te sit, wat natuurlik ʼn heelwat verlaagde prys tot gevolg het.
Foto’s
Foto een: Die eienaars van die eerste huis ontvang die sleutels!

Foto twee: Die gebied voor die ontwikkelling.
Foto drie: Die bouery in proses.
