KYK VIDEO: Orania sonplaas op SAUK-tv

KYK VIDEO: Orania sonplaas op SAUK-tv

Orania sonplaas op SAUK-tv

FOTO: Riaan Jacobs, projekbestuurder by ORASOL, antwoord die SAUK se vrae.

Met vlak ses beurtkrag wat die land in die donker laat, stel die media baie in Orania se energieplan belang. Die Orania Beweging het vandag verskeie onderhoude met joernaliste gehad. Die onderhoude kan hieronder gekyk word.

‘n Belangrike verantwoordelikheid wat die Orania Beweging opneem is om Orania se saak in die openbaar te stel. Dit sluit gereelde onderhoude met die media in, wat ons die geleentheid gee om Orania te verduidelik aan beide vriende en teenstanders.

Op Maandag vier Julie, het Orania Beweging weer ‘n vol media-dag gehad en moes Orania verteenwoordigers bont staan om al die joernaliste te woord te staan.

Die SAUK het ‘n goeie gebalanseerde storie gedra. Hulle het met Joost Strydom, die Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging, ‘n regstreekse uitsending gedoen en vrae oor Orania en ORASOL (Orania se eie sonplaas) en Orania se energie-toekoms gestel.

 

Daarna het hulle versoek om met twee verskillende besigheidseienaars in Orania onderhoude te voer. Beide insetsels op die SAUK-nuus het baie positiewe en opbouende reaksie van kykers uitgelok.

Riaan Jacobs, projekbestuurder by ORASOL, het die energietoekoms van Orania aan die joernaliste verduidelik. “Hierdie is die eerste fase van ORASOL, ‘n tweede en derde fase is op pad. Dit sluit groter opwekkingskapasiteit en later ook volhoubare energieberging in.” Volgens Riaan is die mediumtermynplan om Orania van 06:00 soggens tot 22:00 saans op eie krag te laat funksioneer. Dit sal moontlik word met die derde fase van ORASOL.

Later het Strydom ook ‘Newzroom Africa’ te woord gestaan oor dieselfde onderwerp. 

Volgens Strydom is die idee van ‘eie instellings’ ‘n fondasie van die Orania idee, en die kwessie van meer onafhanklikheid, ook wat energie betref, is deel van die ‘Orania DNS’. “Orania se doel was nog altyd om telkens meer en meer verantwoordelikheid vir ons eie sake te neem. Eie instellings, veral energieinstellings is die ruggraat van Orania se bestaan.”

 Met die ontwikkeling van eie kragkapasiteit, en die hanteer van verskeie joernaliste, is Orania weer een dag nader aan vryheid!

(Baie dankie aan elke Orania Beweginglid wat hierdie belangrike werk help verwesenlik)

 

word 'n lid!

Orania Beweging nuusstories word volledig deur ons lede befonds. Indien u hierdie storie geniet het, sluit aan as lid deur hierdie skakel te volg. Baie dankie!

Orania Beweging-nuusspan

Opgestel deur die Orania Beweging se nuusspan

Hierdie berig is deur die Orania Beweging-nuusspan geskryf, verwerf of opgestel.
Eksterne bronne of berigte kry volledige erkenning vir gebruik in stories.
Nuus kan gestuur word na inligting@orania.co.za

Luister: Die Orania Beweging reageer in die media op Lesufi se goedkoop politiek

Luister: Die Orania Beweging reageer in die media op Lesufi se goedkoop politiek

Die Orania Beweging reageer in die media op Lesufi se goedkoop politiek

Debatte tussen Panyaza Lesufi en die gemeenskap het weer opgevlam. Volgens die Orania Beweging is Lesufi besig met goedkoop politieke retoriek, en sal dié gemeenskap aanhou bou aan ‘n toekoms.

Die Orania Beweging het op 30 Mei op verskeie media-platforms vrae geantwoord oor mnr Panyaza Lesufi se opmerkings oor dié gemeenskap. Mnr Lesufi, wat onlangs tot die voorsitterstoel vir die ANC in Gauteng verkies is, het gesê dat gemeenskappe soos Orania en die feit dat hier Afrikaans gepraat word, nie bestaansreg het nie.

Luister na Lesufi se nuutste uitsprake hier.

Joost Strydom van die Orania Beweging het teruggekap en gesê dat Orania ʼn bestaansreg het en daardie bestaansreg elke dag deur dié gemeenskap se eie-arbeidsbeleid (en deur die Genade) verdien.

“Orania het ‘n reg om te bestaan. Ons het in die afgelope dertig jaar hierdie reg uitgebou en ‘n de facto-realiteit geskep deur suksesvolle instellings te ontwikkel. Daar is niks onwettigs aan Orania nie, inteendeel Artikel 235 van die grondwet van Suid-Afrika laat ruimte vir kulturele selfbeskikking. Daar is natuurlik ook die MOOSA-verklaring wat ruimte bied vir ‘n plek soos Orania. Laastens het Afrikaners, Afrikaans en Afrikanerkultuur ‘n reg om te bestaan, en selfs verder te ontwikkel en uit te bou.”

Lees meer oor die MOOSA-verklaring

Volgens Strydom het Orania nie mnr Lesufi se goedkeuring nodig om te bestaan nie, dit is wettig en bied ‘n tuiste vir Afrikaners wat self verantwoordelikheid vir hul eie toekoms opneem.

 

Tydens ʼn onderhoud op PretoriaFM het Strydom verder gesê dat die ANC se wurggreep op Suid-Afrikaners gly, en dat die onbevoegdheid wat duidelik is in gefaalde staatsinstellings soos ESKOM, SAL en ander, Lesufi noop om desperaat ʼn “vyand te probeer skep” om ANC-ondersteuners tevrede te hou.

“Lesufi praat graag oor Orania, maar nooit met ons nie. Dit laat ons met die logiese aanname dat hy nie oplossings soek nie, maar eerder sy eie mislukkings probeer wegsteek.”

 

Panyaza Lesufi het in die verlede ook al soortgelyke uitlatings probeer regverdig. Dit volg na verskeie mislukkings deur Lesufi self, onder andere die R431 000 000 skandaal met die COVID-19 se “ontsmetting van skole”, onder sy toesig.

In 2021 het Panyaza Lesufi, wat toe slegs die LUR vir onderwys in Gauteng was, aanhoudend na Orania gekap. Lesufi se uitlatings was so verregaande dat die Koisan-leiers ook daarop reageer het. Volgens Koisan-leierskap het Lesufi se uitlatings oor Orania hulle ‘baie bekommerd gelaat’.

Die Radiostasie Power FM het tydens ʼn vroeër geleentheid aangedui dat hulle ʼn onderhoud met die Orania Beweging wou doen, maar Panyaza Lesufi wat kwansuis ingebel het, was ook op die lyn en gereed vir ʼn debat.

 

Die Orania Beweging het weerens bevestig dat Orania sy instellings sal aanhou uitbou om ‘n tuiste vir Afrikaners te skep. Tenspyte van politici se kritiek, kommentaar en goedkoop uitlatings laat Orania hom nie van stryk bring nie. Die suksesse op sekondêre en tersiêre onderwysvlak, mediese- en veiligheidsinstellings wat groei en ORASOL wat al 30% van Orania se kragbehoefte plaaslik met sonkrag produseer en ander inisiatiewe is bewyse dat Orania sonder staatsgeld, self ‘n toekoms bou!

word 'n lid!

Orania Beweging nuusstories word volledig deur ons lede befonds. Indien u hierdie storie geniet het, sluit aan as lid deur hierdie skakel te volg. Baie dankie!

Orania Beweging-nuusspan

Opgestel deur die Orania Beweging se nuusspan

Hierdie berig is deur die Orania Beweging-nuusspan geskryf, verwerf of opgestel.
Eksterne bronne of berigte kry volledige erkenning vir gebruik in stories.
Nuus kan gestuur word na inligting@orania.co.za

Jonge dame van Orania kwalifiseer as elektriese ingenieur, in Russies!

Jonge dame van Orania kwalifiseer as elektriese ingenieur, in Russies!

Jonge dame van Orania kwalifiseer
as elektriese ingenieur…in Russies!

Foto: René van Reenen

ʼn Skoolverlater van Orania het in 2017 haar studies in Elektriese Ingenieurswese aan ʼn Siberiese universiteit begin. Einde Junie 2022 het sy haar finale opdragwerk ingehandig, en die beste moontlike punt verwerf!

Jong Oraniërs presteer, in die werksomgewing, by verskeie universiteite waar hulle studeer en selfs op studenterade dien, en selfs internasionaal!

René van Reenen is ʼn produk van Orania en het die prominente deel van haar skoolloopbaan aan Orania CVO-skool deurgebring, waar sy ook haar matriekeksamen afgelê het. Ná afloop van haar skoolloopbaan het sy verskillende geleenthede oorweeg om haarself as ingenieur te bekwaam. Volgens René het die besige skedule van gemeenskapslewe en buitemuurse aktiwiteite waaraan sy deelgeneem het in ʼn baie bedrywige Orania ʼn invloed op haar skoolwerk gehad, omdat mense hier betrokke is by meer as net die gewone. “Daar was soveel om te doen in Orania!” sê Rene, wat nadat sy laat in haar skoolloopbaan begin ernstig raak het oor haar akademiese toekoms, en erns gemaak het met haar werk, ook ʼn N-4 en N-5 kwalifikasies afgehandel het om haarself voor te berei vir die uitdagende ingenieurswese-kursus.

René het haar nie net in plaaslike moontlikhede vasgekyk nie, maar was oopkop oor selfs internasionale moontlikhede. “Ek het eintlik van die begin af geweet dat ek graag internasionaal wou studeer,” sê René wat saam met haar pa ontdek het dat Rusland voornemende ingenieurs uitnooi om daar te studeer. Op daardie stadium het sy niks van Tomsk geweet nie en kon natuurlik nie ʼn woord Russies praat nie!

“Ek het my voorberei om in Engels te studeer en ek was aanvanklik ingeskryf as meganiese ingenieur. Die fakulteitshoof het my egter ingeroep en aangedui dat die Russiese dosente se beperkte vaardigheid in Engels my studies gaan kniehalter. Ek het besef: ek sal moet Russies leer!”

Geen uitdaging was egter te groot vir hierdie jong Oraniër nie, en sy het haarself bekwaam en ʼn B1-taalsertifkaat in Russies verwerf.

René het op 21 Junie haar finale projek voorgelê en die hoogste moontlik punt, 5 uit 5 (90-100%)verwerf! “Ek weet ʼn 3/5 (55-70%) is steeds ʼn baie goeie punt, en dit is wat ek verwag het, omdat die taak werklik moeilik was en ek die werkstuk sonder ʼn akademiese oorsigbeampte moes afhandel.”

Oor die storie dat Orania-kinders in “isolasie grootword” en nie blootstelling kry nie, het René dadelik ʼn antwoord: “Dit is werklik dom om te glo Oraniërs nie die vermoë het om aan te pas nie, ek dink ons is almal baie onafhanklike mense.”

“Ek het ook glad nie gesukkel met ʼn aanpassingsperiode nie, die taal was die grootste uitdaging. Ek is egter nie kultureel beperk in vergelyking met, of teenoor die ander Russiese of internasionale studente nie.” René brei uit, dat ʼn gemeenskaplike doel ʼn samebindende effek het. “In Orania word ons altyd blootgestel aan ander mense of kulture. Ons is almal in Orania vir ʼn doel, naamlik die uitbou van ʼn volkstaat. In die koshuis was ons ook vir ʼn gemeenskaplike doel, graadvang!”

René vertel dat sy beplan om op 13 Julie van Siberië af, terug na Suid-Afrika te vertrek. Sy beplan om ervaring in Johannesburg te kry waar sy reeds ʼn afspraak vir ʼn werksonderhoud het. “Ek glo die elektrisiteitskwessies in Suid-Afrika dui daarop dat elektriese ingenieurs baie welkom sal wees!”

“Ek kan nie in die nabye toekoms terugkom na Orania nie, maar waar ook al ek sal wees sal ek Orania help vooruit beweeg en na ʼn Afrikanerstad ontwikkel!”

Foto: René voor die Tomsk-Universiteit in Siberië, waar sy sopas ‘n graad in elektriese ingenieurswese suksesvol afgehandel het.

word 'n lid!

Orania Beweging nuusstories word volledig deur ons lede befonds. Indien u hierdie storie geniet het, sluit aan as lid deur hierdie skakel te volg. Baie dankie!

Orania Beweging-nuusspan

Opgestel deur die Orania Beweging se nuusspan

Hierdie berig is deur die Orania Beweging-nuusspan geskryf, verwerf of opgestel.
Eksterne bronne of berigte kry volledige erkenning vir gebruik in stories.
Nuus kan gestuur word na inligting@orania.co.za

KYK VIDEO: Orania se eie bank, OSK vier 20 jaar se sukses

KYK VIDEO: Orania se eie bank, OSK vier 20 jaar se sukses

Orania se eie bank, OSK vier 20 jaar se sukses

OSK Koöperatiewe Bank Beperk (OSK) het in 2021 weer die Co-operative Banks Development Agency (CBDA) se prys vir die beste koöperatiewe bank in Suid-Afrika gewen!

Hierdie prys heet ‘Best performing cooperative bank’ en dit is die derde keer dat Orania se eie OSK hierdie prys verdien. Op Vrydag 18 Maart egter het OSK iets anders gevier: 20 jaar se bestaan. OSK het begin as ʼn goedhartige diens deur mnr Lucas Taljaard, wat in die pioniersjare van Orania werkers, wat nie na ʼn buitebank kon reis nie, se tjeks ingeneem het en aan hulle kontant uitbetaal het. Hy het dan self na buurdorpe gereis om die tjeks te wissel. Toe werkers oom Lucas begin vra om van die geld vir hulle te “spaar” sodat hulle dit verantwoordelik spandeer, het hy besef hy sou die proses moes formaliseer.

OSK het van krag tot krag gegaan deur strategiese beplanning, navorsing en insig op ‘n hoë standaard, betroubare personeel en Afrikanerinisiatief. Wat begin het as ʼn stokveldiens in Orania het in 2020 alreeds meer as ɸ230 000 000 se openbare kapitaalvorming in Orania gefasiliteer! Tydens die verjaardagvieringe, wat deur ongeveer 200 mense bygewoon is, het Hanri Maritz, die bankbestuurder, die Lucas-Taljaard-studiefonds amptelik bekendgestel. Dié fonds, wat in ʼn vorige nuusbrief gemeld is, het ten doel om behoeftige Orania-kinders ʼn geleentheid tot tersiêre studies te gee.

Nadat die berig in die Orania Bewegingnuusbrief verskyn het, was daar tussen kaartjieverkope en donasies reeds ɸ15 000 in die fonds! Hanri Maritz het aangekondig dat OSK die bedrag ora vir ora sal ewenaar, en daarna het die Orania Ontwikkelingsmaatskappy ook ɸ10 000 bygedra, wat OSK weer geëwenaar het. Ander sprekers by die geleentheid was dr John Strydom van die OSK direksie, en Lucas Taljaard wat OSK saam met sy eggenote, Frieda, begin het. Die uitvoerende hoofde van die Orania Beweging, Orania Dorpskantoor en Orania Ontwikkelingsmaatskappy het ook elkeen ʼn geleentheid gekry om hulle gelukwense oor te dra. Daarna is ʼn koek, wat ʼn presiese replika van die OSK gebou is, gesny. Baie geluk aan die personeel, direksie en bydraers tot OSK. Elke Oraniër wat ʼn rekening by OSK het, is ook ʼn aandeelhouer en al daardie bydraes het groot moontlikhede in Orania ontsluit.

Dra by tot die Lucas Taljaardstudiefonds: Klik hier (verwysing: Studiefonds)

VIDEO:

 

Toets jou kennis! Orania Beweging se Stigtingsdagvasvra

Toets jou kennis! Orania Beweging se Stigtingsdagvasvra

TOETS JOU KENNIS!

Die Orania Beweging het op 6 April ons dorpenaars se kennis oor die VOC, Jan van Riebeeck, die Groot Trek, en Orania se stigting getoets as deel van die Stigtingsdagvieringe. Jy kan nou dieselfde vrae wat die deelnemers moes antwoord, rustig uit die gemak van jou huis doen en ook jou kennis toets!
Die deelnemers het ‘n tydsbeperking van 90sekondes gehad en moes op kamera antwoord, so die druk was hoog! Dalk is dit bietjie makliker in ‘n rustige omgewing.

Geniet dit, en deel gerus jou uitslae op ons Facebookblad!

 

Orania-atlete kook op die sportveld!

Orania-atlete kook op die sportveld!

Orania-atlete kook op die sportveld!

‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees en Oraniërs is kompeterend op verskeie vlakke en in verskillende sportsoorte. Terwyl die Orania CVO-skool se leerlinge 18 en 19 Maart gaan kompeteer het by die BCVO SA’s byeenkoms, het ander Oraniërs ook in verskillende sportsoorte deelgeneem.

Langasem: Christo Muller wen die 2022 CosmosChallenge

Die ‘CosmosChallenge’ is ‘n 46km bergterrein-wedloop naby Clarens. Rateltaai langafstandatlete sê mekaar die stryd aan oor twee dae (onderskeidelik 28 km en 18 km) waar hulle hoogte-toenames van 1180m+ moet trotseer en kompeterend moet hardloop bo kranse van 2200m bo seespieël! Christo Muller van Orania is die manswenner vir die langafstand wedloop, terwyl sy vrou Karin aan die korter (maar steeds baie uitdagende!) reisies deelgeneem het. Christo en Karin is ook voorvatters by die Orania Atletiekklub waar hulle tydtoetse, deelname en meer moontlik maak vir ander atlete.

Foto’s 1 en 2 Christo en Karin na afloop van die CosmossChallenge, en die terrein waarop hulle moes hardloop.


Jong Oraniër swem silwer- en bronsmedaljes los

Die jonge (o/11) Stephan Erasmus van Orania het ook die afgelope naweek presteer, maar in die water eerder as die berge. Stefan het aan Swem SA se byeenkoms in Sasolburg deelgeneem en op vlak 3 ‘n slivermedalje in die 50m borsslag (42.35s) losgeswem! Hy het ook brons verdien deur die 200m borsslag in 3:35.09 kaf te draf. Stefan se ma Helena is self ‘n kranige swemmer en het die Sandhaaie swemklub in Orania begin. Dié klub bied hoë gehalte afrigting, terwyl hulle besig is om die registrasieproses af te handel voor die volgende swemseisoen.

Foto’s: Stefan tydens opwarming, en na die swem.


Crossfit-atlete in Orania presteer in ope-toernooi

Die ‘Crossfit open’ is ‘n internasionale toernooi waar atlete van regoor die wêreld teen mekaar kan deelneem deur dieselfde oefeninge op dieselfde dag te doen en met prestasie in tye, repetisies of gewig kragte te meet.
Die uitslae word by die geaffilieerde sentrums bevestig, of deur ‘n onafhanklike skeidsregter per video beoordeel.
Orania se Gemsbok Sportinstituut het heelwat atlete ingeskryf vir hierdie kompetisie, en hulle het uitstekend presteer!
By die vroue het die veertienjarige Zincke Straszacker die 18de plek in haar ouderdomsgroep op die Afrika-kontinent verwerf in die ope kompetisie, terwyl Salumi Kriek in die afdeling vir 40-44 jarige vroue 54de in Afrika was. Tussen Orania en die Gemsbok se suster-gimnasium in Upington, Oryx, was Michelle Peens die atleet wat die beste gevaar het.
Onder die manne het die veertienjarige Hanro Maritz, seun van Hanri Maritz die voorsitter van die Orania Aandeleblok-direksie en bankbestuurder van Orania Spaar en Krediet, vir sy ouderdomsgroep die ses-dertigste posisie in Afrika ingeneem!

Foto’s: Hanro, Michelle en Salumi in aksie tydens die ope toernooi se wye verskeidenheid van oefeninge.

Foto onder, atlete hyg na asem na ‘n intense oefenrondte. 

   


Orania-studente kompeteer in universiteitsrugby

Twee van verledejaar se Orania-CVO skool matrieks en voormalige spanmaats, Sas van der Merwe en Wiehan Nel, het vroeg in Maart kragte gemeet (die keer teenmekaar!) tydens die NWU se eerstejaarskoshuisliga finaal. Sas en Wiehan speel onderskeidelik vir koshuise Veritas en Villagers. Wiehan se ouer broer WJ wat tans in sy derdejaar is, speel ook vir die universiteitsspan.

Ons is baie trots op al Orania se atlete!

Foto : Wiehan en Sas tydens die NWU eerstejaarskoshuisliga.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel