fbpx

Majubafees: Orania vanjaar die gasheer

Op 27 Februarie 1881 het die Boere die Britse magte ʼn finale nekslag toegedien tydens die slag van Majuba, en só die Eerste Vryheidsoorlog gewen. Jaarliks vorm Majubadag deel van Orania se eie, amptelike vakansiedae.
Daar word egter ook jaarliks ʼn Majuba-fees by Majuba-berg, onder die beskerming van die Majuba Boerevolk Trust aangebied. Orania het vanjaar die voorreg om as gasheer die Majuba-fees te organiseer.
In 1981 is ʼn groot eeufees ter viering van die Slag van Majuba aan die voet van Majuba-berg gehou.
ʼn Groep studente en spesifiek die Cantusgilde van die Potchefstroomse Universiteit (PUK) het in die laat 1980’s weer begin met die jaarlikse herdenking van die oorwinnning by die Slag van Majuba. Dis juis hier waar die tradisie van ʼn jaarlikse Cantus op die fees ontstaan het en wat aan die fees ʼn unieke jeugdige karakter gee.
Personeel van die Orania Dorpskantoor, Orania Beweging en ander Orania instellings en vrywilligers sal DV vanjaar die reis na Majuba-berg aanpak om die fees te reël en die program aan te bied.
Die Boerevolk Trust het die volgende inligting op hulle webwerf
beskikbaar gestel:
“Dit is vir die Majuba Boerevolk Trust ’n voorreg om die naweek van 25 tot 27 Februarie 2022 weer die Majubafees saam met ons gasheer organisasie aan te bied. Vir 2022 is Orania as gasheer aangewys en geskied die beplanning en organisasie van die fees met die bystand van die Orania Dorpsraad en die Orania Beweging.
Die Majubafees is ’n unieke geleentheid om die laaste veldslag van die Eerste Vryheidsoorlog te herdenk. Die fees neem die vorm van ’n kampnaweek aan waar volksgenote aan die voet van Majuba kampeer en die prag natuur en geskiedenis kan inneem. Verskeie aktiwiteite word weer hierdie jaar in die program aangebied en kan feesgangers uitsien na skyfskiet, bergklim, cantus, Grietjie-kanon, jukskei, boogskiet, potjiekos kompetisie, perde kommando, boeresport, fakkelloop en vele meer.
Die Majubafees is daarvoor bekend dat, alhoewel alle ouderdomme tuis voel, groot getalle leerlinge en ander jeug die fees bywoon. Alhoewel verskeie aktiwiteite en items op die program verskyn neem die fees oor die algemeen die atmosfeer van ’n groot kuiergeleentheid tussen ons mense aan.”
Meer inligting is op die Orania Beweging en Majuba Fees se Facebookblaaie beskikbaar.