by Orania Beweging | Jan 14, 2022 | Uncategorized |
Nuwejaarsboodskap: Bekwaam jouself, Orania het vaardige mense nodig
Boodskap van die uitvoerende hoof Een van Orania se mees aanloklike eienskappe is die vryheid wat inwoners hier geniet. Van veilige laataand wandelings en kinders wat fietsry in die strate, tot slaap met oop vensters en deure en ontspan oor naweke. Die belangrikste is natuurlik die vryheid om ons Christelike geloof en Afrikanerkultuur uit te leef.
Tydens ʼn gespreksgeleentheid in die ontvangs- en oriënteringsfase van ʼn groep studente wat vanjaar eerstejaars in Orania is, het ʼn student my gevra wat my nuwejaarwense vir Orania en die Orania Beweging is. My antwoord, hoop ek, is ook van toepassing op ons ondersteuners, Orania Beweginglede, internasionale vriende van Orania en natuurlik, ook Oraniërs.
Dit is egter baie belangrik dat dié wat Orania teenstaan, veral in die media en politieke kringe, dit ook in 2022 sal sien.
In die konteks van die gesprek met die groep studente, is my nuwejaarsboodskap: Bekwaam jouself. Orania het vaardige mense nodig.
Volhoubaarheid in ontwikkeling is afhanklik van bekwaamheid Orania moet op die heel minste wat vaardigheid, werksetiek, dienslewering en deeglikheid betref met die res van die land se ondernemings en industrieë kompeteer. Orania se eie arbeidsbeginsel as ʼn volhoubare oplossing vir Afrikaners kan op geen ander manier aan Afrikaners ‘verkoop’ en verduidelik word nie. Dit kan slegs deur prestasie gebeur. Omdat ons ook nie bou aan ʼn tydelike verskynsel nie, maar ʼn vrye Afrikanertuiste vir ons kinders se kinders wil vestig, moet ons die vaardigheidsvlakke wat die toets van tyd kan weerstaan, ontwikkel.
Dus, (Jong) Afrikaner- bekwaam jouself in messel, in loodgieterswerk, in ingenieurswese, rekenkunde, in die wetenskap, in die kunste en veel meer. Bekwaam jouself egter ook in werksetiek, dissipline, deeglikheid en dienslewering. Volhoubaarheid in orde is afhanklik van bekwaamheid. Orde verval wanneer die reg, die staat en die samelewing tweede gestel word teenoor vae begrippe soos menseregte en diskriminasie. In ʼn wêreld waar enige iets enige iets kan word of wees, het Orania die geleentheid om homself te onderskei deur orde te handhaaf met konsekwente toepassing van ordereëls (wette), billike hantering voor die reg en deeglike owerheids- en juridiese prosesse.
Dit is afhanklik van ʼn tradisie in die owerheids- en regsbestel wat in ons Westerse wêreldbeskouing al vir duisende jare beredeneer en verfyn is.
Dit kan slegs behou word deur bekwame mense.
Dus, bekwaam jouself in die regte, in die staatskuns en regeringsprosesse. Moenie dat korrupte politici plaaslik en internasionaal die reg en die staat definieer nie.
Definieer dit self deur jou daarin te bekwaam. Orde hang daarvan af. Volhoubaarheid in ons Christelike tradisie is afhanklik van bekwaamheid (en genade!) Bo alles staan ons geloof in ons Drie-Enige God.
Christene is deur die eeue vervolg, vermoor en vernietig vir ons geloof. In ‘n tyd waar God se woord deur die wêreld en vals leraars vervaag en verflou word en talle Afrikaners ook op dwaalspore gelei word of totaal die geloof versaak, is dit ongelooflik belangrik om jouself te bekwaam in die geloof.
Bekwaam jouself in die woord van God. Bekwaam jouself in ons protestante tradisie, die geloofsbelydenisse en die Leerreëls.
Selfs al het ons dringend nog meer deeglik gekwalifiseerde leraars nodig, behoort elke Christen ‘n dissipel te wees. Bekwaam jouself en dra die Woord van God en die genade van Christus die wêreld in.
Hierdie ‘bekwaamheid’ is net moontlik deur die genade. Ons toekoms hang af van bekwaamheid. Bekwaamheid van die jeug, bekwaamheid van die volwassenes, bekwaamheid van die bejaardes, bekwaamheid van instellings, van skole, van kerke. Bekwaam jouself! Orania het jou nodig. Foto: Orania kinders vooltooi hulle voorskoolse loopbaan. Hulle is gereed vir ‘regte’-skool! |
by Orania Beweging | Des 31, 2021 | Uncategorized |
Die Helpsaamfonds se toedelings laat baie skoolkinders, studente en bejaardes met geruste harte oor die Kerstyd
Meer as R700 000 se toedelings, wat pas deur die Orania Beweging se Helpsaamfonds gemaak is, laat baie behoeftiges met ʼn heerlike gevoel van verligting! Ouers wat bekommerd was oor skoolgeld, jong eggenote wat nie geweet het hoe om kleuterskoolgeld te betaal nie, bejaardes wat bekommerd was oor hulle versorgingskoste en persone wat maatskaplike hulp benodig word deur die Helpsaamfonds se Desember toedelings gerusgestel.
Die Helpsaamfonds, wat deur Orania Beweginglede en donateurs befonds word, word nou aktief gebruik om behoeftiges, op ʼn langtermyn, volhoubare wyse te help.
VIDEO: Die Helpsaamfonds se toedelings in Desember
Jy kan help: Maak ‘n bydrae tot die Helpsaamfonds

Orania se Helpsaamfonds het ʼn plan, en dit werk!
Wat as elke donasie wat jy aan armoedeverligting gemaak het, eerder ʼn belegging was?
ʼn Belegging in ʼn behoeftige kleuter se toekoms, ʼn belegging in die potensiaal van ʼn ywerige skoolkind wat nie skoolgeld kan betaal nie, ʼn belegging in ʼn hardwerkende gesin se lewe in Orania deur bekostigbare behuising te skep, ʼn belegging in ʼn toegewyde student wat in Orania wil studeer, maar dit nie kan bekostig nie.
Dit is presies wat die Orania Beweging se Helpsaamfonds doen; fokus op volhoubare ‘beleggings’ in mense, eerder as tydelike verligting.
Foto: ‘n Student ontvang tegniese opleiding by Bo-Karoo Opleiding in Orania. Die Helpsaamfonds skenk geld aan die Helpende Hand beursfonds om dit te help moontlik maak.

Hoe werk jou geld vir die Helpsaamfonds?
Die Helpsaamfonds se direksie het, met die oog op volhoubare beleggings in mense se toekoms, besluit om in Desember weer baie spesifiek op bemagtiging van Afrikaners in Orania te fokus.
Die Helpsaamfonds het aan beide skole beursfondse beskikbaar gestel om kinders by te staan wat nie tans skoolgeld kan betaal nie, maar wel ywerig werk en ʼn sukses van hulle skoolloopbane wil maak. Die kandidate se behoeftes word deur Orania Helpmekaar se onafhanklike maatskaplike werkers bepaal. Die doel is om ouers te help, en aan te moedig om, so gou as wat dit moontlik is, op hulle eie voete te staan.
Ook Orania se voorskoolse behoeftige kleuters word deur jou bydrae bemagtig, op dieselfde wyse.
Verder het die Helpsaamfonds in Desember toedelings aan Helpende Hand se beursfonds gemaak om om verskeie studente te help om in Orania te studeer.
Die Helpsaamfonds volg steeds dieselfde strategie as in die verlede, naamlik om in bekostigbare behuising te belê. Dit is belangrik om te help verseker dat elke ʼn Afrikaner in Orania ʼn dak oor hulle koppe het, maar dit is net so belangrik dat dit op ʼn verantwoordelike en volhoubare wyse gedoen word sodat mense leer om self verantwoordelikheid te neem.
In die gees van die Helpsaamfonds se vorige behuisingsprojekte soos Nerina en Soetdoring ( twee intreevlak behuisingsprojekte), is daar vanjaar weer ʼn belegging in Gannabos Behuising gemaak wat ʼn laekoste behuisingsoplossing, en ʼn voet in die deur, vir baie bied.
Laastens, maar beslis nie die minste nie: bejaardes en maatskaplike hulp
Orania Beweging se Helpsaamfonds het belangrike toedelings aan Orania Helpmekaar MSW (Orania se maatskaplike instelling) en Karoosig Tehuis vir bejaardes gemaak om ook daar deel te wees van volhoubare oplossings.
Foto: Orania CVO-skool se 2021 leerlingraad. Die Helpsaamfonds ondersteun ook Orania se twee skole. Gesonde kinders in ‘n gesonde gemeenskap.

Hoe kan jy verder help?
Terwyl baie van ons ʼn welkome blaaskans kan neem, is daar steeds baie behoeftige Afrikaners wat dringend gehelp moet word. Wanneer die Helpsaamfonds hierdie mense bystaan, is dit met ʼn plan en volhoubaarheid as doelwit.
Elke bydrae wat gemaak word, word noukeurig geallokeer om Afrikaners op ʼn wyse te bemagtig wat die toets van tyd sal deurstaan.
Oorweeg gerus om ʼn bydra te maak aan die Helpsaamfonds, Indien u verkies om die Helpsaamfonds te ondersteun met ‘n direkte bankoorplasing, om hierdie en ander volhoubare projekte te help groei, doen gerus ‘n oorplasing na:
**Die Helpsaamfonds**
**Bank: ABSA**
**Takkode 632005 **
**Spaarrekening** **916 450 4961**
**Verwysing: U naam of Helpsaamfonds 2020**
Of word ʼn lid van die Orania Beweging met ʼn Helpsaamfonds toedeling, en help deurlopend!
Jy kan help: Maak ‘n bydrae tot die Helpsaamfonds
Die Helpsaamfonds, Volhoubare oplossings vir die langtermyn bemagtiging van Afrikaners
Foto: ‘n Jaareindgeleentheid by Huppelkind dagsorgsentrum, Hierdie instelling, en Kieliepensie kleuterskool, word ook deur die Helpsaamfonds ondersteun.

by Orania Beweging | Sep 15, 2021 | Uncategorized |
Orania in isolasie? Orania Beweging eerder ‘n fakkeldraer |
| Deur Joost Strydom Isolasie? Westerse media slinger gereeld aantygings na Orania wat ons gemeenskap met Apartheid vergelyk, en as ‘n desperate poging tot isolasie uitbeeld. Antagonisme van hoofstroom media is iets wat die Orania Beweging al tot ‘n mate as vanselfsprekend aanvaar het, en om hulle guns te wen is nie vir ons ‘n bestaandoel nie. Wat egter bekommerenswaardig kan word, is wanneer mede-Afrikaners Orania op ‘n positiewe wyse as ‘n geïsoleerde gemeenskap begin verstaan, en selfs so bemark.
Isolasie is nog nooit Orania se doel gewees nie, en dit sal ‘n baie groot fout wees om Orania so te verstaan.
Indien ons egter in skaarste lewe, en glo dat bewaring slegs deur isolasie kan plaasvind, dit wil sê Afrikanerkultuur, Afrikaans as taal en ons Christelike geloof so verdoem is dat ons dit êrens in die donkerste hoekie van die land moet wegsteek uit vrees dat iemand ons die laaste bietjie wat ons oor het ook gaan ontneem, kan ons verseker wees dat ons sal faal.
Behalwe vir die logiese argumente teen isolasie, ekonomies, meta-polities, internasionale vriendskap en meer, is Orania inherent die teenoorgestelde.
Ons behoort ons kultuur en kulturele-waardes oop en duidelik te kommunikeer vir die wêreld om te sien. Indien ons dit nie doen nie, vervaag ons Orania en Afrikaner-identiteit tot ‘n kwesbare en stadig uitdofende vlammetjie. Orania is eerder ‘n groeipunt Om deel te wees van ‘n groeipunt is dan ook eerder ‘n verantwoordelikheid. Belangstellendes moet nie vlug nie na Orania nie, maar eerder hulleself kom aanmeld om ‘n waardestelsel (klassiek Westers in dinge soos filosofie en die regstelsel, en Afrikaner in identiteit en handelswye) te help beskerm, en ook uit te bou. Voornemende inwoners kom steek nie hulle talente onder die spreekwoordelike maatemmer weg nie, maar moet eerder voorberei om hulleself diensbaar te maak vir die Stad op die berg, gegewe ons Christelike Geloof wat ons grootste en belangrikste roeping behoort te wees.
Indien ons deur vrees en skaarste gemotiveer word sal Orania ‘n tydelike verskynsel wees. Indien ons fakkeldraers van die Orania-idee is, met ons Geloof, taal en kultuur as riglyne, kan ons ander gemeenskappe inspireer en sodoende ‘n onstuitbare golf aanwakker.
Indien jy dus wil vlug, is emigrasie ‘n beter geleentheid.
Indien jy wil kom aanmeld, is Orania ‘n wonderlike roeping. Dankie aan elke lid van die Orania Beweging wat Orania help groei en hierdie roeping help opneem, en aan elke Oraniër wat elke dag bou aan die Afrikanertuiste. |
Foto: Die Orania Beweging ontmoet met die Konsul-Generaal van die Indonesiese Konsulaat in Suid-Afrika, tydens ‘n besoek aan Orania.

by Orania Beweging | Sep 13, 2021 | Uncategorized |

Sedert 2019
Ons het die eerste gerugte van COVID teen die einde van 2019 ontvang. In 2020 is dit verklaar tot ʼn wêreldwye pandemie. Intussen het ons verskeie golwe van die siekte beleef en geleer dat daar verskillende variante van die Corona-virus is.
Ons is reeds in die tweede semester van 2021 en steeds is COVID daagliks deel van ons lewe. Ons ken almal mense wat baie siek geword het. Ons betreur dit ten diepste dat ons reeds verskeie geliefde Oraniërs aan COVID verloor het. 2021 was ʼn moeilike jaar ten opsigte van sterftes in Orania.
Wat moet ons weet van COVID?
Die spesifieke Corona-virus, deesdae bekends as SARS-CoV-2, wat COVID veroorsaak is ʼn griepvirus wat nog baie lank met ons sal wees. Soos ons reg aan die begin gesê het, sal daar ʼn klein persentasie van mense wees wat sterf aan die virus, sommige sal erg siek word, maar die grootste meerderheid sal slegs ligweg siek word en volkome herstel.
Ons weet ook reeds dat onderliggende siektetoestande kan bydra tot ernstige siekte, byvoorbeeld hoëbloeddruk en diabetes. Vrees is egter ook ʼn bydraende faktor by sterftes. Doen wat jy kan om hierdie risikofaktore te bestuur.
Hoe word die pandemie hanteer?
Wêreldwyd het lande min of meer dieselfde maatreëls ingestel om COVID te bekamp. Sommige lande se maatreëls is werklik drakonies van aard, en ander lande en sekere state in Amerika het verkies om baie ligter maatreëls in te stel.
Dit lyk of daar min verskil in die verloop van die siekte is by die verskillende toepassingsmaatreëls. Of daar streng of minder streng maatreëls is, die siekte eis lewens, maak mense soms baie, maar meestal ligweg siek.
Wat is Orania se standpunt?
Orania het aanvanklik die Nood Operasionele Sentrum (NOS) tot stand gebring om COVID te bestuur. Soos wat meer inligting oor COVID beskikbaar geraak het, het die NOS besluit om te ontbind en het ons in Orania so ver as moontlik normaal met ons lewens voortgegaan.
Betreklik min mense het hulle werk as gevolg van COVID in Orania verloor, terwyl ons tans ʼn redelike instroming van mense beleef wat hulle poste in Suid-Afrika verloor het.
Ons standpunt hier was deurgaans dat Oraniërs vir hulleself moet verantwoordelikheid neem en dat die broses onder ons beskerm moes word. Daarom is daar nie gepolisieer of mense maskers dra, hulle hande ontsmet of sosiale afstand handhaaf nie. Elkeen moes doen soos wat hy of sy glo die regte ding is om te doen.
Fokus op gesondheid
Hoewel ons dankbaar is dat die gevalle van pasiënte wat aktief siek is aan COVID baie afgeneem het, wil ons Oraniërs graag versoek om op gesondheid eerder as op siekte te konsentreer.
Om op gesondheid te konsentreer is ʼn positiewe handeling en dit plaas jou in ʼn groot mate in beheer van wat met jou gebeur, eerder as om te wag dat jy siek word en dan probeer om die siekte te oorwin.
Om self verantwoordelikheid te neem vir gesondheid beteken om bepaalde keuses te maak ter wille van gesondheid en spesifieke optrede te neem wanneer jy wel siek word.
Hoe kan jy jou eie gesondheid verbeter?
Ons word geseën met ʼn uitsonderlike immuunstelsel waarin t-selle, makrofage en limfosiete altyd beskikbaar is om indringers, soos die SARS-CoV-2 aan te val en ons te beskerm. Sodra ons liggame aan ʼn indringer soos ʼn virus blootgesel word, word teenliggaampies onmiddellik geproduseer wat help voorkom dat die virus selle kan binnedring. Daar is verskeie dinge wat ons kan doen om ons immuunstelsel te ondersteun sodat dit beter kan weerstand bied teen siektes. Terselfdertyd kan sekere dinge wat ons doen ons immuunstelsel verswak. Doen gerus moeite met die volgende om jou immuniteit te verhoog:
- Maak erns met jou geloof, want ons weet en bely dat ons in Jesus Christus vry word en dat ons ons vrese aan Hom kan toevertrou. As ons waarlik in Hom glo, kan ons bid dat ons Sy wil sal aanvaar, selfs al is dit anders as waarop ons gehoop het, self as Hy verkies dat ons of ons geliefde nie sal herstel nie. Ons kan dan daarin berus dat alles binne sy Raadsplan gebeur.
- Doen moeite om ʼn gesonde dieet te volg, dit is al oor en oor bewys dat ʼn gesonde dieet weerstand teen siektes verhoog. Dít beteken om aktief weg te bly van suiker en verfynde koolhidrate, energiedrankies en hoogsverwerkte voedsel, pakkies en blikkies kos met bestanddele waarvan jy nie die name kan uitspreek nie, en transvette.
- Eet soveel as moontlik vars groente en sorg dat dit die grootste deel van jou dieet uitmaak. Sorg dat jy daagliks groen groente inneem, maar ook elk van die ander kleurgroepe van groente.
- Knoffel het bewese eienskappe wat weerstand teen siektes verhoog. Eet gereeld knoffel en verhoog die dosis as jy siekerig voel. Knoffel het ʼn bloedverdunningseffek wat veral ten opsigte van COVID ʼn belangrike rol kan speel.
- Drink vitamiene om weerstand te verhoog. Begin altyd met ʼn multivitamien omdat vitamiene en minerale mekaar se opname beïnvloed. ʼn Mens kan daaraan dink soos aan ʼn orkes: al die lede moet teenwoordig wees sodat die regte musiek gespeel kan word.
- Daar is spesifieke aanvullings wat immuniteit beïnvloed en wat saam met ʼn multivitamien geneem kan word:
– sink versterk selmembrane en keer so dat die virus toegang kry tot die sel
– vitamien C versterk die immuunstelsel en veg teen infeksies
– selenium stimuleer die immuunstelsel
– vitamien D versterk die immuunstelsel en beskerm veral teen lugwegsiektes
- Sorg dat die son daagliks vir sowat 20 minute direk op jou vel skyn omdat vit D in die vel gemaak word.
- Rus genoeg, dit beteken om agt ure per nag te slaap.
- Hanteer stres sodat dit nie jou weerstand verlaag nie.
- Kry gereeld oefening, as jy gereeld stap sal dit alreeds ʼn bydrae lewer tot jou gesondheid.
Hoe gemaak met die COVID-inenting?
Die mensdom is tans ernstig verdeel oor die inenting teen COVID. Die verdeling is so erg dat dit moeilik raak om middelgrond te vind.
In Orania is dit vir ons belangrik dat elke volwassene self sal besluit of hulle die inenting wil ontvang of nie. Mense se omstandighede en oortuigings verskil en ons wil Oraniërs aanmoedig om mekaar se keuses te respekteer. Ons kan nie toelaat dat die debat ʼn wig tussen ons sal indryf nie.
Ons is min en het mekaar nodig en ons moet veral nie slagoffers word van die “verdeel en heers-strategie” nie.
Laat ons onthou dat ons in Orania op pad is na vryheid en dat ons daardie doelwit nooit moet vergeet nie, selfs nie midde-in ʼn COVID-pandemie nie. As ʼn klein volk tel elkeen se bydrae op pad na vryheid en daarvoor moet ons ruimte gee.
Dankie
Ons mediese spanne by OraniaMed24 sowel as by Orania Kliniek en ook by Karoosig Aftreeoord het die afgelope jaar moeilike omstandighede hanteer en buitengewone diens aan ons gemeenskap gelewer. Ons hartlike dank aan elkeen van die personeel wat uit hulle pad gegaan het om siekes by te staan en families te ondersteun.
In ons gemeenskap is daar verskeie staatmakers wat steeds vir siekes kos aandra, help met verskillende take waar dit nodig is, eetgoed verskaf aan families wat geliefdes verloor het, en inkopies doen vir diegene wat afsonder. Daar is soveel welwillendheid in ons gemeenskap. Daarvoor is ons opreg dankbaar en ons vertrou dat ons al meer sal groei na ʼn gemeenskap waarin mense in liefde na mekaar sal omsien.
As gelowiges glo ons dat ons Vader in die hemel in beheer is, ook ten tyde van ʼn wêreldwye pandemie. Laat ons in hierdie tyd ons lewens ondersoek sodat ons kan afstand doen van dit wat skeiding bring tussen ons en Hom en laat ons ons lewens al meer toewy aan Hom.
Laat ons as ʼn gemeenskap waarlik so leef dat elkeen sal weet dat ons kinders van die Allerhoogste is.
Ek wens elke Oraniër goeie gesondheid.
Vriendelike groete
Hanri Maritz
Burgemeester
by Orania Beweging | Aug 27, 2021 | Uncategorized |
Bo-Karoo Opleiding (BKO), ’n opleidingsinstansie in Orania, sal eersdaags met opleiding in landbou begin. Dié driejaarkwalifikasie fokus op aspekte soos finansiële, data-, onderhoud- en plaasbestuur en bestaan uit ’n teoretiese sowel as ’n praktiese komponent, waartydens studente die geleentheid ontvang om dit wat hulle in die klas geleer het, ook in praktyk toe te pas.
Dit volg na ’n suksesvolle evaluasie van die Quality Council for Trades & Occupations (QCTO) waartydens BKO se gereedheid geevalueer is om ’n Nasionale Sertifikaat (N4 tot N6) in Plaasbestuur aan te bied. BKO se rektor, Pieter Bischoff sê die feit dat dié opleidingsinstelling deel van die Solidariteit Beweging vorm, bied die ideale geleentheid om kennis by die ander instellings te tap. Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (SAAI) het ’n geruime tyd gelede ’n behoefte uitgespreek om in landbou-opleiding betrokke te raak. Verder het die AfriForuminisiatief Boer tot Bord reeds ’n toetsboord in Orania opgerig. Pieter sê ook dat daar kennis oor plaasveiligheid by AfriForum se strukture verkry kan word en oor arbeidsreg by die vakbond Solidariteit.
Pieter wys daarop dat baie ander landboukolleges nie meer presteer soos voorheen nie en dat BKO al ’n geruime tyd na die moontlike uitbreiding van hulle kursusse kyk. Orania is ook perfek geposisioneer met die drie hooflyne van landbou – akkerbou, saaiboerdery en veeteelt – wat op sy voorstoep beoefen word. Verder is Orania se ligging ook van so ’n aard dat studente van regoor die land na BKO gelok sal word. Die geakkrediteerde gedeelte van die kursus sal op plaasbestuur fokus, maar daar is ook ’n ongeakkrediteerde gedeelte waar ekstra waarde tot die kursus gevoeg word. BKO bied reeds vakke, soos sweiswerk en elektries, aan wat van waarde kan wees vir iemand wat van voorneme is om op ’n plaas te werk. Studente sal byvoorbeeld blootgestel word aan basiese bou- en rekenaarvaardighede, die span van grensdrade en die diens van boorgate.
BKO is opgewonde om aan jong mans en dames die geleentheid te bied om hulself eersdaags in die landboubedryf te kom bekwaam.
Vir verdere navrae, skakel asseblief direk met admin@bokarooopleiding.co.za
by Orania Beweging | Jul 30, 2021 | Uncategorized |
Orania maak baie mense se harte warm, en selfs sommige mense warm onder die kraag. Een ding bly egter seker – Orania groei teen ʼn snel!
Oraniërs en toeriste van die dorp ken al die bekende Oewerhotel, restaurant en spa teen die Oranjerivier, die verskeie lekker eetplekkies in die dorp, die heerlike dorpswembad, plaaslike bierbrouerye, die splinternuwe sportinstituut en ander besienswaardighede soos Orania se Monumentkoppie. Dit is egter ʼn riem onder die hart (en kraag, vir sommiges) om te sien hoe daar in Orania, tot bate van Oraniërs in elke seisoen van die lewe, gegroei, gebou en ontwikkel word.
Vir babas van drie maande tot peuters van vier jaar oud groei Orania se twee dag sorgsentrums Kieliepensie en Huppelkind, eersteklas dagsorgsentrums, geweldig. Huppelkind kyk na ongeveer 80 kindertjies wat liefdevol versorg word en in ʼn veilige, mooi, opvoedkundige omgewing kan speel.
Die twee skole, wat albei laer- en hoërskole is, se skoliere presteer op verskeie terreine en die CVO-skool is tans besig om ekstra klaskamers aan te bou, om die toenemende skolier-aansoeke te akkommodeer. Die nuut uitgebreide sportgronde van die skool spreek boekdele van ʼn lekker, lewendige skoolloopbaan in Orania.
Bo-Karoo Opleiding (BKO) het in 2019 die eerste voltydse groep studente ontvang en sedertdien so baie belangstelling gewek dat daar reeds planne vir verdere uitbreiding is. Die oprig van koshuise en die aanbieding van nog kursusse is in die pyplyn. Tans kan BKO studente ʼn nasionaal geakkrediteerde kwalifikasie in die volgende rigtings verwerf: elektries, bou en siviele konstruksie, loodgieter en gemeenskapsversorging. Hierdie kursusse bou egter nie net studente se kennis en vaardighede nie, maar die studentelewe by BKO is een wat ook die studente se Christelike en Afrikanerkarakter ontwikkel. In 2022 gaan BKO ook ʼn landboukursus aanbied en die grond vir ʼn eie proefplaas is reeds gekoop. Orania het ook sy eie haar-akademie, waar studente hulself as geakkrediteerde haarkappers kan bemagtig. Verder is daar reeds planne opgeteken om in die nabye toekoms nog tersiêre opleiding-instellings in Orania te bou.
Ontwikkelings, soos ʼn park by Gannabos se verblyf-eenhede, getuig van ʼn toename in jong werkendes wat hulself in Orania vestig. Al hoe meer verblyf-ontwikkelings word deur die 28 geregistreerde bouspanne in Orania, wat almal ver vooruit vol bespreek is, aangepak. Volgens Christo Conradie van OOM (Orania ontwikkelingsmaatskappy) is “Orania se eiendomsmark verbysterend goed”. Daar is gelukkig genoeg grond in Orania se besit om alreeds ʼn bevolkingsgroei van 2000 inwoners, tot 10 000, te akkommodeer. Conradie sê die grond gaan vir die ontwikkeling van woonerwe, huurerwe en besigheidserwe gebruik word.
Die nuwe toring vir hoë spoed internet wat tans opgerig word is een van die vele bakens van vooruitgang wat dit vir jong werkendes makliker maak om Orania hul tuiste te maak. Stadsontwikkeling in die nabye toekoms gaan juis fokus op die stadskern, waar dit tans beplan word om drie groot geboue met kantoorspasie te ontwikkel. ʼn Blink toekoms vir die landbousektor word in Orania verwag, soos daar beplan word om al hoe meer handel- en diensgeleenthede aan Boere in die omgewing te bied. Die toerismesektor in Orania groei ook, en soos ekonomiese bedrywighede toeneem volg werksgeleenthede.
Karoosig Atreeoord is ʼn veilige hawe vir Orania se bejaardes. Hier is 10 wooneenhede en ʼn topklas versorgingsaal wat in ʼn personeelspan van 13 toegewyde werknemers se betroubare hande is. Daar is vier-en-twintig-uur versorging en die inwoners sê sommer spontaan hoe lekker hulle eet, en hoe goed daar na hulle gekyk word! Verdere uitbreiding en ontwikkeling word reeds beplan vir Karoosig Aftreeoord, wat ideaal naby aan Orania se mediese sentrum geleë is.
Die snelle bevolkingsgroei in Orania dien as katalisator vir instellings om infrastruktuur en diensteontwikkeling ten bate van baba, peuter, kleuter en kind, voort te sit.
Geskryf deur René Krüger