Gedurende Desember 2021 het meer as 468 persone die gratis dorpstoer onderneem wat met ʼn minibus deur die Orania Beweging aangebied word.
Hennie Pelser, Hannetjie Conradie, John Strydom en Joost Strydom is die toergidse wat vir gemiddeld drie toere per dag verantwoordelik is. Hulle is die spreekbuise van ons dorp wanneer besoekers grootoog begin vrae vra en meer besonderhede oor ons spoedig-ontwikkelende dorp wil bekom.
Besoekers wat die besigtigingstoere onderneem kan ʼn vrywillige donasie maak wat weer aangewend word om tot uitgawes soos brandstof en meganiese onderhoud by te dra. Elke toergids se unieke aanslag maak die toere opwindend en sorg vir volledige inligting wat deur die Inligtingskantoor se personeel aangevul kan word.
Die Inligtingskantoor se geskenkwinkel moes bontstaan om in besoekers se behoefte aan aandenkings van Orania te voorsien. Daar word uitgesien na nog baie besigtigingstoere waartydens besoekers korrekte inligting oor die ontstaan, bestaan en toekoms van Orania kan kry.
Inwoners van Orania word uitgenooi om ʼn toer te onderneem indien hul dit lanklaas of dalk nog nooit gedoen het nie. Kontak die Inligtingskantoor van die Orania Beweging by 053 207 0004 om jou toer te bespreek.