by Orania Beweging | Mar 31, 2012 | Nuus |
Soos mis wat dans op die rimpels van water op ’n koel wintersoggend, roep ’n naam skimme wat al ons sintuie prikkel.
Identiteit setel in ’n naam, ’n naam bind ‘n reputasie en ons heg gedrag daaraan. Ons plaas onsself binne die raamwerk van die name van mense en plekke wat ons ervaar en onthou.
Pretoria herinner aan Jakarandastrate en die Universiteit. Kerkplein en die Ou Raadsaal. Andries Pretorius, M.W. Pretorius en Paul Kruger. Ons Republikeinse strewe, konsentrasiekampe by Irene en die ondertekening van die oorgawe in Melrose-huis. Ek dink aan die Heldeakker, die Voortrekkermonument, Krygkor en die Kunsmuseum met Pierneef en die gedenkteken opgerig deur Duitsers uit dank vir die versorging van kinders weesgelaat deur die Wêreldoorlog.
Oor tyd het dinge egter verander. Sunnyside is nie meer die tuiste van Afrikanerstudente nie. Ga-Rankuwa, Soshanguve, Mamelodi, Tembisa, Diepsloot en Atteridgeville neig na Kerkplein. Potgieterstraat word Kgosi Mampuru, Andriesstraat word Thabo Sehume, Kerkstraat word Stanza Bopape.
Ons kan vra waar Thabo Sehume was toe Andries Pretorius weerlose vroue en kinders bygestaan het teen die tirannie en bloedsug van Dingaan, moes toekyk hoe die Britse Empaaier vir Natalia toe-eien en die onafhanklikheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek met die ondertekening van die Sandrivier-konvensie vasgelê het? Waar was Kgosi Mampuru toe Andries Potgieter die plunderaars en moordenaars van Silkaats uit Transvaal en oor die Limpopo verdryf het?
Dit is egter nie meer van belang nie, want die belangriker vraag is waar die Pretoriusse en Potgieters van vandag is? Wat het gebeur dat hulle vandag ander se voorkeurname vir die strate van Pretoria moet aanvaar?

Koningsbergkasteel
Dit is nie die eerste keer waarop ‘n stad nuwe eienaars en nuwe name kry nie. ‘n Stad is die fisiese vergestalting van die sosiale konstrukte tussen mense wat op ‘n plek konsentreer. Die demografie van ‘n stad bepaal sy inhoud, sy karakter, sy siel en ook sy naam.
Istanbul was oorspronklik die setel van Christendom in die Ooste en was die grootste en rykste Europese stad gedurende die Middeleeue. In 1453 het Sultan Mehmed II die stad wat tot op daardie tydstip as Konstantinopel bekend gestaan het, verower. Die Aya Sophia het ‘n Moskee geword en Istanbul was sedertdien alles behalwe Europees.
Koningsberg was tot en met 1946 die hoofstad van Oos-Pruise. Nadat 3 miljoen Duitsers voor die geweld en verkragting van ‘n seëvierende Russiese weermag gevlug het, is Koningsberg deur sy nuwe inwoners hernoem na Kaliningrad en die Koningsbergkasteel het plek gemaak vir die Huis van die Sowjets.

Huis van die Sowjets
Sonder Afrikanerarbeid was Pretoria as Afrikanerstad van meet af gedoem tot inwyding as Afrikastad. Uitnemendheid, republikanisme en Afrikaans moet plek maak vir transformasie, munisipale verval, kaderontplooiing, Afrikanisme, taxigeweld en die mitiese hoofman Tshwane.
Die gees wat Pretoria groot gemaak het is egter nie in die Heldeakker begrawe nie.
Daar is ‘n plek waar trotse Afrikanerskap herleef. Waar daar, soos Pretoria van 1856 met sy 300 inwoners, gedroom word oor ‘n toekoms waarin vryheid die dryfkrag tot uitnemendheid is.
Daar is ook uit die foute van die verlede geleer en vandag word Orania op die fondament van Afrikanerarbeid gebou.
Hoe volhoubaar gaan hierdie Afrikanerstad-in-wording wees? Dít hang van jou en my deelname af.
by Orania Beweging | Mar 23, 2012 | Nuus |
(uit Voorgrond: Maart 2012)
Om te vra: Wat maak die Orania Beweging groot? veronderstel dat ons wel groot is – ‘n gedagte wat nie sonder meer vanselfsprekend is nie. Ek wil egter aanvoer dat ons wel groot is en om my siening uiteen te sit, gaan ek ‘n denkbeeldige debat aanknoop met iemand wat die gedagte ondersteun, maar die leiers van die Beweging aanspreek oor wat hy as ‘n gebrek aan grootheid beskou.
Orania is goed en wel, maar dit bly ‘n dorp; wat ons nodig het, is ‘n volkstaat, nie ‘n enkele klein dorpie nie!
Daarop het ek al ‘n duisendmaal gesê dit is waar, maar ons moet werk met wat ons het. Ons verkondig die gedagte al vir veertig jaar en ons pleit by Afrikaners om dit te ondersteun, ons kan wens dat ‘n honderdduisend al hulle lot by ons moes ingooi, maar as dit eenduisend is wat hierheen getrek het en twee en ‘n half duisend hulle steun in die vorm van lidmaatskap en deelname gee, dan werk ons daarmee. Eerder ‘n halwe eier as ‘n leë dop! Die kleine is die voorloper van die grote, nie die plaasvervanger daarvan nie.
Natuurlik, ek wil niks wegneem van wat al bereik is nie, maar ek mis die groot manier waarop die volkstaat voor 1994 as alternatief vir die nuwe Suid-Afrika verkondig is, so asof julle met die kleinheid verlief neem.
Dit is ook waar, toe het ons groot gedink en groot gepraat. Maar elke tydperk het ‘n logika van sy eie; voor 1994 het Afrikaners oor Suid-Afrika se staatsmag beskik en dit was heel denkbaar dat ons die onvolhoubare soewereiniteit oor die hele Suid-Afrika as’t ware inruil vir volhoubare soewereiniteit oor ‘n kleiner deel daarvan – as ons genoeg Afrikaners kon oorreed om dit te ondersteun. Die feit bly egter staan dat volkstaters nie op ‘n realistise plan kon ooreenkom nie en dat, deels as gevolg daarvan, die meeste Afrikaners nie volkstaters geword het nie. Intussen het die geskiedenis sy loop geneem en van ons grootpratery het nie eers warm wind oorgebly nie.
Goed en wel, maar ons streef tog nog dieselfde vryheid na en dit vereis ‘n sekere skaal. Een klein Karoodorp is net nie genoeg nie, julle moet hoër mik, byvoorbeeld: verkondig die volkstaat van hier tot aan die Weskus!
Dit het ons gedoen en ons het die gedagte nie prysgegee nie. Ons het egter geleer dat dit nie die grootte van die uitnodiging is wat die grootte van die opkoms bepaal nie, die geloofwaardigheid daarvan bepaal die opkoms. Orania het die geloofwaardigheid van ‘n werklikheid wat nie misken kan word nie, dit bied die grondslag waarop ons kan doen wat ‘n nuwe tydperk van ons vra. Wat dit vra is ‘n plaasvervanger vir die woorde “ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika”. Ons mense neem verbasend stadig afskeid van “ons” Suid-Afrika, deels omdat die leemte wat dit laat te groot is. Vir ons om te slaag moet die groot Orania, die beliggaamde Orania-gedagte, daardie leemte kan vul. Om dit reg te kry, het ons meer as planne nodig, ons het ook hoopgewende werklikhede nodig – simbolies gewigtig, al is dit nog klein.
Met wat jy sê, kan ek nie stry nie, maar dit voel ‘n bietjie vaag en abstrak. Dit voel nie of ek daawerklik daartoe bydra nie, selfs nie al bly ek in Orania nie.
As dit waar is, moet ons teruggaan tekenbord toe met die draers van ons gedagte; dan moet ons weer na die funksionering van ons organisasie kyk. Miskien is ‘n goeie punt om te begin – vir ons leiers en ons deelnemers – die Vryheidstigting se algemene doel. Tob ‘n bietjie oor hierdie bedrieglik eenvoudige woorde, want dit gaan nie ééndag eers van krag word nie, ons is nou al daarmee besig:
“Die Vryheidstigting beywer hom vir die herstel van die Afrikaner se vryheid in ‘n eie, demokratiese republiek wat op grond van Christelike waardes en oortuigings ingerig word en wat die toepaslikste vorm en mate van selfstandigheid in verhouding tot ander betrokke staatseenhede nastreef.”
(Hierdie artikel het in Maart 2012 se Voorgrond, lyfblad van die Orania Beweging, verskyn. Die rubriek Agtergrond is Carel Boshoff se gereelde bydrae as president van die Orania Beweging.)
by Orania Beweging | Mar 21, 2012 | Nuus |
‘n Bekende redenasie, wat op die oor af slim klink maar te kort skiet, is dat alles oor die ekonomie gaan en dat politiek eintlik ‘n lastigheid is en heeltemal oorskat word.
In die Westerse wêreld is veral na die einde van kommunisme geredeneer (in lyn met die “Einde van die Geskiedenis” essay van Francis Fukuyama) dat die era van ideologie en groot politieke idees verby is en mense nou hulle kragte ingespan het om welvaart en voorspoed te skep waarby almal sou baat.
Intussen het die optimisme en die geloof in die ekonomie plek gemaak vir ontnugtering en die roep na groter ingryping. Die kamstige magtige ekonomiese leiers is mak soos lammetjies en swig vir die eise van die politieke leiers as dit kom by wette en regulering van die mark.
In Afrika het die blanke minderhede (en ook Indiërs, Libanese en Arabiere) ook die siening gehuldig dat hulle die politiek maar aan die swart meerderheid kon oorlaat solank hulle die ekonomie beheer. Politiek is as’t ware beskou as onskadelike speelgoed vir die onbevoegdes terwyl die kenners hulle besig hou met besigheid.
By uitstek het die siening gegeld in voormalige setlaarskolonies soos Zimbabwe, Kenia en Zambië, waar blankes na onafhanklikheid nie uitgedryf is nie, juis omdat hulle as ekonomiese melkkoei belangrik was. Haatspraak teen blankes deur swart politici is nie ernstig opgeneem nie, want uiteindelik was die swart meerderheid afhanklik van die minderhede se houvas op die ekonomie.
Ook hier het ontnugtering ingetree, om dit saggies te stel. Ek hoef nie hier weer op te haal wat in Zimbabwe (en in ‘n mindere mate ook in die ander voormalige setlaarskolonies) gebeur het, en natuurlik ook die toenemende inmenging van die politiek in die ekonomie in Suid-Afrika te beskryf nie.
Die lang gekoesterde hoop dat jy as minderheid kan oorleef met ekonomiese krag sonder politieke mag is eenvoudig verkeerd bewys. Politiek bly die kroonrat van die binnewerkinge van ‘n samelewing.
Ook in Suid-Afrika begin die ryk Afrikaners nou agterkom dat hulle welvaart, kundigheid en bates eintlik niks werd is sonder politieke beheer nie. Ekonomiese druk soos die dreigement om jou beleggings te onttrek, te emigreer en werknemers af te dank beïndruk niemand wat volgens sosialistiese logika dink nie, naamlik dat die gans wat die goue eiers lê liewers geslag moet word omdat daar baie goue eiers in sy maag moet wees, nie.
Om die rede het by die volkstaatbeginsel ekonomiese selfstandigheid en politieke beheer altyd hand aan hand geloop. Die stigters van Orania, en diegene wat by hulle oorgeneem het, het besef dat politiek geen luukse is wat aan vreemdelinge oorlaat kan word nie. Die Afrikaner se geskiedenis het ook al genoegsaam bewys dat dit met die ekonomiese voorspoed verby is, as jy politieke beheer verloor.
Die Britse bewind kon of wou die Boere nie beskerm teen die Xhosa-strooptogte aan die Oosgrens nie en groot ekonomiese skade deur gesteelde vee en die vernietiging van plase was die gevolg.
Brittanje het ook besef dat hulle nie die goud van Johannesburg of die diamante van Kimberley na behore kon uitbuit met ‘n Boerebewind oor die gebiede nie, daarom moes hulle politieke beheer kry. Eers deur manipulasie, dan deur ‘n staatsgreeppoging (die Jameson-inval) en laastens deur volskaalse oorlog. Weereens kon politiek en ekonomie nie geskei word nie.
Toe in die tweede helfte van die 20ste eeu Afrikaners eers politieke beheer oor Suid-Afrika en geleidelik ook ekonomiese mag verkry het, kon eintlik niks hulle meer stop nie. Eers die influistering van die NP en die groot maatskappye, dat politiek nie so belangrik is nie en dat dit gerus aan die ANC oorhandig kan word, solank die grondwet die onveranderde ekonomiese besittingstoestand beskerm, het talle Afrikaners oortuig om afstand van die mag te doen. Vir ‘n hele ruk het dit goed gewerk: die ANC-regerings onder Nelson Mandela en die beginjare van die Mbeki-bewind het nie te veel in die ekonomie ingemeng nie of met eienaarskap gepeuter nie en die globalisering van Suid-Afrika het menige geleenthede in handel, vervaardiging en toerisme gebied wat ook Afrikanersakemanne bevoordeel het.
Met die linksswaai onder Zuma (wat eintlik al in die Mbeki-termyn begin het) word meer en meer van die rol gepraat wat die politiek moet speel om die ekonomie “reg te stel” ten einde die doelwitte van die sogenaamde “nasionale demokratiese revolusie” (‘n Orweliaanse term vir ‘n sosialistiese omvorming van die samelewing) te bereik.
Afrikaners se hoop, dat hulle vir die opoffering van politieke mag beloon word deur hulle op die ekonomiese terrein onbelemmerd te verryk, was futiel. Die dispariteit van politieke en ekonomiese elite het nêrens lank gehou nie. Ook die poging om die nuwe swart elite te oortuig dat die ekonomie so ver as moontlik deur die politiek met rus gelaat moet word sodat welvaart vir almal geskep moet word, het nie gewerk nie. Die nuwe swart elite floreer juis besonder goed in die stelsel van politieke inmenging wat die speelveld tot hulle voordeel verander. Die aanneem van Westerse smake en gewoontes het nog lank nie die aanname van Westerse denke meegebring nie.
Afrikaners se uitkoms is daarin geleë om self weer beheer oor die politiek te neem as hulle ekonomiese beheer nie net wil behou nie, maar wil uitbou. Dit is egter ‘n heeltemal ander pad as die een wat tans deur die DA en ander liberale groepe voorgehou word: staan almal saam in een effens meer gematigde opposisieparty, betrek die swart middelklas en dan sal ons beheer oor Suid-Afrika kry en sorg dat daar ‘n redelik vrye ekonomie heringestel gaan word waar wit en swart ongeag velkleur hulle kan verryk en politiek eintlik onnodig raak.
Die pad wat ons moet loop is die van hertoeëiening van plaaslike strukture, polities en ekonomies. Dit is dieselfde idee wat Israel gehad het: beset op ‘n vreedsame manier ‘n stuk grond, bou jou eie ekonomie op en sorg dat jy deur getalleoorheersing (verkieslik sonder vreemdelinge wat nie by jou idee en strewe inval nie) ook politieke beheer kan verseker. Die ekonomie is dan nie ‘n losstaande gebied wat net vir selfverryking bedoel is nie, maar ‘n terrein wat meehelp om die groep te bemagtig. As in die proses enkeles welvarend raak deur harde werk en ondernemerskap is dit goed, maar die hoofdoel is om selfstandigheid te verseker en ‘n toekoms as volk saam te bou, op alle terreine.
by Orania Beweging | Mar 5, 2012 | Nuus |
Heelwat ideale is vir die nuwe Suid-Afrika gehuldig. Voorheen benadeeldes het waarskynlik uitgesien na geleenthede en deelname wat voorheen slegs in die tuislande vir hulle beskore was, ekonomiese regstelling en die geleentheid om te presteer binne die groter poel van hulpbronne, potensiaal en ontwikkeling wat Suid-Afrika bied.
Afrikaners het uitgesien daarna om verlos te wees van die verantwoordelikheid en las om ander te regeer en op te hef, na die geleenthede wat toegang tot internasionale markte en sportkompetisies bied en om hul kultuur en taal beskerm te sien deur die grondwet en die instellings wat daardeur geskep word.
Die ANC, onder leiding van Nelson Mandela, het vernuf en karakter getoon tydens die onderhandelingsfase en kon die NP uitknikker op beginsels wat aanvanklik ononderhandelbaar vir die NP was. Dit sluit in magsdeling, werksekerheid vir staatsamptenare, meganismes wat korrupsie sou beperk, desentralisasie van mag, bevoegde veiligheidsdienste en die beskerming van Afrikaanse skole en woonbuurte.
1994, hoewel die jaar waarin die ANC die politieke mag oorgeneem het, was egter nie ‘n waterskeidingsjaar waarna die ANC kon maak soos hy wou nie. Die welwillendheid van die internasionale gemeenskap moes behoue bly en benut word om finansiële hulp te werf en toegang tot markte te verkry. Die deurslaggewende faktor was egter dat die enjinkamer van die regering (die staatsdiens) en sy tande (polisie en weermag) nog tot ‘n groot mate deur Afrikaners beman en bestuur is (44% van staatsdiensposte was in 1994 deur Afrikaners gevul).
Daarom was beginsels en prosesse wat onder die vaandel van “versoening” geval het aanvaklik vir die ANC baie belangrik. ‘n Samelewing van strydende belange kan egter nie vir altyd in ‘n toestand van “versoening” verkeer nie, want dit is ‘n hindernis in die uitvoering van die wenner se toekomsbeeld.
Namate die ANC hom sedert 1994 in die internasionale gmeenskap gevestig het as regeerder van Suid-Afrika en die staatsdiens getransformeer het deur die ontplooiing van sy kaders, het sy aanvanklike ligte houvas op die hefbome van mag in Suid-Afrika verander in ‘n ystergreep.
Hierdie verstewiging en konsolidasie van die ANC se magsbasis laat hom toe om minder aandag aan “versoening” te skenk en meer aan die bou van die samelewing wat hy in die vooruitsig stel.
Hoe lyk daardie samelewing wat die ANC in die vooruitsig stel en besig is om te bou? Sekere beleidsdokumente van die ANC soos die “Kliptown Freedom Charter” en die “Adopted Strategy and Tactics of the ANC: Building a National Democratic Society” bied vir ons ‘n blik op daardie samelewing.
Meningsvormers soos Frederik van Zyl Slabbert het aanvanklik verskeie items binne hierdie beleidsdokumente as onrealisties en onhaalbaar verwerp en gereken dat hulle nie baie ernstig daarmee kan wees nie. Onder meer omdat baie daarvan nie tred hou met die verwikkelde aard van Suid-Afrika se geskiedenis, ekonomie en die verstedeliktheid van die bevolking nie. Duidelik Marxisties-ingestelde beleidspunte is immers gesien as onrealisties na die val van die Berlynse muur.
Dit blyk egter asof die ANC volhard met die bou van sy ideale samelewing volgens sy beleidsdokumente soos wat die verwikkelinge in hierdie verband demonstreer:
• Die hersiening van die rol van die Grondwetlike hof (wat op ‘n hersiening van die grondwet self neerkom)
• Die muilband van die vrye media deur drakoniese wetgewing (reeds gedeeltelik gedoen)
• Die heroorweging van private eiendomsreg (voorstel dat grond aan die staat behoort wat gebruiksreg toeken), die instelling van ‘n waardeerder-generaal (voorstel) en die onteiening sonder vergoeding van waterregte en minerale regte (dit is reeds gedoen)
• Die druk op alle instellings in die land om uit ‘n meerderheid “Africans” te bestaan en hulle te verteenwoordig wat daarop neerkom dat nie-“Africans” oor geen eie instellings mag beskik nie (Die ANC se “Strategy and Tactics” definieer “Africans” as: “The indigenous inhabitants of the country principally composed of the Zulu, Xhosa, Pedi, Sotho, Tswana, Tsonga, Swazi, Venda, Ndebele, Khoi and San”)
Dit is ook duidelik dat Afrikaners vir altyd tot die klas van “colonists of a special kind” (en anders as die meer bevoorregte klas, genoemd “Africans”) gerelegeer word. Dit kan gesien word uit die volgende optredes:
• Die konseptaalwet wat Afrikaans behandel as ‘n mindere koloniale taal (in teenstelling met ‘n inheemse taal)
• Die steun van die ANC vir die sing van “Skiet die Boer”
• Druk op Afrikaanse skole en universiteite om te verengels
• Die verdryf van Afrikaans in vakonderrig by technicons, tegniese kolleges en internskappe
• Die verdryf van Afrikaans se invloed in die sakesfeer en die howe
• Die druk op Afrikaanse kunstefeeste om “meer verteenwoordigend” te word
• Die druk op sportsliggame om minder Afrikaners te kies vir rugby, netbal, krieket, atletiek en swem.
Die samelewing wat in die vooruitsig gestel word is dus duidelik een wat op Marxistiese ekonomiese teorie geskoei word waar ‘n individu se vaardighede nie sy loon bepaal nie, maar eerder hoe die staat hom sien, terwyl Afrikaners ‘n permanente tweede-burgerklas vorm wat nie op eie instellings en skole kan aanspraak maak nie.
Dit is duidelik dat die ANC besig is om ‘n omvangryke hervorming van die samelewing te bewerkstellig.
Verder is dit ook duidelik dat die ANC die steun van die meerderheid van die Suid-Afrikaanse kiesers geniet vir sy hervormingsprogram. Dit is ‘n feit wat deur enige politieke party wat hoop om die bewind oor te neem, in ag geneem moet word, wat ook beteken dat enige ander party soortgelyke maatreëls sal moet voorstaan. Die invloed hiervan blyk al duideliker uit die DA se soeke na leierskap wat beter aanklank by swart kiesers sal vind en hul onbereidwilligheid om die Departement van Korrektiewe Dienste aan te vat oor hul beleid om nie verdere Afrikaanse bruinmense aan te stel of te bevorder in die Wes-Kaap nie.
Dit is duidelik dat bogenoemde samelewing nie een is wat Afrikaners gaan toelaat om te leef, te groei en te gedy nie.
Hoe gaan Afrikaners op hierdie omvangryke hervorming reageer?
Daar is wel diegene wat Suid-Afrika permanent gaan verlaat (of reeds verlaat het). Diegene wat egter hoop om terug te keer of wat nie oor die nodige jeug, gesondheid, finansies en opleiding beskik om te emigreer nie sal egter na ‘n uitkoms op Suid-Afrikaanse bodem moet soek.
Daardie Suid-Afrikaanse oplossing sal egter ‘n omvangryke oplossing moet wees wat die impak van die ANC se hervorming volledig in ag neem, ander sal dit deur daardie hervorming meegesleur word.
Selfhelp en steun op die howe is ‘n eerste stap in die regte rigting, maar dit bied nie ‘n omvangryke oplossing nie. Op sy eie is dit ‘n strategie wat niks langer sal duur as die onafhanklikheid van die regbank nie.
Afrikaners sal vir die duur moet bou aan ‘n magsbasis wat daartoe in staat is om toegewings van die staat te wen. Daardie magsbasis moet binne Afrikanergeledere gebou word, moet op grond wat deur Afrikaners bewerk en bewoon geanker en volhoubaar gemaak word en moet ook uitstrek na alle Afrikaanssprekendes en na die buiteland.
Tot dan sal Afrikaners hulself moet verwyder van die magskonflikte wat al meer gereëld in Suid-Afrika gaan afspeel, want anders loop ons die risiko om deur die maalstene fyngemaal te word. Ons moet daarom afsydig en onverbonde staan tenoor diegene wat die mag beheer en diegene wat dit begeer, want ons kan dalk net vir die honde gevoer word om hul ondersteuners te beïndruk. Soos ZB du Toit gesê het: “‘n Minderheid moet hom nie laat tel nie.”
by Orania Beweging | Feb 28, 2012 | Nuus |
Min Afrikaners kan fout vind met die doelstellings om mense op te voed om hulself te verdedig en om misdaad te bekamp. Afrikanerboere het veral die spit afgebyt sedert 1994, met die aantal plaasmoorde wat lankal reeds lyk soos die slagtersrekening van ‘n militêre konflik.
Suid-Afrikaanse wetgewing laat ruimte vir die oprig en bedryf van private veiligheidsmaatskappye. Die omvang van hierdie maatskappye het ook in verhouding met die toename in misdaad gestyg. Afrikaners voel veral in die steek gelaat deur ‘n polisiediens wat ook soos die res van die staatsdiens kundigheid moes offer op die altaar van transformasie, die kommandostelsel wat afgeskaf is en grensbeheer wat gewoon nie gebeur nie.
Dit is daarom te verstane dat daar ‘n behoefte aan organisasies soos die Kommandokorps is. Dit lyk egter asof die Kommandokorps onder leiding van Franz Jooste die bal laat val het en ‘n las vir Afrikaners geword het eerder as die bate wat dit behoort te wees.
Die DA het onlangs ‘n klagte by die Menseregtekommissie aanhangig gemaak teen die Kommandokorps terwyl Afriforum hulle in die openbaar geroskam het. Dit alles nadat Nederlandse TV-joernaliste ‘n tyd lank ‘n opleidingskamp van die Kommandokorps bygewoon het en videomateriaal versamel het waarin Jooste rassistiese uitsprake teenoor swartes maak, Hitler ondersteun en die Joodse volksmoord tydens die Tweede Wêreldoorlog ontken.
In reaksie hierop voer Jooste in ‘n mediaverklaring aan dat die Kommandokorps se opleidingskampe op die standaard van infanterie-opleiding regoor die wêreld geskied en dat daar niks fout met sy optrede is nie.
Dit blyk egter dat Jooste verskeie strategiese militêre foute begaan wat sy stelling uiters aanvegbaar maak. Omdat Jooste voorgee om ‘n militêre instelling te lei wat aan standaarde voldoen, sal ek voorts my argument in militêre terme en met militêre voorbeelde voer. Dit beteken egter nie dat ek hoegenaamd enige militêre optrede voorstaan nie.
Eerstens beskik Jooste blykbaar nie oor die vermoë om sy “vyand” akkuraat te identifiseer nie. Dit is duidelik dat hy sy vyand as “swartes” beskou en beskryf. Alle swart mense is dus die “vyand”. Dit is slegs ‘n genade van Bo dat alle swartes ons nie vyandig gesind is nie, want indien dit die geval was, sou hulle ons bloot deur hul getalleoorwig binne die verloop van een dag kon oorweldig en na die hiernamaals stuur.
Afrikaners het sedert die Groot Trek kosbare vriende onder swart mense gehad. Dit sluit in die Barolong wat Andries Potgieter se trekgeselskap gered het na die slag van Vegkop waarin Potgieter ‘n aanval van die Matabele kon weerstaan maar al hul trekdiere en voedsel in die geveg verloor het. Die Zoeloekoning Mpande wat Dingaan omvergewerp het en vrede tussen die Voortrekkers en die Zoeloes herstel het na die slag van Bloedrivier, wat ons voorouers ‘n lang uitgerekte oorlog gespaar het wat hulle hulpbronne en getalle nie sou kon volhou nie. Die tallose lojale werkers wat sedertdien getrou in die diens van Afrikaners staan in ruil vir ‘n loon wat skaars menswaardig is, behoort ook as voorbeeld ingesluit te word. Verwys ook na Pomfret, die myndorpie waar die swart soldate wat goed en bloed vir Afrikaners gedurende die grensoorlog geoffer het, gelos is om op hul eie te krepeer.
Die ware vyande van Afrikaners is daarenteen ‘n minderheid mense wat nie oor morele waardes beskik nie, nie die gesag van die reg eerbiedig nie, ‘n venynige haat en ongesonde begeertes koester. Jooste moet versigtig wees dat hy nie bloot ‘n wit weergawe van hierdie vyand word nie. Soos Kallie Kriel noem: die ander kant van die munt van Julius Malema.
Wanneer jy nie jou vyand akkuraat identifiseer nie, loop jy die risiko om mense wat neutraal teenoor jou staan in vyande te verander en daardeur ‘n alliansie teen jou te skep wat jy nie kan verslaan nie. Napoleon, Keiser Wilhelm en Hitler het ook hierdie fout gemaak.
Tweedens onderskat Jooste sy “vyand”. Hy skop ‘n bohaai op oor hoe “swartes” ‘n kleiner korteks in hul breine het as “blankes” en dat “swartes”, naas “aborigenes”, die mees onderontwikkelde “spesie” van die mensdom is.
Die pad sedert 1992 is egter besaai met die wrakke van mense en hul loopbane wat “swartes” onderskat het.
Elke keer wanneer iemand, hetsy die NP se onderhandelaars by Kempton park, die Boeremag met hul bomme in Soweto of die Afrikanerbond met hul argumente van “onmisbaarheid” die ANC onderskat, het hulle net-net derde in die tweestryd gekom. Ook hierdie fout is nie ongewoon in die militêre tradisie nie. Die Franse weermag het die vermoë van die Duitsers onderskat aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog en moes binne 3 maande nadat hulle oorlog teen Duitsland verklaar het, oorgee. Piet Uys het die Zoeloes onderskat by Italeni en dit het sy en sy seun se lewens gekos. Napoleon het Britse infanterie se vasbytvermoë onderskat by Waterloo en moes sy jare alleen en verwerp op St. Helena slyt. Die AWB het die polisie van Bophutatswana onderskat…
Derdens beskik Jooste nie oor die vermoë om by sy omgewing aan te pas nie. Aanpasbaarheid is ‘n voorvereiste vir oorlewing, nie net in die gewone lewe nie, maar veral ook in konflik. Indien jou taktiek nie daagliks verander nie, sal jou vyand jou swakpunte uitsnuffel en jou sterkpunte teen jou gebruik.
Afrikaners is in ‘n omgewing waar elke greintjie hoop wat ons het afhang van die goeie verhoudinge wat ons met ander kan aanknoop. Hetsy dit met ons swart vriende is of met die internasionale gemeenskap. Ongeag wat Jooste se persoonlike sieninge oor rasse en die Joodse volksmoord is, is dit sy verantwoordelikheid as militaris om waar te neem en te verstaan dat daardie sentimente nie aanvaarbaar is in die omgewing waarbinne ons opereer nie. Deur sy rassistiese, pro-Nazi en anti-Semitiese menings te propageer, wen Jooste slegs nuwe vyande en verdryf hy moontlike bondgenote vir die Afrikaner. Jooste span ‘n taktiek in wat reeds in die 1980’s bewys is as uitgedien en oneffektief. Tewens, sy taktiek is die beste wapen in die arsenaal van diegene wat hy as sy vyande beskou.
Vierdens besef Jooste nie die beperkinge waaroor militêre instellings beskik nie. Militêre optrede dien slegs ‘n doel waar dit binne ‘n deeglik oorwoë staatkundige politieke strategie uitgevoer word. Volgens Generaal Carl von Clausewits, die grondlegger van die moderne millitêre wetenskap, is oorlog die voortsetting van politieke strategie met ander middele. Sonder ‘n strategiese politieke oplossing wat die verwikkeldheid van die Afrikaner se staatkundige probleem, asook die rigting van die heersende winde op die internasionale politieke arena verreken, kan daar nie tussen vriende en vyande, doelwitte en afleidings onderskei word nie.
‘n Politieke strategie se doel is ook om openbare steun (onder Afrikaners en daarbuite) vir ‘n saak te wen. Sonder openbare steun is geen militêre optrede volhoubaar nie, soos die Amerikaners in Viëtnam geleer het. Die pen is magter as die swaard en Jooste het reeds die stryd om die pen met sy tirades verloor. Sonder ‘n behoorlike politieke strategie kan selfs militêre oorwinnings jou nie red nie. Vergelyk maar die suksesse wat Generaal Hannibal Barca teen die Romeine behaal het met die uiteindelike lot van Kartago en die beker gif wat Barca moes drink.
Laastens blyk Jooste, soos wat ‘n radio-onderhoud wat Rian van Heerden met hom gevoer het aandui, nie oor die vermoë te beskik om sy foute te besef, daarvoor verantwoordelikheid te neem en daaruit te leer nie. Na alles wat gewys, geskryf en gesê is hou Jooste steeds voet by stuk dat daar nie fout met sy optrede is nie.
Wanneer Jooste die opleiding van die Kommandokorps as op internasionale standaard beskryf, bedoel hy sekerlik die gemiddelde internasionale standaard van al die lande saam, wat maar baie laag is, en nie die hoë standaard wat deur lande soos die VSA, Israel, Engeland en Australië gehandhaaf word nie.
Bogenoemde gapings in die mondering van die Kommandokorps is fataal. Indien hulle enige konflik moet betree sal hulle as gevolg van hierdie gapings in dieselfde rampe eindig as die Franse by Waterloo, die Britte by Isandhwana, Majuba en Duinkerken, die Duitsers by Stalingrad, die Amerikaners in Viëtnam en die Afrikaners by Italeni, Paardeberg en Bophutatswana.
Jooste se optrede, net soos sy sienings, is verwerplik. Hy was moontlik op sy dag ‘n funksionele RSM, maar as leier en strateeg is hy onbevoeg. Dit sal beter vir Afrikaners wees indien die Kommandokorps ontbind en vervang word.
by Orania Beweging | Feb 22, 2012 | Nuus |
Die gesprek oor grond is ‘n saak wat vir baie Afrikaners en veral boere naby aan die hart lê. Vir baie gesinne verteenwoordig grond hul enkele grootste bate en bron van inkomste.
Grond is in ekonomie ‘n primêre produksiefaktor, wat beteken dat daar sonder grond ook nie ‘n ekonomie kan wees nie.
Ons huise en werksplekke word op en met grond gebou. Grond definieer ons habitat.
Die grondvraag is die grondvraag.
Dit is daarom te verstane dat die repliek wat dr. Pieter Mulder op pres. Zuma se staatsrede gelewer het, veral met betrekking tot die president en die ANC se standpunt oor die beginsel van gewillige-koper-verkoper en die beweerde steel van grond deur wit mense, emosies opgejaag het en heelwat bespreking in die media tot gevolg gehad het.
Die spesifieke uittreksel van dr. Mulder se toespraak wat mense die harnas injaag lui as volg: “Die ANC praat graag van “Black people in general and Africans in particular.” Meneer, “Africans in particular” het nooit in die verlede in die hele Suid-Afrika gewoon nie. Die Bantoesprekendes het van die ewenaar af afbeweeg terwyl die wittes van die Kaap af op beweeg het om mekaar by die Keirivier te ontmoet. Daar is genoeg bewyse dat daar geen Bantoesprekendes in die Wes-Kaap en Noordwes Kaap gewees het nie. Hierdie gedeeltes beslaan 40% van Suid-Afrika se oppervlakte.”
Hoewel hierdie standpunt oor geskiedkundige meriete beskik en ook waardevol is in soverre dit die verdraaiing van die verlede deur die regering en die wat hoop om te regeer oopvlek, is die praktiese waarde daarvan in soverre dit die grondvraag betref, beperk.
Deur die geskiedenis en oor die ganse wêreld heen was daar nog altyd spanning tussen mense wat grond besit en mense wat grond begeer.
Selfs tydens die mensdom se nomadiese bestaan het daar gereeld konflik uitgebreek rondom skaars hulpbronne wat met grond verbind word (water, kos en skuiling). Voeg by die mens se wanderlust die invloed van oorlogvoering en die wyse waarop dit mense verplaas en dit is eintlik nie verbasend nie dat min volke daarin slaag om ‘n spesifieke grondgebied vir baie lank te besit.
Engeland is sover vasgestel kan word aanvanklik deur die Kelte bewoon. In 43 VC het die Romeine onder leiding van Julius Caesar Engeland verower en vir 400 jaar beheer en beset. Daarna het die Germaanse Angel-Saksers vanuit Europa Engeland beset. In 1066 het die Franstalige Normandiërs daarin geslaag om die Engelse koning Harold by die slag van Hastings te verslaan wat die Engelse grond onder Franse beheer geplaas het. Die Franse veroweraars het daarna oor ‘n tydperk geassimileer deur met die Angel-Saksers te ondertrou en hulle kulture het ineengevloei wat vir ons die Engelse van vandag bring.
Hierdie voorbeeld is maar ‘n mikrokosmos van soortgelyke gebeure wat oor die hele aardbol heen afgespeel het en steeds afspeel. Die Baske was die eerste inwoners van Frankryk en Spanje, vandag het hulle nie eers onafhanklikheid nie. Dieselfde geld vir die Aborigenes van Australië, die Serwiërs van Kosovo, die Duitsers van Koningsberg en Oos-Pruise, die Grieke van Konstantinopel en die Inkas van Kolombië.
Dit dui ook aan dat historiese aansprake op grond deur sogenaamde “eerste besetters” van nul en gener waarde is.
‘n Aanspraak op grond kan slegs in stand gehou word deur die aanspraakmaker se vermoë om daardie grond te verdedig teen die aansprake van ander aanspraakmakers.
Sekere kulture en lande het die beginsel van private eiendomsreg ontwikkel en in hierdie lande onderneem die staat om die aansprake van persone wat oor titelaktes van grond beskik, namens hulle te beskerm. Hierdie beleid vorm ‘n hoeksteen vir suksesvolle ondernemerskap wat vir daardie lande relatiewe voorspoed gebring het in vergelyking met lande wat nie die beginsel van private eiendomsreg ingestel het nie.
Die lande wat wel die beginsel van private eiendomsreg erken en in stand hou verteenwoordig egter ‘n minderheid. Selfs in Suid-Afrika het die beginsel van private eiendomsreg nie in die swart stamgebiede gegeld nie.
Waar die staat nie namens die titelhouer sy aanspraak op eiendom beskerm nie, soos wat volgens die retoriek van die ANC die rigting is waarheen Suid-Afrika al meer beweeg, is die titelhouer self verantwoordelik om sy titel te verdedig. Daardie verdediging kan die vorm van hofgedinge aanneem en is suksesvol waar die hof die belang van die titelhouer vooropstel. Die hof self kan egter ook ondermyn word soos wat in Zimbabwe gebeur het.
Effektiewe gemeenskapsbesetting van grond en die mobilisering van daardie gemeenskap vir die verdediging van daardie grond bly die mees basiese en ook mees effektiewe wyse waarop ‘n aanspraak op grond verdedig kan word. Omdat ‘n meerderheid Engelse die Falkland-eilande beset en die Engelse tot vanuit Engeland in 1982 gemobiliseer het om hulle aanspraak op die Falkland-eilande te verdedig teen die aanspraak van Argentinië, kon die Engelse suksesvol eiendomsreg oor die Falkland-eilande behou. Indien hulle dit nie kon doen nie, sou die Falkland-eilande vandag aan Argentinië behoort het en sou regeringsdienste daar slegs in Spaans beskikbaar wees.
Die wyse waarop die Palestyne in die Wesoewer en in die Gazastrook daarin slaag om hul grond te behou bevestig ook die waarde van meerderheidsbesetting.
Die gebrek aan ‘n konsentrasie van Afrikaners wat deur hul getalleoorwig beheer oor landbou, residensiële-, kommersiële- en industriëlegrond kan uitoefen, stel Afrikaners afhanklik van die Suid-Afrikaanse staat en sy howe om hulle aanspraak op daardie grond te verdedig.
Namate die Nasionale Demokratiese Rewolusie deur die ANC tot uitvoering gebring word, blyk die vertroue van Afrikaners op die staat en sy howe op sand gebou te wees.
Die reg wat die ANC bekom het om die Nasionale Demokratiese Revolusie tot volle uitvoering te bring word deur die mandaat wat hulle van die meerderheid kiesers van Suid-Afrika ontvang gelegitimiseer. Die behoefte van die ANC om die meerderheid grond aan swart Afrikane oor te dra kan weens die mag en invloed van die ANC nie ligtelik opgeneem word nie. Dit kan ook nie weggewens word nie.
Daarom is dit onvermydelik dat Afrikaners se grondbesit deur kragte buite ons beheer ingeperk gaan word tot dit wat ons as meerderhede beset en deur ons gemeenskappe kan beskerm. Hierdie is ‘n terugkeer na die natuurlike toestand. ‘n Toestand wat oral in die wêreld en reg deur die geskiedenis geld. Dit is ‘n toestand van balans waarna toe teruggekeer word. ‘n Balans wat slegs tydelik deur apartheid op onnatuurlike wyse versteur kon word.
Dit is belangrik dat grondeienaars met hoop en ‘n weldeurdagte strategie die toekoms tegemoet gaan. Die middele tot hul beskikking, insluitend die howe, moet optimaal benut word, maar daar moenie enige wanopvattings rakende hierdie proses wees nie.
Die grondleggers van Orania het reeds in die 1960’s hierdie onafwendbare balansering van grondbesit in Suid-Afrika in die vooruitsig gestel. Daarom bied die Orania-model van meerderheidsbesetting van grond deur eie arbeid vir Afrikaners ‘n ligpunt aan die einde van die tonnel.
Orania is egter nog klein. Ondersteun Orania vandag, want u gaan Orania se steun in die toekoms benodig.
Nuutste Opmerkings