fbpx

(uit Voorgrond: Maart 2012)

Om te vra: Wat maak die Orania Beweging groot? veronderstel dat ons wel groot is – ‘n gedagte wat nie sonder meer vanselfsprekend is nie. Ek wil egter aanvoer dat ons wel groot is en om my siening uiteen te sit, gaan ek ‘n denkbeeldige debat aanknoop met iemand wat die gedagte ondersteun, maar die leiers van die Beweging aanspreek oor wat hy as ‘n gebrek aan grootheid beskou.

Orania is goed en wel, maar dit bly ‘n dorp; wat ons nodig het, is ‘n volkstaat, nie ‘n enkele klein dorpie nie!

Daarop het ek al ‘n duisendmaal gesê dit is waar, maar ons moet werk met wat ons het. Ons verkondig die gedagte al vir veertig jaar en ons pleit by Afrikaners om dit te ondersteun, ons kan wens dat ‘n honderdduisend al hulle lot by ons moes ingooi, maar as dit eenduisend is wat hierheen getrek het en twee en ‘n half duisend hulle steun in die vorm van lidmaatskap en deelname gee, dan werk ons daarmee. Eerder ‘n halwe eier as ‘n leë dop! Die kleine is die voorloper van die grote, nie die plaasvervanger daarvan nie.

Natuurlik, ek wil niks wegneem van wat al bereik is nie, maar ek mis die groot manier waarop die volkstaat voor 1994 as alternatief vir die nuwe Suid-Afrika verkondig is, so asof julle met die kleinheid verlief neem.

Dit is ook waar, toe het ons groot gedink en groot gepraat. Maar elke tydperk het ‘n logika van sy eie; voor 1994 het Afrikaners oor Suid-Afrika se staatsmag beskik en dit was heel denkbaar dat ons die onvolhoubare soewereiniteit oor die hele Suid-Afrika as’t ware inruil vir volhoubare soewereiniteit oor ‘n kleiner deel daarvan – as ons genoeg Afrikaners kon oorreed om dit te ondersteun. Die feit bly egter staan dat volkstaters nie op ‘n realistise plan kon ooreenkom nie en dat, deels as gevolg daarvan, die meeste Afrikaners nie volkstaters geword het nie. Intussen het die geskiedenis sy loop geneem en van ons grootpratery het nie eers warm wind oorgebly nie.

Goed en wel, maar ons streef tog nog dieselfde vryheid na en dit vereis ‘n sekere skaal. Een klein Karoodorp is net nie genoeg nie, julle moet hoër mik, byvoorbeeld: verkondig die volkstaat van hier tot aan die Weskus!

Dit het ons gedoen en ons het die gedagte nie prysgegee nie. Ons het egter geleer dat dit nie die grootte van die uitnodiging is wat die grootte van die opkoms bepaal nie, die geloofwaardigheid daarvan bepaal die opkoms. Orania het die geloofwaardigheid van ‘n werklikheid wat nie misken kan word nie, dit bied die grondslag waarop ons kan doen wat ‘n nuwe tydperk van ons vra. Wat dit vra is ‘n plaasvervanger vir die woorde “ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika”. Ons mense neem verbasend stadig afskeid van “ons” Suid-Afrika, deels omdat die leemte wat dit laat te groot is. Vir ons om te slaag moet die groot Orania, die beliggaamde Orania-gedagte, daardie leemte kan vul. Om dit reg te kry, het ons meer as planne nodig, ons het ook hoopgewende werklikhede nodig – simbolies gewigtig, al is dit nog klein.

Met wat jy sê, kan ek nie stry nie, maar dit voel ‘n bietjie vaag en abstrak. Dit voel nie of ek daawerklik daartoe bydra nie, selfs nie al bly ek in Orania nie.

As dit waar is, moet ons teruggaan tekenbord toe met die draers van ons gedagte; dan moet ons weer na die funksionering van ons organisasie kyk. Miskien is ‘n goeie punt om te begin – vir ons leiers en ons deelnemers – die Vryheidstigting se algemene doel. Tob ‘n bietjie oor hierdie bedrieglik eenvoudige woorde, want dit gaan nie ééndag eers van krag word nie, ons is nou al daarmee besig:

“Die Vryheidstigting beywer hom vir die herstel van die Afrikaner se vryheid in ‘n eie, demokratiese republiek wat op grond van Christelike waardes en oortuigings ingerig word en wat die toepaslikste vorm en mate van selfstandigheid in verhouding tot ander betrokke staatseenhede nastreef.”

(Hierdie artikel het in Maart 2012 se Voorgrond, lyfblad van die Orania Beweging, verskyn. Die rubriek Agtergrond is Carel Boshoff se gereelde bydrae as president van die Orania Beweging.)