Min Afrikaners kan fout vind met die doelstellings om mense op te voed om hulself te verdedig en om misdaad te bekamp. Afrikanerboere het veral die spit afgebyt sedert 1994, met die aantal plaasmoorde wat lankal reeds lyk soos die slagtersrekening van ‘n militêre konflik.

Suid-Afrikaanse wetgewing laat ruimte vir die oprig en bedryf van private veiligheidsmaatskappye. Die omvang van hierdie maatskappye het ook in verhouding met die toename in misdaad gestyg. Afrikaners voel veral in die steek gelaat deur ‘n polisiediens wat ook soos die res van die staatsdiens kundigheid moes offer op die altaar van transformasie, die kommandostelsel wat afgeskaf is en grensbeheer wat gewoon nie gebeur nie.

Dit is daarom te verstane dat daar ‘n behoefte aan organisasies soos die Kommandokorps is. Dit lyk egter asof die Kommandokorps onder leiding van Franz Jooste die bal laat val het en ‘n las vir Afrikaners geword het eerder as die bate wat dit behoort te wees.

Die DA het onlangs ‘n klagte by die Menseregtekommissie aanhangig gemaak teen die Kommandokorps terwyl Afriforum hulle in die openbaar geroskam het. Dit alles nadat Nederlandse TV-joernaliste ‘n tyd lank ‘n opleidingskamp van die Kommandokorps bygewoon het en videomateriaal versamel het waarin Jooste rassistiese uitsprake teenoor swartes maak, Hitler ondersteun en die Joodse volksmoord tydens die Tweede Wêreldoorlog ontken.

In reaksie hierop voer Jooste in ‘n mediaverklaring aan dat die Kommandokorps se opleidingskampe op die standaard van infanterie-opleiding regoor die wêreld geskied en dat daar niks fout met sy optrede is nie.

Dit blyk egter dat Jooste verskeie strategiese militêre foute begaan wat sy stelling uiters aanvegbaar maak. Omdat Jooste voorgee om ‘n militêre instelling te lei wat aan standaarde voldoen, sal ek voorts my argument in militêre terme en met militêre voorbeelde voer. Dit beteken egter nie dat ek hoegenaamd enige militêre optrede voorstaan nie.

Eerstens beskik Jooste blykbaar nie oor die vermoë om sy “vyand” akkuraat te identifiseer nie. Dit is duidelik dat hy sy vyand as “swartes” beskou en beskryf. Alle swart mense is dus die “vyand”. Dit is slegs ‘n genade van Bo dat alle swartes ons nie vyandig gesind is nie, want indien dit die geval was, sou hulle ons bloot deur hul getalleoorwig binne die verloop van een dag kon oorweldig en na die hiernamaals stuur.

Afrikaners het sedert die Groot Trek kosbare vriende onder swart mense gehad. Dit sluit in die Barolong wat Andries Potgieter se trekgeselskap gered het na die slag van Vegkop waarin Potgieter ‘n aanval van die Matabele kon weerstaan maar al hul trekdiere en voedsel in die geveg verloor het. Die Zoeloekoning Mpande wat Dingaan omvergewerp het en vrede tussen die Voortrekkers en die Zoeloes herstel het na die slag van Bloedrivier, wat ons voorouers ‘n lang uitgerekte oorlog gespaar het wat hulle hulpbronne en getalle nie sou kon volhou nie. Die tallose lojale werkers wat sedertdien getrou in die diens van Afrikaners staan in ruil vir ‘n loon wat skaars menswaardig is, behoort ook as voorbeeld ingesluit te word. Verwys ook na Pomfret, die myndorpie waar die swart soldate wat goed en bloed vir Afrikaners gedurende die grensoorlog geoffer het, gelos is om op hul eie te krepeer.

Die ware vyande van Afrikaners is daarenteen ‘n minderheid mense wat nie oor morele waardes beskik nie, nie die gesag van die reg eerbiedig nie, ‘n venynige haat en ongesonde begeertes koester. Jooste moet versigtig wees dat hy nie bloot ‘n wit weergawe van hierdie vyand word nie. Soos Kallie Kriel noem: die ander kant van die munt van Julius Malema.

Wanneer jy nie jou vyand akkuraat identifiseer nie, loop jy die risiko om mense wat neutraal teenoor jou staan in vyande te verander en daardeur ‘n alliansie teen jou te skep wat jy nie kan verslaan nie. Napoleon, Keiser Wilhelm en Hitler het ook hierdie fout gemaak.

Tweedens onderskat Jooste sy “vyand”. Hy skop ‘n bohaai op oor hoe “swartes” ‘n kleiner korteks in hul breine het as “blankes” en dat “swartes”, naas “aborigenes”, die mees onderontwikkelde “spesie” van die mensdom is.

Die pad sedert 1992 is egter besaai met die wrakke van mense en hul loopbane wat “swartes” onderskat het.

Elke keer wanneer iemand, hetsy die NP se onderhandelaars by Kempton park, die Boeremag met hul bomme in Soweto of die Afrikanerbond met hul argumente van “onmisbaarheid” die ANC onderskat, het hulle net-net derde in die tweestryd gekom. Ook hierdie fout is nie ongewoon in die militêre tradisie nie. Die Franse weermag het die vermoë van die Duitsers onderskat aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog en moes binne 3 maande nadat hulle oorlog teen Duitsland verklaar het, oorgee. Piet Uys het die Zoeloes onderskat by Italeni en dit het sy en sy seun se lewens gekos. Napoleon het Britse infanterie se vasbytvermoë onderskat by Waterloo en moes sy jare alleen en verwerp op St. Helena slyt. Die AWB het die polisie van Bophutatswana onderskat…

Derdens beskik Jooste nie oor die vermoë om by sy omgewing aan te pas nie. Aanpasbaarheid is ‘n voorvereiste vir oorlewing, nie net in die gewone lewe nie, maar veral ook in konflik. Indien jou taktiek nie daagliks verander nie, sal jou vyand jou swakpunte uitsnuffel en jou sterkpunte teen jou gebruik.

Afrikaners is in ‘n omgewing waar elke greintjie hoop wat ons het afhang van die goeie verhoudinge wat ons met ander kan aanknoop. Hetsy dit met ons swart vriende is of met die internasionale gemeenskap. Ongeag wat Jooste se persoonlike sieninge oor rasse en die Joodse volksmoord is, is dit sy verantwoordelikheid as militaris om waar te neem en te verstaan dat daardie sentimente nie aanvaarbaar is in die omgewing waarbinne ons opereer nie. Deur sy rassistiese, pro-Nazi en anti-Semitiese menings te propageer, wen Jooste slegs nuwe vyande en verdryf hy moontlike bondgenote vir die Afrikaner. Jooste span ‘n taktiek in wat reeds in die 1980’s bewys is as uitgedien en oneffektief. Tewens, sy taktiek is die beste wapen in die arsenaal van diegene wat hy as sy vyande beskou.

Vierdens besef Jooste nie die beperkinge waaroor militêre instellings beskik nie. Militêre optrede dien slegs ‘n doel waar dit binne ‘n deeglik oorwoë staatkundige politieke strategie uitgevoer word. Volgens Generaal Carl von Clausewits, die grondlegger van die moderne millitêre wetenskap, is oorlog die voortsetting van politieke strategie met ander middele. Sonder ‘n strategiese politieke oplossing wat die verwikkeldheid van die Afrikaner se staatkundige probleem, asook die rigting van die heersende winde op die internasionale politieke arena verreken, kan daar nie tussen vriende en vyande, doelwitte en afleidings onderskei word nie.

‘n Politieke strategie se doel is ook om openbare steun (onder Afrikaners en daarbuite) vir ‘n saak te wen. Sonder openbare steun is geen militêre optrede volhoubaar nie, soos die Amerikaners in Viëtnam geleer het. Die pen is magter as die swaard en Jooste het reeds die stryd om die pen met sy tirades verloor. Sonder ‘n behoorlike politieke strategie kan selfs militêre oorwinnings jou nie red nie. Vergelyk maar die suksesse wat Generaal Hannibal Barca teen die Romeine behaal het met die uiteindelike lot van Kartago en die beker gif wat Barca moes drink.

Laastens blyk Jooste, soos wat ‘n radio-onderhoud wat Rian van Heerden met hom gevoer het aandui, nie oor die vermoë te beskik om sy foute te besef, daarvoor verantwoordelikheid te neem en daaruit te leer nie. Na alles wat gewys, geskryf en gesê is hou Jooste steeds voet by stuk dat daar nie fout met sy optrede is nie.

Wanneer Jooste die opleiding van die Kommandokorps as op internasionale standaard beskryf, bedoel hy sekerlik die gemiddelde internasionale standaard van al die lande saam, wat maar baie laag is, en nie die hoë standaard wat deur lande soos die VSA, Israel, Engeland en Australië gehandhaaf word nie.

Bogenoemde gapings in die mondering van die Kommandokorps is fataal. Indien hulle enige konflik moet betree sal hulle as gevolg van hierdie gapings in dieselfde rampe eindig as die Franse by Waterloo, die Britte by Isandhwana, Majuba en Duinkerken, die Duitsers by Stalingrad, die Amerikaners in Viëtnam en die Afrikaners by Italeni, Paardeberg en Bophutatswana.

Jooste se optrede, net soos sy sienings, is verwerplik. Hy was moontlik op sy dag ‘n funksionele RSM, maar as leier en strateeg is hy onbevoeg. Dit sal beter vir Afrikaners wees indien die Kommandokorps ontbind en vervang word.