Min Afrikaners kan fout vind met die doelstellings om mense op te voed om hulself te verdedig en om misdaad te bekamp. Afrikanerboere het veral die spit afgebyt sedert 1994, met die aantal plaasmoorde wat lankal reeds lyk soos die slagtersrekening van ‘n militêre konflik.
Suid-Afrikaanse wetgewing laat ruimte vir die oprig en bedryf van private veiligheidsmaatskappye. Die omvang van hierdie maatskappye het ook in verhouding met die toename in misdaad gestyg. Afrikaners voel veral in die steek gelaat deur ‘n polisiediens wat ook soos die res van die staatsdiens kundigheid moes offer op die altaar van transformasie, die kommandostelsel wat afgeskaf is en grensbeheer wat gewoon nie gebeur nie.
Dit is daarom te verstane dat daar ‘n behoefte aan organisasies soos die Kommandokorps is. Dit lyk egter asof die Kommandokorps onder leiding van Franz Jooste die bal laat val het en ‘n las vir Afrikaners geword het eerder as die bate wat dit behoort te wees.
Die DA het onlangs ‘n klagte by die Menseregtekommissie aanhangig gemaak teen die Kommandokorps terwyl Afriforum hulle in die openbaar geroskam het. Dit alles nadat Nederlandse TV-joernaliste ‘n tyd lank ‘n opleidingskamp van die Kommandokorps bygewoon het en videomateriaal versamel het waarin Jooste rassistiese uitsprake teenoor swartes maak, Hitler ondersteun en die Joodse volksmoord tydens die Tweede Wêreldoorlog ontken.
In reaksie hierop voer Jooste in ‘n mediaverklaring aan dat die Kommandokorps se opleidingskampe op die standaard van infanterie-opleiding regoor die wêreld geskied en dat daar niks fout met sy optrede is nie.
Dit blyk egter dat Jooste verskeie strategiese militêre foute begaan wat sy stelling uiters aanvegbaar maak. Omdat Jooste voorgee om ‘n militêre instelling te lei wat aan standaarde voldoen, sal ek voorts my argument in militêre terme en met militêre voorbeelde voer. Dit beteken egter nie dat ek hoegenaamd enige militêre optrede voorstaan nie.
Eerstens beskik Jooste blykbaar nie oor die vermoë om sy “vyand” akkuraat te identifiseer nie. Dit is duidelik dat hy sy vyand as “swartes” beskou en beskryf. Alle swart mense is dus die “vyand”. Dit is slegs ‘n genade van Bo dat alle swartes ons nie vyandig gesind is nie, want indien dit die geval was, sou hulle ons bloot deur hul getalleoorwig binne die verloop van een dag kon oorweldig en na die hiernamaals stuur.
Afrikaners het sedert die Groot Trek kosbare vriende onder swart mense gehad. Dit sluit in die Barolong wat Andries Potgieter se trekgeselskap gered het na die slag van Vegkop waarin Potgieter ‘n aanval van die Matabele kon weerstaan maar al hul trekdiere en voedsel in die geveg verloor het. Die Zoeloekoning Mpande wat Dingaan omvergewerp het en vrede tussen die Voortrekkers en die Zoeloes herstel het na die slag van Bloedrivier, wat ons voorouers ‘n lang uitgerekte oorlog gespaar het wat hulle hulpbronne en getalle nie sou kon volhou nie. Die tallose lojale werkers wat sedertdien getrou in die diens van Afrikaners staan in ruil vir ‘n loon wat skaars menswaardig is, behoort ook as voorbeeld ingesluit te word. Verwys ook na Pomfret, die myndorpie waar die swart soldate wat goed en bloed vir Afrikaners gedurende die grensoorlog geoffer het, gelos is om op hul eie te krepeer.
Die ware vyande van Afrikaners is daarenteen ‘n minderheid mense wat nie oor morele waardes beskik nie, nie die gesag van die reg eerbiedig nie, ‘n venynige haat en ongesonde begeertes koester. Jooste moet versigtig wees dat hy nie bloot ‘n wit weergawe van hierdie vyand word nie. Soos Kallie Kriel noem: die ander kant van die munt van Julius Malema.
Wanneer jy nie jou vyand akkuraat identifiseer nie, loop jy die risiko om mense wat neutraal teenoor jou staan in vyande te verander en daardeur ‘n alliansie teen jou te skep wat jy nie kan verslaan nie. Napoleon, Keiser Wilhelm en Hitler het ook hierdie fout gemaak.
Tweedens onderskat Jooste sy “vyand”. Hy skop ‘n bohaai op oor hoe “swartes” ‘n kleiner korteks in hul breine het as “blankes” en dat “swartes”, naas “aborigenes”, die mees onderontwikkelde “spesie” van die mensdom is.
Die pad sedert 1992 is egter besaai met die wrakke van mense en hul loopbane wat “swartes” onderskat het.
Elke keer wanneer iemand, hetsy die NP se onderhandelaars by Kempton park, die Boeremag met hul bomme in Soweto of die Afrikanerbond met hul argumente van “onmisbaarheid” die ANC onderskat, het hulle net-net derde in die tweestryd gekom. Ook hierdie fout is nie ongewoon in die militêre tradisie nie. Die Franse weermag het die vermoë van die Duitsers onderskat aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog en moes binne 3 maande nadat hulle oorlog teen Duitsland verklaar het, oorgee. Piet Uys het die Zoeloes onderskat by Italeni en dit het sy en sy seun se lewens gekos. Napoleon het Britse infanterie se vasbytvermoë onderskat by Waterloo en moes sy jare alleen en verwerp op St. Helena slyt. Die AWB het die polisie van Bophutatswana onderskat…
Derdens beskik Jooste nie oor die vermoë om by sy omgewing aan te pas nie. Aanpasbaarheid is ‘n voorvereiste vir oorlewing, nie net in die gewone lewe nie, maar veral ook in konflik. Indien jou taktiek nie daagliks verander nie, sal jou vyand jou swakpunte uitsnuffel en jou sterkpunte teen jou gebruik.
Afrikaners is in ‘n omgewing waar elke greintjie hoop wat ons het afhang van die goeie verhoudinge wat ons met ander kan aanknoop. Hetsy dit met ons swart vriende is of met die internasionale gemeenskap. Ongeag wat Jooste se persoonlike sieninge oor rasse en die Joodse volksmoord is, is dit sy verantwoordelikheid as militaris om waar te neem en te verstaan dat daardie sentimente nie aanvaarbaar is in die omgewing waarbinne ons opereer nie. Deur sy rassistiese, pro-Nazi en anti-Semitiese menings te propageer, wen Jooste slegs nuwe vyande en verdryf hy moontlike bondgenote vir die Afrikaner. Jooste span ‘n taktiek in wat reeds in die 1980’s bewys is as uitgedien en oneffektief. Tewens, sy taktiek is die beste wapen in die arsenaal van diegene wat hy as sy vyande beskou.
Vierdens besef Jooste nie die beperkinge waaroor militêre instellings beskik nie. Militêre optrede dien slegs ‘n doel waar dit binne ‘n deeglik oorwoë staatkundige politieke strategie uitgevoer word. Volgens Generaal Carl von Clausewits, die grondlegger van die moderne millitêre wetenskap, is oorlog die voortsetting van politieke strategie met ander middele. Sonder ‘n strategiese politieke oplossing wat die verwikkeldheid van die Afrikaner se staatkundige probleem, asook die rigting van die heersende winde op die internasionale politieke arena verreken, kan daar nie tussen vriende en vyande, doelwitte en afleidings onderskei word nie.
‘n Politieke strategie se doel is ook om openbare steun (onder Afrikaners en daarbuite) vir ‘n saak te wen. Sonder openbare steun is geen militêre optrede volhoubaar nie, soos die Amerikaners in Viëtnam geleer het. Die pen is magter as die swaard en Jooste het reeds die stryd om die pen met sy tirades verloor. Sonder ‘n behoorlike politieke strategie kan selfs militêre oorwinnings jou nie red nie. Vergelyk maar die suksesse wat Generaal Hannibal Barca teen die Romeine behaal het met die uiteindelike lot van Kartago en die beker gif wat Barca moes drink.
Laastens blyk Jooste, soos wat ‘n radio-onderhoud wat Rian van Heerden met hom gevoer het aandui, nie oor die vermoë te beskik om sy foute te besef, daarvoor verantwoordelikheid te neem en daaruit te leer nie. Na alles wat gewys, geskryf en gesê is hou Jooste steeds voet by stuk dat daar nie fout met sy optrede is nie.
Wanneer Jooste die opleiding van die Kommandokorps as op internasionale standaard beskryf, bedoel hy sekerlik die gemiddelde internasionale standaard van al die lande saam, wat maar baie laag is, en nie die hoë standaard wat deur lande soos die VSA, Israel, Engeland en Australië gehandhaaf word nie.
Bogenoemde gapings in die mondering van die Kommandokorps is fataal. Indien hulle enige konflik moet betree sal hulle as gevolg van hierdie gapings in dieselfde rampe eindig as die Franse by Waterloo, die Britte by Isandhwana, Majuba en Duinkerken, die Duitsers by Stalingrad, die Amerikaners in Viëtnam en die Afrikaners by Italeni, Paardeberg en Bophutatswana.
Jooste se optrede, net soos sy sienings, is verwerplik. Hy was moontlik op sy dag ‘n funksionele RSM, maar as leier en strateeg is hy onbevoeg. Dit sal beter vir Afrikaners wees indien die Kommandokorps ontbind en vervang word.
Daar behoort eenstemmigheid te wees dat opleiding ter beskerming van onsself en ons mense belangrik is. Wat ons nie graag wil sien nie is ‘n apatiese houding ten aansien van ons verantwoordelikheid teenoor ons eie gemeenskap en volk as dit by veiligheid kom. Sodanige verantwoordelikheid hoef gegewe die tydvak waarbinne ons nou is nie op militere gronde gebaseer te wees nie. TLU SA en die Verkenners gee ook opleiding, aan heelwat meer mense die afgelope tyd, sonder enige uniforms of parades of selfs politieke gesprekke. Huis en haard beskerming gaan bloot daaroor, huis en haard beskerming. Sonder die uniform en parades en politieke lesings behaal groepe soos die Verkenners groot sukses en is die opleiding juis sodanig ingerig dat senior volksgenote, vrouens en kinders met gemak ook kan leer hoe om hulself te beskerm. Is dit nodig om die korps te “vervang”? Daar is reeds bestaande strukture wat ‘n baie meer oop benadering tot opleiding volg. So word die SAP uitgenooi om deel van die opleiding aan burgers te wees (hul daag natuurlik nooit op nie, partytjie seker iewers). Indien die behoefte daar is om nasionaal vir Afrikaners ‘n veiligheids beweging van die grond te kry is dit reg en inderdaad nodig, maar kan dit nie op rangstrukture, uniforms, dril, parades en dies meer geskoei word nie. Die enigste gepaste range wat in elk geval nou gebruik mag en moet word is oom en tannie.
Jou punte is geldig en ek stem daarmee saam.
Dit is veral die denkraamwerk van die Kommandokorps wat vervang moet word, waarop ek klem probeer plaas.
Wat ook belangrik is, is dat die selfverantwoordelikheid wat Afrikaners vir veiligheid neem, verder uitgebou moet word.
Is die Kommandokorps se doel werklik om net om die seuns paraat te maak en op te lei in selfverdediging, of is die, kom ons sê “beïnvloeding” van die seuns die hoof-motief? Nie net word hulle blootgestel aan die feite rondom die bestaan van volke nie, maar hulle word ook, soos in die SAW van die verlede, aan streng dissipline onderwerp. Uiteraard is daarmee nie fout te vind nie. Maar ek meen dat Jooste nie rekening hou daarmee nie dat almal nie sy siening van volke en hulle vermoëns deel nie en hom en sy Korps juis daaroor veroordeel. Ongelukkig word die Afrikaner nou deur baie volgens sy optrede getipeer en veroordeel. As hy dan regtig geroepe voel om voort te gaan met sy “opleiding” van seuns, is dit sy reg, maar ek dink hy moet t.w.v. die feit dat hy getipeer word, ‘n baie lae profiel handhaaf en baie meer beskeie wees teenoor ‘n vyandige wêreld.
Na aanleiding van Hanno se skrywe hieronder kom dit inderdaad voor asof die Kommandokorps se hoofdoel nie beperk kan word tot weerbaarheidsopleiding nie.
Daar is egter nie duidelikheid hieroor op die Kommandokorps se internetblad nie.
Die vraag is of die Kommandokorps eerlik is met ouers deur alle inligting aan hulle beskikbaar te stel wanneer hulle kinders werf vir hul kampe.
‘n Beter ontleding kon ek self nie doen nie.
Ek het kol. Jooste persoonlik ontmoet met die bekendstelling van sy “Afrikanervlag”. Dit was uit blote nuuskierigheid.
Ek het gevind dat hy ‘n heel intelligente mens is, met ‘n bree algemene kennis. Baie hartlik en vriendelik ook. (mits jy wit is, natuurlik) Baie van sy idees is ook baie rasioneel, soos sy voorkeur vir volkseie arbeid. Ek was ‘n paar keer by sy huis ook, en hy is baie gasvry en innemend. Ek het tuis by hom gevoel, en het lang interesante en diep gesprekke met hom gehad.
Omdat ek die man persoonlik ontmoet het, is dit nie vir my maklik om kritiek teen hom uit te spreek nie, alhoewel my gewete my daartoe dring.
Wat ons sien in die kommandokorps, is ‘n manifestering van die Israel-visie gedagte. Dit berus op die idee dat die blankes die afstammelinge is van die verlore 10 stamme van Israel, en dus God se uitverkore volk is. Daarby word die Jode as “imposters” beskou, afstammelinge van Khazars. Swartmense word nie gereken as mense nie, en daarom is die gebod van “liefde tot alle mense” nie op hulle van toepassing nie. Inteendeel, “dit is onmoontlik vir hulle om Christene te word”. Voeg daarby die Ou Testementiese opdrag aan die Israeliete dat hulle nie mag ondertrou met die heidennasies in Kanaan nie, maar hulle voor die voet moet uitroei, en jy sit met ‘n baie gevaarlike denkrigting: Die swartes moet gehaat word, en verkieslik uitgewis word, en ons moenie terugdeins vir die onmoontlikheid van die opdrag nie, want God is mos aan ons kant, en vir Hom is alles moontlik. Asof dit alles nie erg genoeg is nie, hemel hy Hitler ook nog op. Dit nadat ek hom vertel het hoe my Nederlandse familie aan vaderskant gely het onder die Nazi-beset van Nederland!
Ek beskou die Israel-visie as ‘n gevaarlike teen-Christelike siening, juis omdat dit so ‘n “blye boodskap” is vir mense in ons omstandighede. Veral jongmense wat sien hoe korrup die regering is, en wat elke dag die diskriminasie teen hulle as minderheidsgroep moet trotseer. Wat kan dan meer aanloklik wees as die boodskap: “Toemaar, jy is deel van God se uitverkore volk, jy is beter as hierdie klomp, en hierdie land behoort eintlik aan jou.”? Buiten vir die tragiese fisiese gevolge wat so denkrigting kan he, is die geestelike gevolge waarskeinlik nog erger: My Bybel sê vir my: “Elkeen wat beweer dat hy God lief het, maar sy naaste haat, is geen kind van God nie”. Deur swartmense te “ontmens”, word dit moontlik om heel heilig in die kerk te sit en God te loof, terwyl jy haat in jou hart dra. Dit kan jou saligheid kos!
Wat ookal die historiese en argeologiese akuraatheid van die Israel-Visie se sienings, die teologiese argumente kan maklik weerle word. Maar om dit te kan doen, moet jy jou Bybel ken. Dit kan net gedoen word as jy die hele Bybel deurlees, insluitende die “vervelige dele” in Levitikus, Numeri en Deuternomium. As jy nie weet wat daar staan nie, kan jy maklik omgepraat word as mense tekste uit konteks begin aanhaal.
Ek besef dat die Israel-visie teenwoordig is ook in Orania, en dat ek moontlik nou baie hard op tone trap. Maar ek sou dit nie gedoen het as die gevaar van hierdie siening nie sulke ernstige gevolge – veral ook die saligheid van diegene wat dit aanhang – kan he nie.
Dankie vir hierdie stukkie verdere insig Hanno.
Indien die Kommandokorps se hoofdoel geloofsverkondiging is en nie weerbaarheidsopleiding nie, sal dit verklaar waarom hulle so onbeholpe is op die strategiese terrein wat weerbaarheid betref.
Dit is myns insiens jammer dat ons kerke nie meer doen (op ‘n gekoördineerde wyse) omtrent die groeiende invloed van Israelvisie onder Afrikaners nie.
Op die oomblik lyk dit asof dit onder die mat gevee word terwyl daar baie aandag geskenk word aan kwessies soos vroue in die amp en die politieke motiverings agter die Belhar belydenis.
Dalk behoort ons as lidmate meer te doen om ons sinodes te vra om meer na buite te kyk eerder as na binne, wat ‘n onderwerp vir ‘n ander dag is.
Ek dink nie dat die Kommando Korps doelbewus daarop uit is om die kinders te indoktrineer met die sienings van die Israel-visie nie. Deur my gesprekke met kol Jooste, het hy dit duidelik gestel dat dit nie sy doel is om met mense by teologiese debatte betrokke te raak nie, maar om mense weerbaar te maak. “Ongeag jou geloofsoortuiging, ons almal word deur die selfde vyand bedreig. Ons kan nie bekostig om deur geloofsoortuiging verdeel te word terwyl ons boere vermoor word, ons vroue verkrag word. ens ens ens”.
Tog, al is dit nie sy bedoeling nie, is die Israel-visie inherent deel van kol. Jooste se persepsie van objektiewe werklikheid, en daarom is dit onvermydelik dat sy geloofsoortuigings ‘n groot invloed gaan he in die program wat hy opstel. Al is dit nie sy bedoeling om die kinders tot sy siening te bekeer nie, kan hy homself ook nie skei van wat sy persepsie van die werklikheid is nie.
Die Bybelkennis van die gemiddelde kerklidmaat laat reeds veel te wense oor. Gegewe die opleidingmetodes wat kol Jooste gebruik (veral gebrek aan slaap), word die kinders se geestelike weerstand nog verder af getakel. Die kinders sal dus enige iets glo wat tydens die kamp aan hulle vertel word. Die metode om ‘n persoon af te breek en na die tyd weer op te bou, mag dalk standaard militere praktyk wees, maar dis ook hoe kultus groepe hulle lede indoktrineer.
In kort, ek dink kol Jooste is eerlik as hy sê dat sy bedoeling niks anders is as weerbaarheidsopleiding nie, maar nogtans is dit onvermydelik dat sy persoonlike sienings in die program weerspieel word.
#7453 in die Strong’s Exhaustive Concordance is “rêa – ray’ah” en beteken: kollega, broer, man, ens. Die woord is afkomstig van #7462 “raw-aw – rah’ach” wat beteken “om jou kudde te lei” of “kudde”.
Met ander woorde; my “naaste” is die lede van my volk of “kudde” en nie ‘n ander volk of vreemdeling nie! Die oorspronklike Hebreeus maak dit duidelik.
Daar word duidelik in Levitikus “Wayyiekra” onderskeid getref tussen die “naaste” en die “vreemdeling”.
As jy my nog nie glo nie gaan spandeer ‘n paar duisend rand op ‘n Strong’s Exhaustive Concordance en kyk maar self.
Hierdie Volk is waar hy vandag is a.g.v hierdie sinnelose gestry tussen Volksgenote… Dis hartseer.
Voordat die DA die klagte by die MRK ingedien het was daar baie min kommentaar oor die Kommando Korps en die vraag in my gemoed is net of enige een van die kommentators ooit met Jooste in verbinding was en hom gewys het op die gevaarlike manier waarop hy te werk gaan.!!!!Franz Jooste en sy korps is deel van ons Afrikaner Ideaal en ek dink dit sal gepas wees om persoonlik met hom te praat en nie deel te wees van die veroordelings proses nie.
My kritiek van Franz Jooste en die Kommandokorps is nie gebasseer op die klagte wat die DA by die MRK ingedien het nie.
My kritiek is gebasseer op dit wat Franz self gesê het en wat by die volgende bronne beskikbaar is:
http://www.youtube.com/watch?v=BFWEtdZ5TWA
http://www.kommandokorps.org/Sound/edit%20franz.mp3
Dit was Franz Jooste se verantwoordelikheid om sy menings te toets voordat hy dit laat opneem en die wêreld ingestuur het.
En hoe waar is die woorde van die volgende stelling nie: “War does not determine who is right, it determines who is left…”
Maak nie saak hoe begeesterd en/of opgeleid jy is of dink jy is nie, as jy in ‘n oorlogsituasie beland is jou kanse net so goed soos enige ander soldaat sin om nie die son die volgende dag te sien opkom nie.
Ek het onlangs lid van die Orania beweging geword-was voorheen ook maar net een van die hoor-se kritiseerders.Die berigte en kommentare wat op die webwerf verskyn is eerlik en verfrissend,ook vrek positief.
As daar een organisasie is wat die Afrikaner se regmatige plek in SA kan verseker,is dit Orania.Net meer van ons moet begin inkoop in die idee.
Welkom tuis Gerrit.
Ek het die hoorsê stories al 10 jaar gelede verruil vir die werklikheid, en nog al die jare was Orania die silwer randjie aan die Suid-Afrika donker wolk. Ek weet nie hoe ‘n Afrikaner positief oor die toekoms kan wees sonder Orania nie.
Dit is vir ons verblydend om te sien hoe al meer mense Orania vir hulleself ontdek, en by ons strewe aansluit. Elke nuwe ondersteuner bring die eindoel ‘n bietjie nader.
Groete
Kennis is die beste wapen in ons volk se stryd in die land. Moet nooit ophou kennis vir jouself en jou volk in te win nie, en gebruik dit ten goede terwille van oorlewing.
Net een ding aan al diegene wat die KOMMANDOKORPS so probeer sleg se? Hou jou mond want jul weet nie waarvan jul praat haal die splint eers uit jou oog voor jy dit uit iemand anders uit haal, KOMMANDOKORPS IS DAAR OM ONS MENSE OP TE LEI OM ONS TE BESKERM
Vir die rekord plaas ek dit hier ook. Dit is vir die soveelste keer aan Franz Jooste van die Kommandokorps gestuur, maar nou weer as ‘n finae aanmaning:
Franz,
Dit is nou die vierde maand dat jou paganistiese meelopers my lidmaatskap een-eensydig van die Kommandokorps geskors het, maar ook die vierde maand wat daar steeds debietorderaftrekkings teen my rekening plaasvind. Ek het reeds vir jou meer as een e-pos na jou e-posadres: franzjooste@kommandokorps.org gestuur in verband met hierdie saak, maar is steeds onbe-antwoord. Dalk moet jy daarna kyk of jou e-pos nie onderskep word nie.
Ek gee hiermee kennis dat ek verwag ‘n volledige terugbetaling van die gelde wederregtelik geneem vanaf 14 Februarie teen die 7de Junie, waarna die klagte elders geneem word vir vordering teen jou koste.
Julle modus operandi grens aan die absurde.
Baie dankie.