Dís selfbeskikking

Brief in Volksblad op 30 Mei 2012. Johann Maarman in Brandpunt (Volksblad, 29 Mei 2012) verwys na outonomie en selfbeskikking as oorskietkos uit die ou Suid-Afrika.

Dit is uit so ’n opmerking duidelik dat hy die internasionaal aanvaarde beginsel van selfbeskikking en hoe dit vandag toenemend ’n rol speel in die verhouding tussen volkere en regerings oor die wêreld heen, verwar met die konsepte van rasse-onderdrukking en meerderwaardigheid.

In Suid-Tirool in die noorde van Italië het die Suid-Tirolers as Duitssprekende volk ’n groot mate van outonomiteit en streef hulle met wye steun daagliks na ’n groter mate van selfbeskikking. Dieselfde geld in Spanje waar die Baske en Kataloniërs toenemend outonoom funksioneer. Die Verenigde Nasies, Europese Unie en talle ander internasionale organisasies steun almal selfbeskikking. Dit was juis groot Westerse lande soos Amerika, Engeland en al die lande van Wes-Europa wat onmiddellik in 2008 Kosovo se onafhanklikverklaring van Serwië gesteun het.

Oor die wêreld heen is groter outonomiteit, selfbeskikking en in baie gevalle federalisme en die desentralisering van magte die metode waarvoor minderhede onderhandel om die voortbestaan van hul kultuur, taal en tradisies te verseker.

Die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede (Sabra) het reeds in die 1970’s ná deeglike navorsing bepaal dat apartheid nie volhoubaar was nie en dat die Afrikaner se voortbestaan eerder binne ’n bestel waar alle etniese groepe gelyk gestel word en waar Afrikaners beheer oor hul eie lot verkry, verseker sou kon word. Gedurende die 1970’s en 1980’s was hierdie standpunt ongewild, maar het Sabra voortgegaan om dit toe te pas en is Orania later aangekoop as ’n poging om binne ’n streek van Suid-Afrika groter outomiteit vir die Afrikaner te beding. Selfbeskikking en apartheid is dus twee wêrelde van mekaar verwyder. Die een het een etniese groep as meerderwaardig tot ’n ander geag, die ander beskou alle etniese groepe gelyk voor die reg.

Dit is eintlik jammer om te sien dat mense baie keer dink dat selfbeskikking en die Orania-model ’n poging is om apartheid te behou, of weer iets soos apartheid daar te stel.

Die media en kommentators kan en moet meer doen om Suid-Afrikaners beter in te lig oor die moontlikhede wat selfbeskikking en konsepte soos federalisme vir Suid-Afrika en sy diverse groepe inhou. Die Suid-Afrikaanse Grondwet onderskryf self die beginsel van selfbeskikking en daarom is Johann Maarman se vergelyking van selfbeskikking as ‘‘oorskietkos uit die ou Suid-Afrika’’ nie net verkeerd nie, maar ook ’n klap in die gesig van die internasionale gemeenskap en die Suid-Afrikaanse Grondwet wat selfbeskikking juis as antwoord op etniese konflik en die vernietiging van minderheidskulture bied.

Afrikanerskap so uitgedien soos ‘n rooksein?

Piet Croucamp skryf onlangs in Rapport dat Afrikanerskap so uitgedien soos ‘n rooksein geword het. Hy meen “Afrikaners is byna per definisie – of op enkele uitsonderings na – onverdraagsaam en waarskynlik ook rassiste.”

Ek wonder of die ironie van bogenoemde, dat sy persoonlike onverdraagsaamheid hom aan sy eie definisie van ‘n Afrikaner laat voldoen, hom ontsnap?

As akademikus beskik hy beslis oor die nodige vaardighede om bogenoemde te kan insien.

Maar ongeag sy vermoë om bogenoemde te snap, is sy persoonlike mening rakende die toekoms van Afrikanerskap en sy deel daarin irrelevant, want hy word deur al die ander inwoners van Suid-Afrika, selfs die regering, as Afrikaner uitgeken.

Sien, toe die ANC ‘n gesprek met Afrikaners probeer aanknoop het, het hulle nie vir Christo van der Rheede, Danny Titus of Michael le Cordeur gekontak om die gesprek te fasiliteer nie. Nee, hulle het vir Piet Croucamp, Albert Venter en Willie Breytenbach gekontak.

Ek gee egter volpunte vir die fasiliteerders omdat hulle ook die ander lede van die Afrikaanse gemeenskap by die gesprek betrek het, want die bekommernisse van Afrikaners is wel ook die bekommernisse van alle Afrikaanssprekendes en die saak onder bespreking verdien meer gewig as dit wat slegs deur Afrikaners daarby gevoeg kan word.

Maar Afrikanerskap gaan nie verdwyn nie. Dit is nie ‘n kleed wat aan of uitgetrek kan word afhangende van hoe die winde waai nie. Jy is wat jy is en Piet Croucamp en Koos Kombuis sal albei tot in hul grafte Afrikaners bly, nie oor hoe hulle of selfs ander Afrikaners daaroor mag voel nie, maar oor hoe die res “buite die laer” daaroor voel.

Sien, individuele vryheid om te kies is ‘n Westerse konstruk waarvan die inhoud ons nie moet verlei met die mistasting dat ons ander kan oortuig dat ons keuses ons herkoms of karakter kan verander nie. Veral nie indien ons dade, soos Piet Croucamp se onverdraagsaamheid wys, die teenoorgestelde bewys nie.

Ja, as Afrikaners het ons baie probleme. Ons onverdraagsaamheid en in sekere gevalle (maar beslis nie alle nie) rassisme laat ons dikwels in die steek en wen vir ons meer vyande as vriende. Ons het alle invloed op die hefbome wat ons samelewing vorm verloor. Ons word geteiken vir rassistiese diskriminasie deur wetgewing. Ons is min en minderwordend. Ons is, soos Flip Buys en Dirk Herman sê, ‘n ongewilde minderheid.

Afrikaners het reiniging benodig, want ons het in selfvoldaanheid, trots en uitspattigheid verval, waarvan die endemiese uitbuiting van goedkoop swart arbeid om ons huise skoon te maak, ons klere te was, ons kos te maak, ons kinders groot te maak, ons ryk te maak, ons gemaklik te maak, ons grafte te grawe en weer toe te gooi, die skandaligste was (en ongelukkig in baie gevalle nog steed is).

Daar is egter groen lote wat bewys dat die boom se beste dae nog nie verby is nie. As Afrikaners het ons alle verwagtinge oortref in ons vermoë om met ons ander landsburgers saam te werk en by te dra tot hulle opheffing.

Na die trauma van ons verlies aan selfbeskikking, is ons ook besig om daarin te slaag om by nuwe omstandighede aan te pas. Ons beskik oor die mees aktiewe burgerlike organisasies soos deur die Solidariteitbeweging versinnebeeld en ons bou ons eie strukture om in ‘n nuwe omgewing weer beheer oor ons lot terug te neem. Daarvan is die groeiende Orania ‘n sprekende voorbeeld.

Ons is na die isolasie van die vorige bedeling ook besig om nuwe wêrelde te verken en ‘n groot verskeidenheid van ervaringe deel van die mondering van Afrikanerskap te maak.

Waneer ons getuig dat Afrikanerskap so uitgedien soos ‘n rooksein geword het, weerspieel dit ons persepsie van die werklikheid en nie die werklikheid self nie. Dit wys hoe ons dinge wil sien. Piet Croucamp sien duidelik twee dinge in Afrikanerskap; enersyds ‘n leë kruik wat hom as verbruiker niks bied waarmee hy homself kan verryk nie en andersyds ‘n bekleding waarin hy weersin het.

Soos reeds gesien is die beeld van ‘n kledingstuk wat mens wil uittrek en weggooi irrelevant, want hoe meer jy dit probeer uittrek en weggooi, hoe meer sien ander dit juis in jou raak.

Die beeld van ‘n leë kruik verdien egter verdere betragting.

Dit is waar dat Afrikanerskap vir ons geen kaartjie meer is na die binnebaan vir hoogsbesoldigde leierskapsposte in die publieke, private en akademiese sfere nie. En dit is waarskynlik ook goed so. Vir te lank het mense met swak inbors hulleself as vrome Afrikaners voorgedoen bloot om daardie kaartjie te ontvang, en daarmee is die integriteit van Afrikanerwees ‘n gevoelige slag toegedien.

Dit is egter eenvoudig onwaar dat Afrikanerskap vir ons niks meer bied nie. Uit ons tradisie en verlede ontvang ons ‘n oneindige bron van inspirasie en hoop – byna soos die weduwee se kruik – van mense met pioniersgees en vindingrykheid, van godsvrees, toekomsvertroue, nederigheid en gewilligheid om terugslae en struikelblokke te oorkom. Ons het ‘n taalskat, ‘n liedereskat en ‘n literatuurskat wat ons uit ons tipiese gasvryheid met die res van die mensdom deel.

Afrikanerskap is ‘n kruik wat oneindig baie bied, maar soos prof. Carel Boshoff altyd gesê het, is elke geslag verantwoordelik vir sy eie tyd en is dit ook ons verantwoordelikheid om tot die kruik by te voeg sodat daar vir ons kinders en kleinkinders selfs meer sal wees om vir inspirasie uit te put.

Gaan ons ons verantwoordelikheid nakom deur die beste Afrikaners te wees wat ons kan wees, veral ook tot voordeel van ons medemense, of gaan ons ons verantwoordelikheid probeer ontduik deur soos Piet Croucamp voor te wil gee dat die kruik leeg is; dat Afrikanerskap uitgedien soos ‘n rooksien geword het?

Die mite van diversiteit

Een van die mantras van ons tyd is “diversiteit”, of anders gestel, die dwang om homogene volke en groepe en streke met die maksimum van staatlike inmenging so te vermeng dat daar nie meer afgrensbare groepe en volke oorbly nie. Etniese homogeniteit as sulks word as iets beskou wat diep verwerplik en gevaarlik is en gewoonlik word woorde soos “isolasie”, “parogiaal”, “rassisme”, “meerderwaardigheid”, “agterlikheid”, ens. daaraan gekoppel.

Vir die sogenaamde meningsvormers, by uitstek multi-kulturele indiwidue wat in wêreldstede bly, is homogeniteit iets wat aanstootlik is. ‘n Gemengde paartjie of  ‘n partytjie met mense van alle kleure maak meningsvormers en joernaliste opgewonde, ‘n gemeenskap wat volgens sy tradisie lewe is perse verdag, veral as dit ‘n blanke gemeenskap is (vir tradisionele swart stamme of Indiane geld effens versagtende omstandighede).

In Suid-Afrika is die ewige geskreeu na meer verteenwoordigendheid regeringsbeleid. Dit dien natuurlik net een doel, naamlik die totale beheer van die ANC-kliek oor elke aspek van die samelewing. Omdat dit nie reg klink om dit so te stel nie, word die mooi klinkende frase van diversiteit bemoei en wat deur liggelowige blanke meningsvormers nagepraat word. Opvallend is natuurlik dat diversiteit net na die een kant toe werk en dat nog nooit iemand gekla het oor die sokkerspan, die Black Business Association of ‘n Xhosa-dorp wat nie verteenwoordigend is nie.

Terwyl die motief vir meer “diversiteit” in Suid-Afrika maklik begrypbaar is, naamlik ‘n versterking van ‘n reeds oorweldigende magsgreep op die samelewing, wat net ‘n variasie op kommunistiese “newspeak” verteenwoordig, is die motiewe in lande wat óf nog redelik homogeen is, óf wat nog steeds ‘n blanke meerderheid het, moeiliker verstaanbaar en maak dikwels glad nie sin nie, ook nie vir diegene wat dit bepleit nie.

In die VSA en Europa het diversiteit so omtrent vanaf die 1960’s meer en meer die gonswoord geword, en is vandag feitlik iets wat nie bevraagteken mag word nie, ‘n soort hoogste gebod. Samelewings wat tradisioneel homogeen (meer as 90% behoort aan een volk) was, strewe nou met alle mag daarna om so multi-kultureel as moontlik te word.

As ‘n samelewing weens sy geskiedenis van immigrasie uit verskeie oorsprongslande (soos die VSA, Australië, Brasilië) na voorheen onbevolkte of ylbevolkte gebiede ‘n multi-kulturele samelewing word en die leiers poog om die verskille so te akkommodeer dat die minimum konflik ontstaan, is daar niks fout daarmee nie. Die VSA se beleid van inklusiewe patriotisme het vir lank gewerk en binne enkele generasies het uit Britte, Iere, Duitsers, Spanjaarde, ens. Amerikaners geword wat mekaar as gelyke aanvaar het. Eers na die burgerregtebeweging in die 1960’s het regstellende aksie in die 1980’s ingekom, deels om die werklike agterstand en ongelykhede van swart Amerikaners te lig, maar later al hoe meer met die argument van die waarde van diversiteit. As daar ‘n oorwegende wit universiteit is, selfs al is daar geen diskriminerende maatreëls nie (behalwe akademiese prestasies), word dit op sigself as ‘n probleem beskou. Wit student sou iets mis omdat hulle nie al ewig in aanraking met student van ander kulture is nie.

In Europa is die drang na diversiteit self nog meer onlangs en nog meer kunsmatig. Eens homogene lande soos Swede, Duitsland, Frankryk en Denemarke wil met alle geweld hulle etniese identiteit afskud ten gunste van ‘n multi-kulturele samelewing. Anders as in die gevalle van die bogenoemde immigrasielande soos die VSA of Brasilië bestaan daar geen noodsaaklikheid om ‘n multi-kulturele samelewing te word nie.

Die argument is gewoonlik dat multi-kulturele samelewings voordele bo die homogene samelewings het, meer dinamies is, meer geleenthede skep, meer talent trek en lekkerder is om in te woon, en dat daarom elke relatief homogene samelewing daarna moet streef om so heterogeen as moontlik te word.

Hou die argument werklik water? Net in so verre as ‘n land se immigrasiebeleid van so ‘n aard is dat hoogs geskoolde mense gelok word wat nie plaaslik beskikbaar is nie. Beter is inderdaad die belegging in goeie opleiding om jou eie, hoogsgeskoolde mense te skep wat makliker in die samelewing inpas. Verder skiet die argument tekort, want nie hoogsgeskooldes word getrek met ‘n immigrasievriendelike beleid nie, maar ander lande se probleemgevalle, werkloses en vlugtelinge wat groener weivelde soek maar wat selde werklik ‘n bydrae het om te lewer. Daar is niks dinamies aan ‘n Turkse of ‘n Pakistanse werklose nie, net so min soos aan ‘n Duitse of Engelse werklose, met die verskil dat laasgenoemdes die reg het om in hulle land van herkoms te wees en eersgenoemdes hulle probleme saambring.

Verder is die argument dat ‘n multi-kulturele samelewing waardevolle kulturele invloede saambring, ook dikwels ‘n blote hol frase. Watter waarde bring ‘n moskee of ‘n Hindu-tempel vir ‘n Christelike land? Gewoonlik net irritasie. As jy belangstel in ander kulture, is dit maklik genoeg om op die vliegtuig te klim en na eksotiese lande te reis. En is die gerief om allerhande uitheemse restourante te hê werklik al die daaglikse probleme van moeilik integreerbare volke die moeite werd? Waarvoor wil jy dan nog reis as jy die hele wêreld in jou stad het?

Die persoonlike verryking wat so besweer word deur die maksimum kontak met ander kulture is ook ‘n drogredenasie. Mense wat in ander kulture belang stel, het selfs in redelik homogene lande genoeg kans om dit te doen. In die multi-kulturele samelewings lei die oormaat vreemdes juis tot die teendeel van kulturele verryking, naamlik ghettovorming omdat vreemdes as ‘n bedreiging ervaar word, en nie sonder rede nie. In ons eie Suid-Afrika is die homogene gemeenskappe gewoonlik die wat oorloop van gasvryheid (ek dink maar aan Orania of aan ‘n tipiese tradisionele swart stat in die landelike gebiede), terwyl in die multi-kulturele stede mense so min as moontlik uitreik na ander kulture. Misdaad is die een rede, maar mense wat jy die hele dag as irritasie beleef omdat hulle in jou gesig gedruk word, wil jy nie graag na-ure sosiaal ontmoet nie, selfs al kon van hulle goeie vriende word.

Konflik is ook meer volop in heterogene samelewings en feitlik elke groepskonflik het iewers ‘n etniese komponent. Hoekom tot dusver veilige, rustige en voorspoedige samelewings die risiko wil loop om deur massa-immigrasie hulle toestand te verander, gaan my verstand te bowe.

Die koste vir ‘n multi-kulturele samelewing moet ook nie buite rekening gelaat word nie. Meer werkloses moet maatskaplike toelaes ontvang en voeg geen waarde toe nie. Geld word gespandeer op allerhande konferensies en seminare, om van staatsdepartemente nie eens te praat nie, wat almal die doel het om multi-kulturalisme te bestuur. ‘n Probleem word geskep wat dan aangespreek moet word, pleks om van die begin af vas te stel dat die voordele van ‘n multi-kulturele samelewing veel minder is as die nadele en dat dit daarom liewers nie eers moet ontstaan nie. Diegene wat die multi-kulturele samelewing dryf, is gewoonlik diegene wat van die bestuur daarvan leef en wat andersins werkloos sou wees, soos gemeenskapswerkers en al die “integrasie en transformasie-beamptes” wat elke universiteit en elke groot maatskappy vandag moet hê.

Die grootste ironie van die saak is dat niemand gedien is met die multi-kulturele samelewing nie: immigrante voel sleg oor hulleself as hulle slegs maatskaplike toelaes trek en voel vervreemd van hulle gasland wat hulle gelok het. Al die geld wat op die akkommodasie van immigrante gespandeer word, kan eerder vir ontwikkelingshulp gespandeer word om geleenthede in die moederland te skep. Die inheemse inwoners is ook nie gelukkig nie, want hulle voel benadeel en bedreig.

Dit is tyd dat politici en meningsvormers wat duidelik stel dat die multi-kulturele samelewing ‘n klug is en meer kwaad as goed doen, nie sommer van die begin af as rassistiese heethoofde afgemaak en doodgeswyg word nie. Die probleem word daardeur net erger. Bou liewers jou gemeenskap pleks om geld in ‘n bodemlose put van ‘n twyfelagtige ideologie te gooi wat reeds as onwerkbaar bewys is.

Erfgeld en swerfgeld – voorwaardes vir volhoubare welvaart

Geld laat nie die wêreld draai nie, so hoor ek, maar dit maak glo beslis die lewe makliker. Ander apologete van wat sommige Mammon sal noem, wys uit dat diegene wat reken dat geld nie geluk kan koop nie, nog nie honger en sonder ʼn dak oor die kop gaan slaap het nie.

Afrikaners het oor die jare heen wisselende voorspoed geniet. Ons geskiedenis wys ook uit dat welvaart nie iets is wat uit die lug uit val of soos ʼn onverwagse skip inkom hawe toe nie. In baie gevalle moet die genade van bo en die geluk van onder mekaar ontmoet in die derde geslag van harde werkers om by aardse rykdom uit te kom.

Daar is egter ook uiters belangrike onderliggende ekonomiese redes waarom samelewings soos in dele van die VSA en Duitsland kop en skouers uitstaan bo die res wat welvaartskepping betref. Dit behels onder meer dat daar van vroeg af beleggings gemaak word in die stelsels wat welstand toeganklik en haalbaar maak vir sy bevolking, en dat daardie stelsels ongeag terugslae soos oorloë en volksverskuiwings, in stand gehou moet word om vrug te dra.

Afrikaners moes ook die offers bring wat toekomstige welvaart moontlik sou maak.

In ons eie verlede is die Vryburgers verhoed om markwaarde vir hul produkte te kry en Adam Tas is tronk toe in sy poging om daardie ongeregtigheid te oorkom.

Die Oosgrensboere kon nie onder die voortdurende aanslag van Xhosa plunderaars en gebrekkige koloniale beskerming hul weg oop sien om daar ʼn beter toekoms vir hul kinders te skep nie en het met die publikasie van Piet Retief se manifes die binneland ingetrek op soek na grond wat hulle self kon beveilig.

Na die mislukkings van die tweede Engelse oorlog en die rebellie (en ook weer na die terugslag van die groot depressie) het ons weer en weer die boom geskraap en is daar besef dat welvaart in die moderne wêreld vereis ook toegang tot kwaliteit onderwys, finansiële markte en vervaardiging. Die Helpmekaarkongres sou uitloop op die Helpmekaarbeweging wat, aangevuur deur die Afrikanerpers soos Die Burger en Die Huisgenoot (hoe het tye nie verander nie?), bedrywe soos Sanlam, Federale Volksbeleggings, Volkskas bank (vandag Absa Bank), Yskor (vandag Mittal),Perskor ens. voortgebring wat uiteindelik ʼn groot rol gespeel het om ʼn hele geslag Afrikaners op te hef uit armoede.

Die pendulum swaai egter weer. Die fondamente waarop die vorige geslag se rykdom gebou is, word ondergrawe en weggekalwe. Afrikaanse skole en universiteite verengels. Grond word onveilig. Afrikaans en die Afrikaner word uit die sakewêreld geboender. Beurse, werksgeleenthede, lenings, waagkapitaal, tenders en staatskontrakte word ons ontsê.

Waarskynlik die slegste van hierdie proses, is dat dit gelei word deur die einste mense wat uit die vorige bedeling die middele ontvang het wat hulle in staat gestel het om vandag leiersposisies in politieke partye, groot maatskappye, professionele firmas en mediahuise te beklee.

In ʼn poging om aan die bates vas te klou wat ʼn vorige geslag Afrikaners moontlik gemaak het, is ʼn huidige geslag Afrikaners te gelukkig om die volgende geslag Afrikaners uit te verkoop deur die stelsels wat rykdom skep te verteer en te transformeer.

Hierdie tendens is duidelik sigbaar in emigrasiestatistieke, of die inverse daarvan, die bevolkingspiramide van Afrikaners in Suid-Afrika. Skool- en universiteitsverlaters vlug in swerms die land uit op soek na daardie geleenthede waar hulle in Suid-Afrika gestuit of onregverdig teen gediskrimineer word, terwyl die groep ouer as 45 jaar in baie gevalle nog op die geleenthede wat die vorige geslag vir hulle moontlik gemaak het, kan teer.

Hoe kan hierdie situasie omgekeer word? Die kortste antwoord is dat daar weer in die stelsels belê moet word wat vir die volgende geslag Afrikaners geleenthede sal bied:
• Ons moet belê in grond wat deur ons beveilig kan word.
• Ons moet op daardie grond skole, tegniese kolleges, technikons en universiteite bou
• Ons moet finansiële instellings, vervaardigingsaanlegte en alle ander sake vanaf daardie grond bedryf
• Ons moet toegang tot markte bewerkstellig deur handelsnetwerke en reputasie vir kwaliteit
• Ons moet hierdie stelsels vir ons nageslag beveilig deur volhoubare selfregering

Hierdie stelsels is geïntegreerd en die een is nie volhoubaar sonder die ander nie. ‘n Fabriek is nie volhoubaar nie wanneer hy uitgelewer is aan gebrekkige kragtoevoer. ‘n Kampus is onvolhoubaar wanneer sy studente en dosente se huise onveilig is en sy gekwalifiseerdes landuit moet gaan om hul potensiaal te verwesenlik. Huise is slegs aantreklik totdat riool in die strate afloop.

Orania wys reeds hoe ‘n volhoubare toekoms geskep kan word.

Die vraag is of die res van ons ooit uit die hangkas gaan klim en by die program gaan aansluit, of gaan erfgeld maar net swerfgeld bly?

Platteland gaan oor die siel van die Afrikaner

Na die soete, voorspelbare “Liefling” oor die reeds duisend maal behandelde tema “seun ontmoet meisie en raak verlief, ander meisie meng in en versuur verhouding, en uiteindelik kom hulle weer bymekaar” was “Platteland” ‘n fliek wat nie net beweeg in die bandbreedte van soetsappige liefde en jaloesie nie, maar ook haat, gierigheid, verraad, familietwis, maar ook omgee, vasberadenheid, vertroue op God, familie- en volkstrots en gemeenskapslewe aanspreek en uitbeeld.

 

My eerste indruk was dat die tema nogal baie aan ‘n standaard-tema van ‘n Western laat dink: ‘n Eerbare, gelowige en familievaste vrou (Riana van Niekerk, vertolk deur Lianie May) en haar broer Wian (Vaughan Gardiner) wie se ouers vermoor is, moet hulle grond verdedig teen die gierige grootmeneer wat reeds baie besit en alles wil hê en daarby geen gewetensbesware het om sy doel van beheer te bereik (Mike Ferreira, gespeel deur Steve Hofmeyr). Die boef se mooi dogter Rolene (Karlien van Jaarsveld) is verlief op Wian en kies uiteindelik hom teen haar familie. ‘n Manlike held (Dirk Pretorius, gespeel deur Bok van Blerk), wat eers aan die verkeerde kant is, kom die benoude Riana te hulp en keer eiehandig die boef en sy trawante na ‘n finale “showdown” van Dawid teen die Goliatbende a la “High Noon”.

 

Alhoewel die tema nie nuut is nie, is dit ‘n goeie en aangrypende eietydse Suid-Afrikaanse vertolking wat daarvan meer maak as net ‘n Western-remake. Die titel is nie verniet “Platteland” nie, en die sterf van die platteland, die sielsheimat van die Afrikaners (al bly 90% nou in stede), word aangrypend uitgebeeld. Die opwel van emosie werk met teenstellings, en die fliek doen dit ook, wat eintlik ‘n verfrissende verandering is op die genre van ‘relativistiese flieks” waar niemand sleg en niemand goed is nie en geen gelukkige einde wag nie. Miskien kyk ek om dié rede graag Westerns en het ek daarom ook “Platteland” geniet.

 

Hier staan die gelowige en eg Afrikaanse plattelandse meisie Riana wat haar familieplaas met die geskiedkundige Oos-Vrystaatse sandsteen-plaashuis, waaraan so baie emosies en herinneringe verbind is, teen skuldeisende banke en die gierige grondbaron verdedig, daar staan die gewetenlose, brutale en gulsige boef met sy windmakerige swart Playboy-klere en punterige skoene wat in ‘n smaaklose mock-Toskaanse paleis woon en vere voel vir die platteland en sy mense en net in geld en sy ego belang stel. Daarby misbruik hy die gemeenskap se versugting na ‘n leier en gee voor om te gee vir hulle, terwyl hy hulle verag. Sy histeriese, opgesmukte en oppervlakkige trofeë-vroutjie Louise pas hom soos ‘n handskoen en herinner aan sekere “nouveau riche” vroue met hulle aangeplaktheid wat deesdae ongelukkig veels te algemeen onder Afrikaners voorkom.

 

Die landskapstonele is ook eg Suid-Afrikaans en goed gekies: die klein dorp iewers in die Oos-Vrystaat of Noord-Natalse Drakensberg-streek met die landboukoöperasie en bank in die hoofstraat, waar almal vir almal ken en “oom” en “tannie” noem; die bebaarde, trotse, en in sy hart goeie boer wat sy grond met die geweer teen die gladde bankbestuurder wil verdedig; die gryskop-tannies met die broekpakkies wat as vrouevereniging toekennings vir verdienstelike gemeenskapslede oorhandig terwyl die fotograaf dit gretig afneem vir die plaaslike koerant; die sandsteenplaashuise met die houtvloere en familiefoto’s op die klavier; die stofpaaie met die swart seun langs die pad wat sy draadkar stoot en die sandsteenrotse in die agtergrond. Dit is ‘n opset wat die kyker, al het hy nie eens opgegroei in die platteland, graag bewaar wil sien en hom of haar laat besef dat dit onlosmaaklik deel van Afrikanerwees is en ons gevorm het, en nie die Toskaanse villas agter hoë mure in die voorstad nie. By my, wat in die Oos-Vrystaat op ‘n plaas gevorm is, het dit vir seker die hartsnare geroer.

 

Nie toevallig nie sing Bok van Blerk alias Dirk Pretorius “My kreet” (Die Afrikaner het ‘n stem) toe hy en Riana besluit het om nie toe te gee nie, maar saam die oppermag aan te durf. Dit word duidelik dat Mike Ferreira nie net ‘n arm vrou bedreig en die lewe vir haar moeilik maak nie, maar dat die soort mense, of hulle wit of swart is, die Afrikaner as volk bedreig deur ons unieke leefstyl en ons wese deur gierigheid en harteloosheid te vernietig. Plaasmoorde en emigrasie is die middel om ‘n Afrikaanse platteland te ontvolk en te ontsiel.
Die tema van verraad, ook nooit vêr in die Afrikaner se geskiedenis af nie, speel ook ‘n rol. Pieter Naude (Ivan Zimmermann), die klaarblyklik goed gemanierde en gelowige helper vir wie Riana lank gesoek het, is kop in een mus met Mike Ferreira en sy seun Jakes (Jay du Plessis), wat die rol van lafhartige, grootpraterige leier van ‘n bende skurke, met front as “sekuriteitsmaatskappy” speel. Daar is wel ook plek vir een van die boef se handlangers om uiteindelik wel teen die slegte te draai en die kant van die goeie te kies.

 

Op die ou einde is dit die enkele opregtes wat besluit om te bly staan vir wat reg is en wat nie vir geld, dreigemente en selfs sabotasie en moord swig nie, wat oorwin en wat deur hulle heldedaad die hele gemeenskap red toe die mat onder Mike, sy seun en sy handlangers uitgepluk word. Dit besiel ons om ook voort te gaan met dit wat reg is, teen skynbare oormagte en alle dreigende gevare in.

Die huidige toedrag van sake vir minderhede in die wêreld

Minderheidseise en minderheidspolitiek is een van die brandende vraagstukke van ons tyd. Die onderdrukking van minderhede en hulle weerstand daarteen en stryd vir selfbeskikking kom orals oor die wêreld heen voor, maar die aard en omvang daarvan verskil drasties van land tot land en streek tot streek.

Net soos met die geval van “vryheid” en “demokrasie” is “minderheid” egter een van die begrippe wat verskillende dinge vir verskillende mense beteken en wat heeltemal verskillend benader word, afhangende van ‘n ideologiese paradigma of ‘n land of streek se tradisies en geskiedenis.

Tipes minderhede

Om die huidige situasie van minderhede te verstaan is ‘n holistiese kyk oor die wêreld heen nodig. As Afrikaners en Oraniërs verstaan ons die term minderheid baie goed. Die siening van minderheid wat óns huldig is dié van ‘n etniese minderheid, ‘n groep wat ‘n eie taal, kultuur, godsdiens, geskiedenis en tradisie het, wat oor kleiner getalle beskik en polities ontmagtig is teenoor die meerderheid wat die land beheer waarin die betrokke minderheid leef. Die meeste minderhede in die wêreld definieer hulleself so en vir die doeleindes van hierdie artikel is dit die soort minderhede waarop ons wil fokus.

Ons sien onsself eerder as ‘n volk pleks van ‘n minderheid, want die term minderheid het die klank van selfopgelegde nederigheid en om met minder tevrede te wees as wat die meerderheid toekom. Internasionaal is dit egter so dat minderhede omlyn en omskryf is en erkenning en beskerming geniet deur demokrasieë en internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies en die Europese Unie (EU) (ten minste in teorie), terwyl die term volk in sekere tale nie eens bestaan nie (byvoorbeeld Engels) of sinoniem met ‘n staat is. Vir die doeleindes van hierdie stuk word die term volk die beste met etniese minderheid weergegee. Natuurlik bestaan daar ook meerderheidsvolke, of “staatsvolke”, maar die klem lê hier op die minderheidsvolke en hulle lot binne ‘n staat wat deur ander groepe of volke beheer word.

Etniese minderhede het dikwels, maar nie altyd nie, iewers ‘n etniese moederland wat hulle toestand as minderheid in ‘n ander land meer draaglik maak, omdat die moederland vir hulle belange opkom en hulle kulturele tuiste is. In party gevalle is die bevolking binne die moederland selfs geringer as dié van diegene wat as minderhede oor ander lande versprei is. Voorbeelde is daar baie.  ‘n Bekende een is die Jode met hulle moederland Israel, maar ‘n wêreldwye verspreiding oor alle vastelande. Ook die Armeniërs is so ‘n groep, met meer Armeniërs buite die staat Armenië as daarbinne . Dit is ook belangrik om daarop te let dat minderhede nie dieselfde is as gaswerkers of “expatriats” nie. ‘n Etniese minderheid binne ‘n land het ‘n historiese aanspraak om daar te wees (wat nie verhoed dat teen hulle gediskrimineer word nie) en woon gewoonlik al geslagte lank in die land. Gaswerkers is veronderstel om net vir ‘n tyd in ‘n ander land te woon en werk en dan, na voltooiing van hulle werk, na hul land van oorsprong terug te keer. Tyd is dus die bepalende faktor. Omdat die verskyning van gaswerkers eers relatief onlangs ‘n wêreldwye verskynsel geword het, sal gesien moet word in watter mate gaswerkers later in etniese minderhede ontwikkel. Dit begin gewoonlik met die tweede en derde generasie waar gaswerkers in ‘n permanente etniese minderheid verander. In Suid-Afrika is die Indiërs (en dalk vorentoe weer die Sjinese) ’n voorbeeld.  In Duitsland begin die Turke en in Frankryk die Arabiere al hoe meer ‘n permanente minderheid vorm soos wat voormalige gaswerkers na aftrede in die gasland aanbly en hul kinders hulle ouers se land van herkoms net van vakansies ken.

Daar is egter ook etniese minderhede wat nie oor ‘n moederland beskik nie, soos die Afrikaner of die Koerde in die Midde-Ooste. Die Jode was ook so ‘n volk, maar kon vir hulle ‘n moederland verkry, so ook talle ander etniese minderhede sedert die val van die ystergordyn. Afskeidingspogings word veral gevoer deur staatlose minderhede, en die regerings van die state wat minderhede bevat, is gewoonlik uiters onverdraagsaam en onderdrukkend teenoor sulke minderhede. Die stryd van staatlose minderhede vir ‘n eie staat word gewoonlik bevoordeel as hulle iewers gekonsentreerd woon en dus ‘n mate van feitelike beheer het, of as hulle historiese aansprake op staatskap het. Die onafhanklikwording van die Baltiese state Estland, Letland en Litoue is aangehelp deur die feit dat hulle voor die Tweede Wêreldoorlog vir ‘n ruk onafhanklik was, asook dat hulle in ‘n realtiewe klein geografiese gebied gekonsentreerd is en die meerderheid daar het.

‘n Verdere variasie op etniese minderhede is dié van inheemse volke (indigenous people), wat gewoonlik nog op ‘n premoderne samelewingsvlak bestaan en nie die konsep van staatskap geken het of na strewe nie. Hulle strewe is eerder om ‘n groot mate van tradisionele bestaan te handhaaf of, waar die tradisionele bestaan reeds aangetas en bedreig is, om na ‘n premoderne bestaan terug te keer. Laasgenoemde is in praktyk ongelukkig dikwels onmoontlik. Ons praat hier van inheemse volke soos die Indiane en Inuit (Eskimo’s), of die Aborigines, en, nader aan die huis, die San (oftewel Boesmans). Hulle word bevoordeel deur ‘n mate van ‘n skuldgevoel deur die meerderheidsvolke (ten minste in Australië en Noord-Amerika), waar die inheemse volke probeer kompenseer vir vergrype in die verlede deur dele van hul tradisionele stamgebiede aan hulle terug te gee en hulle met staatsfondse probeer onderhou. Die maatreëls werk ongelukkig teen mekaar. ‘n Eie grondgebied moedig selfstandigheid aan, staatlike fondse ontmoedig dit en is gewoonlik die sterker trekkrag en laat inheemse volke verder agteruitgaan.

In die lande van die ontwikkelende wêreld (sogenaamde Derde Wêreld) geniet inheemse volke ongelukkig nie die staatsondersteuning, beskerming en kompensasie wat hulle in Noord-Amerika of Australië geniet nie. Brasilië het eers realtief onlangs begin om aandag te gee aan die eise van die Indiane van die Amasone-oerwoud (en op grondvlak word hulle nog steeds as ongewens hanteer).  In ander lande soos Peru word hulle nog steeds as lastig en in die pad van ontwikkeling beskou. In Afrika lyk dit twyfelagtig of die San van die Kalahari of die Pigmië van die Kongo-reënwoude die aanslag van óf regerings se materiële belange, óf van sterker volke se grondhonger sal oorleef. Soortgelyk is die situasie vir inheemse, premoderne volke in die reënwoude van Suidoos-Asië, byvoorbeeld die Batak in Indonesië.

Laastens is daar ook ‘n meer liberale siening van minderhede as groepe wat tradisioneel buite die hoofstroom van mag en invloed staan en waarteen op die een of ander tydstip gediskrimineer is en wat as histories benadeel beskou word (of waar die persepsie daar rondom bestaan). Om daarvoor te vergoed word hulle vandag in veral Westerse state deur wette bevoordeel, byvoorbeeld wat betref toegang tot behuising, fondse en opleiding. Hier word verwys na die Negers in Amerika, homoseksuele, mense met fisiese gestremdhede, en selfs vroue (alhoewel laasgenoemde getallegewys feitlik in elke land ‘n meerderheid verteenwoordig). Dit is egter interessant dat hierdie sogenaamde minderhede gewoonlik net een kenmerk het wat hulle van die sogenaamde hoofstroom onderskei (waarby natuurlik gevra kan word of in Westerse, liberale samelewings nog iets soos die hoofstroom bestaan) en nie, soos ‘n etniese minderheid, oor die hele spektrum benadeel word nie. Homoseksuele mense, byvoorbeeld, se inkomste en opvoedingsvlakke en dus ook geleenthede is dikwels bogemiddeld, en die vraag is waarom hulle dan deur wette kunsmatig bevoordeel moet word.

In sy ekstreme vorm sluit die liberale definisie van minderhede in sekere lande feitlik almal in behalwe heteroseksuele, niegestremde, werkende wit mans. In die VSA kan ‘n mens nog van die histories benadeelde groepe as minderhede praat (Negers is nog ‘n getalleminderheid teenoor wit Amerikaners), maar in Suid-Afrika is die verwysing absurd en het “minderheid” juis weer ‘n negatiewe klank vir die magtiges, naamlik die aandring op spesiale voorregte van voorheen bevoordeeldes.

Uit die aard van hierdie stuk word laasgenomede tipe minderhede buite rekening gelaat omdat dit die definisie van minderhede te vêr vat. Ons konsentreer op etniese minderhede soos verder bo omskryf.

Minderheidseise en minderheidsregte

Die eise van minderhede is uit die aard van die saak baie uiteenlopend. Vir diegene wat oor ‘n moederland beskik, soos die talle nasionale minderhede in byvoorbeeld Oos-Europa, is kulturele selfbeskikking oor eie instellings soos skole en die onbelemmerde gebruik van hulle taal gewoonlik voldoende. Die Verenigde Nasies (VN) se Handves van Menseregte gee erkenning aan talle regte wat ook sentraal staan vir minderhede (soos die vryheid om jou geloof te beoefen, om deel te neem aan die kulturele aktiwiteite van sy gemeenskap, vryheid van politieke deelname en assosiasie, niediskriminasie), alhoewel die aanslag van die Handves individueel is en minderhede nie uitdruklik noem nie. Elke regering behoort daartoe verbind te wees, wat ongelukkig in die praktyk nie die geval is nie.

Veral inheemse volke word uitgesonder vir spesiale beskerming. Die VN het ‘n Permanente Forum vir Inheemse Volke en in 2006 is die Verklaring oor die Regte van Inheemse Volke uitgereik wat onder andere vasstel dat inheemse volke gelykwaardig is met ander volke in wie se lande hulle leef, en die reg het om uniek en anders te wees (as die meerderheidsvolk), hulle identiteit mag uitleef en as sulks gerespekteer moet word. Daar mag nie teen hulle gediskrimineer word nie en die siening dat een volk meerderwaardig is teenoor ‘n ander een, word ten sterkste verwerp. Belangrik is ook die punt dat hulle ‘n reg tot selfbeskikking op plaaslike vlak het. So ver die teorie. Hierdie sterk klem op die regte van inheemse volkere speel wel ‘n rol in die kompensasie vir byvoorbeeld Amerikaanse Indiane, Kanadese Inuit en Australiaanse Aborigines. Ongelukkig het die verklaring teen talle volksmoorde in die Derde Wêreld, soos in Darfur, niks gehelp nie. Die regering van Sudan het feitlik elke punt in die Verklaring oortree en tot volksmoord gepleeg en die VN het nog steeds die uitwissing van die Darfuris beskryf as ‘n soort natuurramp wat onbepland en sonder dat een kant die skuld kan kry, neergedaal het.

Waar minderhede in ‘n gebied gekonsentreer is en nie ‘n moederland het nie, is outonomie gewoonlik die eis, partymaal selfs algehele onafhanklikheid. Hoe groter die onderdrukking van die minderheid deur ‘n regering of meerderheidsvolk, hoe groter die begeerte om die grootste moontlike graad van selfbeskikking te bereik.

Minderheidsvolke wat nie oor ‘n staat beskik wat namens hulle optree nie, is egter nie magteloos nie. Daar bestaan wêreldwye skakeling en solidariteit met mekaar. UNPO (Unrepresented Nations and Peoples Organisation) is ‘n drukgroep om ‘n stem te wees vir diegene wat nie ‘n staat het nie. Dit is van groot betekenis dat die Afrikaners (namens die Vryheidsfront Plus) lede van UNPO is, waar ons saam met ander minderheidsvolke (soos die Tibetane, Uigure, Kurde, Ogoni, Aborigines) aandag op ons marginalisering kan vestig en kan beding vir groter erkenning.

As ‘n mens kyk na die ontwikkeling van minderheidsregte kan gesê word dat daar beslis vordering is, alhoewel ook hier geweldige verskille tussen die onderskeie streke bestaan. Die Verenigde Nasies se talle verklarings en dokumente in dié verband het vir minderhede sonder twyfel ‘n werktuig gegee en maak hulle stryd aanvaarbaar en legitiem.  Maar groter erkenning vir minderhede moet nog steeds deur ‘n stryd binne ‘n staat self bereik word. Suksesse van een minderheidsgroep moedig ander minderheidsgroepe elders aan, maar die weerstand van regerings en hulle ewige vrees dat minderheidserkenning tot “afskeiding, bedreiging van nasionale eenheid en tribalisme” lei, veroorsaak dat geen toegewing maklik bereik word nie en die meeste minderheidsgroepe op die een of ander manier moet stry vir hulle regte. Ons moet egter onthou dat nie elke minderheid se stryd noodwendig edel en billik is nie en dat terrorisme ter wille van selfbeskikking nie goedgekeur kan word nie, soos in die geval van die Palestyne in Israel, die PKK namens die Koerde in Turkye en IRA-splintergroepe in Noord-Ierland. Verset wat onsimpatieke regerings tot die onderhandelingstafel dwing, is noodsaaklik, maar dan moet ‘n minderheidsgroep ook weet waar die grens tussen strategiese druk en sinnelose, vernietigende terrorisme is. Te veel afskuwelike terrorisme in veral die Midde-Ooste word gevoer in die naam van die stryd vir Palestynse selfbeskikking.

Stadig maar seker verbeter die situasie egter wel vir minderhede. Laat ons kyk na die omstandighede in elke streek:

Europa

Van alle vastelande het Europa seker die verste gevorder die wat erkening van minderhede betref. Die toedrag van sake is egter duur gekoop. In al twee wêreldoorloë, en in meer onlangse konflikte rondom die einde van die Koue Oorlog in veral die voormalige Sowjet-Unie en Joegoslawië, het die regte van veral etniese minderhede ‘n rol gespeel.

In Europa word op twee maniere na minderhede gekyk: etnies/taalkundig/godsdienstig, en ook wat betref “alternatiewe lewenstyl” en wat homoseksuele, hippies, Rastafarians en mense met gestremdhede insluit. Vir die doeleinde van ons ondersoek word die fokus op etniese minderhede geplaas. Lande kan verdraagsaam wees teenoor die een groep en onverdraagsaam teenoor die ander een. “Volkstate”, lande wat hulle definieer as state wat aan een volk “behoort”, soos veral in Oos-Europa (Roemenië, Slowakye, Kroasië, Serwië, Bulgarye, Pole, ens) is gewoonlik onverdraagsaam teenoor etniese minderhede binne hulle grense, want die minderhede is volksgenote met mense in ‘n ander “volkstaat” en het weens grensverskuiwings in oorloë skielik in ‘n ander staat beland (byvoorbeeld die Hongaarse minderheid in Roemenië en Slowakye). Regerings vrees nog steeds die drang na heraansluiting by die etniese moederland. Die oorloë in die voormalige Joegoslawië het sterk daar rondom gewentel. Die wêreld se nuutste staat in wording, Kosovo, is ’n etnies- en godsdienstig gemotiveerde afskeiding van Serwië, wat die hulp van die EU en VSA daarvoor gekry het na onderdrukking deur Serwië. Montenegro is ook ‘n nuwe staat wat onlangs uit die Serwiese federasie afgeskei het, nie as gevolg van ‘n oorlog nie, maar na ‘n referendum waar die meerderheid van die bevolking gevoel het dat hulle beter daaran toe is op hulle eie. Dit was moontlik omdat Montenegro reeds ‘n deelstaat was met sy eie regering en sy status self kon verander.

Die posisie van etniese minderhede word egter onderskraag deur aan die een kant hulle etniese moederland, wat vir sy volksgenote se belange in die bres tree, asook die Europese Unie wat die beskerming van minderhede as belangrik ag en die gesogte lidmaatskap van die EU en fondse onder andere daarvan afhanklik maak.

Die konsensus is dat minderhede ten minste die reg het op hul eie instellings in hulle taal, soos skole en waar moontlik universiteite, asook verenigings rondom ‘n etniese minderheid.  Die meeste minderheidsvolke in Europa het ook hul eie verteenwoordiging in die nasionale parlemente en is ‘n stem vir hulle mense se belange.

Wes-Europa, by name Frankryk, en tot onlangs toe ook Groot-Brittanje, het egter ‘n tradisie van ‘n “taalstaat” eerder as ‘n volkstaat en is wel verdraagsaam teenoor “alternatiewe lewenstylminderhede” maar erken nie maklik taalkundige en etniese minderhede nie, want die heersende siening is dat die staat genoeg ruimte vir almal bied met sy verhewe kultuur en etniese minderhede dus besig is met ondermyning. Frankryk erken nie etniese minderhede nie want die siening is dat Frankryk nie ‘n volkstaat nie maar ‘n taal- en kultuurstaat is en almal wat Frans praat en volgens die Franse kultuur leef Franse is, ongeag godsdiens of ras en afkoms.

Groot-Brittanje het eers relatief onlangs groter erkenning, selfs territoriale subsidiariteit aan etniese minderhede soos die Skotte, Noord-Iere en Walliesers gegee. Die lang stryd van die Ierse minderheid binne Noord-Ierland het uitgeloop op ‘n koalisieregering en groter losmaking van Groot-Brittanje. Skotland en Wallis het hul eie streeksparlemente gekry.  Skotland spesifiek het toe ook ‘n groot mate van selfregering bereik.

Spanje het ook relatief onlangs sy sentralistiese benadering verander, sekere toegewings gemaak en selfs outonomie vir etniese minderhede soos die Baske en Katalane gegee. Nog steeds duur die stryd van die Baske vir algehele vryheid voort, ongelukkig deels ook met terrorisme deur die groep ETA. Die Baskiese streekregering het egter op die politieke pad meer en meer selfseggenskap van die sentrale regering afgerokkel.

Die Katalane streef in hulle meerderheid nie na algehele onafhanklikheid nie, maar wel na groter outonomie.  Katalonië het ook sy eie streekregering en het ook invloed op nasionale vlak deur middel van die party PiU wat die Katalane se belange in die koalisiereging verteenwoordig. Die erkenning van die Katalaanse taal in die openbaar speel ook ‘n groot rol.

In Italië moes die Duitssprekende minderheid van die Suid-Tirolers ook lank stry vir groter seggenskap en het intussen selfs ‘n semioutonome streek verkry. Die opwenteling van die lidlande se sentrale gesag na die Europese Unie skep terselfdertyd geleenthede vir afwenteling van mag na streke en provinsies met ‘n ander etniese samestelling. Die Suid-Tirolers moes egter ook by tye teruggryp op verset en sabotasie om aandag te kry. Die feit dat Oostenryk as hulle etniese moederland namens hulle kon optree en met Italië onderhandel het vir groter erkenning, het ook gehelp.

In België het die met die Afrikanernabyverwante Vlaminge reeds ‘n groot mate van selfseggenskap bereik, maar dit ook dit nie sonder ‘n lang stryd teen Franssprekende oorheersing nie. Interessant genoeg, het demokrasie die Vlaminge bevoordeel, want hulle is getallegewys ’n meerderheid.  Hulle is egter vir eeue deur die Franssprekende elite gemarginaliseer (vergelykbaar met Suid-Afrika in die vroeë 20ste eeu, waar die Afrikaners ‘n getallemeerderheid teenoor die Engelse gehad het, maar laasgenoemde die magselite was). Vlaandere het sy eie streekregering en funksioneer reeds in die praktyk soos ‘n eie staat, met die gesamentlike federale Belgiese regering wat weens meningsverskille tussen die deelstate nie behoorlik funksioneer nie.

Skandinawië is die enigste streek in Europa wat oor “inheemse minderhede” beskik, naamlik die Sami in die noorde van Finland, Swede en Noorweë, asook die stamverwante Inuit (oftewel Eskimo’s) in Groenland (geografies deel van Noord-Amerika, maar polities tans nog deel van Denemarke). Die Sami geniet beskerming en kulturele erkenning. In die geval van Groenland, aangehelp deur geografiese skeiding en fiskale uitgawes, het die Deense regering reeds selfbestuur toegestaan met onafhanklikheid in die vooruitsig (vir ‘n volk van omtrent 50 000 mense).

Noord-Amerika

Aangesien die Verenigde State van Amerika (VSA) (en in mindere mate ook Kanada) ‘n land is wat deur diverse immigrasie gevorm is en homself as ‘n smeltkroes sien en ‘n baie inklusiewe patriotisme huldig wat nie aan een etniese groep gekoppel word nie, bestaan daar in die lees van die regering nie iets soos etniese minderhede nie. Die siening word ook aangehelp deur ‘n groot mate van taaleenvormigheid (Engels, maar Spaans wen toenemend veld). Die VSA beskik wel oor, en gee erkenning aan, inheemse minderhede, by name die Indiane. Die Indiane verteenwoordig slegs omtrent 1% van die VSA se bevolking maar het ‘n mate van selfbestuur in hulle reservate en ontvang toelaes van die staat. Die hartseer is egter dat hulle in die reservate nie meer hulle verlore identiteit kan terugvind nie, want as ‘n identiteit eenmaal vernietig is, is dit uiters moeilik, indien nie onmoontlik nie, om dit weer terug te kry.

Verder beskik Amerika oor ‘n groot verskeidenheid groepe wat as gemarginaliseerde minderhede deur die liberale hoofstroom beskou word, soos die Negers, oftewel Afro-Amerikaners, en die mense van Spaanssprekende herkoms (meesal Mexikane) en waarvoor daar spesiale maatreëls geld om hulle teenoor die wit meerderheid te beskerm en selfs te bevoordeel. “regstellende aksie” met betrekking tot toegang tot opleiding en fondse bestaan in talle state binne die VSA.

In Kanada is minderheidspolitiek ietwat meer relevant omdat Kanada oor ‘n Franssprekende minderheid beskik, wat die meerderheid in die provinsie Quebec vorm. Die Franssprekendes geniet ‘n groot mate van kulturele erkenning (weliswaar na ‘n politieke stryd) en in die provinsie Quebec is Frans die amptelike taal. Quebec het ook sy eie regering met aansienlike magte teenoor die federale Kanadese regering. Quebec het selfs die moontlikheid tot afskeiding, maar twee referendums oor afskeiding van Kanada is naelskraap verwerp. Die belangeparty van die Franssprekendes, die Parti Quebecois, is nasionaal en provinsiaal (deur die Bloc Quebecois) verteenwoordig en het by tye ook die provinsiale regering van Quebec gelei.

Wat die inheemse volke betref, beskik Kanada oor verskeie Indianestamme asook oor die Inuit, hulle inheemse volk in die noordelike dele. Die Indiane word vergelykbaar hanteer as in die VSA en het reservate. ‘n Beweging om hulle identiteit te herwin is aan die gang. Die Inuit het selfs sowat ‘n dekade gelede hul eie semioutonome streek gekry wat uit die Kanadese “Northern Territory” uitgesny is, by name Nunavut. ‘n Mens kan hier van ‘n “Eskimo-volkstaat” praat met ‘n geweldige oppervlakte en yl bevolking. Wat die Inuit gehelp het, anders as met die Indiane, is dat hulle tradisioneel daar woon waar die wit immigrante se belangstelling geëindig het omdat die gebiede ekonomies waardeloos en onherbergsaam is.

Latynsamerika

Latynsamerika pleeg in ‘n mate ‘n voortsetting van die Noord-Amerikaanse smeltkroesidee, want ook hier het die meeste lande ontstaan uit ‘n vermenging van inheemse volke (Indiane) en immigrante (witmense en negerslawe). Brasilië is by uitstek ‘n voorbeeld daarvan, waar ideaal gesproke almal Brasiliane is, ongegag velkleur, aangesien almal een gemeenskaplike taal (Portugees) en kultuur het, volgens die staat se eie vertolking.  Inheemse minderhede speel egter toenemend ‘n rol in Brasilië en die res van Latynsamerika. Die lang gemarginaliseerde Indiane begin hulle regte opeis en het reeds plek-plek erkenning en selfs beskermde gebiede in dele van die Amasone-oerwoud gekry. Die druk van setlaars en ontginners van minerale is egter sterk. Konflik oor stamgronde wat aan die Indiane toegestaan is en waar hulle die reg het om hulle op plaaslike vlak te regeer, maar wat deur setlaars op soek na landbougrond of minerale bedreig word, kom gereeld voor. Die verdediging van die Indiane se regte deur die regering is in praktyk nie so maklik nie, en die wil bestaan ook nie altyd nie.

In Peru het ‘n konflik oor olieontginning in ‘n Indiaanse stamgebied tot bloedige konflik gelei waar Indiane en regeringsmagte slags geraak het. Weens die druk van die wêreldmening is dit egter ten gunste van die Indiane besleg. Die VN se beywering vir inheemse volke help ook.
In sekere lande, waar die Indiane selfs die meerderheid van die bevolking vorm (by name Bolivië) ontstaan tans ‘n etniese herlewing en ‘n Indio-nasionalisme. Inheemse tale en ‘n kultuur begin ontwaak na dekades se assimilasiepogings en politieke onderdrukking. Ook in Guatemala en in die suide van Mexiko begin Indios kultureel ontwaak.
Oor die algemeen speel etniese identiteit egter in Latynsamerika nie so ‘n sterk rol nie weens die sterk vermenging van rasse en die universele taal Spaans (en Portugees in Brasilië).

Afrika

Afrika verkeer al sedert onafhanklik in ‘n ewigdurende spanning tussen sterk etnisiteit (die vasteland beskik oor ‘n magdom stamme en volke wat tradisioneel oor hul eie gebiede beskik het, eie tale spreek en vir hulle lewensruimte moes veg) aan die een kant, en die appel tot nasiebou en die opneem van die nuwe identeit van ‘n kunsmatige staat, aan die ander kant.

Om te definiëer wat minderhede en wat meerderhede is, is in die meeste gevalle moeilik, want in feitlik geen staat (uitsonderings is die “volkstate” Lesotho, Swaziland en Botswana) beskik een volk oor ‘n volstrekte meerderheid, en dus word die mag van die een groep of volk gewoonlik deur middel van korrupsie en militêre mag staande gehou. Eerder as meerderheid en minderheid moet ons praat van heersende en oorheerste volke.

Konflikte tussen etniese groepe is te veel om op te noem. Die langdurigste en dikwels mees gewelddadige konflikte vind egter op kulturele breuklyne tussen rasgroepe plaas. ‘n Lyn van konflik loop suid van die Sahara, waar Arabiese en tradisioneel nomadiese en ??swart volke op mekaar tref. Van land tot land wissel die heersende en die oorheersde groep. In die Sudan het die Arabiere die mag en onderdruk en vermoor die Nilotiese volke (Dinka, Nuer) en die swartmense van Darfur. Een van die ergste volksmoorde, so onlangs soos 2005, het in Darfur plaasgevind, en die volksmoord teen die Suid-Sudanese is ook maar eers baie onlangs na ‘n vredesverdrag afgelas. In Mali is dit weer die nomadiese Tuareg wat die gemarginaliseerde groep is en vir groter regte en selfbeskikking teen die Bambara-oorheerste regering veg. ‘n Vredesooreenkoms is daar in die laat 90er jare bereik, maar die vraagstukke van Tuareg-selfbeskikking bly onopgelos. Te dikwels word etniese konflik nie opgelos nie omdat die bemiddelaars se voorstelle nie verder gaan as ‘n terugkeer na die status quo nie.

In Nigerië vind konflik rondom godsdiens (met etnisiteit wat wel ook ‘n rol speel) en langs die noordsuidverdeling plaas. Gewoonlik is Christelike minderhede (soos die Ibo) in die Moslem- en Haussa-Fulani-oorheersde noorde aan die ontvangkant en loop gereeld deur onder aanvalle en plunderings. In die suidooste van Nigerieë is die volke van die Niger-delta in opstand teen die regering en veg vir groter beheer oor eie sake, oor die olieinkomste en teen marginalisering.

In Oos-Afrika, by name Ruanda, Burundi en in die ooste van die Kongo vind gewelddadige konflik gewoonlik tussen die Hutus en Tutsis plaas, met laasgenoemde as die minderheid wat in 1994 slagoffers van ‘n volksmoord was.  Sedertdien het hulle beheer oor Ruanda geneem. Die ewigdurende konflikte in die Ooste van die Kongo het ook dikwels te doen met Tutsi-marginalisering. In Uganda is daar weer konflik tussen die volke in die suide wat die land se elite is en die volke in die noorde wat afgeskeep word.
Kenia het aan die begin van 2008 ‘n onverwagse en hewige etniese konflik beleef na dispute oor die verkiesingsuitslag. Die regerende KANU-party word oorheers deur die Kikuyu, wat sedert onafhanklikheid die rol van die elitevolk in Kenia speel, terwyl die opposisieparty ODM veral Luo en ander kleiner volke verteenwoordig. In die stamlande van die verskillende volke is etniese aanvalle en etniese suiwering bedryf teen die onderskeie minderheidsgroep. ‘n Magsdelingsooreenkoms kon die bloedvergieting eers beeindig, alhoewel die onderliggende faktore geensins opgelos is nie.

In Suid-Afrika, wat ook lynreg in die “een nasie”-kraal sit, kry ten minste “inheemse minderhede” soos die San, Griekwas, Khoi-Khoi en ander groter erkenning. Die San het byvoorbeeld hulle stamgronde teen die Kalahari-Gemsbokpark terugontvang. Die onderliggende sentiment daarby is egter dat hulle as “swart” volke geslagte lank deur blanke setlaars en veroweraars onderdruk en uitgeroei is en nou daarvoor gekompenseer moet word. Kenmerkend daarvan  eis die huidige Suid-Afrikaanse regering met sy ideologie van swart slagofferskap die San op as eerste slagoffers van blanke kolonialisme (byvoorbeeld word die San eksplisiet genoem by die Vryheidspark) en verswyg daarby gerieflikheidshalwe dat die San net soveel, indien nie meer nie, die slagoffers was van onderdrukking, mishandeling en uitroei deur sterker swart volke soos die Xhosa.

In Botswana het die San teoreties die reg tot hul eie stamgrond, maar die regering verhinder die implementering daarvan en sien die San as ‘n struikelblok op pad na ontwikkeling en vooruitgang.

Omdat Afrika so ‘n lang geskiedenis van vyandskap tussen sy verskillende etniese groepe het, is die heersers uiters onwillig om enige toegewings aan die gemarginaliseerde groepe te maak. Regte en outonomie vir etniese groepe word gewoonlik in ‘n baie negatiewe lig beskou, gekoppel aan apartheid of separatisme. Gelukkig vir etniese minderhede is die staat dikwels oneffektief en bly “nasiebou” oftewel gedwonge insmelting van etniese identiteite in ‘n kunsmatige staatspatriotisme gewoonlik net propaganda. Die mense bly aangewese op hul etniese verband as enigste werkende eenheid, al is dit op ‘n lae en beperkte vlak.

Nogtans kan Afrika ook nie die realiteit van minderhede, oftewel etniese groepe wat op selfbeskikking aandring, ontsnap nie. Hier en daar is daar bemoedigende tekens vir voorheen onderdrukte volke. Na die burgeroorlog het die eens sentralistiese en streng marxistiese staat Ethiopië, waarin die volk van die Amhara die mag onder mekaar opgedeel het, verander in ‘n federasie en deelstate op etniese grondslag het ontstaan. Die etniese staat Eritreë het reeds in 1994 van Ethiopië weggebreek. Dit is ‘n voorbeeld vir Afrika wat egter nog nie veel navolgers gekry het nie. In Sudan mag die Nilotiese Suid-Soedan in die nabye toekoms van die Arabiese Noorde wegbreek, nadat ‘n referendum oor afskeiding en onafhanklikheid deel was van die vredesverdrag wat na ‘n dekadelange en uiters wrede burgeroorlog onder bemiddeling van die VSA bereik is.  Tans is Suid-Soedan reeds outonoom. In Nigerië, wat die trauma van ‘n etniese afskeidingsoorlog in die laat 1960’s beleef het, word deelstate grootliks etnies en godsdienstig omlyn. Minderhede wat veg vir erkenning kry groter blootstelling en internasionale simpatie.

Voor daar egter enige beduidende verbeterings in Afrika bereik kan word moet die elites wegbeweeg van slagspreuke soos “for the nation to live, the tribe must die!” en aanvaar dat Afrika uit etniese groepe bestaan wat so ver moontlik geakkommodeer moet word as langtermyn stabiliteit ‘n kans moet kry om te slaag.

Asië

Asië is te groot en te uiteenlopend om van ‘n eenvormige hantering van minderhede te kan praat.
Anders as in Amerika het emigrasie van buite en vermenging nie so ‘n groot rol gespeel nie en beskik Asië oor oeroue ryke wat reeds eeue lank bestaan (Japan, Sjina, Indië, Persië, Thailand e.a.). Minderhede wat egter net so lank soos die meerderheidsvolk in die state leef, kom wel dikwels voor. Oor die algemeen is sake nie te goed bestel vir minderhede nie. Die grootste land van Asië, Sjina, onderdruk sy minderhede genadeloos. Die onderdrukking neem verskeie vorms aan, van brute geweld deur staatsorgane wat enige politieke aktiwiteite verbied en lede van die minderhede in tronke stop en martel, tot etniese oorheersing deur die massiewe inpomp van etniese Han-Sjinese in die streke wat deur minderhede bevolk word.  Die Uigure, ‘n Turkvolk wat die Moslemgeloof aanhang en in die westelike woestyngedeeltes bly, se eiesoortige kultuur word fisies en sielkundig afgebreek en die kommunistiese regering gaan selfs so ver as om historiese stede soos Kasjgar af te breek en die ou Middeleeuse huisies te vervang met eenvormige woonstelblokke volgens die kommunistiese gelykheidsideologie. Gelyktydig vind etniese verdringing plaas deur die massiewe vestiging van etniese Sjinese in die ylbevolkte streke van die minderhede plaas. Godsdiensuitlewing word aan bande gelê en enige politieke aktiwiteite is verbode. Internasionaal meer bekend is die lot van die Tibetane, wat nes die Uigure sowel demografies verswelg, fisies onderdruk en kultureel en geskiedkundig afgetakel word. Ook die Mongole in Sjina ervaar ‘n soortgelyke hantering.

In die ander reus van Asië, Indië, lyk dinge heel anders, want Indië was nog altyd ‘n land van geweldige groot verskeidenheid en het nie ‘n staatsvolk nie. Verdeling geskied wel rondom godsdiens en alhoewel van staatsweë beskerm, word godsdienstige minderhede soos Christene aan diskriminasie op grondvlak blootgestel. Indië het egter ‘n federale stelsel en minderhede kan in sekere deelstate ‘n invloedryke rol speel.

In Birma word etniese en godsdienstige minderhede soos die Sjan, Mon, Rohingya en Karen stelselmatig vervolg en militêr beveg. Birma se militêre bewind steur hom ook andersins nie aan menseregte nie. Minderhede se situasie sal eers verbeter as Burma eendag ‘n demokratiese regering kry.  Maar dit blyk nie iets vir die afsienbare toekoms te wees nie.

In Sri Lanka het die aanvanklik belowende situasie van die Tamile, wat op die punt gestaan het om outonomie oor hul gebiede te kry, erg versleg. In ‘n oorlog het die sentrale regering die Tamile en hulle rebelleorganisasie, die LTTE (Liberation Tigers of Tamil Eelam) militêr verslaan en duisende burgerlikes is in die proses dood. Die skuld daarvoor lê ook gedeeltik voor die deur van die Tamile, want as ‘n minderheidsgroep beduidende toegewings in onderhandelinge bereik het en outonomie kry, is dit nie die aangewese ding om met bomaanvalle voort te gaan nie. ‘n Soortgelyke situasie geld vir die Palestyne, wat deur voortgesette terrorisme die suksesse by die onderhandelingstafel bedreig.

In die Filipyne, wat uit ‘n magdom eilande bestaan, word minderhede veral godsdienstig gekenmerk, maar wel met ‘n etniese ondertoon. In die Filipyne se suidelike dele veg die Muslim-minderheid met insurgensie en terrorisme vir ‘n eie staat.

In Indonesië, self ‘n gematigde Moslemstaat, poog die radikale minderheid in die Aceh-streek op die eiland Sumatra om met geweld af te skei. Aan die ander kant van die uitgestrekte eilandstaat veg die Papuas van Indonesies-Nieu-Guineë vir afskeiding en aansluiting by hul etnies identiese buurland Papua-Nieu-Guineë. Ook op ander eilande in die periferie veg nie-Indonesiese volke vir meer selfbeskikking. Indonesië se antwoord is etniese getallepolitiek deur die grootskaalse vestiging van setlaars van die hoofeiland Java op die eilande waar minderheidsvolke woon. Dit gee op sy beurt aanleiding tot geweld, konflik en etniese spanning.

Maleisië benadeel sy minderhede openlik deur middel van die wet, vergelykbaar met Suid-Afrika se diskriminerende wetgewing teen blankes (alhoewel dit in Maleisië nie so omvattend is nie). Die Sjinese en Indiese minderhede word benadeel teenoor die Maleise meerderheid (byvoorbeeld toegang tot opleiding en fondse, kontrakte, ens) omdat die minderhede ver bo hulle getalleverhoudings in die ekonomie verteenwoordig is en op bykans elke terrein die meerderheid uitpresteer.

In die Midde-Ooste veg die Kurde, een van die grootste volke sonder ’n eie land, al lank vir onafhanklikheid of ten minste outonomie en erkenning van hulle taal en kultuur en is vir dekades deur die lande waarin hulle woon, by name Turkye, Iran en Irak, brutaal onderdruk. Dinge het egter begin verbeter met die verwydering van Saddam Hussein in Irak en die daarstel van ‘n semi-outonome Kurde-streek in die land. Dit is te danke aan die federale opdeel van Irak op druk van die VSA. Selfs Turkye begin die Koerde effens beter hanteer. Van outonomie vir die Kurde in Turkye kan egter geen sprake wees nie want Turkye leef in die waan dat dit ‘n etnies homogene land is en Kurde en ander minderhede dus nie bestaan nie. Selfs die gebruik van die Kurdiese taal in die openbaar word verbied.

Die Kaukasus-streek is ‘n kookpot van klein etniese groepe wat deels outonome gebiede binne die state van die streek het, deels veg vir afskeiding of aansluiting by hulle etniese stamlande (byvoorbeeld die konflik rondom Karabach tussen Armenië en Azerbaidsjan).

Rusland speel ‘n siniese spel met etniese minderhede. Aan die een kant word minderhede soos die Tsjetsjene gewelddadig onderdruk (wat deels ook hulle eie skuld is, met Islamitiese terrorisme wat in die gebied lewendig is).  Aan die ander kant tree Rusland as beskermer van minderhede op waar dit in sy belang is en om sodoende klein buurstate te verswak. Die voorbeeld by uitstek is Rusland se optrede teen Georgië en ten gunste van die Ossete en Abchaze. Minderhede word hier misbruik vir ‘n politiek van verdeel en heers.

Australië/Oseanië

Die staat Australië volg teenoor sy Aborigines-minderheid (een van die inheemse volke van die wêreld) ‘n vergelykbare beleid as die VSA of Kanada teenoor Indiane of Inuit. Groot dele van die land is aan die Aborigines teruggegee as hulle tradisionele erfgrond, met die veronderstelling dat dit vir tradisionele gebruike aangewend word (byvoorbeeld plekke van aanbidding). Verder ontvang hulle ook kompensasie en toelaes van die staat weens die ongeregtighede van die verlede. Die Aborigines se getalle is egter beperk, omtrent 3% van Australieë se bevolking.

Ook in Nieu-Seeland word ‘n vergelykbare beleid teenoor die inheemse volk van die Maori’s gevolg, wat egter oor ‘n groter invloed en getalleverhouding beskik (omtrent 25%). Ten spyte van die toelaes en vergoedings (of juis as gevolg daarvan?) bly hulle die armste en maatskaplik mees problematiese deel van die bevolking.

In die eilandgebied van Oseanië, byvoorbeeld in Fidji, tref ons meer tradisionele vyandskap aan tussen inheemse volke (wat tot Polinesiese of Melanesiese volke behoort) en latere intrekkers, soos arbeiders uit Indië, wat ekonomies gewoonlik sterker staan as die inheemse groep. Regerings swaai tussen etniese nasionalisme en benadeling van minderhede wat uit latere intrekkers bestaan aan die een kant, en versoening en staatspatriotisme aan die ander kant.

Samevatting

As ‘n mens holisties na die situasie van etniese minderhede kyk, dan kan vasgestel word dat dit ‘n baie algemene verskynsel oor die wêreld heen is. Etnies homogene state, waarin die bevolking vergeet het of nooit geweet het wat dit is om ‘n minderheid te wees en om vir jou regte te veg, is eerder die uitsondering as die reël.  Pogings om die problematiek van minderhede aan te spreek deur ontkenning, assimilering of selfs etniese uitdrywing en volksmoord is vir niemand ‘n oplossing nie en saai die saad vir voortdurende geweld en konflik.

Veel moet nog gedoen word en state sowel as internasionale organisasies het nog ‘n lang pad om te gaan voor hulle erken dat die minderheidsproblematiek nie opgelos word deur welklinkende verklarings wat nie eerbiedig word nie, en deur minderhede van die onderwerping aan die meerderheid ter wille van vrede te oortuig nie.

Bemoedigende tendense is egter aan die gang. Inheemse volke se regte word erken en hulle kry meer en meer seggenskap oor plaaslike bestuur en oor hulle tradisionele gebiede.  Die Afrikaner het reeds ‘n beduidende stap geneem deur erkenning by die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO) te kry en internasionale aandag op ons stryd om oorlewing en erkenning te vestig. Vir ‘n minderheid om te vorder op pad na selfbeskikking is ‘n getallekonsentrasie in een gebied ‘n voorvereiste want regte van minderhede moet ook deur die minderheid self geimplementeer kan word in ‘n geografiese gebied.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel