fbpx

Orania is wel nie ‘n staat nie, maar ook meer as maar net nog ‘n dorp. Dit is ‘n groeipunt vir ‘n toekomstige Afrikanervolkstaat en die sentrum van die Afrikaner se praktiese vryheidstrewe.

Ons strewe geskied uit die aard van die saak nie in isolasie nie. In tye waar elke vierkantemeter aan die gesag van een of ander staat onderworpe is, is staatskepping van niks af en van nuuts af beslis nie maklik nie en kan ook nie in isolasie geskied nie.

Om ons strewe te verwesenlik moet ons die kragte om ons, nasionaal en selfs internasionaal, in ag neem.

Ons kan van verskillende konsentriese kringe praat wie se goedgesindheid of ten minste neutraliteit ons nodig het as ons wil suksesvol voortgaan met ons strewe. Daar is eerstens die Afrikaners, vir wie die staat bedoel is wat ons skep, en wat die mense is wat ons bo al die ander nodig het om ons te steun. Selfs binne die redelik oorsigtelike Afrikanerkonteks werk ons met ‘n wye spektrum. Aan die een uiterste is diegene vir wie ons strewe neerkom op die opgee van die herstel van die ou Suid-Afrika, of ten minste die ou Boererepublieke. Aan die ander uiterste is die Afrikaners wat die idee om nie die nuwe Suid-Afrika met blydskap te aanvaar en daarbinne op te gaan nie, as mal en verkramp beskou. Die groot meerderheid Afrikaners staan selfbeskikking voor, al sou hulle dit nie so noem nie, maar hulle wense getuig daarvan. Hulle soek ‘n veilige, mooi omgewing tussen hulle eie mense, met Afrikaanse skole en kerke en ‘n Christelike lewensbeskouing. Hulle weet egter nie van Orania nie, of het enkele persepsies, partymaal positief, maar meestal negatief.

Die hoofaandag van ons bemarking fokus dus op Afrikaners en Orania skakel met Afrikaanse organisasies oor die hele spektrum, soos  AfriForum, Solidariteit, Vryheidsfront Plus, FAK, Voortrekkermonument, wat ons almal in ‘n mindere of meerdere mate goedgesind is. Dis hier waar ons steun lê en waar ons nuwe inwoners, besoekers, donateurs en lede kan werf.

Volgende staan ons onmiddellike bure, die Afrikaanse boere wat min of meer inskakel by Orania alhoewel min van hulle nog die volkseie arbeidsbeginsel toepas en dan die bruingemeenskappe van die buurdorpe soos Hopetown en Petrusville.  Ons verskil kultureel en wat ons toekomsverwagtings betref, maar ons deel een geografiese gebied en ons moet goeie buurmanskap handhaaf en bevorder. Die onlangse besoek van die nuwe burgemeester van Hopetown, mnr Jonas, was van waarde en die vreedsame naasbestaan en die uitruil van kennis en ondervinding is bevestig. Ons staan by ons beginsels en strewe, maar ons soek nie konflik nie en wil ons fondse en energie liewers vir verdere opbou gebruik, nie vir uitmergelende hofsake en vergaderings oor Orania se status nie.

Nog ‘n groep waarmee ons moet skakel is ander Suid-Afrikaanse etniese groepe wat ook glo aan kulturele behoud en lokalisme. Die besoek van die bruin gemeenskap van Eersterust was reeds ‘n sinvolle uitruiling en onlangs is bande aangeknoop met die tradisionele Xhosa-gemeenskap van Mnyameni in die Oos-Kaap. Orania glo aan selfbeskikking en selfbeskikking is nie beperk tot die Afrikaner nie, maar geld vir elke groep wat die begeerte het om sy eie kultuur uit te leef en in beskerming te neem.

Vir Orania, wat dikwels voorgehou word as ‘n plek van eksentrieke mense wat teen die globale logika stry soos Don Quixote teen die windmeulens, is dit van groot waarde om sustergemeenskappe te kan kry wat ons strewe deel. Dit moet ander Afrikanergemeenskappe met ‘n vergelykbare strewe wees, soos Kleinfontein, waarmee daar reeds goeie bande bestaan, maar ook gemeenskappe van ander minderhede of groepe wat na kulturele behoud strewe en plaaslike ontwikkeling wil bevorder, soos Mnyameni en Eersterust. Vorentoe kan selfs susterdorpe in Suid-Afrika en selfs in ander lande verkry word. Na die Tweede Wêreldoorlog het stede en dorpe in Europa nogal ‘n belangrike bydrae tot versoening van vyandige volke gedoen deur op plaaslike vlak in verskeie lande susterdorpe of stede te kry om gereeld kulturele uitruiling en wedersydse besoeke te besig, wat in elke opsig verreikend was en vooroordele afgebreek het.

Die volgende kring is die regering en ampsdraers wat kultureel en ideologies ver van ons verwyderd is, maar wat belangrike rolspelers is wat nie geïgnoreer kan word nie. As Orania ‘n teiken van die regering word, lê swaar tye vir ons voor. Met die regering en die media se hipersensitiwiteit oor rassisme is dit van uiterste belang om te wys dat Orania oor kulturele selfbeskikking gaan en nie oor rassisme nie. Besoeke van ANC-ampsdraers soos presidente Mandela en Zuma, Aardsbiskop Desmond Tutu en ANC-Jeugleier Julius Malema was groot diplomatieke suksesse om mense wat ons vyande kon wees, te neutraliseer. In die proses het ons geen van ons beginsels prysgegee nie, want dit is Orania se standpunt dat ons ‘n Afrikanergemeenskap is wat sy leefwyse, werkswyse en uitgangspunte graag en met trots aan belangstellendes van enige kultuur bekendstel en wat dalk ook lesse het vir ander plaaslike gemeenskappe.

Die media val ook in dié groep. Ongeag of dit Afrikaanse of Engelse media is, hulle is verbind tot die een-nasie idee en Suid-Afrikanisme en staan dus skepties of selfs vyandig teenoor Orania en sy strewe van selfbeskikking. Goeie skakeling met die media, wat die boodskapdraers na die meeste Suid-Afrikaners is, het egter ook al vir ons punte gewen en die media se gesindheid het verbeter en aanvalle op ons raak minder. Af en toe kry ons selfs positiewe artikels en uitsendings wat vir ons beeld buite baie beteken.

Laastens, maar nie die minste nie, raak ons internasionale skakeling ook toenemend belangrik. Min selfbeskikkings- of bevrydingsbewegings kon iets regkry sonder internasionale ondersteuning. ‘n Bekende voorbeeld is die ANC, wat intern nie juis ‘n faktor was nie, maar deur internasionale steun opgeblaas is tot die enigste legitieme verteenwoordiger van die meerderheid van Suid-Afrik se bevolking. Ons internasionale skakeling is nog in sy kinderskoene, maar verskeie skakelbesoeke aan verskeie Europese lande soos Nederland, Brittanje, Vlaandere, Suid-Tirool en Duitsland is al onderneem en formele bande is gevorm met spesifiek die Suid-Tirolers en Vlaminge. Dit het begin met besoeke van mense wat nuuskierig was oor Orania ‘n paar jaar gelede en is intussen al ‘n groeiende en vrugbare vriendskap met formele strukture en groot donasies vir die uitbou van Elim is reeds ontvang van die Suid-Tirolers, Vlaminge en Nederlanders. ‘n Formele sustersdorpooreenkoms met ‘n Suid-Tiroolse en Vlaamse dorp sal die kroon daaroor span.
Die steun wat ons op die sosiale media kry uit verskeie oorde, die gereelde e-pos steunboodskappe en navrae en die lewende debat wat heers moet ook nie onderskat word nie.

Die doel van goeie diplomasie is om met diegene wat jou vriende kan wees, soos ander Afrikaners, ander plaaslike gemeenskappe en Europese broedervolke, maksimale bande te vorm en mekaar te ondersteun en om diegene wat jou vyande is of kan wees, soos die regering en die media, so ver te kry dat hulle jou en jou strewe aanvaar en vreedsame naasbestaan handhaaf.