“Wat’s in ‘n naam?” is taalkundig gesproke ‘n kostelik dubbelsinnige frase. Enersyds is dit ‘n ooglopende anglisisme, te meer omdat dit William Shakespeare se insig oproep dat ‘n roos ewe lekker sal ruik, wat jy dit ookal noem. Andersyds is dit ‘n onteenseglike aanduiding dat Engels ‘n Germaanse taal is – náby familie van Afrikaans.

Dit is egter nie my bedoeling om lesers met taalkundige kwessies besig te hou nie, maar eerder met die inhoud van die frase en wel met betrekking tot die drieledigheid van ons eie vereniging se naam en die geskiedenis daarvan. Ons grondwet bepaal dat ons vereniging die Afrikanervryheidstigting heet, dat dit na Vryheidstigting verkort kan word en dat dit kan handel as die Orania Beweging. Maar waarom is dit so en wat beteken dit? Die vrae regverdig ‘n hele boek, maar kom ons begin deur ‘n paar kort gedagtes daaroor te deel.

Eerstens is die Afrikanervryheidstigting die naam waaronder ons vereniging in 1987 gestig is en wat nou nog onveranderd bly staan. Dit is as navorsingsinstelling opgerig en het ondersoeke na die verkieslikste volkstaatgebied vir Afrikaners geloods. Sy ondersoeke het die westelike deel van Suid-Afrika en aanvanklik selfs die suidelike deel van Namibië as demografies haalbaar uitgewys en hom op die pad daarheen geplaas.

Hoewel die meeste Afrikaners dit aanvanklik as ‘n té geringe aanspraak beskou het, het die politieke omwenteling wat daarna plaasgevind het en die gevolge daarvan, hierdie insig nog net bevestig. Om die teoretiese plan prakties in werking te stel is die aanvanklike stigting gedurende die vroeë negentigerjare in ‘n ledevereniging omskep – die een waaraan ons almal nou behoort.

Die afkorting wat destyds gebruik is, was natuurlik AVSTIG, ‘n akroniem wat by die gedagte van sesessie/afstigting van Suid-Afrika aangesluit het en aan ‘n redelik militante houding onder groot getalle behoudende Afrikaners jeens die moontlikheid van ‘n swart meerderheidsregering uitdrukking gegee het. Dit is eintlik nie verbasend dat die naam dikwels met ‘n -f- in plaas van ‘n -v- gespel is nie.

Ten spyte daarvan dat talle Afrikaners gemeen het dat ons op te min aanspraak maak, het dit gou geblyk dat die eise wat werklike afstigting sou stel, vir hulle heeltemal te hoog was en dat hulle liewer onder die nuwe meerderheidsregering in ‘n onverdeelde Suid-Afrika sou inval. Daarmee is AVSTIG as afkorting en handelsnaam in werklikheid agterhaal.

Dit is die rede waarom ons in 2001 besluit het om ons grondwet so te wysig dat ons die naam enersyds net tot Vryheidstigting afkort en anderyds ‘n handelsnaam kies wat nie na ‘n afgeleide en ietwat abstrakte aspek soos een moontlike prosedure van staatstigting verwys nie, maar na die konkrete werklikheid van ‘n funksionerende gemeenskap wat met die oog op selfbeskikking in ‘n volkstaat gevestig is.

Ons het op Orania Beweging besluit omdat dit nie net na Orania as onbetwisbare werklikheid verwys nie, maar ook na die beweging wat daardeur en daarrondom besig is om tot stand te kom. Beide die konkrete werklikheid as die idealistiese strewe is dus daarin vervat.

Maar wat het dit met Shakespeare se roos te doen? Dalk kan mens dit só stel: dat dieselfde soet geur wat vir sommige van die woord “vryheid” uitgaan, vir ander van die naam “Orania” uitgaan. Party mense put hulle inspirasie uit die abstrakte begrip wat hulle in vervulling wil sien gaan, uit die beroep op en strewe na vryheid. Vir hulle is “vryheid” nie ‘n blote konsep nie, dit is ‘n lewende simbool terwyl “Orania” dalk min of meer net ‘n blote plek is. Ander put hulle inspirasie uit die werklikheid van mense wat, sover dit tans moontlik is, reeds hulle vryheid beoefen en dit langs dié weg wil vestig en uitbrei. Vir hulle is “Orania” ‘n lewende simbool en wegwyser, ‘n woord swanger aan betekenis, terwyl “vryheid” dalk ‘n  oorgebruikte woord uit ‘n vorige era is.

Ek loop beide hierdie vertolkings raak in die soms subtiele, soms bombastiese voorkeure van ons lede en ondersteuners. Onder ander omstandighede het “vryheid” en “republiek” reg langs mekaar in ons mense se emosionele register kom lê. In ons tyd sal dit toenemend van “vryheid” en “Orania” ook waar wees. Ek glo nie ons moet tussen die twee simbole probeer kies nie; ons kan met gemak en sukses die Vryheidstigting wees wat ook as die Orania Beweging optree.