by Orania Beweging | Apr 14, 2014 | Nuus |
Daar is baie mense wat hierdie vraag aan my gevra het, met die die skeptisisme dat dit nie suksesvol kan wees nie.
Ek het saam met my ouers as dertienjarige seun vanaf ‘n groot stedelike gebied na Orania verhuis. Aanvanklik was dit vreemd en ‘n wegbeweeg na ‘n plattelandse omgewing het vervelig gelyk omdat die avontuur van die stad gelok het. Tog het daar ‘n verandering van waardes plaasgevind. Na skool het ek gaan studeer en is weer stad toe maar my hart het hier gebly. Toe ek en my vrou terugkeer na Orania kon mense dit nie glo nie. Ek is lief vir ons ontwikkelende Karoodorp, wat feitlik daagliks nuwe inwoners bykry.
Die kommer wat ek het, is dat te veel groei en ontwikkeling gaan plaasvind en mettertyd dit wat ons nou ervaar soos om rustig in die straat te stap, ‘n vleisie saam met jou buurman te braai of kinders wat tot laataand baljaar, verlore sal gaan.
Orania is vir my die plek waar die ideale wat ek koester, uitgeleef kan word. Orania is ‘n Afrikaanssprekende gemeenskap waar nie net indiwidue na hul eie belange omsien nie maar ook gemeenskaplike belange deel soos die uitleef van christenskap, kultuurbevordering en die voer van ‘n veilige bestaan.
Selfwerksaamheid hou finansiële voordele vir die hele gemeenskap in. In Orania is welgestelde en minderbevoorregte inwoners. Tog is hier geen bedelaars nie. Deur die gemeenskap word omgesien na die gemeenskap. In dieselfde asem bestaan hier ook nie ‘n plafon vir hardwerkende entrepreneurs wat die gemeenskap deel met mindergegoedes nie.
Baie van die nuwe intrekkers besef gou die uitwerking van die gemeenskapsbetrokkenheid nadat hulle hier gevestig het. Binne die gemeenskap beleef hul positiewe aspekte soos die vier van christelike vakansiedae, algemene gasvryheid en hardwerkendheid. Dit alles kan nie in geld gemeet of op grond van status bekom word nie.
Wat veiligheid betref, is Orania totaal anders. Hier glo ons dat veiligheid ‘n eienskap van ‘n gesonde gemeenskap is. Orania is egter nie heeltemal misdaadvry nie. Deur die proaktiewe optrede van die gemeeenskap word ernstige of gereelde misdaad voorkom. In teenstelling met veiligheids-komplekse elders is ons in Orania gefokus om misdaadprobleme op te los in plaas van die bou van hoër mure.
Ek en my vrou se keuse is Orania omdat ons hier tuishoort. Elkeen moet maar self besluit watter opofferings hy/sy bereid is om te maak vir die bereiking van ons selfbeskikkingsideaal.
by Jaco Kleynhans | Apr 10, 2014 | Nuus |
Die tradisionele Afrikaanse media verkeer in ‘n krisis. Die groot Afrikaanse koerante se verkope daal so vinnig dat hulle nie meer vir lank volhoubare publikasies sal wees nie. Afrikaners kry eerder hul nuus op die internet en veral op webbladsye wat nie deur Naspers beheer word nie en in kleiner gemeenskapskoerante. Wat radio aanbetref verkies mense toenemend om na gemeenskapsradiostasies te luister, eerder as na die openbare uitsaaier se polities korrekte radiopoging.
Afrikaanse joernaliste is uit voeling met hul eie teikenmark. Die probleem begin reeds by ons universiteite waar joernalistiekstudente deur vêrlinkse dosente opgelei word. Stellenbosch Universiteit se joernalistiekskool is ‘n teelaarde vir linkse ekstremisme. Dit is ook die plek waar ‘n groot hoeveelheid jong Afrikaner studente as joernaliste opgelei word.
Ons probleem is nie uniek nie. Regoor die wêreld beleef konserwatiewe instellings en individue dat die hoofstroommedia deur mense links van die politieke spektrum beheer word. Daar is minstens twee redes hiervoor. Eerstens is kinders uit meer konserwatiewe huishoudings geneig om eerder beroepsrigtings soos ingenieurswese, finansiële en mediese dienste te kies. Konserwatiewe kinders kom gewoonlik ook uit huise waar die ouers een van hierdie hoogs professionele beroepe beklee of waar die ouers entrepreneurs is. ‘n Beskouing dat die geesteswetenskappe en onderwys nie die regte beroepskeuse is nie, heers dus telkemale in konserwatiewe huishoudings.
Daarteenoor sien ons dat in liberale huishoudings waar die ouers hulself in die politiek, kunste of mediawêreld bevind kinders juis ook hierdie beroepsrigtings kies. Die tweede rede waarom die media deur persone links van die politieke spektrum beheer word, is dat byna alle dosente wat hierdie studierigting by universiteite doseer, self links is. ‘n Studie in die VSA het bewys dat meer as 80% van alle universiteitdosente links van dié land se politieke spektrum is. Ook in Suid-Afrika sien ons by die meeste universiteite dat die kommunikasie en joernalistiekdosente uitgesproke links is. Selfs kinders uit konserwatiewe huishoudings word binne drie of vier jaar in linkse joernaliste omskep.
Dit alles bring mee dat talle nuuskantore vandag totaal uit voeling is met die mense vir wie hulle nuus versamel en verpak. Joernaliste word politieke kommentators eerder as verslaggewers. Joernaliste wil beïnvloed eerder as inlig. Die joernalistiek is veronderstel om een van die mees nederige beroepe op aarde te wees. Ons bespeur egter vandag toenemend ‘n intellektuele meerderwaardigheid by joernaliste. Die koerantredakteur van ouds se hoofdoel was om nuus so objektief, volledige en korrek weer te gee. Vandag wil party redakteurs eerder vir hul lesers vertel hoe hulle moet dink. Adriaan Basson van Beeld is hier seker die beste voorbeeld.
Wat staan ons te doen? Eerstens moet Afrikanerinstellings saamwerk om ‘n onafhanklike, Afrikaanse mediaskool tot stand te bring. Tweedens moet ons seker maak dat meer van ons jongmense in joernalistiek opgelei word. Vir jongmense wat tans joernalistiek studeer moet daar goeie begeleiding deur die linkse oerwoud op hul universiteitskampusse gebied word. En laastens moet ons voortgaan om meer volhoubare alternatiewe media te skep. Slegs dan kan ons ‘n balans skep wat hopelik die hoofstroommedia tot hul sinne sal bring.
by Sebastiaan Biehl | Apr 8, 2014 | Nuus |
Een persepsie wat besoekers dikwels van Orania het, is dat dit wat ons as “Orania se grond” beskryf, dus grond wat aan inwoners van Orania behoort of mense wat volgens die Orania-beginsels (veral volkseie arbeid) werk, aan die Dorpsraad behoort en as kollektiewe plaas bestuur word, waar almal op sosialistiese manier saamwerk en dan die grootste deel van die opbrengs aan die bestuur aflewer, wat die opbrengs dan weer aan die inwoners teen goedkoop pryse te koop aanbied.
In dieselfde denkpatroon val ook die idee dat die Dorpsraad huispryse moet vasstel en mense van buite moet subsidieer om in Orania te kom vestig en dat die Dorpsraad, of watter Orania-instansie ook al, werk moet skep vir Afrikaners.
Kom ons begin voor: Dit is al genoeg kere bewys dat die sosialistiese stelsel ‘n totale mislukking is, ongeag in watter land of onder watter omstandighede dit toegepas is. Orania sou al tot niet gewees het as dit volgens sosialistiese beginsels bestuur was.
Die vryemarkstelsel het ook sy beperkinge, maar werk, en kan ook hier en daar aangepas word, soos die Duitse kansellier Konrad Adenauer na die Tweede Wêreldoorlog bewys het met die “Sosiale Mark-ekonomie”.
Dit kom daarop neer dat die beginsel van die vrye mark bly funksioneer, omdat dit die mees doeltreffende stelsel is vir die skep en verspreiding van produkte en dienste, maar dat negatiewe gevolge, soos uitbuiting en oormatige ongelykheid deur die staat getemper moet word.
Orania is nog in ‘n groeifase en in terme van ‘n staat of gemeenskap nog baie jonk en eintlik maar nog steeds in ‘n (meer gevorderde) pioniersfase. Besighede betaal dikwels nog lae salarisse in vergelyking met die res van Suid-Afrika, maar hulle het ook ’n relatief klein omset. Die Orania- instansies gryp nie hier in nie en bepaal byvoorbeeld nie minimum-salarisse vir elke werkskategorie nie, alhoewel elke werknemer nog steeds die Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing moet nakom, en daar ‘n soort aanvaarde minimum-salaris vir ongeskoolde werk bestaan, wat heelwat hoër is as buite Orania.
Wat Orania se instansies, by name die Orania Beweging se Helpsaamfonds, maar ook kerke, wel doen, is om mense wat ekonomies sukkel te help. Daar is byvoorbeeld subsidies vir skoolgeld want ons wil hê dat elke Afrikanerkind in Orania goeie opleiding ontvang om in die toekoms ‘n ordentlike werk en inkomste te kan verdien. ‘n Verdere uiters belangrike ondersteuning is die skep van bekostigbare huurbehuising. Eiendomspryse kan nie deur die owerhede vasgepen word in ‘n vryemarkbestel nie, maar die owerhede kan deur subsidiering van behuising die pryse wat heeltemal oorboord gegaan het, dwing om af te kom.
Op die landbouterrein is elke boer vir sy eie stuk grond verantwoordelik, maar die Orania-gedagte kom in by die beginsel van volkseie arbeid en samewerking rondom die waterverspreiding en oes van produkte. Welvarende ondernemers is goed vir Orania want hulle spandeer hulle geld in die dorp en skep meer werk vir mede-Afrikaners.
by Francois Joubert | Apr 8, 2014 | Nuus |
Seker een van die mees gewilde vrae wat besoekers aan Orania vra is : “Nou wat verhoed mense wat hulleself nie as ‘n Afrikaner beskou nie, om in Orania te vestig?”
Hierdie vraag word dikwels gevra nadat die proses waardeur potensiële inwoners moet gaan om verblyfreg te bekom aan hulle verduidelik is. Die vraag word selde moedswillig gevra ten einde die volhoubaarheid van Orania as Afrikanervestigingsgebied te bevraagteken, maar meer dikwels as gevolg van ‘n eerlike besorgdheid oor die pad vorentoe.
Die proses wat nuwe potensiële Orania-inwoners moet deurgaan om verblyfreg te bekom, is nie ontwerp om die eerlikheid van mense te toets nie, maar meer om so ‘n persoon die geleentheid te gee om sy rede vir die aansoek aan ‘n paneel te verduidelik en vir die paneel om die onderliggende waardes van die gemeenskap, soos die Christelike lewensbeskouing, selfwerksaamheid en die gebruik van Afrikanerarbeid aan die persoon te verduidelik. Natuurlik kan so ‘n aansoeker duistere motiewe hê sodat hy deur sy optrede tydens die onderhoud die paneel mislei en ‘n positiewe indruk op hulle maak.
Die redes waarom mense in Orania wil kom vestig is egter so so uiteenlopend dat dit nie moontlik is om ‘n standaardantwoord te definieer wat deur die paneel gebruik kan word as maatstaf vir goedkeuring vir verblyfreg nie. En dit is ook goed so, want die werklike toets vir die volhoubare vestiging van ‘n persoon in Orania lê na my mening nie opgesluit in die voldoening aan reëls en regulasies nie. Dit lê in die wyse waarop die persoon inskakel by die gemeenskap en die gemeenskap die persoon aanvaar, ongeag sy herkoms, as deel van hulle eie. Om dit anders te stel : deur net in die hoofstraat van Atene af te hardloop en uit volle bors te skreeu “ Ek is ‘n Griek! Ek is ‘n Griek!” maak nog nie van my ‘n Griek nie. Slegs as die sosiale kontrak tussen my en die ander Grieke gesluit is waardeur hulle my aanvaar as ‘n Griek, is ek ‘n volwaardige Griek.
Indien verblyfreg dan aan ‘n persoon toegestaan word kan die resultaat van hierdie onderhoud niks meer wees as ‘n bereidwillige voorneme van die gemeenskap van Orania om ‘n sosiale kontrak met die persoon te sluit nie. Of die persoon aanvaar gaan word as ‘n volwaardige Oraniër, sal slegs die tyd leer. Wat wel gesê kan word, is dat die verblyfregonderhoud die maklike gedeelte van die proses is. Die opneem in die gemeenskap mag, afhangende van die persoon se ingesteldheid, baie maklik of baie moeilik wees.
Die antwoord op die besoeker se vraag kan dus soos volg geformuleer word: Geen stelsel gaan ’n persoon keer wat met voorbedagte rade hier wil kom vestig nie. Indien die gemeenskap, met hulle breër en uiteenlopende waardes hom egter nie opneem en hom deel maak van hulle eie nie, gaan sy verblyf in Orania baie eensaam wees en sal hy dalk na ‘n jaar of twee die gemeenskap uit eie vrye wil verlaat. Indien hy egter sy kant van die sosiale kontrak nakom en hom ten volle toewy aan die gemeenskap se waardes, sal die uitkoms tot almal se voordeel wees en sal hy as ‘n Oraniër erken word.
Die vraag is in wese ‘n kultuurvraag, maar daaroor sal ek in ‘n volgende bydrae meer uitwei.
by Jaco Kleynhans | Apr 3, 2014 | Nuus |
Die afgelope naweek het ‘n belangrike gebeurtenis vir volkere regoor die wêreld wat na selfbeskikking streef, plaasgevind. In die Europese hoofstad, Brussel, het 3500 mense van onder andere Skotland, Katalonië, Vlaandere en Suid-Tirool aan ‘n optog ten gunste van selfbeskikking deelgeneem.
Wat maak die gebeurtenis so betekenisvol? Die afgelope paar jaar is daar ‘n toename in volkere regoor die wêreld, maar in besonder in Europa, wat hul heil in selfstandigheid en groter outonomiteit begin soek. Die Europese projek met een geldeenheid en ‘n sentrale regering in Brussel begin toenemend krake te toon. Regerings in lande soos Italië, België en Spanje misluk ook toenemend weens korrupsie, binnegevegte, elitisme en ‘n totale onvermoë om die behoeftes van hul burgers te verstaan en daarvolgens te handel. Gevolglik sien ons dat volkere soos die Skotte, Kataloniërs, Suid-Tirolers en Vlaminge ernstig na selfbeskikking as ‘n uitweg uit die doodloopstraat waarin hulle tans verkeer, begin kyk.
Die relevansie van Sondag se optog in Brussel is egter eerstens dat dit enigsens plaasgevind het en tweedens dat dit in die teken van groter samewerking tussen volkere wat na selfbeskkiking streef, staan. Die feit dat die burgemeester van Brussel toegelaat het dat so ‘n optog plaasvind is ‘n teken dat selfs die politieke elite in Europa wat droom van een Europa sonder ‘n verskeidenheid van volkere en kulture nie meer die opkoms van die vryheidsbewegings regoor Europa kan ignoreer nie.
Tweedens was daar by Saterdag se optog ‘n groot mate van eensgesindheid onder ‘n uiters diverse groep mense van verskillende lande. Uit Suid-Afrika was daar ook ‘n afgevaardigde van Orania wat saam met die afvaardiging van Suid-Tirool aan die optog deelgeneem het. Selfbeskikkingsbewegings van regoor die wêreld begin toenemend beter saamwerk en hul verskille opsy skuif om ‘n sterk blok op elke internasionale verhoog te vorm. Suid-Afrikaanse selfbeskikkingsinstellings soos die Orania Beweging skakel ook reeds vir etlike jare met ander volkere wat na selfbeskikking streef en Orania het vandag ‘n goeie netwerk van vriende in plekke soos Vlaandere en Suid-Tirool.
In Mei vanjaar sal Europese lande hul verteenwoordigers na die Europese parlement verkies en een tendens om tydens dié verkiesings dop te hou is die mate waartoe partye wat selfbeskikking onderskryf, sal presteer. Nog belangriker is om te sien om hierdie partye na vanjaar se Europese verkiesing daarin sal slaag om hul verskille eenkant te skuif en ‘n sterk nuwe blok in die Europese Parlement te skep. Die afgelope paar jaar was daar herhaalde pogings om pro-selfbeskikkingspartye binne een blok te laat saamwerk, maar dit het telkemale misluk.
Die meeste Afrikaners wat na selfbeskikking streef het reeds besef dat selfbeskikking nie ‘n gebeurtenis is nie, maar wel ‘n proses. Om die waarheid te sê: Dit is meestal ‘n lang en moeisame proses. Een gesamentlike optog in Brussel gaan vir geen volk sy selfbeskikking verseker nie, maar dit gaan ‘n belangrike bydrae lewer om volkere wat wel selfbeskikking nastreef beter te laat saamwerk. Die Afrikaner kan en moet deel hiervan wees.
Die afgelope naweek het ‘n belangrike gebeurtenis vir volkere regoor die wêreld wat na selfbeskikking streef, plaasgevind. In die Europese hoofstad, Brussel, het 3500 mense van onder andere Skotland, Katalonië, Vlaandere en Suid-Tirool aan ‘n optog ten gunste van selfbeskikking deelgeneem.
Wat maak die gebeurtenis so betekenisvol? Die afgelope paar jaar is daar ‘n toename in volkere regoor die wêreld, maar in besonder in Europa, wat hul heil in selfstandigheid en groter outonomiteit begin soek. Die Europese projek met een geldeenheid en ‘n sentrale regering in Brussel begin toenemend krake te toon. Regerings in lande soos Italië, België en Spanje misluk ook toenemend weens korrupsie, binnegevegte, elitisme en ‘n totale onvermoë om die behoeftes van hul burgers te verstaan en daarvolgens te handel. Gevolglik sien ons dat volkere soos die Skotte, Kataloniërs, Suid-Tirolers en Vlaminge ernstig na selfbeskikking as ‘n uitweg uit die doodloopstraat waarin hulle tans verkeer, begin kyk.
Die relevansie van Sondag se optog in Brussel is egter eerstens dat dit enigsens plaasgevind het en tweedens dat dit in die teken van groter samewerking tussen volkere wat na selfbeskkiking streef, staan. Die feit dat die burgemeester van Brussel toegelaat het dat so ‘n optog plaasvind is ‘n teken dat selfs die politieke elite in Europa wat droom van een Europa sonder ‘n verskeidenheid van volkere en kulture nie meer die opkoms van die vryheidsbewegings regoor Europa kan ignoreer nie.
Tweedens was daar by Saterdag se optog ‘n groot mate van eensgesindheid onder ‘n uiters diverse groep mense van verskillende lande. Uit Suid-Afrika was daar ook ‘n afgevaardigde van Orania wat saam met die afvaardiging van Suid-Tirool aan die optog deelgeneem het. Selfbeskikkingsbewegings van regoor die wêreld begin toenemend beter saamwerk en hul verskille opsy skuif om ‘n sterk blok op elke internasionale verhoog te vorm. Suid-Afrikaanse selfbeskikkingsinstellings soos die Orania Beweging skakel ook reeds vir etlike jare met ander volkere wat na selfbeskikking streef en Orania het vandag ‘n goeie netwerk van vriende in plekke soos Vlaandere en Suid-Tirool.
In Mei vanjaar sal Europese lande hul verteenwoordigers na die Europese parlement verkies en een tendens om tydens dié verkiesings dop te hou is die mate waartoe partye wat selfbeskikking onderskryf, sal presteer. Nog belangriker is om te sien om hierdie partye na vanjaar se Europese verkiesing daarin sal slaag om hul verskille eenkant te skuif en ‘n sterk nuwe blok in die Europese Parlement te skep. Die afgelope paar jaar was daar herhaalde pogings om pro-selfbeskikkingspartye binne een blok te laat saamwerk, maar dit het telkemale misluk.
Die meeste Afrikaners wat na selfbeskikking streef het reeds besef dat selfbeskikking nie ‘n gebeurtenis is nie, maar wel ‘n proses. Om die waarheid te sê: Dit is meestal ‘n lang en moeisame proses. Een gesamentlike optog in Brussel gaan vir geen volk sy selfbeskikking verseker nie, maar dit gaan ‘n belangrike bydrae lewer om volkere wat wel selfbeskikking nastreef beter te laat saamwerk. Die Afrikaner kan en moet deel hiervan wees.
by Hester van Zyl | Mar 25, 2014 | Nuus |
Net voor 1994 het almal die ergste verwag. Ek was ‘n staatsamptenaar en ons het gevrees om eerste uit ons bevoorregte kussinkies gelig te word – saam met die verwagte verandering van dorp- en straatname, omgooi van standbeelde en “fast tracking” in hoë poste.
Om te oorleef, moes ons van die “RC-faktor” (resistance to change) ontslae raak en ‘n klomp kopskuiwe maak. Dinge is in konferensiekamers gesê soos “Maak nie saak wat gebeur nie, die son sal môre weer in die ooste opkom en in die weste ondergaan” en “Dit lyk dalk of ek sit, maar eintlik staan ek.”
Party veranderinge het vinnig plaasgevind, soos die hoë amptenare wat in skaduposte aangestel is en tussen koffietyd en teetyd ‘n hele koerant kon deurlees. In die weermag het ons kastele verander in 9-puntsterre en al ons vergaderings en korrespondensie was alles in Engels. Maar die straatname het (nog nie) verander nie en ons het tyd gehad om te besluit watter kopskuiwe ons wou maak, of nie wou maak nie.
Party heethoofde en dapperes het onmiddellik bedank. Die versigtiges en aanpasbares het die nodige kopskuiwe gemaak en voortgegaan om ‘n maandelikse salaris te trek, terwyl hulle toekyk hoe die bevorderings by hulle verbygaan. Die lamlendiges ly aan maagsere en hipertensie, maar ter wille van hulle pensioene en byvoordele klou hulle vas aan ‘n oortollige poslys.
As jy dink jy hoef nie ‘n kopskuif te maak wanneer jy in Orania wil woon nie, het jy dit mis! Orania is nie ‘n voortsetting van die “Ou Suid-Afrika” nie. Om ‘n Oraniër te wees (let wel, nie bloot ‘n Orania-inwoner nie), moet jy ‘n paar reuse kopskuiwe maak:
Kopskuif 1: Doen dit self. Selfwerksaamheid is die eerste Orania-woord wat jy gaan leer en gaan toepas. Soos Basjan gaan jy jou moue moet oprol en dinge self moet doen. Kritiseer en kla en kerm gaan jou nie ver bring nie – skielik het die “hulle” wat nie diens lewer nie verander in “ons”.
Kopskuif 2: Moenie harder werk nie, werk slimmer. Die Vories het gesing “Arbeid adel, werk maak sterk.” Hanteer jou graaf wanneer dit moet en leer om netjies te verf. Maar moet dit nou nie oordoen nie! Span die tegnologie in en gebruik jou energie vir ander dinge.
Kopskuif 3: Tyd is kosbaar. Nie “tyd is geld”, soos almal daar buite óók weet nie. Daar is eenvoudig so baie dinge wat jy móét doen en wíl doen, dat daar net nooit genoeg tyd vir alles is nie. Dit bring noodwendig mee dat jy nuwe prioriteite moet bepaal. Dinge wat in die verlede belangrik was, is skielik net nie meer van waarde nie, bloot net omdat jy nie die tyd het daarvoor het nie.
Vrouens met lang, geverfde en gespikkelde naels is ‘n bedreigde spesie in Orania. Aan die ander kant word klein dingetjies luuks, net omdat jy doelbewus ‘n tydjie afknyp om dit te geniet.
Kopskuif 4: Ons is betrokke in die gemeenskap. Ja, Orania is ‘n klein dorpie en ons ken mekaar almal en ons beskinder mekaar soos dit van klein dorpies verwag word. Maar dit is meer as net dit: ons is doelbewus besig om ‘n gemeenskap te bou en saam te smee. Ek wens ek kon sê die meeste van ons woon die meeste van die dorp se aktiwiteite by, maar daar is helaas ook ‘n groot persentasie sluipers wat by die huis sit en TV kyk. Daar is wel ‘n groep mense wat betrokke is by die meeste dorpsaktiwiteite, of dit nou ‘n volksfees, ‘n ouervergadering by die skool, ‘n kerklike aktiwiteit, ‘n veiligheidsvergadering, Kaalvoetkonsert of ‘n dans is. Dit is die dungesmeerdes, maar dit is ook die mense wat voor loop en ‘n volkstaat bou.
Kopskuif 5: Ons skiet nie alles reg nie. Soms praat ons dit reg, soms onderhandel ons dit reg, maar meestal leef ons dit reg. Op Orania kan ons weer ontspan en wees wie ons is, sonder om verskoning te vra daarvoor, sonder om uitdagend te wees daaroor.
Kopskuif 6: Lewe naby aan die natuur. In die somer sweet ons en hyg ons onder die warm Bo-Karooson, in die winter bibber ons totdat die ys en ryp gesmelt het. Ons beleef iets van die oer-natuur van die aarde wanneer ons konfyt kook (soms vir die eerste keer ooit!) van die appelkoosboom op jou erf, of nuwe bome plant vir koelte aan die warm westekant van die huis. Jy leer om bedags vensters toe te hou om die huis se koelte binne te hou, ‘n muskietnet te gebruik in plaas daarvan om self muskietgif in te asem en om vlermuishuise op te sit om die natuur se voedselkettings te bewaar. Ons raak opgewonde as ons vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer uile gewaar en ons bel vir Florus & Rina om ‘n onwelkome slang te kom wegneem (let wel: nie dood te maak nie). Soms ry ons fiets, bloot ter wille van die lekker daarvan omdat ons nie motoruitlaatgasse hoef in te asem nie.
Kopskuif 7: Orania is ver (of nie). Orania is in die middel van die land. Hier is (nog nie) al die winkels en geriewe en noodsaaklikhede wat ons móét hê nie. Intussen leer ‘n mens maar om te beplan en om planne te maak. Die internet maak die wêreld gelukkig baie kleiner en afstande baie korter.
Kopskuif 8: Orania is nie die Boerehemel nie. Mense bly maar mense, al praat hulle Afrikaans. Ons lewe in ‘n onvolmaakte wêreld. Sela.
Nuutste Opmerkings