Oor kopskuiwe
Net voor 1994 het almal die ergste verwag. Ek was ‘n staatsamptenaar en ons het gevrees om eerste uit ons bevoorregte kussinkies gelig te word – saam met die verwagte verandering van dorp- en straatname, omgooi van standbeelde en “fast tracking” in hoë poste.
Om te oorleef, moes ons van die “RC-faktor” (resistance to change) ontslae raak en ‘n klomp kopskuiwe maak. Dinge is in konferensiekamers gesê soos “Maak nie saak wat gebeur nie, die son sal môre weer in die ooste opkom en in die weste ondergaan” en “Dit lyk dalk of ek sit, maar eintlik staan ek.”
Party veranderinge het vinnig plaasgevind, soos die hoë amptenare wat in skaduposte aangestel is en tussen koffietyd en teetyd ‘n hele koerant kon deurlees. In die weermag het ons kastele verander in 9-puntsterre en al ons vergaderings en korrespondensie was alles in Engels. Maar die straatname het (nog nie) verander nie en ons het tyd gehad om te besluit watter kopskuiwe ons wou maak, of nie wou maak nie.
Party heethoofde en dapperes het onmiddellik bedank. Die versigtiges en aanpasbares het die nodige kopskuiwe gemaak en voortgegaan om ‘n maandelikse salaris te trek, terwyl hulle toekyk hoe die bevorderings by hulle verbygaan. Die lamlendiges ly aan maagsere en hipertensie, maar ter wille van hulle pensioene en byvoordele klou hulle vas aan ‘n oortollige poslys.
As jy dink jy hoef nie ‘n kopskuif te maak wanneer jy in Orania wil woon nie, het jy dit mis! Orania is nie ‘n voortsetting van die “Ou Suid-Afrika” nie. Om ‘n Oraniër te wees (let wel, nie bloot ‘n Orania-inwoner nie), moet jy ‘n paar reuse kopskuiwe maak:
Kopskuif 1: Doen dit self. Selfwerksaamheid is die eerste Orania-woord wat jy gaan leer en gaan toepas. Soos Basjan gaan jy jou moue moet oprol en dinge self moet doen. Kritiseer en kla en kerm gaan jou nie ver bring nie – skielik het die “hulle” wat nie diens lewer nie verander in “ons”.
Kopskuif 2: Moenie harder werk nie, werk slimmer. Die Vories het gesing “Arbeid adel, werk maak sterk.” Hanteer jou graaf wanneer dit moet en leer om netjies te verf. Maar moet dit nou nie oordoen nie! Span die tegnologie in en gebruik jou energie vir ander dinge.
Kopskuif 3: Tyd is kosbaar. Nie “tyd is geld”, soos almal daar buite óók weet nie. Daar is eenvoudig so baie dinge wat jy móét doen en wíl doen, dat daar net nooit genoeg tyd vir alles is nie. Dit bring noodwendig mee dat jy nuwe prioriteite moet bepaal. Dinge wat in die verlede belangrik was, is skielik net nie meer van waarde nie, bloot net omdat jy nie die tyd het daarvoor het nie.
Vrouens met lang, geverfde en gespikkelde naels is ‘n bedreigde spesie in Orania. Aan die ander kant word klein dingetjies luuks, net omdat jy doelbewus ‘n tydjie afknyp om dit te geniet.
Kopskuif 4: Ons is betrokke in die gemeenskap. Ja, Orania is ‘n klein dorpie en ons ken mekaar almal en ons beskinder mekaar soos dit van klein dorpies verwag word. Maar dit is meer as net dit: ons is doelbewus besig om ‘n gemeenskap te bou en saam te smee. Ek wens ek kon sê die meeste van ons woon die meeste van die dorp se aktiwiteite by, maar daar is helaas ook ‘n groot persentasie sluipers wat by die huis sit en TV kyk. Daar is wel ‘n groep mense wat betrokke is by die meeste dorpsaktiwiteite, of dit nou ‘n volksfees, ‘n ouervergadering by die skool, ‘n kerklike aktiwiteit, ‘n veiligheidsvergadering, Kaalvoetkonsert of ‘n dans is. Dit is die dungesmeerdes, maar dit is ook die mense wat voor loop en ‘n volkstaat bou.
Kopskuif 5: Ons skiet nie alles reg nie. Soms praat ons dit reg, soms onderhandel ons dit reg, maar meestal leef ons dit reg. Op Orania kan ons weer ontspan en wees wie ons is, sonder om verskoning te vra daarvoor, sonder om uitdagend te wees daaroor.
Kopskuif 6: Lewe naby aan die natuur. In die somer sweet ons en hyg ons onder die warm Bo-Karooson, in die winter bibber ons totdat die ys en ryp gesmelt het. Ons beleef iets van die oer-natuur van die aarde wanneer ons konfyt kook (soms vir die eerste keer ooit!) van die appelkoosboom op jou erf, of nuwe bome plant vir koelte aan die warm westekant van die huis. Jy leer om bedags vensters toe te hou om die huis se koelte binne te hou, ‘n muskietnet te gebruik in plaas daarvan om self muskietgif in te asem en om vlermuishuise op te sit om die natuur se voedselkettings te bewaar. Ons raak opgewonde as ons vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer uile gewaar en ons bel vir Florus & Rina om ‘n onwelkome slang te kom wegneem (let wel: nie dood te maak nie). Soms ry ons fiets, bloot ter wille van die lekker daarvan omdat ons nie motoruitlaatgasse hoef in te asem nie.
Kopskuif 7: Orania is ver (of nie). Orania is in die middel van die land. Hier is (nog nie) al die winkels en geriewe en noodsaaklikhede wat ons móét hê nie. Intussen leer ‘n mens maar om te beplan en om planne te maak. Die internet maak die wêreld gelukkig baie kleiner en afstande baie korter.
Kopskuif 8: Orania is nie die Boerehemel nie. Mense bly maar mense, al praat hulle Afrikaans. Ons lewe in ‘n onvolmaakte wêreld. Sela.