fbpx

Wanneer is jy ‘n Oraniër?

Seker een van die mees gewilde vrae wat besoekers aan Orania vra is : “Nou wat verhoed mense wat hulleself nie as ‘n Afrikaner beskou nie, om in Orania te vestig?”

Hierdie vraag word dikwels gevra nadat die proses waardeur potensiële inwoners moet gaan om verblyfreg te bekom aan hulle verduidelik is. Die vraag word selde moedswillig gevra ten einde die volhoubaarheid van Orania as Afrikanervestigingsgebied te bevraagteken, maar meer dikwels as gevolg van ‘n eerlike besorgdheid oor die pad vorentoe.

Die proses wat nuwe potensiële Orania-inwoners moet deurgaan om verblyfreg te bekom, is nie ontwerp om die eerlikheid van mense te toets nie, maar meer om so ‘n persoon die geleentheid te gee om sy rede vir die aansoek aan ‘n paneel te verduidelik en vir die paneel om die onderliggende waardes van die gemeenskap, soos die Christelike lewensbeskouing, selfwerksaamheid en die gebruik van Afrikanerarbeid aan die persoon te verduidelik. Natuurlik kan so ‘n aansoeker duistere motiewe hê sodat hy deur sy optrede tydens die onderhoud die paneel mislei en ‘n positiewe indruk op hulle maak.

Die redes waarom mense in Orania wil kom vestig is egter so so uiteenlopend dat dit nie moontlik is om ‘n standaardantwoord te definieer wat deur die paneel gebruik kan word as maatstaf vir goedkeuring vir verblyfreg nie. En dit is ook goed so, want die werklike toets vir die volhoubare vestiging van ‘n persoon in Orania lê na my mening nie opgesluit in die voldoening aan reëls en regulasies nie. Dit lê in die wyse waarop die persoon inskakel by die gemeenskap en die gemeenskap die persoon aanvaar, ongeag sy herkoms, as deel van hulle eie. Om dit anders te stel : deur net in die hoofstraat van Atene af te hardloop en uit volle bors te skreeu “ Ek is ‘n Griek! Ek is ‘n Griek!” maak nog nie van my ‘n Griek nie. Slegs as die sosiale kontrak tussen my en die ander Grieke gesluit is waardeur hulle my aanvaar as ‘n Griek, is ek ‘n volwaardige Griek.

Indien verblyfreg dan aan ‘n persoon toegestaan word kan die resultaat van hierdie onderhoud niks meer wees as ‘n bereidwillige voorneme van die gemeenskap van Orania om ‘n sosiale kontrak met die persoon te sluit nie. Of die persoon aanvaar gaan word as ‘n volwaardige Oraniër, sal slegs die tyd leer. Wat wel gesê kan word, is dat die verblyfregonderhoud die maklike gedeelte van die proses is. Die opneem in die gemeenskap mag, afhangende van die persoon se ingesteldheid, baie maklik of baie moeilik wees.

Die antwoord op die besoeker se vraag kan dus soos volg geformuleer word: Geen stelsel gaan ’n persoon keer wat met voorbedagte rade hier wil kom vestig nie. Indien die gemeenskap, met hulle breër en uiteenlopende waardes hom egter nie opneem en hom deel maak van hulle eie nie, gaan sy verblyf in Orania baie eensaam wees en sal hy dalk na ‘n jaar of twee die gemeenskap uit eie vrye wil verlaat. Indien hy egter sy kant van die sosiale kontrak nakom en hom ten volle toewy aan die gemeenskap se waardes, sal die uitkoms tot almal se voordeel wees en sal hy as ‘n Oraniër erken word.

Die vraag is in wese ‘n kultuurvraag, maar daaroor sal ek in ‘n volgende bydrae meer uitwei.