by Orania Beweging | Mar 20, 2017 | Nuus |
Dis vroeg en die lugversorger dreun reeds eentonig voort. Die lug binne die ouditorium is ʼn welkome lafenis na die bedompige Karoo-lug buite.
ʼn Konstante instroming van gretige leerders kom die ouditorium binne. Hulle vriendelike groet bring ʼn meer ontspanne atmosfeer saam met hulle.
Ek het daardie oggend die voorreg gehad om deel te wees van ʼn produk van die Orania Kunste Raad, ʼn Toneelstuk-skryfskool wat aangebied is deur die bekende en befaamde Professor Nico Luwes. Prof. Luwes het reeds vele toneelstukke agter sy naam en meer vakkennis as menige kenner in dieselfde vakgebied. Iets wat vir my baie duidelik geword het, is dat jy nooit sal ophou leer in hierdie bedryf nie. Daar is elke dag ʼn nuwigheid en hoër trappie om te klim.
Die ingehoue verwagting waarmee ek vanmore opgestaan het, het veroorsaak dat ek vroeg my stoel gekies het waar ek die beste uitsig gehad het en duidelik alles kon hoor.
Baie keer gaan ons van die standpunt uit dat ons reeds alles van hierdie kuns oor die jare in ons vol geheue
gestoor het en niks nuuts meer kan leer nie. Ons liasseer elke stukkie inligting sodat niks verlore mag gaan nie. Elke nou en dan haal ons stukkies van hierdie kennis uit, stof dit af, poets dit en voeg nog ʼn stukkie van die legkaart by. Die menslike strewe na volmaaktheid is so diep gesetel dat alleenlik wanneer die tydelike vir die ewige verruil word, dit die einde van die soektog sal wees.
Die talentvolle woord-gebruik en oordrag van nuwe inligting is so passievol gedoen dat jy daar en dan wil wegval en skryf, skryf tot jou vingers eelte het. Ons het behoorlik aan sy lippe gehang. Dit was vir my persoonlik ʼn reuse sprong in my naïewe klein leke-skrywers-wêreldjie. Die woorde van die Psalmdigter ‘my beker loop oor’ was verseker deel van ons almal na hierdie wonderlike sessie. Met oogklappe aan het ek vele projekte aangepak, maar helaas die klein prentjie waarin ek geleef het, het verander in ʼn lewendige en pragtige wêreld.
Die melodramatiese beskrywing van ʼn klassieke drama soos ‘Romeo and Juliet’ het die sluier gelig van ʼn blyspel waarvan ek net die oppervlakte gesien het. Die oppervlakkige wyse waarop ek na hierdie toneelstuk gekyk het, het ʼn wending geneem van ‘verdoemde liefde’ tot ‘die liefde se oorwinning oor familietwis’
Hierdie volgende vertelling van prof. Luwes het my ʼn ander kyk gegee na my besoeke aan toneelstukke en ek het verwonderd gestaan oor die nuanses wat ek nooit raakgesien het nie.
Die absolute gemak waarmee prof. Luwes sy kennis oorgedra en die borrelende vreugde en passie waarmee hy dit gedoen het, spreek uiteraard van sy absolute liefde vir dit wat hy doen. Wanneer jy na hom luister, kry fiktiewe karakters skielik ʼn skaduwee, jy kan die stem van die karakter hoor dreun deur die klowe of die sagte fluistering versigtig hoor kruip na jou oordrom. Die kleredrag, aanhangsels, ekstras en optrede bring die karakters na die tong van die toeskouers. “Ag shame of jou ongeskikte buffel” ensovoort bring ʼn welkome reaksie van die skare en twee of drie vinnige aantekeninge in die redakteur se notaboek.
Prof. Luwes is al ʼn huishoudelike naam in die kunste en daarom was dit ʼn verskriklike voorreg om te kon deel wees van sy fantastiese skryfskool. Sy kennis van gehoorstimulering word in meeste kringe as ʼn gawe gesien en daarom kan dit slegs verfyn word, as hierdie talent jou slaap en opstaan is. Die Skryfskool-inligting het hy met kwinkslae en grappe geanker om ʼn ewige afdruk in my geheue te maak sodat ek weet ek sal maklik daarheen kan terugkeer en dit oproep soos dit nodig word. My idee van toneel skryf was gegrond op die feit dat dit die akteur se werk is om te sorg dat die skryfstuk ʼn sukses moet wees. Min het ek geweet hoe ver dit van die waarheid is. Ek was nie bewus daarvan dat die skrywer die wêreld in soveel besonderhede moet skep dat die regisseur en die akteurs die skrywer se droom moet inneem en dit hulle eie moet maak vir die tydperk van die optrede nie. Dit is ‘n visuele skepping van ʼn wêreld met sy eie taal, rede, vrede en gebeurlikhede, soos wat J.R.R. Tolkien die “Lord of the Rings” en “The Hobbit” reeks geskep het in ʼn nuwe en onbekende wêreld. Sulke toneelstukke het die gawe om ons te trek uit die donker wêreld waarin ons leef en om ons te plaas in ʼn droomwêreld waar ons vir oomblikke kan wegkruip en ons ore kan sluit vir al die pyn, haat en nyd van die werklikheid.
Ek wil prof. Luwes bedank dat hy tyd afgestaan het uit sy besige skedule. Ons, by name Orania en sy mense, besef nie die goue muntstuk wat ons toegedeel is nie, nie voordat ons na die keersy kyk en ons voorregte raaksien nie. Orania Kunste Raad, en in besondere Stefnie Muller se harde werk agter die skerms is prysenswaardig en dui op die strewe van ons eie mense om elkeen ʼn kans te gee op die ontdekking en ontwikkeling van talente waarvan ons nooit bewus was nie.
by Orania Beweging | Mar 14, 2017 | Nuus |
Redefining Manhood – Jim Ewing
Hoe definieer jy jou manlikheid vandag en hoe beïnvloed dit die omgewing om ons?
Ons leef vandag in ‘n era waar feminisme en die “wit man as sondebok-sindroom” verwoestende gevolge vir mans inhou. Eensaamheid, depressie en selfmoord onder mans styg byna in elke Westerse land en talle studies in die VSA wys daarop dat mans toenemend alleen woon en onseker is oor hoe om hulself in ’n veranderende wêreld te laat geld.
In Redefining Manhood behandel Jim Ewing die vraagstuk oor hoe Westerse mans vandag hul rol in die samelewing moet herdefinieër.
Wat is die natuurlike staat van die mens? Is dit oorlog of vrede? Die fout wat baie mans maak is om in hul soeke na ’n herdefiniëring van manwees, slegs na die verlede te kyk en daarvolgens die man as kryger aan te hang. Dit plaas mans in ’n posisie van oorlogvoering eerder as vrede wat mans in hul persoonlike en professionele lewens in konflik met moderne realiteit plaas.
Sommige mans stap egter ook heeltemal weg van die historiese Westerse man wat as kryger en held uitgebeeld is om sodoende oordrewe invloed aan hul vroulike, sagter kant te gee. Dit lei tot die man as swakkeling en pateet wat nie met selfvertroue sy plek in die wêreld kan inneem nie.
Die uitdaging vir mans vandag is om met selfvertroue ’n gesonde balans tussen hul historiese rol en die realiteit van ’n wêreld waar geslagte as gelyk geag word en waar vrouens ’n groot rol in byna alle sfere van die lewe speel, te vind. Mans moet energie uit die innerlike kryger put, terwyl hul sagter kant vertroetel moet word. Slegs dan kan ’n man met selfvertroue pa, broer, oom, seun, vriend en beminde wees.
Mans het van nature die behoefte om outonoom te funksioneer en te presteer en in ’n hiërargiese samelewing voel mans dikwels asof hulle nie hierin kan slaag nie. Dit veroorsaak geweldige spanning en die opbreek van verhoudinge.
In ons moderne samelewing het ons mans nodig wat deernisvol, rasioneel, intuïtief en oordeelkundig met hul eie kragdadigheid kan omgaan. Die onderdrukking van kragdadigheid of die onbeheerste uitbarsting daarvan is beide verkeerd. Die moderne man is nie meer ’n koning wat net onbeheers kan regeer oor alles en almal om hom nie, maar die samelewing het ook sterk mans, wat met selfvertroue hul ruimte inneem, nodig.
Ewing se boek is ‘n bondige, dog ryk samevatting van wat mans nodig het om gelukkig en suksesvol in ‘n moderne wêreld te kan wees.
by Orania Beweging | Mar 1, 2017 | Nuus |
Uit Duits vertaal deur Sebastiaan Biehl
Dr. Klaus von der Ropp, die outeur van ‘n fiktiewe brief aan wyle prof. Carel Boshoff, is ‘n Duitse regsgeleerde, deskundige en navorser met ‘n langdurige en diepgrondige kennis van Afrika en ‘n besondere band met die Afrikaner. Hy was een van die eerste (en baie min) meningsvormers wat die gedagte van ‘n volkstaat en ‘n etniese opdeling van Suid-Afrika ondersteun het.
Beste Carel!
In ʼn tyd waar ons in Duitsland talle gruwelike nuus uit Suid-Afrika ontvang, dink ek met besondere vreugde terug aan ons talle gesprekke die afgelope dekades. Dit het alles begin met ʼn lang brief van my wat op 13 Desember 1974 onder die opskrif “Südafrika muss geteilt werden (Suid-Afrika moet opgedeel word)” in die belangrikste Duitse dagblad, Frankfurter Allgemeine Zeitung, verskyn het. Dit is voorafgegaan deur gesprekke met die ervare Afrika-korrespondent Herbert Kaufmann. Ons het al twee gehoor dat die ANC-leier en latere ontvanger van die Nobelprys vir Vrede, Albert Luthuli, aan die einde van die 1940’s ʼn voorstel aan die nuutverkose Eerste Minister van die Nasionale Party, Daniel Francois Malan, gemaak het om die land weens die uiterste heterogeniteit van sy bevolking vreedsaam tussen wit en swart Afrikane op te deel. Malan het dit hoogmoedig van die hand gewys en daarop aangedring dat die sedert eeue heersende blankes eensydig die grense sou trek. So het, opbouend op die nalatenskap van die Britse koloniale moondheid, die stelsel van “aparte ontwikkeling” of apartheid ontstaan. Dit was ʼn buitengewoon onregverdige stelsel, wat heeltemal te reg deur die nie-blanke bevolking en toenemend deur die buiteland beveg is.
Jy het dit afgekeur! Jy het dit as moreel en magspolities onvolhoubaar verwerp! Jy het as een van min wit Afrikaners die moed van jou oortuiging gehad om dit hardop uit te spreek en jy was bereid om die eensame pad van die dissident te stap! Anders as die orige wit dissidente, soos byvoorbeeld my liewe vriend Christiaan Beyers Naudé, het jy ook, te reg met die Duitse teoloog Helmut Gollwitzer die vereiste uitgespreek dat die wit minderheid in Suid-Afrika van hulle vrees om hulle voortbestaan bevry moet word. Of, soos die (Duitse) voorsitter van die Liberale Internasionale, Otto Graf Lambsdorff dit in die middel 1980’s in ʼn gesprek met Van Zyl Slabbert kort en bondig uitgedruk het: ”Wit veiligheid is die sleutel tot swart vryheid en ontwikkeling.” Die vereiste was, soos wat die groot Duitse denker, die Sosiaal-Demokraat Egon Bahr in ʼn onderhoud met die Hamburgse koerant Deutsches Allgemeines Sonntagsblatt op 10 Julie 1977 dit geformuleer het, om ” ʼn tot dusvêr onbekende model van ʼn gelyke saambestaan met spesiale beskerming van minderhede”, of, soos dit in Engels genoem word, “copper-bottomed guarantees of existence” te ontwikkel. Jy, Carel, en ek, ons het altyd saamgestem dat so iets onder die omstandighede van Suid-Afrika slegs bereik kan word as ʼn tuisland vir minderhede uit die oorblywende Suid-Afrika uitgesny word, vergelykbaar met Israel in die Midde-Ooste as onafhanklike staat wat deur die wêreld erken word. Nie net op ekonomiese gebied nie, sal die twee opvolgstate vervolgens ten nouste saamwerk, tot voordeel van die hele vasteland.
Die staat van die etniese minderhede sou heelwat kleiner en ook armer in grondstowwe wees as die ander, van die swartmense (ten minste polities) beheerde staat. Met die oplossing van die interne probleme van Suid-Afrika sou ook, so het ons al twee gehoop, die gevaar van ʼn wêreldwye konflik oor die beheer oor Suid-Afrika verhoed word. Niemand minder as die reeds genoemde Egon Bahr het vir sy genoemde onderhoud die opskrif “Sonder ʼn onderhandelde skikking is die gevaar van ʼn derde wêreldoorlog heeltyd aanwesig” gegee. Destyds was in die Weste die bekommernis aanwesig dat die twee deur radikale bevrydingsbewegings geleide state Zimbabwe en Suid-Afrika hulle vir die produksie van en handel met essensiële grondstowwe na die voorbeeld van OPEC saam met die Sowjet-Unie in ʼn kartel sou saamsluit. Verder was daar eensgesindheid in die Weste dat die destyds nog baie lewenskragtige see- en lughawens van die Republiek Suid-Afrika nie deel van die Oosterse invloedsfeer moet word nie.
Ons gesprekke het daartoe gelei dat ek saam met die Duitse geograaf Jürgen Blenck in die middel van 1976 in die tydskrif Aussenpolitik (Buitelandse Sake) ʼn baie breedvoerige opstel, aangevul deur toepaslike kaarte, onder die opskrif “Verdeling van Suid-Afrika as oplossing?” gepubliseer het. Ons het destyds ʼn tweedeling langs ʼn lyn Sishen-Bloemfontein-Port Elizabeth voorgestel. Die toeval wou dit so hê dat die artikel slegs drie weke na die begin van die opstande in Soweto en Langa verskyn het. Ooreenkomstig was daar groot internasionale radeloosheid en daarom ook ʼn groot belangstelling in die artikel. Die enkele kundiges onder diegene wat Suid-Afrika dophou, het nou dieselfde vraag gevra, waarmee kort daarna die Duitse Kanselier Helmut Schmidt in Mei 1977 die onbekwame Amerikaanse Vise-President Walter Mondale tydens sy besoek aan Duitsland verras het. Mondale het gesê die Weste moet alles denkbaar doen om Suid-Afrika te dwing om sy beleid van Apartheid te oorkom. Schmidt se antwoord was net die lakoniese vraag: ”And replace it with what? (En waarmee gaan ons dit dan vervang ?”). Carel, jy sal onthou dat die internasionale belangstelling in my en mnr. Blenck se artikel verder gestyg het, nadat niemand geringer as die belangrike Amerikaanse publicist CL Sulzberger die artikel onder die opskrif “Eluding the last ditch” in die New York Times en International Herald Tribune (al twee van 10 Augustus 1977) positief bespreek het.
Blenck en ek kon op die min presiese oorwegings van die Suid-Afrikaner van Duitse afkoms, Alfred Hoernle (1945), asook van die Amerikaner van Litouse afkoms, Edward A Tiryakan (1967) voortbou. Al twee het ʼn saak uitgemaak vir dit, wat later die Suid-Afrikaner Van Zyl Slabbert “sacrifial partition” van die Republiek van Suid-Afrika genoem het. In Duitsland het benewens talle, meesal ondersteunende artikels ook twee eweneens positiewe opvolgopstelle verskyn, naamlik van Uwe Halbach in Europa Archiv (7/1977) en van Martin Pabst in Aussenpolitik (3/1996), en van my as reaksie die opstel “Is Territorial Partition a Strategy for Peaceful Change in South Africa?” in International Affairs Bulletin (Braamfontein 6/1979). Uiteindelik het, wat vir jou, beste Carel, van besondere betekenis was, Erich Leistner, destyds direkteur van die Afrika Institut in Pretoria, die opstel in hulle South African Journal of African Affairs in die begin van 1977 laat herdruk, met die versoek aan die lesers om kommentaar te lewer. Belangrik was vervolgens die artikel wat die internasionaal gerekende ekonomiese wetenskaplike Gavin Maasdorp in die boek “Conflict and Compromise in South Africa”, wat deur Amerikaner Robert Rotberg en die Suid-Afrikaner John Barratt (wat 1980 in Lexington uitgegee is), gepubliseer het. Dit moet opgemerk word dat alle outeurs die deur my en Blenck berekende verdelingslyn Sishen-Bloemfontein-Port Elizabeth oorgeneem het.
Jy, beste vriend, het tot die baie min Afrikaners behoort wat vir my en Blenck verstaan het. Vir ons, soos vir jou, het dit daaroor gegaan om apartheid te oorkom sonder dat eers “al die variasies van barbarisme” (Breyten Breytenbach) julle land grondig sou vernietig. Maar jy was in goeie geselskap, byvoorbeeld van Wimpie de Klerk, waarskynlik ook van Gerrit Viljoen, Lawrie Schlemmer, Deon Geldenhuys, Breyten Breytenbach, Fred van Wyk, weifelend dalk selfs Van Zyl Slabbert, miskien Hermann Giliomee en, jare later, Constand Viljoen en die leidende persone van Solidariteit. Hulle almal het in die radikale opdeling van die land die enigste antwoord gesien vir die basis onoplosbare probleme van Suid-Afrika.
Jy was verheug toe ek jare later ʼn opvolgopstel van die liberale Duitse politikus Otto Graf Lambsdorff na Suid-Afrika saamgebring het. Lambsdorff was, terloops, net soos ek, lid van die intussen uitgewiste etniese Duitse minderheid in Kurland/Letland. Sy opstel het op 31 Julie 1986 in die Duitse tydskrif “Quick” onder die opskrif “Teilung Südafrikas als Ausweg” (Verdeling van Suid-Afrika as uitweg) verskyn. Met jou eie woorde het Lambsdorff, wat, terloops, later tot president van die Liberale Internasionale verkies is, die daarstelling van ʼn onafhanklike staat geëis, ʼn toevlugsoord vir diegene onder die wit (en bruin) Suid-Afrikaners wat vir hulleself en hulle nakomelinge geen perspektief in ʼn swart beheersde Suid-Afrika sien nie. Ek onthou goed dat ons daarna in jou gasvrye huis breedvoerig daaroor gepraat het dat behalwe vir Van Zyl Slabbert en vir my, ook Gavin Relly, destyds voorsitter van Anglo American, vir Lambsdorff geadviseer het.
Een van die groot leemtes onder die tallose reaksies op die opstel van my en Blenck was, dat die swart bevolkingsmeerderheid skaars kennis daarvan geneem het. Sekerlik het die in sake van Afrika onkundige Duitse Minister van Buitelandse Sake van 1974-1992, Hans-Dietrich Genscher, daartoe bygedra deur sy gedurige eise aan die Suid-Afrikaanse regering om voor die ANC te kapituleer.
Des te meer merkwaardig was die deurdagte stemme van Russiese navorsers en diplomate soos Irina Filatova, Vasili Solodovnikov, Boris Asoyan, Vladimir Tikhomirov en ook Jewgeni Gusarov, die eerste Russiese ambassadeur in Pretoria na 1945. Ek sal altyd die hartlikheid onthou waarmee Gusarov vir genl. Constand Viljoen geluk gewens het met die ondertekening van die “Akkoord oor Afrikaner-Selfbeskikking” saam met Thabo Mbeki (ANC) en Roelf Meyer (NP) op 23 April 1994. Die genoemde asook ander Russe het oortuigende gedagtes gehad oor die toekoms van jou Afrikanervolk, anders as die meeste Westerse politici en diplomate. Vir hulle (die Russe) was die gedagte aan ʼn Afrikanerstaat nie vreemd nie. Ek kan egter nie sê of dit eers na 1985, met die magsoorname deur Michail Gorbatsjof, die geval was nie.
Die mees intelligente kommentaar oor die Aussenpolitik (buitelandse sake) -plan kom van Klaus Ritter, die uiters begaafde stigter van die belangrikste Duitse dinkskrum vir buitelandse en sekerheidstudies, Stiftung Wissenschaft und Politik. Hy het in die laat 1970’s opgemerk dat dit vir ʼn oplossing van die Suid-Afrikaanse konflik op so ʼn aard (deur partisie) terselfdertyd te laat en te vroeg was. Daar was egter vir ʼn ruk hoop toe in die begin van die 1980’s in onder andere die Internationale Spectator (Den Haag, 2/1981), die Australian Outlook (Canberra, 2/1981) en Le Mois en Afrique (Paris, 10-11/1981) deur my bydraes alle wesenlike elemente van my opstel (insluitende die kaarte) aan die (invloedryke) lesers bekend gestel het. Tot jou en my ontsteltenis het die in Pretoria heersende Afrikaners (insluitend die hervormings-onwillige latere staatspresident FW de Klerk) dit alles geïgnoreer. Soos Rudolf Gruber, die in Duitsland werksame medewerker van ʼn openbare betrekkinge-agentskap (SA Foundation) met noue bande met die sakewêreld, het die meeste van hulle geoordeel: “Sacrificial partition” sou “apokalypties in sy aannames, naïef in sy argumente en utopies in sy gevolgtrekkings” wees (SA International Quarterly 3/1980). Hulle almal (wat so geoordeel het) het Suid-Afrika na die rand van die afgrond gelei waar die land nou staan!
Met die einde van die Koue Oorlog het die mees uitstaande Britse (“Sir Robin-His Excellent Excellency”) en Amerikaanse diplomate (veral Princeton Nathan Lyman) die teen die einde van 1989 verkose regering van De Klerk gedwing om met die tot dusver onwettige ANC en ander bevrydingsbewegings ʼn nuwe politieke orde in plek van apartheid te onderhandel. Die Duitse regering het geen rol gespeel nie, omdat die Britse en Amerikaanse regerings hulle weens hulle gebrek aan kundigheid reeds op 17 Oktober 1978 van alle onderhandelinge oor die toekoms van Namibië en Suid-Afrika uitgesluit het. Daarvoor was die Minister vir Buitelandse Sake van 1974-1992, Hans-Dietrich Genscher, verantwoordelik, want sy beleid was niks meer as om by elke denkbare geleentheid die kapitulasie van die wit regerings in Namibië en daarna in Suid-Afrika te eis nie. Daarby kon juis in Duitsland in die middel 1980’s die van die stipendiumhouer van die Humboldt-Stigting, Deon Geldenhuys, gelewerde studiestuk “Die Zukunft Südafrikas aus deutscher Sicht (Die toekoms van Suid-Afrika uit Duitse perspektief gesien)” (onder andere vir die Departement van Buitelandse Sake) (verskyn in Aussenpolitik 1/1985) vir die Duitse diplomasie ʼn magdom argumente vir ʼn beleid van balans gee.
Die onderhandelinge van die NP-regering met hulle binnelandse teenstanders het van die begin af onder die ongelooflike swakheid van de Klerk gely. Van huis af ʼn deur en deur konserwatiewe man, het hy totaal onvoorbereid in die onderhandelinge gegaan en was nie opgewasse vir sy teenstanders, veral diegene van die ANC, nie. Die gevolg was ʼn kapitulasie op die gebied van die politiek, maar nie op die gebied van die ekonomie nie. En dit, alhoewel eers kort tevore een van sy gedugte teenstanders, die joernalis Max du Preez, vir my gevra het om vir sy deur Swede befondsde Vrye Weekblad ʼn artikel met die opskrif “Afrikaner-Israel kan ʼn tweede Libanon verhoed” te skryf. Die artikel het op 27 Oktober 1989 verskyn en daarvan is in regeringskringe geen kennis geneem nie. Sou die Suid-Afrikaanse regering sulke en soortgelyke menings van derde persone ernstig opgeneem het, sou die ANC heel waarskynlik daarvoor te vinde gewees het. Breyten Breytenbach het dit vir ons reeds in Julie 1987 in Dakar/Senegal met die geleentheid van die ontmoeting tussen Afrikaanse dissidente (waaronder ook ek, alhoewel Duits) met die destyds nog onwettige ANC gesê.
Dat jou land na die magsverandering van Mei 1994 nogtans nie dadelik ontplof het nie, was veral te danke aan die groot Nelson Mandela. Dit bly vir my onvergeetlik wat jy oor julle ontmoeting in die vroeë 1990’s vertel het: Jy het jou bekommernis oor die voortbestaan van jou Afrikanervolk aan hom oorgedra. Sy antwoord was slegs “Your time will come (julle tyd sal kom).” Versoeningsgebare het hy ook later tydens sy besoek aan Orania gemaak. Ek herinner net aan die gesprekke tussen hom en die weduwee van Hendrik Verwoerd, jou skoonpa.
Vandag is amper niks meer van daardie gees aanwesig nie. Jou Afrikanervolk word toenemend gemarginaliseer en is nogtans diep verdeel. Gevolglik is ten minste op medium termyn sy voortbestaan bedreig. ʼn Mens hoef net te dink aan die blykbaar reeds volledige verdringing van Afrikaans as onderwystaal aan julle universiteite. Was Constand Viljoen dus reg toe hy die leiers van die ANC in die middel van die 1990’s gewaarsku het dat die groot konflik tussen swart Afrikane en wit Afrikaners nie in Mei 1994 opgelos is nie, maar dat die botsing slegs uitgestel is?
Nadat in die verlede talle geleenthede vir die vorming van ʼn Afrikanerstaat veral weens die arrogansie van die groot meerderheid wit Afrikaners misluk het, gee vir my vandag slegs die werk van Solidariteit hoop, meer presies die deur hulle gestigte projek Helpmekaar. Vir die leidende figure binne Solidariteit is Orania klaarblyklik een van die hoekstene van die toekomstige Afrikanerstaat in die Weste van Suid-Afrika. Saam met ander nedersettings van wit Afrikaners, as ‘t ware grensbakens, word Orania uit die oorblywende Suid-Afrika geneem. Die ekonomies hoogs twyfelagtige, polities egter onvermydelike grondhervorming, dus die uitruil van groot gebiede, sal daartoe lei dat die Afrikanerstaat (Orania) ʼn geslote grondgebied sal ontvang. Dit is ʼn reuse projek, wat net tot stand kan kom nadat alle rolspelers besef het dat die alternatief ʼn verbrande Suid-Afrika sal wees. Na die Afrikanerstaat sal die wit, miskien ook bruin Afrikaners trek wat vir hulle en hulle nageslagte geen perspektief meer sien in die res van Suid-Afrika nie. Die ander sal, waarskynlik sonder politieke regte, in die oorblywende Suid-Afrika leef en wesenlik bydra tot die heropbou en ontwikkeling van die land. In die, soos uiteengesit, polities onafhanklike Afrikanerstaat sal ook hulle wat oor die hele substreek verspreid leef, hulle skole, universiteite, uitgewerye en so meer hê. Met ander woorde, die Afrikanerstaat sal die kulturele sentrum vir alle Afrikaanssprekende mense wees wat tans nog Suid-Afrikaanse burgerskap het. Dit is die enigste manier om julle taal en julle kultuur te red van ondergang. Soos ʼn kwarteeu gelede by die verwydering van apartheid, sal ook nou buitelandse magte aan julle kant moet wees. ʼn Mens kan hier veral dink aan die state van die Europese Unie, aan Groot-Brittanje, wie se rol soos in 1994 deur die VSA ondersteun sal word, aan Rusland en veral Sjina, wat sedert 1994 ʼn digte netwerk van talle soorte van betrekkinge met die nuwe Suid-Afrika opgebou het.
Sou al daardie wat in die toekoms kan kom misluk weens die verdeeldheid van jou Afrikanervolk, dan sal gebeur waarvoor Mangosuthu Buthelezi reeds dekades gelede gewaarsku het: “Constitutional developments in South Africa are going to be a byproduct of bullets and power (Grondwetlike ontwikkelinge in Suid-Afrika gaan ʼn bysaak van patrone en mag wees)”.
Beste Carel, ek sluit my brief af met die herinnering aan die sleutelgebeurtenis in my reeds lang lewe: ʼn Genadige God het julle Suid-Afrikaners en Namibiërs, met majoor Peter Stark op die voorpunt, in staat gestel om my op 13 Desember 1975 na 92 ure van verlore wees in die Namibwoestyn te red van die dood deur dors. Ons almal bid en vra dat Hy ook Suid-Afrika en al sy inwoners uit die woestyn mag lei.
Met hartlike groete
Jou vriend
Klaus

by Orania Beweging | Feb 24, 2017 | Nuus |
2016 was ʼn goeie jaar vir Orania wat ontwikkeling en vooruitgang betref het. Talle infrastruktuurprojekte is voltooi en nuwes is van stapel gestuur. Die doel om ʼn klein landelike stad te skep is nie meer net ʼn beplanning vir die toekoms nie, dit begin werklikheid word.
Vir jare was die inwonergetal van 1000 die magiese grens wat oorgesteek moes word, en vir jare het ons daarmee gesukkel. In 2014 kon dit bereik word vir die “groter Orania”, dus insluitende die landelike dele rondom Orania wat ook deur volkstaters bewoon word en waar volkseie arbeid beoefen word. In 2016 het ook die dorp alleen (aandeleblok) daardie grens oorskry, en saam met die landelike gedeelte het Orania nou 1300 inwoners, wat ʼn groei van 11%, of 150 mense in 2016 verteenwoordig. Alle aanduidings is dat die groei in 2017 verder gaan versnel en dat ons nader kom aan die punt waar groei op talle terreine sneeubal.
Die begroting van Vluytjeskraal Aandeleblok (Dorpsraad) vir 2017 is R15.2 miljoen wat inkomste betref, en R15.3 miljoen wat uitgawes betref, ʼn styging van 12.2% en 13.7% onderskeidelik teenoor die vorige jaar. Alhoewel dit ʼn effense oorbesteding verteenwoordig, was daar ʼn oorskot in 2016 en is heelwat van die uitgawes beleggings in infrastruktuur soos nuwe erwe, wat ook weer die inkomste vorentoe verhoog. Konserwatiewe finansiële bestuur is uiters belangrik en word nog altyd in Orania toegepas. In tye waar almal skuld het en aan ander se genade uitgelewer is, is finansiële onafhanklikheid van uiterste belang. Ons sien dit in Orania se buurmunisipaliteite, wat selfs ten spyte van bydraes uit die staatskas nie hulle begroting kan laat klop nie en gedurig vrees dat Eskom hul
le krag afsny.
Veiligheid en noodverlening was een van die fokuspunte vir groter besteding in 2016, en sal ook in 2017 weer een van die prioriteite wees. Orania was vir lank veilig, en is dit nog steeds, maar ons tref eerder voorsorg en maak gereed vir moontlik verswakkende omstandighede as wat ons onkant gevang word as daar ʼn noodsituasie is. Orania word ook van tyd tot tyd getoets (soos die onverwagse EFF-besoek in Mei 2016) en moet gereed wees vir sulke gebeurlikhede. Kameras en ‘n beheerkamer is in 2016 geïnstalleer, en daar is ook ʼn reaksiemag vir noodsituasies opgelei. Noodvoertuie en veiligheidstoerusting vir ʼn noodgeval asook die uiters belangrike paramediese dienste is ook verlede jaar in plek gekry. Goeie veiligheid en voldoende mediese dienste sal een van die hooftrekpleisters na Orania wees en omgekeerd weerhou onsekerheid oor medies veral ouer mense daarvan om in Orania te vestig.
Die skep van nuwe behuising en infrastruktuur het in 2016 verder spoed opgetel. Elim se laaste woonblok wat nog nie opgegradeer was nie, is in nuwe woonstelle omskep. In Kleingeluk is talle huise voltooi nadat die Dorpsraad die erwe gediens en teen kosprys aan eienaar-bouers en ontwikkelaars beskikbaar gestel het. Ook op die koppie langs die bestaande aftreeoord (Karoosig) gaan bouwerk voort en word die volgende fase beplan vir 2017. Op die sportterrein by die rugbyveld word tans volstoom gewerk aan ʼn tweeverdieping-gebou om besoekende sportspanne vir groot byeenkomste soos die Bokkieweek te huisves. Met sportgeriewe wat elders meer en meer verval, word Orania ʼn bestemming vir sulke wedstryde. Die projek sal vanjaar voltooi word. Nog ʼn groot projek vir 2017 is die skep van bekostigbare woonstelle in Kleingeluk, veral vir werkers en leerlinge van die tegniese skool, wat aan die einde van 2016 voltooi is. Die opleidingskool het reeds begin met messelaaropleiding en sal hierdie jaar behoorlik aan die gang kom.
In die nywerheidsgebied is talle strukture opgerig en word steeds nuwes gebou om voldoende geriewe te hê vir die vestiging van nywerhede. Verlede jaar is die Karooland nywerheidsgebou met spasie vir 8 besighede voltooi en is reeds ten volle beset.
Sagte infrastruktuur mag nie agterweë bly nie. Estetiese bevordering en verfraaiing is ook op talle plekke aangepak om ʼn beter voorkoms te verseker, wat inwoners nog meer trots maak en besoekers nog meer laat tuis voel.
ʼn Gedurige uitdaging bly ook vir 2017 om van die talle nuwe intrekkers ook ware Oraniërs te maak wat die ideaal verstaan en uitleef. So belangrik soos geboue en infrastruktuur, bevolkingsgroei en groeiende finansies is, die belangrikste en dit wat Orania sterk maak is ʼn Christelik gebaseerde Afrikanergemeenskap wat sy ideaal van ʼn selfstandige toekoms uitleef.
by Orania Beweging | Feb 20, 2017 | Nuus |
16 Januarie 2003
Pieter Hattingh is op sy plaas Doringfontein naby Roedtan aangeval.
Hy is Sondag 19 Januarie 2003 aan sy beserings oorlede.
Twee sinnetjies. Twee kort sinnetjies wat my sommige aande laat wakker skrik. Ek is Pieter Stephnaus Krige en ek wil graag met julle hierdie twee sinne deel, omdat hierdie twee sinne my lewe aangrypend verander, nie net in 2003, maar daagliks. Hierdie twee sinne is moontlik die grootste motivering hoekom ek met angs en oorgawe my volle gewig en energie binne Orania uitwoel. Hierdie twee sinne is in ’n sekere sin, op ‘n diep persoonlike vlak, lotsbepalend, omdat dít my maak wie ek vandag is.
U sien, Pieter Johannes Hattingh, was my Oupa gewees, my ander Oupa het ek nooit kon ken nie, hy is jare voor my aankoms in hierdie wêreld al na ons Heer, maar Pieter Johannes Hattingh was die oupa wat ek as oupa Boet geken het. Soos die tyd aanstap, onthou mens grepe, gebeure; hoe hy altyd skelm R20 in my sak kon druk na ’n kuier en ons moes ry; hoe hul huis altyd vol tipiese plaasdinge versier was, ek bedoel nie boerdery implemente en goed nie, nee dit het op die werf rondgestaan, ek bedoel die gangtoonkas vol Kayserpype en modeltrekkertjies, porseleinbeeldjies en teelepels met embleme. Ek onthou hoe hy altyd te hard moes praat, soms tot verleentheid toe, omdat hy nie meer kon hoor nie; hoe hy al gevra is om liefs maar Absa banktakke te vermy in die toekoms, omdat hy op sy growwe manier aangedring het op beter diens.
16 Januarie 2003. Ek was as student tuis, by my ouers se huis, toe die oproep deurkom. Ek kon aflei uit my ma se gesig en stemtoon, dat dit ernstige, slegte nuus is. Die atmosfeer was daardie maagdraai swaartipe, angstige nuus. Angstig het ons gewag totdat ma kom vertel: “Oupa Boet is op die plaas aangeval…” “80 jaar oud en erg hardhorend…dit was seker maklik om hom te oorval…” dink ek.
Ons het gepak en deurgery, Pietersburg Hospitaal, die rit was van die stil en lang tipes, soos in ’n begrafnisstoet. Daar het ek hom gevind, hy het klein gelyk so tussen die bloedbesmeerde lakens. Hy kon praat, maar was nie by sy bewussyn nie, hy was in ’n angsdroom vasgevang. Sy woorde hoor ek nou nog: “Here help my!” angstig en oor en oor. “Here help my!”
Die Here het hom gehelp, sy sambok- en ysterpypvernielde tentewoning is afgebreek en hy het hierdie tydelike verwissel met die ewige. Dit is vandag die eerste keer dat ek hieroor skryf, meer as 14jaar later en nog steeds hoor ek die uitroep, sien ek sy bebloede gesig: “Here help my!”
Ek blaai deur Treurgrond, lees die duisende tweesin-aankondigings en ek dink aan die telefoonoproep wat met elke aanval gepaard gegaan het, ek dink vandag aan duisende van ons mense wat met strykysters gebrand is, sambokke geslaan is, in kookwater verdrink is, verkrag is…Ek dink vandag aan my oupa Boet, MY OUPA, my oupa…vandag bid ek: “Here help my! Want U weet, U sien wat hier aangaan.”
Twee sinnetjies wat die einde van my Oupa se lewe aankondig: Pieter Hattingh is op sy plaas Doringfontein naby Roedtan aangeval. Hy is Sondag 19 Januarie 2003 aan sy beserings oorlede.
Here, help my…want ek sal nooit vergeet nie, ek sal nooit daaroor kom nie, ja ons gaan aan, ons leef, ons bou, ons werk, maar elke nuwe berig op die koerant of oor die radio neem my terug na daardie dag in 2003.
Sy naam was Pieter Johannes Hattingh en hy was my Oupa.
by Orania Beweging | Feb 20, 2017 | Nuus |
In die liberaal-demokratiese idioom waarbinne soveel van ons mense toenemend vasgevang is, hang my geluk en volheid slegs van myself af. Die individu neem die groot besluit om vry, gelukkig en sterk te wees en verseker daardeur dat sy toekoms nie deur eksterne faktore bepaal word nie.
Konserwatiewe mense vind ’n ryk en vol bestaan binne die energie van verhoudinge wat eerder versterk as verbreek word. Binne jou huwelik, gesin, gemeenskap en ander assosiasies vind jy die rykdom en vreugde wat jou lewe goed en mooi maak.
Die liberale beskouing dat hierdie verhoudinge jou van vryheid wat broodnodig is vir ’n vol bestaan, ontneem, is natuurlik verkeerd. Die Britse skrywer, Roger Scuton hanteer die vraag van vryheid deeglik in sy boek, The Soul of the World. Volgens Scruton dink individue toenemend aan ander individue en instellings met wie hulle in watter verhouding ookal staan as ’n aparte objek waarmee gehandel moet word. Dit beteken dat mense toenemend afstand van die mense en instellings om hulle wil doen omdat hulle dink dat daardie persoon in hul pad van vryheid en geluk staan.
Huwelike verbrokkel omdat een persoon voel dat die ander in sy/haar pad van sukses staan, terwyl die waarde van iemand wat jou op elke terrein kan onderskraag om self sukses te behaal, misgekyk word. Kerke loop leeg omdat lidmate voel dat die kerk hul lewe wil regeer en die dominee hulle leefwyse wil voorskryf, terwyl hulle die waarde van kerklike beginsels op die pad na sukses miskyk. Gemeenskappe word geografiese gebiede gevul met individue wat elk teen al die ander meeding om alleen bo uit te kom, terwyl die krag van mense wat met ’n gedeelde visie bymekaar kom en hul vermoëns laat saamwerk om daardie visie meer doeltreffend, vinniger en makliker te bereik, misgekyk word.
Wanneer jy egter besef dat die ander persoon of instelling waarmee jy ’n band het, nie net ’n objek is nie, maar wel deel van jou is, dan hanteer jy die persoon of instelling nie as ’n obstruksie in jou pad na ’n vol en ryk bestaan nie, maar eerder as ’n middel om jou te help om by daardie vol en ryk bestaan uit te kom.
Nog ’n manier om dit te stel is om te vra wat die beste is tussen om vry te wees VAN iemand of iets of om vry te wees VIR iemand of iets? Die idee dat verhoudinge en bande vryheid inhibeer is verkeerd. Volgens Scuton lei dit juis tot vervreemding en skep hierdie ingesteldheid individue wat diep ongelukkig met hulself is.
Wanneer jy vry is vir die mense, instellings en gemeenskap om jou dan bemagtig hierdie bande jou om juis as individu beter te presteer. Huwelike, gesinne, kerkgemeentes en hegte gemeenskappe is nie daar om mense terug te hou nie, maar is eerder daar om sekuriteit, ondersteuning en beginsels aan individue te bied wat hulle nie uit hulself sou kon kry nie.
Op godsdienstige terrein sien ons hoe dwaalleringe soos die bevrydingsteologie veld wen omdat dit in diens van die selfgesentreerde individu staan. Volgens hierdie teologie is die sonde van die individu soos om te lieg, seksuele misdrywe te beoefen of bedrog te pleeg nie so ernstig nie. Die individue staan vry van die sonde en kan maklik deur vergifnes weer van die sonde los gemaak word.
Die kombinasie van individualistiese liberale politiek, dwaalleringe en ’n verlies aan sterk verhoudinge skep toenemend verswakte samelewings waar mense oor die korttermyn die vrugte van individuele vryheid proe net om oor die langtermyn die enorme verlies aan gebondenheid te ervaar soos wat die waarde van verhoudinge duidelik word.
Om ’n ryk en vol bestaan te kan voer, moet die mens weer glo in die waarde van verhoudinge. Die huwelik, gesin, kerk, gemeenskap en talle ander assosiasies moenie die probleem in ons lewe wees nie, maar eerder die oplossing vir ons probleme. Om dit positief te stel kan ons sê dat ons, ons verhoudinge en verbintenisse as katalisators in ons strewe na ’n ryk en vol bestaan moet beskou. Wanneer ons vry kan wees vir iets en iemand en saam met iets en iemand, juis dan vind ons die sleutel tot ’n volhoubare bestaan van geluk, welstand en innerlike vrede.