fbpx

2016 was ʼn goeie jaar vir Orania wat ontwikkeling en vooruitgang betref het. Talle infrastruktuurprojekte is voltooi en nuwes is van stapel gestuur. Die doel om ʼn klein landelike stad te skep is nie meer net ʼn beplanning vir die toekoms nie, dit begin werklikheid word.

Vir jare was die inwonergetal van 1000 die magiese grens wat oorgesteek moes word, en vir jare het ons daarmee gesukkel. In 2014 kon dit bereik word vir die “groter Orania”, dus insluitende die landelike dele rondom Orania wat ook deur volkstaters bewoon word en waar volkseie arbeid beoefen word. In 2016 het ook die dorp alleen (aandeleblok) daardie grens oorskry, en saam met die landelike gedeelte het Orania nou 1300 inwoners, wat ʼn groei van 11%, of 150 mense in 2016 verteenwoordig. Alle aanduidings is dat die groei in 2017 verder gaan versnel en dat ons nader kom aan die punt waar groei op talle terreine sneeubal.

Die begroting van Vluytjeskraal Aandeleblok (Dorpsraad) vir 2017 is R15.2 miljoen wat inkomste betref, en R15.3 miljoen wat uitgawes betref, ʼn styging van 12.2% en 13.7% onderskeidelik teenoor die vorige jaar. Alhoewel dit ʼn effense oorbesteding verteenwoordig, was daar ʼn oorskot in 2016 en is heelwat van die uitgawes beleggings in infrastruktuur soos nuwe erwe, wat ook weer die inkomste vorentoe verhoog. Konserwatiewe finansiële bestuur is uiters belangrik en word nog altyd in Orania toegepas. In tye waar almal skuld het en aan ander se genade uitgelewer is, is finansiële onafhanklikheid van uiterste belang. Ons sien dit in Orania se buurmunisipaliteite, wat selfs ten spyte van bydraes uit die staatskas nie hulle begroting kan laat klop nie en gedurig vrees dat Eskom hulinfrastruktuurle krag afsny.

Veiligheid en noodverlening was een van die fokuspunte vir groter besteding in 2016, en sal ook in 2017 weer een van die prioriteite wees. Orania was vir lank veilig, en is dit nog steeds, maar ons tref eerder voorsorg en maak gereed vir moontlik verswakkende omstandighede as wat ons onkant gevang word as daar ʼn noodsituasie is. Orania word ook van tyd tot tyd getoets (soos die onverwagse EFF-besoek in Mei 2016) en moet gereed wees vir sulke gebeurlikhede. Kameras en ‘n beheerkamer is in 2016 geïnstalleer, en daar is ook ʼn reaksiemag vir noodsituasies opgelei. Noodvoertuie en veiligheidstoerusting vir ʼn noodgeval asook die uiters belangrike paramediese dienste is ook verlede jaar in plek gekry. Goeie veiligheid en voldoende mediese dienste sal een van die hooftrekpleisters na Orania wees en omgekeerd weerhou onsekerheid oor medies veral ouer mense daarvan om in Orania te vestig.

Die skep van nuwe behuising en infrastruktuur het in 2016 verder spoed opgetel. Elim se laaste woonblok wat nog nie opgegradeer was nie, is in nuwe woonstelle omskep. In Kleingeluk is talle huise voltooi nadat die Dorpsraad die erwe gediens en teen kosprys aan eienaar-bouers en ontwikkelaars beskikbaar gestel het. Ook op die koppie langs die bestaande aftreeoord (Karoosig) gaan bouwerk voort en word die volgende fase beplan vir 2017. Op die sportterrein by die rugbyveld word tans volstoom gewerk aan ʼn tweeverdieping-gebou om besoekende sportspanne vir groot byeenkomste soos die Bokkieweek te huisves. Met sportgeriewe wat elders meer en meer verval, word Orania ʼn bestemming vir sulke wedstryde. Die projek sal vanjaar voltooi word. Nog ʼn groot projek vir 2017 is die skep van bekostigbare woonstelle in Kleingeluk, veral vir werkers en leerlinge van die tegniese skool, wat aan die einde van 2016 voltooi is. Die opleidingskool het reeds begin met messelaaropleiding en sal hierdie jaar behoorlik aan die gang kom.

 In die nywerheidsgebied is talle strukture opgerig en word steeds nuwes gebou om voldoende geriewe te hê vir die vestiging van nywerhede. Verlede jaar is die Karooland nywerheidsgebou met spasie vir 8 besighede voltooi en is reeds ten volle beset.

Sagte infrastruktuur mag nie agterweë bly nie. Estetiese bevordering en verfraaiing is ook op talle plekke aangepak om ʼn beter voorkoms te verseker, wat inwoners nog meer trots maak en besoekers nog meer laat tuis voel.

ʼn Gedurige uitdaging bly ook vir 2017 om van die talle nuwe intrekkers ook ware Oraniërs te maak wat die ideaal verstaan en uitleef. So belangrik soos geboue en infrastruktuur, bevolkingsgroei en groeiende finansies is, die belangrikste en dit wat Orania sterk maak is ʼn Christelik gebaseerde Afrikanergemeenskap wat sy ideaal van ʼn selfstandige toekoms uitleef.