fbpx

 

In die liberaal-demokratiese idioom waarbinne soveel van ons mense toenemend vasgevang is, hang my geluk en volheid slegs van myself af. Die individu neem die groot besluit om vry, gelukkig en sterk te wees en verseker daardeur dat sy toekoms nie deur eksterne faktore bepaal word nie.

Konserwatiewe mense vind ’n ryk en vol bestaan binne die energie van verhoudinge wat eerder versterk as verbreek word. Binne jou huwelik, gesin, gemeenskap en ander assosiasies vind jy die rykdom en vreugde wat jou lewe goed en mooi maak.

Die liberale beskouing dat hierdie verhoudinge jou van vryheid wat broodnodig is vir ’n vol bestaan, ontneem, is natuurlik verkeerd. Die Britse skrywer, Roger Scuton hanteer die vraag van vryheid deeglik in sy boek, The Soul of the World. Volgens Scruton dink individue toenemend aan ander individue en instellings met wie hulle in watter verhouding ookal staan as ’n aparte objek waarmee gehandel moet word. Dit beteken dat mense toenemend afstand van die mense en instellings om hulle wil doen omdat hulle dink dat daardie persoon in hul pad van vryheid en geluk staan.

Huwelike verbrokkel omdat een persoon voel dat die ander in sy/haar pad van sukses staan, terwyl die waarde van iemand wat jou op elke terrein kan onderskraag om self sukses te behaal, misgekyk word. Kerke loop leeg omdat lidmate voel dat die kerk hul lewe wil regeer en die dominee hulle leefwyse wil voorskryf, terwyl hulle die waarde van kerklike beginsels op die pad na sukses miskyk. Gemeenskappe word geografiese gebiede gevul met individue wat elk teen al die ander meeding om alleen bo uit te kom, terwyl die krag van mense wat met ’n gedeelde visie bymekaar kom en hul vermoëns laat saamwerk om daardie visie meer doeltreffend, vinniger en makliker te bereik, misgekyk word.

Wanneer jy egter besef dat die ander persoon of instelling waarmee jy ’n band het, nie net ’n objek is nie, maar wel deel van jou is, dan hanteer jy die persoon of instelling nie as ’n obstruksie in jou pad na ’n vol en ryk bestaan nie, maar eerder as ’n middel om jou te help om by daardie vol en ryk bestaan uit te kom.

Nog ’n manier om dit te stel is om te vra wat die beste is tussen om vry te wees VAN iemand of iets of om vry te wees VIR iemand of iets? Die idee dat verhoudinge en bande vryheid inhibeer is verkeerd. Volgens Scuton lei dit juis tot vervreemding en skep hierdie ingesteldheid individue wat diep ongelukkig met hulself is.

Wanneer jy vry is vir die mense, instellings en gemeenskap om jou dan bemagtig hierdie bande jou om juis as individu beter te presteer. Huwelike, gesinne, kerkgemeentes en hegte gemeenskappe is nie daar om mense terug te hou nie, maar is eerder daar om sekuriteit, ondersteuning en beginsels aan individue te bied wat hulle nie uit hulself sou kon kry nie.

Op godsdienstige terrein sien ons hoe dwaalleringe soos die bevrydingsteologie veld wen omdat dit in diens van die selfgesentreerde individu staan. Volgens hierdie teologie is die sonde van die individu soos om te lieg, seksuele misdrywe te beoefen of bedrog te pleeg nie so ernstig nie. Die individue staan vry van die sonde en kan maklik deur vergifnes weer van die sonde los gemaak word.

Die kombinasie van individualistiese liberale politiek, dwaalleringe en ’n verlies aan sterk verhoudinge skep toenemend verswakte samelewings waar mense oor die korttermyn die vrugte van individuele vryheid proe net om oor die langtermyn die enorme verlies aan gebondenheid te ervaar soos wat die waarde van verhoudinge duidelik word.

Om ’n ryk en vol bestaan te kan voer, moet die mens weer glo in die waarde van verhoudinge. Die huwelik, gesin, kerk, gemeenskap en talle ander assosiasies moenie die probleem in ons lewe wees nie, maar eerder die oplossing vir ons probleme. Om dit positief te stel kan ons sê dat ons, ons verhoudinge en verbintenisse as katalisators in ons strewe na ’n ryk en vol bestaan moet beskou. Wanneer ons vry kan wees vir iets en iemand en saam met iets en iemand, juis dan vind ons die sleutel tot ’n volhoubare bestaan van geluk, welstand en innerlike vrede.