fbpx

indexRedefining Manhood – Jim Ewing

Hoe definieer jy jou manlikheid vandag en hoe beïnvloed dit die omgewing om ons?

Ons leef vandag in ‘n era waar feminisme en die “wit man as sondebok-sindroom” verwoestende gevolge vir mans inhou. Eensaamheid, depressie en selfmoord onder mans styg byna in elke Westerse land en talle studies in die VSA wys daarop dat mans toenemend alleen woon en onseker is oor hoe om hulself in ’n veranderende wêreld te laat geld.

 

In Redefining Manhood behandel Jim Ewing die vraagstuk oor hoe Westerse mans vandag hul rol in die samelewing moet herdefinieër.

Wat is die natuurlike staat van die mens? Is dit oorlog of vrede? Die fout wat baie mans maak is om in hul soeke na ’n herdefiniëring van manwees, slegs na die verlede te kyk en daarvolgens die man as kryger aan te hang. Dit plaas mans in ’n posisie van oorlogvoering eerder as vrede wat mans in hul persoonlike en professionele lewens in konflik met moderne realiteit plaas.

Sommige mans stap egter ook heeltemal weg van die historiese Westerse man wat as kryger en held uitgebeeld is om sodoende oordrewe invloed aan hul vroulike, sagter kant te gee. Dit lei tot die man as swakkeling en pateet wat nie met selfvertroue sy plek in die wêreld kan inneem nie.

Die uitdaging vir mans vandag is om met selfvertroue ’n gesonde balans tussen hul historiese rol en die realiteit van ’n wêreld waar geslagte as gelyk geag word en waar vrouens ’n groot rol in byna alle sfere van die lewe speel, te vind. Mans moet energie uit die innerlike kryger put, terwyl hul sagter kant vertroetel moet word. Slegs dan kan ’n man met selfvertroue pa, broer, oom, seun, vriend en beminde wees.

Mans het van nature die behoefte om outonoom te funksioneer en te presteer en in ’n hiërargiese samelewing voel mans dikwels asof hulle nie hierin kan slaag nie. Dit veroorsaak geweldige spanning en die opbreek van verhoudinge.

In ons moderne samelewing het ons mans nodig wat deernisvol, rasioneel, intuïtief en oordeelkundig met hul eie kragdadigheid kan omgaan. Die onderdrukking van kragdadigheid of die onbeheerste uitbarsting daarvan is beide verkeerd. Die moderne man is nie meer ’n koning wat net onbeheers kan regeer oor alles en almal om hom nie, maar die samelewing het ook sterk mans, wat met selfvertroue hul ruimte inneem, nodig.

Ewing se boek is ‘n bondige, dog ryk samevatting van wat mans nodig het om gelukkig en suksesvol in ‘n moderne wêreld te kan wees.