by Orania Beweging | Nov 26, 2018 | Uncategorized |
Een van die belangrikste aspekte van die Orania Beweging se werksaamhede, is op die terrein van diplomasie. Die woord diplomasie vind sy wortels in die Latynse diploma, wat op ‘n brief of dokument van erkenning en verwysing dui. ‘n Diplomaat is dus iemand wat met die mandaat van ‘n groep, staat of instelling, namens die bogenoemde optree. Diplomasie is ten diepste die kuns van verhoudinge, en speel op alle terreine van die lewe uit, maar meermale en sigbaarder op die groter politieke speelveld. Dit sal dwaas wees vir enigeen om te beweer dat verhoudinge met ander, onbelangrik is; dit sal fataal wees vir ‘n volk of groep om dit te ignoreer. Met die koms van die inligtingsera, en die feit dat die wêreld veel kleiner is as die een waarbinne ons voorouers hulself bevind het, te meer só. Met die koms en viraliteit van sosiale media, is dit veel makliker om verhoudinge oor grense heen te bou, of te breek, en elke mens word in ‘n sekere sin ‘n sleutelbord diplomaat. Die een probleem met die vlakke van verwydering wat met die sosiale media ingetree het, is natuurlik die verlies aan persoonlike kontak. Diplomasie, aktivisme en ideologie word van agter sleutelborde beoefen, of gepleeg, met die blote feit dat die gespreksgenote nie in mekaar se persoonlike ruimte teenwoordig is nie, wat sommiges heldhaftig maak, ander brutaal en die meeste, maar dwaas.
Ek wil dus hiermee beweer dat die sosiale media en toegang tot ander se idees, en ander se menings, sonder die persoonlike kontak, diplomasie skade berokken, en dat ware diplomasie, of dan die kuns van verhoudinge, nie op ‘n onpersoonlike vlak kan geskied nie. Persoonlike kontak is nodig.
Ek betoog hier geensins teen die gebruik van sosiale media nie, dit is ‘n magtige instrument, ‘n kragtige bemarkingsmiddel, en ‘n maklike manier om met vriende en vreemdelinge in kontak te kom en te bly, maar dit is maar ‘n stompe en lompe stuk toerusting vir diplomasie, in die selfde sin dat gewone media dit ook maar is. Grense kan maklik oorbrug word, maar die gebrek aan persoonlike kontak met die grensgenoot, skep daardie onoorbrugbare vlakke van verwydering, en die afwesigheid van liggaamstaal, wat volgens Albert Mehrabian se 1971 studie soveel as 55% van alle kommunikasie uitmaak, beteken dat mens met teks, ongeag hoe goed bewoord, slegs die helfte hoor van wat gesê word. Sommige skrywers is moontlik beter as ander om dit reg te kry, maar die tipiese diplomaat of verkondiger van ‘n idee is nie noodwendig ‘n woordsmid nie.
Met hierdie agtergrond, en werklikheid, besef die Orania Beweging, dat alhoewel ons baie staatmaak op digitale kommunikasie, dit vir ons ook slegs 55% van wat ons eintlik wil of kan sê kan omvat. Daarom spandeer ons vir die afgelope 30 jaar veel tyd en energie aan persoonlike skakeling met rolspelers, en ons mikpunt vir 2019 is om dit nog meer te doen.
Die vrug van sulke persoonlike diplomasie, is dat misverstande dadelik opgetel en bygelê kan word, dat daar ‘n gesig agter teks/woorde is, en dat daardie uiters belangrike 55% nie gemis word nie.
Vir die Afrikaner om genoegsame ruimte vir ons toekoms binne Afrika te verkry, sal ons drie dinge moet doen. Ons sal die werklikheid daar moet stel, soos wat Orania al uiters suksesvol reggekry het; ons sal die feit dat ons nie op ‘n eiland as afgesonder van die res van Afrika en die wêreld kan of wil bestaan nie moet verreken; ons sal met diplomasie hierdie ruimte moet en kan bevestig en vergroot. Die Afrikaner, het, histories, meer sukses met diplomasie in Afrika gehad, as die teendeel, en met die laaste stuiptrekkings van die ou Apartheidsbedeling, wat sekerlik vir nog een verkiesing bietjie politieke munt sal bied, is dit nou ook aan die verbygaan. Daar is onomwonde ‘n nuwe tydperk wat aangebreek het, en dit gaan ten diepste oor gemeenskap en plek, gemeenskap en ruimte, en om die rede verhoog ons juis ons 55% kommunikasie met ander rolspelers in 2019, omdat ons graag gehoor wil word, maar meer as dit, omdat ons glo dat ons model van ‘n gemeenskap van gemeenskappe gehoor móét word.
Onlangse skakeling was met die leierskap van die ANC van die Noord-Kaap, onder leiding van Carel Boshoff en Frans de Klerk, en van die ANC se kant, dr Zamani Saul. Ook het vyf van Orania se vroue die uitnodiging vanaf mev. Zanele Mbeki aanvaar, om saam met 1000 afgevaardigdes van die SADC lande die eerste African Woman in Dialogue geleentheid in Boksburg by te woon. So is daar vele ander geleenthede, met onder ander ‘n afvaardiging, onder leiding van Vladimir Poluboyarenko, Adjunk menseregte kommissaris van Stravropol in Rusland, ‘n gespreksgeleentheid in Swede op uitnodiging van The Boer Project, en volgehoue bande met veral Nederlandse Politici, asook van Südtirol en vele skakeling met bykans elke media-huis in die wêreld.
Die Orania Beweging se diplomatieke werk is egter nie net op Afrika-rolspelers, of internasionale bande gefokus nie, maar ‘n groot deel van ons diplomatieke werk, is intern, met ander woorde, verhoudinge met die Afrikaner, die volk vir wie ons bou en ruimte bied. Op hierdie terrein het ons ook die vryheid en selfvertroue om oor die breëspektrum van die volk, met rolspelers te skakel en verhoudinge te bou, met die verskille en ander insigte op die tafel, wat telkemale tot ‘n nadere verband lei na die skakeling, as daarvoor.
Met dit alles genoem, is dit nodig dat die Orania Beweging, ‘n groot deel van die fondse tot ons beskikking vir dié doel aanwend, wat ons ook doen. Gasvryheid teenoor besoekers, vriende en toekomstige vriende en vennote, of selfs vyandiggesindes, gaan al vêr as die 55% kommunikasie in ag geneem word, en skep gewoonlik die platform vir sinvolle gesprek.
Miskien het die Afrikaner, in ‘n sekere sin, die afgelope klompie dekades, stelselmatig, ons goeie Boeremaniere afgeleer. Daar is veelvuldige redes daarvoor aan te voer, maar slegs een oplossing: Ons moet meer met mekaar praat, en dan nie weggesteek agter ‘n sleutelbord nie, maar soos my Prof, Hennie Theron, in Nuwe-Testament die staaltjie van die kommunikasie tussen student en professor uit 3 Johannes 1:13,14 uit aangebied het:
Student:
Ek het baie dinge gehad om te skrywe, maar ek wil nie met ink en pen aan jou skryf nie.
Prof:
Maar ek hoop om jou gou te sien, en ons sal van mond tot mond spreek.
Pieter Krige
by Orania Beweging | Nov 19, 2018 | Uncategorized |
“Die Groot Trek, was ‘n trek na ‘n eie, en ons het behoefte om opnuut weer ons eie te ontdek. As ons iets wil behou van Afrikanerwees, dan moet ons dit in die vorm van ‘n trek na ons eie, aan ons eie mense oordra. En die gevaar dat ons kan sit en wag en sê: “Nou het dit te laat geword, nou vlug ons land uit.” is baie wesentlik. Ons moet die gebondenheid aan Afrika, en die gebondenheid aan jou eie kultuur, die gebondenheid aan jou eie taal, bevestig voordat jy alles prysgee. Ons moet rekenskap gee van onsself, soos wat die Voortrekker rekenskap gegee het van hulle self…” – Prof Carel Boshoff, 16 Desember 2001
Op 16 Desember 2018 sal dit nou 17 jaar wees sedert prof Carel hierdie woorde gespreek het. Ek het dit onlangs ontdek op ‘n 2 uur lange klankgreep in ons digitale argief. Na 17 jaar kan mens seker na die woord terugskouend kyk, en die werklikheid daaraan weeg. Dit is wat ek kortliks in hierdie artikel wil doen.
Die eerste sinsnede is ‘n feit wat met historiese gewig weereens net so aangebied kan word. Die Groot Trek was immers ‘n trek na die eie, en dan nie ‘n trek na waar die eie alreeds gevestig was en bestaan het as ‘n plek wat jou kon omhels en ontvang nie, maar die trek na die ruimte, waarbinne die eie gevestig sal kan word. Dit blyk of volkere (selfs individue, families ens) se strewe na vryheid, ten diepste hieroor gaan, genoegsame kulturele ruimte waarbinne elkeen wat daarmee identifiseer, ‘n tuiste kan vind. Die Trekkers het getrek, om daardie ruimte oop te dink, oop te doen en dan te vul, met wat Carel iv Boshoff onlangs beskryf het as republikeinse vryheid. Die Groot Trek was ‘n trek na die eie.
Die idee van die trek na die eie, is nie ‘n nuwe nie, en ook nie een wat nie verskillende nuanses kan verkry nie. Die een is die idee dat daardie eie, die afsondering en uitsluiting bied, teen en in kompetisie met die ander. Die ander idee is dat, binne die diversiteit en verskeidenheid van identiteit, daardie eie juis ‘n unieke bydra tot die geheel van al die ander kan lewer. Die eie is dus nie die ander nie, maar duidelik nie noodgedwonge ten koste van die ander nie, dit sou die idee van volk en ruimte beperk het, en ek glo dat die idee van volk en ruimte, universeel is, of dan ten minste moet wees om dit meer volhoubaar te maak.
Prof Carel het ‘n behoefte identifiseer, die behoefte dat ons opnuut weer ons eie wil ontdek, of moet ontdek. Die “ons” waarvan hy gepraat het kan mens waarskynlik wyer of enger definieer, maar hy het in 2001 geweet wie hierdie ons was, en ek weet vandag ook wie hierdie ons is. Dit is nie ‘n eng groepie, ‘n splintergroep, ‘n aktivistiese beweging, politieke party, kerk of klub nie, maar hierdie “ons” is ‘n volk, en dan ‘n volk gekenmerk deur sy kulturele, politieke, ekonomiese, simboliese en religieuse goedere. Miskien kan die kulturele eerder die versamelnaam wees van al die elemente wat ‘n volk volk maak.
Ek wil dan hier die onlangse 43ste Verwoerdgedenklesing hierby aanhak, met dr Wikus Buys wat Die kunstenaar as brugbouer vir die stadsbouer aangebied het. In ‘n onlangse gesprek met Carel, sien hy vlymskerp die volgende werklikheid raak, wat ek soos volg onthou en verwoord: Al die talent, en die kunstenaars word vandag aangewend om skaarste te skep, ons beste word aangewend, om mense aan te moedig en te draai om meer en meer te wil hê, en dit is die aard van meeste bemarking, om skaarste te skep. Met dit in gedagte hak ek Carel se terloopse opmerking aan Wikus se ideaal, as oplossing van prof Carel se tweede sinsnede en die daaropvolgende “As ons iets wil behou van Afrikanerwees, dan moet ons dit in die vorm van ‘n trek na ons eie, aan ons eie mense oordra.” En veral met fokus op die oordra.
Ek gaan hierdie oordra van die idee, verder aanhak by die bekende godsdienstige begrippe van dissipels en apostels, waar die dissipels die volgelinge van die idee is, en die apostels die uitgestuurdes, diegene wat die idee moet oordra en nuwe dissipels moet maak. ‘n Volksbeweging het beide nodig, en Orania ook, maar het beide ook as ‘n werklikheid alreeds. As ‘n stad vir die Afrikaner, het ons juis dit ook, volgelinge van die idee, en apostels daarvan. Die volgelinge van die idee, sal waarskynlik meer op die praktyk fokus, die werklikheid daarstel, die werklikheid daarvan leef, by die oopdoen van die idee betrokke wees. Die apostels is diegene wat dit moet uitdra, en volgens dr Buys, is dit waar die kunste ‘n grootse en groter rol te speel het.
Die talent en die kunstenaars, moet aangebied word, befonds word, gebruik word, om die behoefte aan ‘n trek na die eie duidelik te verwoord, en dan daardie ruimte, daardie plek waarheen die trek sal kan en moet gaan, op die horison te stel, en die pad daarheen aan te dui met al die simboliese elemente, wat die werklikheid en die droom so aanbied dat die volk dissipels word, en dat hierdie volk die pad na daardie ruimte kan vind.
Hierdie volk het ‘n behoefte aan die eie, alhoewel die vorige geslag se kunste hierdie ruimte voëlvry beveg het, moontlik omdat die vorige pogings juis ander se ruimte in die praktyk negeer of selfs ontken het, maar die behoefte aan die eie is ‘n natuurlike, ‘n onomstootbare werklikheid. Die nuwe generasie kunstenaars moet die ruimte en geleenthede gebied word, om hierdie behoefte te verwoord, en die oplossing aan te bied, om as’t ware daardie ruimte oop te dink, oop te sing, oop te teken en oop te skryf.
Prof Carel raak aan die brug wat gebou moet word, Carel aan die talente wat skaarste of oorvloed kan skep, of die behoefte daaraan, en Wikus aan die kunstenaar wat daardie brug moet bou.
“As ons iets wil behou van Afrikanerwees, dan moet ons dit in die vorm van ‘n trek na ons eie, aan ons eie mense oordra.”
…aan ons mense, aan hierdie volk wat die ons is, maar natuurlik ook die idee aan die ander wat nie die ons is nie, oordra, want dit is tussen die ander, wat die ruimte van die republikeinse vryheid oopgedink, oopgesing, oopgeskryf, oopgeteken en oopgedoen word. Die apostel tree in gesprek met die eie, maar ook met die ander. Die apostel is die een wat die argumentatiewe aard van huidige politiek, die konflik en die teenoorstelling van die eksklusiewe, moet en kan inkleur met die sagte simboliek, wat nie die debat wen nie, maar die hart, want dit is die hart wat verlang, die hart wat trek, dit is die hart wat huis soek, dit is die hart wat ruimte soek, maar ook ruimte bied.
My aanhaling en oordenking van Prof Carel se woorde sluit ek hiermee af: “En die gevaar dat ons kan sit en wag en sê: “Nou het dit te laat geword, nou vlug ons land uit.” is baie wesentlik. Ons moet die gebondenheid aan Afrika, en die gebondenheid aan jou eie kultuur, die gebondenheid aan jou eie taal, bevestig voordat jy alles prysgee. Ons moet rekenskap gee van onsself, soos wat die Voortrekker rekenskap gegee het van hulle self…”
En ek roep die beweging opnuut op, om die apostels te bemagtig, met die woordeskat, met die idee, met die simboliek en die hartstaal, sodat die beweging se uitgestuurdes, dissipels van die volk kan gaan maak, maar ook dissipels van alle nasies, omdat hierdie idee, die idee van volk en ruimte, die idee van volk en plek sal moet uitkristaliseer in ‘n nuwe werklikheid, en in die Afrikaner se geval, die werklikheid van ‘n polis, ‘n dorp na stad, ‘n tuisland, ‘n werklike geografiese ruimte, wat ingekleur is met die oopgesingde, oopgetekende, oopgeskryfde en oopgedinkte republikeinse vryheid wat vir ‘n volk, wat vir my volk, plek bied.
by Orania Beweging | Nov 6, 2018 | Uncategorized |
Ek was verlede week by ʼn twee dae lange konferensie oor Visie vir Afrikaans 2030. In die konferensie, aangebied deur Solidariteit en onder voorsitterskap van akademici in Afrikanerkringe, is die Afrikaanse gemeenskap (die konferensie se beskrywing) se huidige toestand en hoe om die voortbestaan in die toekoms te verseker, bespreek.
Myns insiens kan dit bevraagteken word dat daar iets soos ʼn Afrikaanse gemeenskap is, maar daar is wel ʼn groot groep Afrikaanssprekendes vir wie die voortbestaan van Afrikaans van belang is. ʼn Aanbieding van dr. Willa Boesak van die Khoisanraad oor bruin identiteit het eintlik juis bevestig dat daar geen gemeenskaplike Afrikaanse identiteit is nie. Vir die voortbestaan van Afrikaans is dit egter belangrik dat daar hande gevat word.
Die demografiese verslag wys dat Afrikaanssprekendes se persentasie afneem, maar dat dit nog steeds ʼn belangrike taal sal bly in die toekoms, en dat die totale getalle Afrikaanssprekendes rondom 7 miljoen is, groter as talle minderheidstale in die wêreld. Daar is dus genoeg rede en ruimte vir Afrikaanse instellings. Die probleem van Afrikaanssprekendes (en spesifiek Afrikaners) is die wye verspreiding oor Suid-Afrika en deesdae oor die hele wêreld. Daarom is konsentrasie nodig. Dit is een van Orania Beweging se hoofdoelwitte. Terwyl Orania Beweging ʼn konsentrasie in die yl bevolkte Noordwes-Kaap, met Orania as fokuspunt bepleit, omdat dit die enigste plek is waar Afrikaners ʼn meerderheid kan vorm (en in die kleine reeds het) wat die voorvereiste vir selfbeskikking of ten minste outonomie is, is Solidariteit se aanbeveling dat Afrikaanssprekendes in sekere ankerdorpe en stede, waar daar reeds aansienlike getalle Afrikaanssprekendes is, moet saamtrek (sien my vorige artikel “Tyd om te trek”). In elke provinsie is sekere ankerdorpe geïdentifiseer, maar slegs in die Wes-Kaap, Noord-Kaap en (in ʼn mindere mate) in Gauteng het Afrikaans ʼn langtermyn kans op oorlewing. In die ankerdorpe moet veral verseker word dat Afrikaanse onderwys van kleuterskool tot matriekvlak, en op sekere plekke selfs tot tersiêre vlak aangebied word. Openbare Afrikaanse skole word minder en die langtermyn-opsie moet private Afrikaanse onderwys wees. Daar moet ook na maniere gekyk word hoe dit bekostigbaar en nog steeds van hoë gehalte kan wees.
Een wesenlike insig (wat die Orania Beweging al sedert sy stigting verinnerlik het) van Visie 2030 is dat daar nie op die staat en die regering staat gemaak kan word nie. Van die talle grondwetlike bepalings wat Afrikaans erken en beskerm het min indien enigiets gekom en selfs die waarborge kan oornag verwyder word. Dit het blykbaar in Namibië gebeur, waar oornag, ten spyte van die feit dat Afrikaans die de facto lingua franca is en dat daar feitlik geen moedertaal Engelssprekendes in die land woon nie, Engels die enigste taal van openbare onderwys geword het. Afrikaans bestaan het voort in enkele privaatskole.
Daar was ook ʼn lang bespreking en aanbieding oor internasionale voorbeelde van hoe minderhede hulleself handhaaf, veral met verwysing na Europa. Alhoewel Europa danksy sy klem op menseregte en sy veroordeling van nasionalisme besonder gunstig teenoor minderhede is, is ook daar die stryd om erkenning ʼn lang en moeilike een, en bestaan daar ten spyte van dekades van uitreik na mekaar nog vooroordele teenoor sekere minderhede. Dit voorspel eintlik niks goeds vir Suid-Afrika nie, waar daar boonop nog ʼn heel ander ideologie (sosialistiese staatsnasionalisme) heers en die erkenning van minderhede ten beste lippetaal is. Die kanse om deur middel van internasionale organisasies druk op die regering uit te oefen is skraal. Die Afrikaner se lot is feitlik onbekend in die wye wêreld en druk moet eers op streeksvlak, met ander woorde vanuit Afrika, geskied. Die beste wat daar op gehoop kan word, is, soos een van die deelnemers dit genoem het, goedgunstige verwaarlosing, met ander woorde ʼn regering wat aan minderhede sê: “moenie enige hulp van ons verwag nie, maar as julle self skole (of wat ook al) wil bedryf en finansieer, doen dit.” Dit is min of meer ook die houding wat Orania Beweging ingeneem het en waarmee ons goed vaar. Enige hoop op amptelike steun van die regering of selfs finansiële hulp sal tot teleurstelling lei. As die regering nie eers sy ondersteuners se basiese behoeftes aan kan voorsien nie, wat is die kans dan nog dat hulle vir Afrikaans sal opkom bloot omdat dit ʼn amptelike taal is?
Al voel vir ons as Orania Beweging Visie 2030 dalk halfhartig en te veel gerig op die taal en te min op die veel wyer begrip van volk of kultuurgemeenskap, bevat dit wel ʼn paar belangrike doelwitte wat ons steun, naamlik konsentrasie, selfdoen en die wil om voort te bestaan as Afrikaanssprekendes en Afrikaners. Immers kan Orania ook moeilik floreer as daar geen Afrikaners in die res van die land meer oor is nie.
by Orania Beweging | Okt 25, 2018 | Uncategorized |
Mense wat op hulle kulturele identiteit gesteld is, waarsku nogal dikwels teen ‘n sogenaamde nuwe wêreldorde waarin daar net een wêreldregering sal wees. Al wil ons by debatte oor die betekenis van Openbaring verbystuur, moet ‘n mens erken dat daar sterk magte is vir wie ‘n enkele wêreldmark met ‘n enkele wêreldtaal en sonder godsdiens, baie voordelig sal wees. Dit is inderdaad nie die toekoms waarvoor ons, wat vir ons volk, taal en bo alles die Here lief is, werk nie.
Wat my verbaas is hoeveel mense wat sterk teen die nuwe wêreldorde gekant is, dink dat ons reg op selfbeskikking deur een of ander hof herstel kan word. Ons hoor dikwels dat hierdie of daardie groep hulle
eis voor die grondwetlike hof, of die Verenigde Nasies voorberei. Hulle noem internasionale verdrae oor selfbeskikking en artikel 235 van die Suid-Afrikaanse grondwet op, dui aan wanneer ons in die verlede oor ons self beskik het en hoe onregverdig daardie reg ontneem is, en sien daarna uit dat ons reg deur ingryping herstel sal word.
Dit is nie onverstaanbaar dat mense so dink nie. Ons is gewoond dat, as jy veronreg word, dit die hof se taak is om aan jou reg te laat geskied. Die strafregstelsel straf oortreders, terwyl die siviele reg gebruik word om skade wat mens deur ‘n ander se doen of versuim gely het, te herstel. As ‘n volk dus iets onregmatig verloor het, moet daar seker ‘n soortgelyke stelsel wees? Mense wat so redeneer, neem die VF Plus nogal kwalik dat ons nie lankal hierdie kanale gebruik het nie.
Hulle is ongelukkig verkeerd. ‘n Regstelsel kan jou net beskerm as daar ‘n regering is wat die regstelsel beskerm. Terwyl ons nie ‘n wêreldregering het nie (en ook nie wil hê nie) is daar nie ‘n regstelsel wat ons posisie gaan herstel nie.
Aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog was daar ook ‘n gedagte dat ons vryheid uit internasionale oord herstel sal word. Afrikaners het, heel tereg, verstaan dat die Amerikaanse president, Woodrow Wilson, geglo het volgende oorloë kan voorkom word deur volke se selfbeskikkingsreg te erken. So het talle nuwe state in Europa tot stand gekom. As dit so is, het ‘n groep leiers gereken, moet ons hulle net vertel met hoeveel onreg ons republieke van ons ontneem is, dan sal ons
dit terugkry. Die ANC het dieselfde bestemming met dieselfde doel besoek.
Die “Vryheidsdeputasie” (soos dit bekend was) en die ANC het albei met leë hande teruggekeer. Al die mooi praatjies oor selfbeskikking het net gegeld vir volke wie se posisie tot die oorlog aanleiding gegee het, met ander woorde in Sentraal- en Oos-Europa. Boonop is net volke onderhorig aan ryke wat die oorlog verloor het, bevry.
As ‘n mens mooi daaraan dink, was die internasionale gemeenskap se manier van dink heel verstaanbaar. ‘n Staat is ‘n komplekse stelsel wat uit kleiner stelsels bestaan. Dit is nie iets wat sommer maklik geskep of verdeel kan word nie. Almal moet doodseker wees die voordele gaan die onvermydelike ontwrigting oortref.
Sedert 1919 het die internasionale reg baie verander en talle state is in die tussentyd gestig. Tog het ‘n paar goed dieselfde gebly: Die internasionale gemeenskap hou nie van ontwrigting nie en staatstigting is altyd ontwrigtend. Vra maar diegene wat Brexit moet werklikheid maak.
Staatstigting volg óf op langdurige konflik, óf op langdurige onderhandeling. In albei gevalle moet ‘n streek se bevolking bewys dat die oorwig van sy inwoners hulle eie staat wil hê en dat hulle oor die vermoë beskik om ‘n staat te bedryf.
Wat ook al die besonderhede van elke verhaal, erkenning deur die internasionale gemeenskap van ‘n volk se selfbeskikking is die einde van ‘n proses, nie die begin nie.
Wie ook al selfbeskikking wil hê, moet begin deur daarvoor te stem. Dan moet hulle die werklikheid stap vir stap tot stand bring – dit help niks om te sê hulle het dit een of ander tyd in die verlede gehad nie.
‘n Stem vir selfbeskikking is ‘n begin. Dit is net ‘n begin. Maar dit is ook ‘n noodsaaklike begin. Want as ‘n kultuurgemeenskap nie eers daarvoor stem nie, sal geen verdere stappe ernstig geneem word nie.
by Orania Beweging | Okt 15, 2018 | Uncategorized |
Onlangs het Solidariteit Beweging ʼn demografiese verslag bekend gestel waarin die Afrikaner se afnemende getalle onder oënskou geneem word en as een van die teenstrategieë ʼn konsentrasie in sowat 30 sentrums of ankerdorpe aanbeveel word. Daardie sentrums is almal stede waar die Afrikaner nog noemenswaardige getalle het, en so om en by 10-20% van die totale bevolking verteenwoordig. In party stede neem die getalle Afrikaners selfs volgens voorspellings toe, maar in meeste neem dit af en selfs daar waar Afrikaners meer word, sal hulle nooit ʼn meerderheid word nie, omdat die demografiese tendense van natuurlike aanwas en migrasie na die stede van swartmense net te sterk is.
Die doel van die konsentrasie in 30 sentrums is dan ook nie om weer politieke beheer te kry nie, maar om gekonsentreerd te wees in plekke waar die getalle Afrikaners groot genoeg is vir die bestaan van instellings wat nodig is vir handhawing en oorlewing en ʼn aanvaarbare lewenstyl: Afrikaanse skole en waar moontlik hoër onderwysinstellings, kerke, hospitale, spesialisdienste en natuurlik genoeg mede-Afrikaners vir interaksie. Van die ankerdorpe of-stede is plekke soos Pretoria, Kaapstad, Port Elizabeth, Nelspruit, Pietersburg, Potchefstroom, Rustenburg, Bloemfontein, Middelburg, Secunda en ander, alles stede waar Afrikaners nog in ʼn aansienlike mate gekonsentreer is. Terwyl sowat 10 jaar gelede in meeste dorpe en stede ʼn groot genoeg Afrikanerkonsentrasie was om nodige dienste, instellings en geriewe te verseker, het die demografie so drasties verander, dat konsentrasie noodsaaklik geword het. Die vinnige ontvolking van die platteland word as onstuitbare gegewe beskou.
Afriforum het juis tot stand gekom met die doel om Afrikaners te help om hulle lewe op allerhande maniere draagliker te maak waar hulle ook al is, terwyl die Orania Beweging se klem nog altyd was om ʼn meerderheid Afrikaners in ʼn yl bevolkte gebied in die Noordwes-Kaap te konsentreer. Orania word in die Solidariteit-verslag as een van die 30 ankerdorpe genoem, maar ook sy besondere aard uitgelig, naamlik dat Orania heelwat kleiner getalle het as die ander sentrums, maar dat die demografiese druk wat in ander sentrums geld, nie hier ter sprake is nie. Alhoewel Solidariteit nie die standpunt van die Orania Beweging van konsentrasie in die Noordwes-Kaap oorgeneem het nie, is die beginsel van konsentrasie in enkele sentrums per provinsie reeds ’n kopskuif in die regte rigting. Ons besef ook dat nie alle Afrikaners Orania toe kan trek nie en dat die ankerdorpe ten minste ʼn tydelike uitkoms kan bied, veral vir mense uit kleiner dorpe wat heeltemal verval en waar die lewe ondraaglik geword het.
Orania sit nog steeds met die uitdaging van genoegsaam getalle. Vanaf sowat 5000 inwoners is Orania al ’n soort klein stad wat dienste en geleenthede betref, ten minste in ʼn yl bevolkte gebied soos die Noord-Kaap (in Gauteng sou dit slegs ʼn onbeduidende voorstad wees), met 10 000 mense sal groei amper vanself kom, en 10 000 Afrikaners is ook die rigtinggewende getal in die verslag van Solidariteit om ʼn ankerdorp te wees. Orania het boonop die groot voordeel dat die 10 000 Afrikaners ʼn absolute meerderheid verteenwoordig. Reeds nou het Orania egter die nog groter voordeel dat dit die enigste dorp in Suid-Afrika is waar Afrikaners oor hulleself op plaaslike vlak regeer.
Om by die magiese getal van 10 000 of selfs 5000 uit te kom, is nie maklik nie, veral nie solank talle Afrikaners nog wag met hulle trek tot Orania eendag groot genoeg is vir hulle behoeftes. Dit is egter die enigste plek in Suid-Afrika wat vir Afrikaners ʼn volhoubare en langtermyn toekoms bied. Hier het Afrikaners as enigste dorp in die land beheer oor hulleself, wat ook nie deur ʼn verkiesing weer verloor kan word nie. Hier is groei, werksgeleenthede, hier word Afrikaans, die Afrikanerkultuur en -erfenis beskerm, hier is dit veilig en leef mense hulle Christenskap en gesinswaardes uit. ʼn Groot aftreeoord (wat ʼn versorgingseenheid en voltydse mediese personeel sal insluit) is in beplanning, en meer mense bring ook meer besighede mee. Verder is hier genoeg water en grond sodat ontwikkeling nog lank kan voortgaan.
Dit help nie om vir ewig uit te stel nie. Daar sal altyd geriewe wees wat nog kort, maar wie te lank wag moet later besef dat die beste eiendom uitverkoop is en dat sy bates in Suid-Afrika weggekwyn het.