Ek was verlede week by ʼn twee dae lange konferensie oor Visie vir Afrikaans 2030. In die konferensie, aangebied deur Solidariteit en onder voorsitterskap van akademici in Afrikanerkringe, is die Afrikaanse gemeenskap (die konferensie se beskrywing) se huidige toestand en hoe om die voortbestaan in die toekoms te verseker, bespreek.
Myns insiens kan dit bevraagteken word dat daar iets soos ʼn Afrikaanse gemeenskap is, maar daar is wel ʼn groot groep Afrikaanssprekendes vir wie die voortbestaan van Afrikaans van belang is. ʼn Aanbieding van dr. Willa Boesak van die Khoisanraad oor bruin identiteit het eintlik juis bevestig dat daar geen gemeenskaplike Afrikaanse identiteit is nie. Vir die voortbestaan van Afrikaans is dit egter belangrik dat daar hande gevat word.
Die demografiese verslag wys dat Afrikaanssprekendes se persentasie afneem, maar dat dit nog steeds ʼn belangrike taal sal bly in die toekoms, en dat die totale getalle Afrikaanssprekendes rondom 7 miljoen is, groter as talle minderheidstale in die wêreld. Daar is dus genoeg rede en ruimte vir Afrikaanse instellings. Die probleem van Afrikaanssprekendes (en spesifiek Afrikaners) is die wye verspreiding oor Suid-Afrika en deesdae oor die hele wêreld. Daarom is konsentrasie nodig. Dit is een van Orania Beweging se hoofdoelwitte. Terwyl Orania Beweging ʼn konsentrasie in die yl bevolkte Noordwes-Kaap, met Orania as fokuspunt bepleit, omdat dit die enigste plek is waar Afrikaners ʼn meerderheid kan vorm (en in die kleine reeds het) wat die voorvereiste vir selfbeskikking of ten minste outonomie is, is Solidariteit se aanbeveling dat Afrikaanssprekendes in sekere ankerdorpe en stede, waar daar reeds aansienlike getalle Afrikaanssprekendes is, moet saamtrek (sien my vorige artikel “Tyd om te trek”). In elke provinsie is sekere ankerdorpe geïdentifiseer, maar slegs in die Wes-Kaap, Noord-Kaap en (in ʼn mindere mate) in Gauteng het Afrikaans ʼn langtermyn kans op oorlewing. In die ankerdorpe moet veral verseker word dat Afrikaanse onderwys van kleuterskool tot matriekvlak, en op sekere plekke selfs tot tersiêre vlak aangebied word. Openbare Afrikaanse skole word minder en die langtermyn-opsie moet private Afrikaanse onderwys wees. Daar moet ook na maniere gekyk word hoe dit bekostigbaar en nog steeds van hoë gehalte kan wees.
Een wesenlike insig (wat die Orania Beweging al sedert sy stigting verinnerlik het) van Visie 2030 is dat daar nie op die staat en die regering staat gemaak kan word nie. Van die talle grondwetlike bepalings wat Afrikaans erken en beskerm het min indien enigiets gekom en selfs die waarborge kan oornag verwyder word. Dit het blykbaar in Namibië gebeur, waar oornag, ten spyte van die feit dat Afrikaans die de facto lingua franca is en dat daar feitlik geen moedertaal Engelssprekendes in die land woon nie, Engels die enigste taal van openbare onderwys geword het. Afrikaans bestaan het voort in enkele privaatskole.
Daar was ook ʼn lang bespreking en aanbieding oor internasionale voorbeelde van hoe minderhede hulleself handhaaf, veral met verwysing na Europa. Alhoewel Europa danksy sy klem op menseregte en sy veroordeling van nasionalisme besonder gunstig teenoor minderhede is, is ook daar die stryd om erkenning ʼn lang en moeilike een, en bestaan daar ten spyte van dekades van uitreik na mekaar nog vooroordele teenoor sekere minderhede. Dit voorspel eintlik niks goeds vir Suid-Afrika nie, waar daar boonop nog ʼn heel ander ideologie (sosialistiese staatsnasionalisme) heers en die erkenning van minderhede ten beste lippetaal is. Die kanse om deur middel van internasionale organisasies druk op die regering uit te oefen is skraal. Die Afrikaner se lot is feitlik onbekend in die wye wêreld en druk moet eers op streeksvlak, met ander woorde vanuit Afrika, geskied. Die beste wat daar op gehoop kan word, is, soos een van die deelnemers dit genoem het, goedgunstige verwaarlosing, met ander woorde ʼn regering wat aan minderhede sê: “moenie enige hulp van ons verwag nie, maar as julle self skole (of wat ook al) wil bedryf en finansieer, doen dit.” Dit is min of meer ook die houding wat Orania Beweging ingeneem het en waarmee ons goed vaar. Enige hoop op amptelike steun van die regering of selfs finansiële hulp sal tot teleurstelling lei. As die regering nie eers sy ondersteuners se basiese behoeftes aan kan voorsien nie, wat is die kans dan nog dat hulle vir Afrikaans sal opkom bloot omdat dit ʼn amptelike taal is?
Al voel vir ons as Orania Beweging Visie 2030 dalk halfhartig en te veel gerig op die taal en te min op die veel wyer begrip van volk of kultuurgemeenskap, bevat dit wel ʼn paar belangrike doelwitte wat ons steun, naamlik konsentrasie, selfdoen en die wil om voort te bestaan as Afrikaanssprekendes en Afrikaners. Immers kan Orania ook moeilik floreer as daar geen Afrikaners in die res van die land meer oor is nie.
Orania sien ek meer en meer as ‘n eerste wêreld dorpie in ‘n derde wêreld land. Orania het so vooruit gegaan dat dit verseker oor ‘n paar dekades van nou ‘n reuse verskil gaan bring in die samelewing van die Afrikaner se totale lot. Ek bly in die Wes-Kaap en weet daar is ‘n groot aantal swartes (veral Afrika-buurlande) wat besig is om Afrikaans te leer juis omdat hulle slegs na Afrikaans medium skole toe gaan. Hulle hou van Afrikaans. Hulle hou van sokkie sokkie, braai en Afrikaner kerke. As mens die toekoms vir sulke Afrikane afrikaans sprekende swartes kan uitlê. ‘n Toekoms in Afrikaans, sal so ‘n taal nooit sterf nie. ‘n Taal sonder plakkerskampe, ‘n Taal sonder grense maar ‘n Taal vir alle mense.
Niemand kan stry teen sukses en resultate. Wat Orania besig is om te vermag is groter as wat baie mense besef. Orania gaan ‘n Stad word met ‘n wenresep wat vir generasies die voetspoor en grondplan vir baie mense gaan wees. Julle sien die konsep is so goed dat baie nie-Afrikaners dit sal wil aangryp en self toepas. Ek sal graag wil weet wat is Orania se toekomsplanne verder ten opsigte van 2030 en vorentoe. Hierdie artikel gee nie baie inligting weg nie. Here seën