fbpx

Mense wat op hulle kulturele identiteit gesteld is, waarsku nogal dikwels teen ‘n sogenaamde nuwe wêreldorde waarin daar net een wêreldregering sal wees. Al wil ons by debatte oor die betekenis van Openbaring verbystuur, moet ‘n mens erken dat daar sterk magte is vir wie ‘n enkele wêreldmark met ‘n enkele wêreldtaal en sonder godsdiens, baie voordelig sal wees. Dit is inderdaad nie die toekoms waarvoor ons, wat vir ons volk, taal en bo alles die Here lief is, werk nie.

Wat my verbaas is hoeveel mense wat sterk teen die nuwe wêreldorde gekant is, dink dat ons reg op selfbeskikking deur een of ander hof herstel kan word. Ons hoor dikwels dat hierdie of daardie groep hulle
eis voor die grondwetlike hof, of die Verenigde Nasies voorberei. Hulle noem internasionale verdrae oor selfbeskikking en artikel 235 van die Suid-Afrikaanse grondwet op, dui aan wanneer ons in die verlede oor ons self beskik het en hoe onregverdig daardie reg ontneem is, en sien daarna uit dat ons reg deur ingryping herstel sal word.

Dit is nie onverstaanbaar dat mense so dink nie. Ons is gewoond dat, as jy veronreg word, dit die hof se taak is om aan jou reg te laat geskied. Die strafregstelsel straf oortreders, terwyl die siviele reg gebruik word om skade wat mens deur ‘n ander se doen of versuim gely het, te herstel. As ‘n volk dus iets onregmatig verloor het, moet daar seker ‘n soortgelyke stelsel wees? Mense wat so redeneer, neem die VF Plus nogal kwalik dat ons nie lankal hierdie kanale gebruik het nie.

Hulle is ongelukkig verkeerd. ‘n Regstelsel kan jou net beskerm as daar ‘n regering is wat die regstelsel beskerm. Terwyl ons nie ‘n wêreldregering het nie (en ook nie wil hê nie) is daar nie ‘n regstelsel wat ons posisie gaan herstel nie.

Aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog was daar ook ‘n gedagte dat ons vryheid uit internasionale oord herstel sal word. Afrikaners het, heel tereg, verstaan dat die Amerikaanse president, Woodrow Wilson, geglo het volgende oorloë kan voorkom word deur volke se selfbeskikkingsreg te erken. So het talle nuwe state in Europa tot stand gekom. As dit so is, het ‘n groep leiers gereken, moet ons hulle net vertel met hoeveel onreg ons republieke van ons ontneem is, dan sal ons
dit terugkry. Die ANC het dieselfde bestemming met dieselfde doel besoek.

Die “Vryheidsdeputasie” (soos dit bekend was) en die ANC het albei met leë hande teruggekeer. Al die mooi praatjies oor selfbeskikking het net gegeld vir volke wie se posisie tot die oorlog aanleiding gegee het, met ander woorde in Sentraal- en Oos-Europa. Boonop is net volke onderhorig aan ryke wat die oorlog verloor het, bevry.

As ‘n mens mooi daaraan dink, was die internasionale gemeenskap se manier van dink heel verstaanbaar. ‘n Staat is ‘n komplekse stelsel wat uit kleiner stelsels bestaan. Dit is nie iets wat sommer maklik geskep of verdeel kan word nie. Almal moet doodseker wees die voordele gaan die onvermydelike ontwrigting oortref.

Sedert 1919 het die internasionale reg baie verander en talle state is in die tussentyd gestig. Tog het ‘n paar goed dieselfde gebly: Die internasionale gemeenskap hou nie van ontwrigting nie en staatstigting is altyd ontwrigtend. Vra maar diegene wat Brexit moet werklikheid maak.

Staatstigting volg óf op langdurige konflik, óf op langdurige onderhandeling. In albei gevalle moet ‘n streek se bevolking bewys dat die oorwig van sy inwoners hulle eie staat wil hê en dat hulle oor die vermoë beskik om ‘n staat te bedryf.

Wat ook al die besonderhede van elke verhaal, erkenning deur die internasionale gemeenskap van ‘n volk se selfbeskikking is die einde van ‘n proses, nie die begin nie.

Wie ook al selfbeskikking wil hê, moet begin deur daarvoor te stem. Dan moet hulle die werklikheid stap vir stap tot stand bring – dit help niks om te sê hulle het dit een of ander tyd in die verlede gehad nie.

‘n Stem vir selfbeskikking is ‘n begin. Dit is net ‘n begin. Maar dit is ook ‘n noodsaaklike begin. Want as ‘n kultuurgemeenskap nie eers daarvoor stem nie, sal geen verdere stappe ernstig geneem word nie.