fbpx

“Die Groot Trek, was ‘n trek na ‘n eie, en ons het behoefte om opnuut weer ons eie te ontdek. As ons iets wil behou van Afrikanerwees, dan moet ons dit in die vorm van ‘n trek na ons eie, aan ons eie mense oordra. En die gevaar dat ons kan sit en wag en sê: “Nou het dit te laat geword, nou vlug ons land uit.” is baie wesentlik. Ons moet die gebondenheid aan Afrika, en die gebondenheid aan jou eie kultuur, die gebondenheid aan jou eie taal, bevestig voordat jy alles prysgee. Ons moet rekenskap gee van onsself, soos wat die Voortrekker rekenskap gegee het van hulle self…” – Prof Carel Boshoff, 16 Desember 2001

Op 16 Desember 2018 sal dit nou 17 jaar wees sedert prof Carel hierdie woorde gespreek het. Ek het dit onlangs ontdek op ‘n 2 uur lange klankgreep in ons digitale argief. Na 17 jaar kan mens seker na die woord terugskouend kyk, en die werklikheid daaraan weeg. Dit is wat ek kortliks in hierdie artikel wil doen.

Die eerste sinsnede is ‘n feit wat met historiese gewig weereens net so aangebied kan word. Die Groot Trek was immers ‘n trek na die eie, en dan nie ‘n trek na waar die eie alreeds gevestig was en bestaan het as ‘n plek wat jou kon omhels en ontvang nie, maar die trek na die ruimte, waarbinne die eie gevestig sal kan word. Dit blyk of volkere (selfs individue, families ens) se strewe na vryheid, ten diepste hieroor gaan, genoegsame kulturele ruimte waarbinne elkeen wat daarmee identifiseer, ‘n tuiste kan vind. Die Trekkers het getrek, om daardie ruimte oop te dink, oop te doen en dan te vul, met wat Carel iv Boshoff onlangs beskryf het as republikeinse vryheid. Die Groot Trek was ‘n trek na die eie.

Die idee van die trek na die eie, is nie ‘n nuwe nie, en ook nie een wat nie verskillende nuanses kan verkry nie. Die een is die idee dat daardie eie, die afsondering en uitsluiting bied, teen en in kompetisie met die ander. Die ander idee is dat, binne die diversiteit en verskeidenheid van identiteit, daardie eie juis ‘n unieke bydra tot die geheel van al die ander kan lewer. Die eie is dus nie die ander nie, maar duidelik nie noodgedwonge ten koste van die ander nie, dit sou die idee van volk en ruimte beperk het, en ek glo dat die idee van volk en ruimte, universeel is, of dan ten minste moet wees om dit meer volhoubaar te maak.

 

Prof Carel het ‘n behoefte identifiseer, die behoefte dat ons opnuut weer ons eie wil ontdek, of moet ontdek. Die “ons” waarvan hy gepraat het kan mens waarskynlik wyer of enger definieer, maar hy het in 2001 geweet wie hierdie ons was, en ek weet vandag ook wie hierdie ons is. Dit is nie ‘n eng groepie, ‘n splintergroep, ‘n aktivistiese beweging, politieke party, kerk of klub nie, maar hierdie “ons” is ‘n volk, en dan ‘n volk gekenmerk deur sy kulturele, politieke, ekonomiese, simboliese en religieuse goedere. Miskien kan die kulturele eerder die versamelnaam wees van al die elemente wat ‘n volk volk maak.

 

Ek wil dan hier die onlangse 43ste Verwoerdgedenklesing hierby aanhak, met dr Wikus Buys wat Die kunstenaar as brugbouer vir die stadsbouer aangebied het. In ‘n onlangse gesprek met Carel, sien hy vlymskerp die volgende werklikheid raak, wat ek soos volg onthou en verwoord: Al die talent, en die kunstenaars word vandag aangewend om skaarste te skep, ons beste word aangewend, om mense aan te moedig en te draai om meer en meer te wil hê, en dit is die aard van meeste bemarking, om skaarste te skep. Met dit in gedagte hak ek Carel se terloopse opmerking aan Wikus se ideaal, as oplossing van prof Carel se tweede sinsnede en die daaropvolgende “As ons iets wil behou van Afrikanerwees, dan moet ons dit in die vorm van ‘n trek na ons eie, aan ons eie mense oordra.” En veral met fokus op die oordra.

 

Ek gaan hierdie oordra van die idee, verder aanhak by die bekende godsdienstige begrippe van dissipels en apostels, waar die dissipels die volgelinge van die idee is, en die apostels die uitgestuurdes, diegene wat die idee moet oordra en nuwe dissipels moet maak. ‘n Volksbeweging het beide nodig, en Orania ook, maar het beide ook as ‘n werklikheid alreeds. As ‘n stad vir die Afrikaner, het ons juis dit ook, volgelinge van die idee, en apostels daarvan. Die volgelinge van die idee, sal waarskynlik meer op die praktyk fokus, die werklikheid daarstel, die werklikheid daarvan leef, by die oopdoen van die idee betrokke wees. Die apostels is diegene wat dit moet uitdra, en volgens dr Buys, is dit waar die kunste ‘n grootse en groter rol te speel het.

Die talent en die kunstenaars, moet aangebied word, befonds word, gebruik word, om die behoefte aan ‘n trek na die eie duidelik te verwoord, en dan daardie ruimte, daardie plek waarheen die trek sal kan en moet gaan, op die horison te stel, en die pad daarheen aan te dui met al die simboliese elemente, wat die werklikheid en die droom so aanbied dat die volk dissipels word, en dat hierdie volk die pad na daardie ruimte kan vind.

Hierdie volk het ‘n behoefte aan die eie, alhoewel die vorige geslag se kunste hierdie ruimte voëlvry beveg het, moontlik omdat die vorige pogings juis ander se ruimte in die praktyk negeer of selfs ontken het, maar die behoefte aan die eie is ‘n natuurlike, ‘n onomstootbare werklikheid. Die nuwe generasie kunstenaars moet die ruimte en geleenthede gebied word, om hierdie behoefte te verwoord, en die oplossing aan te bied, om as’t ware daardie ruimte oop te dink, oop te sing, oop te teken en oop te skryf.

Prof Carel raak aan die brug wat gebou moet word, Carel aan die talente wat skaarste of oorvloed kan skep, of die behoefte daaraan, en Wikus aan die kunstenaar wat daardie brug moet bou.

“As ons iets wil behou van Afrikanerwees, dan moet ons dit in die vorm van ‘n trek na ons eie, aan ons eie mense oordra.”

…aan ons mense, aan hierdie volk wat die ons is, maar natuurlik ook die idee aan die ander wat nie die ons is nie, oordra, want dit is tussen die ander, wat die ruimte van die republikeinse vryheid oopgedink, oopgesing, oopgeskryf, oopgeteken en oopgedoen word. Die apostel tree in gesprek met die eie, maar ook met die ander. Die apostel is die een wat die argumentatiewe aard van huidige politiek, die konflik en die teenoorstelling van die eksklusiewe, moet en kan inkleur met die sagte simboliek, wat nie die debat wen nie, maar die hart, want dit is die hart wat verlang, die hart wat trek, dit is die hart wat huis soek, dit is die hart wat ruimte soek, maar ook ruimte bied.

My aanhaling en oordenking van Prof Carel se woorde sluit ek hiermee af: “En die gevaar dat ons kan sit en wag en sê: “Nou het dit te laat geword, nou vlug ons land uit.” is baie wesentlik. Ons moet die gebondenheid aan Afrika, en die gebondenheid aan jou eie kultuur, die gebondenheid aan jou eie taal, bevestig voordat jy alles prysgee. Ons moet rekenskap gee van onsself, soos wat die Voortrekker rekenskap gegee het van hulle self…”

En ek roep die beweging opnuut op, om die apostels te bemagtig, met die woordeskat, met die idee, met die simboliek en die hartstaal, sodat die beweging se uitgestuurdes, dissipels van die volk kan gaan maak, maar ook dissipels van alle nasies, omdat hierdie idee, die idee van volk en ruimte, die idee van volk en plek sal moet uitkristaliseer in ‘n nuwe werklikheid, en in die Afrikaner se geval, die werklikheid van ‘n polis, ‘n dorp na stad, ‘n tuisland, ‘n werklike geografiese ruimte, wat ingekleur is met die oopgesingde, oopgetekende, oopgeskryfde en oopgedinkte  republikeinse vryheid wat vir ‘n volk, wat vir my volk, plek bied.