by Orania Beweging | Mar 17, 2014 | Nuus |
Ek het heelwat ondervinding van een van die mees kosbare skatte op die planeet: gesondheid.
Een van die feite wat my telkens tref is dat mense selde oor hulle gesondheid bekommer behalwe wanneer dit te laat is of wanneer hulle gewig wil verloor ter wille van hulle voorkoms. Dit is absoluut oorbekend dat groente, neute en vrugte voorkeurkos vir mense is, en dat vleis meesal die potensiaal het om by te dra tot vroeër veroudering en afname in lewensgehalte. Almal weet dat lekkers, koeldrank, diervet, verwerkte kosse, sigaretrook, oormaat alkohol en diesulkes baie sleg is vir gesondheid, en tog word miljoene Rande daagliks daaraan bestee.
My logiese afleiding is dat mense eenvoudig nie proaktief optree nie. Hulle reageer nadat hulle siek geword het.
Dit lyk my of hulle in ‘n politieke sin presies dieselfde optree. Ek hoor en sien daagliks hoe mense rasionaliseer: hoekom hulle eerder in hulle gevaarlike woonbuurte moet aanbly, hoekom riskante beroepe nie laat vaar kan word nie; hoekom hulle nie sonder slawe kan oorleef nie; hoekom …
Dit pas my nogal. Wat my betref is Orania klein, intiem en ondersteunend. Veilig, vriendelik en interessant. Ons het te min mense vir ‘n universiteit, skaatsbaan en snelweë. Ek weet dat ons MOET groei teen ‘n duiselingwekkende tempo as ons voorsiening wil maak vir al die Afrikaners wat hierheen (oa) sal wil vlug as Afrika sy tantrum gooi. Ek weet dat ons moet groei totdat kinders hier volledig tot by die grootste grade opgevoed kan word en hulle persoonlikhede ryp genoeg is om die wye wêreld te hanteer. Ek weet ook dat dit SAL gebeur.
Mag my lewe teen daardie tyd egter grootliks verby wees. Ek wil dit baie graag sien maar nie noodwendig beleef nie!
by Orania Beweging | Feb 10, 2014 | Nuus |
Die werklikheid en wens verskil meesal drasties van mekaar. Daar is egter rede om te dink oor die afstand tussen hulle.
Hidroponika, akwaponika, permakultuur, organiese beginsels is almal baie emosionele gonswoorde of -begrippe wat deur veral wensdenkers vertroetel en rondgestrooi word. Ek moet bieg dat ek ook so ‘n filosoof is. Ek het al baie gelees oor al bogenoemde kulture en selfs soms daarmee gespeel.
Hidroponika is “grondlose” kultuur met presiese mengsels van voedingstowwe. Water word ‘n paar maal herverbruik en die voordele is presiese voeding, waterbesparing en maklike outomatisasie. Klipgruis of organiese materiale word gebruik as inerte mediums.
Akwaponika is ‘n vindingryke aanpassing daarvan waar visse in ‘n tenk aangehou en gevoer word. Hulle afval word verby plante se wortels gepomp soos in hidroponika hierbo. Die plante neem die voedingstowwe op en suiwer dus in ‘n sin die water. Die voordele is weereens presies soos bo, met die bykomende visproduksie en meer organiese verbouing van plante. Hoenders kan ook bo water aangehou word sodat hulle mis in die viswater beland.
“Organies” beteken spesifiek dat geen kunsmatige bemesting of plant- of onkruiddoder gebruik word nie. Die misbruik van die begrip het gelei tot maatreëls om sertifisering te formaliseer. Dit is dus vir die boer baie duur en tydrowend om die klaring te verkry. Produkpryse weerspieël meesal ‘n premie vir daardie sekerheid.
Permakultuur is organiese “hemel”. Stelsels word geïntegreer sodat min peste problematies raak. Die natuur word “bestuur” om goeie eienskappe te gebruik terwyl nadele uitbestuur word.
Suiwer uit ‘n wateroogpunt is die eerste twee metodes baie voordelig. Organiese metodes en permakultuur bespaar water terwyl vogbewaring in die grond verbeter word. Water-ekonomie is egter nie so indrukwekkend soos by hidroponika nie.
Landbou in Suid-Afrika het verskeie baie lastige probleme. Een daarvan is waterskaarste en in gevalle waar besproei word, ook die prys van gepompte water. Met kragtariewe wat ywerig styg, het boere in verskeie gebiede reeds verklaar dat produkpryse nie teen dieselfde tempo styg nie en dat die punt genader word waar produksie nie gaan betaal nie. Boere se inkomste, voedselsekerheid en werksgeleenthede word bedreig.
Uit ‘n selfsorgoogpunt is ‘n denkproses ook nodig. Ons water word deur ESKOM gepomp. Dit is tans onmoontlik om te produseer as hulle diens verval. Ons het eenvoudig nie ekonomiese alternatiewe nie.
Met hidroponika kan baie makliker met sonkrag weggekom word omdat water eenvoudig hersirkuleer kan word en sonkrag kan baie maklik daarvoor gebruik word. Daar kan dus vir dae weggekom word sonder groot volumes “nuwe” water.
Ek dink dit raak tyd dat die afstand tussen wens en doen begin krimp: waterskaarste is volgens alle kenners naby!