Een van die belangrikste aspekte van die Orania Beweging se werksaamhede, is op die terrein van diplomasie. Die woord diplomasie vind sy wortels in die Latynse diploma, wat op ‘n brief of dokument van erkenning en verwysing dui. ‘n Diplomaat is dus iemand wat met die mandaat van ‘n groep, staat of instelling, namens die bogenoemde optree. Diplomasie is ten diepste die kuns van verhoudinge, en speel op alle terreine van die lewe uit, maar meermale en sigbaarder op die groter politieke speelveld. Dit sal dwaas wees vir enigeen om te beweer dat verhoudinge met ander, onbelangrik is; dit sal fataal wees vir ‘n volk of groep om dit te ignoreer. Met die koms van die inligtingsera, en die feit dat die wêreld veel kleiner is as die een waarbinne ons voorouers hulself bevind het, te meer só. Met die koms en viraliteit van sosiale media, is dit veel makliker om verhoudinge oor grense heen te bou, of te breek, en elke mens word in ‘n sekere sin ‘n sleutelbord diplomaat. Die een probleem met die vlakke van verwydering wat met die sosiale media ingetree het, is natuurlik die verlies aan persoonlike kontak. Diplomasie, aktivisme en ideologie word van agter sleutelborde beoefen, of gepleeg, met die blote feit dat die gespreksgenote nie in mekaar se persoonlike ruimte teenwoordig is nie, wat sommiges heldhaftig maak, ander brutaal en die meeste, maar dwaas.
Ek wil dus hiermee beweer dat die sosiale media en toegang tot ander se idees, en ander se menings, sonder die persoonlike kontak, diplomasie skade berokken, en dat ware diplomasie, of dan die kuns van verhoudinge, nie op ‘n onpersoonlike vlak kan geskied nie. Persoonlike kontak is nodig.
Ek betoog hier geensins teen die gebruik van sosiale media nie, dit is ‘n magtige instrument, ‘n kragtige bemarkingsmiddel, en ‘n maklike manier om met vriende en vreemdelinge in kontak te kom en te bly, maar dit is maar ‘n stompe en lompe stuk toerusting vir diplomasie, in die selfde sin dat gewone media dit ook maar is. Grense kan maklik oorbrug word, maar die gebrek aan persoonlike kontak met die grensgenoot, skep daardie onoorbrugbare vlakke van verwydering, en die afwesigheid van liggaamstaal, wat volgens Albert Mehrabian se 1971 studie soveel as 55% van alle kommunikasie uitmaak, beteken dat mens met teks, ongeag hoe goed bewoord, slegs die helfte hoor van wat gesê word. Sommige skrywers is moontlik beter as ander om dit reg te kry, maar die tipiese diplomaat of verkondiger van ‘n idee is nie noodwendig ‘n woordsmid nie.
Met hierdie agtergrond, en werklikheid, besef die Orania Beweging, dat alhoewel ons baie staatmaak op digitale kommunikasie, dit vir ons ook slegs 55% van wat ons eintlik wil of kan sê kan omvat. Daarom spandeer ons vir die afgelope 30 jaar veel tyd en energie aan persoonlike skakeling met rolspelers, en ons mikpunt vir 2019 is om dit nog meer te doen.
Die vrug van sulke persoonlike diplomasie, is dat misverstande dadelik opgetel en bygelê kan word, dat daar ‘n gesig agter teks/woorde is, en dat daardie uiters belangrike 55% nie gemis word nie.
Vir die Afrikaner om genoegsame ruimte vir ons toekoms binne Afrika te verkry, sal ons drie dinge moet doen. Ons sal die werklikheid daar moet stel, soos wat Orania al uiters suksesvol reggekry het; ons sal die feit dat ons nie op ‘n eiland as afgesonder van die res van Afrika en die wêreld kan of wil bestaan nie moet verreken; ons sal met diplomasie hierdie ruimte moet en kan bevestig en vergroot. Die Afrikaner, het, histories, meer sukses met diplomasie in Afrika gehad, as die teendeel, en met die laaste stuiptrekkings van die ou Apartheidsbedeling, wat sekerlik vir nog een verkiesing bietjie politieke munt sal bied, is dit nou ook aan die verbygaan. Daar is onomwonde ‘n nuwe tydperk wat aangebreek het, en dit gaan ten diepste oor gemeenskap en plek, gemeenskap en ruimte, en om die rede verhoog ons juis ons 55% kommunikasie met ander rolspelers in 2019, omdat ons graag gehoor wil word, maar meer as dit, omdat ons glo dat ons model van ‘n gemeenskap van gemeenskappe gehoor móét word.
Onlangse skakeling was met die leierskap van die ANC van die Noord-Kaap, onder leiding van Carel Boshoff en Frans de Klerk, en van die ANC se kant, dr Zamani Saul. Ook het vyf van Orania se vroue die uitnodiging vanaf mev. Zanele Mbeki aanvaar, om saam met 1000 afgevaardigdes van die SADC lande die eerste African Woman in Dialogue geleentheid in Boksburg by te woon. So is daar vele ander geleenthede, met onder ander ‘n afvaardiging, onder leiding van Vladimir Poluboyarenko, Adjunk menseregte kommissaris van Stravropol in Rusland, ‘n gespreksgeleentheid in Swede op uitnodiging van The Boer Project, en volgehoue bande met veral Nederlandse Politici, asook van Südtirol en vele skakeling met bykans elke media-huis in die wêreld.
Die Orania Beweging se diplomatieke werk is egter nie net op Afrika-rolspelers, of internasionale bande gefokus nie, maar ‘n groot deel van ons diplomatieke werk, is intern, met ander woorde, verhoudinge met die Afrikaner, die volk vir wie ons bou en ruimte bied. Op hierdie terrein het ons ook die vryheid en selfvertroue om oor die breëspektrum van die volk, met rolspelers te skakel en verhoudinge te bou, met die verskille en ander insigte op die tafel, wat telkemale tot ‘n nadere verband lei na die skakeling, as daarvoor.
Met dit alles genoem, is dit nodig dat die Orania Beweging, ‘n groot deel van die fondse tot ons beskikking vir dié doel aanwend, wat ons ook doen. Gasvryheid teenoor besoekers, vriende en toekomstige vriende en vennote, of selfs vyandiggesindes, gaan al vêr as die 55% kommunikasie in ag geneem word, en skep gewoonlik die platform vir sinvolle gesprek.
Miskien het die Afrikaner, in ‘n sekere sin, die afgelope klompie dekades, stelselmatig, ons goeie Boeremaniere afgeleer. Daar is veelvuldige redes daarvoor aan te voer, maar slegs een oplossing: Ons moet meer met mekaar praat, en dan nie weggesteek agter ‘n sleutelbord nie, maar soos my Prof, Hennie Theron, in Nuwe-Testament die staaltjie van die kommunikasie tussen student en professor uit 3 Johannes 1:13,14 uit aangebied het:
Student:
Ek het baie dinge gehad om te skrywe, maar ek wil nie met ink en pen aan jou skryf nie.
Prof:
Maar ek hoop om jou gou te sien, en ons sal van mond tot mond spreek.
Pieter Krige