fbpx

Die voortdurende vraag na goedkoop arbeid is besig om in Europa, Noord-Amerika en natuurlik ook Suid-Afrika die spore van ‘n Westerse beskawing stadig maar seker dood te vee. Tydens ‘n besoek aan die VSA was dit opmerklik dat die hotelskoonmaker van die een of ander arm Sentraal-Amerikaanse land afkomstig was en die taxi-bestuurders van lande soos Pakistan en selfs Ethiopië.

In Europa word arbeid toenemend deur mense van Moslemlande en die Ooste verrig. Die Afrikaner het sy vermoë om sy eie lot te beheer juis weens die verslawing aan goedkoop nie-Afrikanerarbeid verloor. Saam met die Afrikaner se verlies aan selfbeskikking het Suid-Afrika se toenemende Afrikanisering en dus uitskuif van Westerse beginsels en lewenstyle gekom.

Arbeidsbehoeftes bring vandag in die Westerse wêreld groot demografiese veranderinge mee. Demografiese veranderinge het ‘n groot invloed op die stand van die Westerse beskawing omdat bekostigbare arbeid gewoonlik uit die Derde Wêreld afkomstig is. Teen 2050 sal minder as 50% van die VSA se bevolking wit wees. Die nuwe mengsel van inwoners van Afrika-, Oosterse-, Midde-Oosterse- en Suid-Amerikaanse afkoms skep stelselmatig ‘n nuwe soort beskawing wat sterk in kontras met die moderne Westerse beskawing staan. Die Amerikaanse skrywer Pat Buchanan het bereken dat ‘n meerderheid van Amerikaanse burgers teen 2050 van Derde Wêreldse afkoms sal wees. Reeds teen 2020 sal sterfes van Amerikaners van Europese afkoms geboortes verbysteek en sal die land se wit bevolking begin krimp. Vermenging met ander rasse word nie eens hierby ingereken nie. Tans is een uit elke tien huwelike in die VSA tussen persone van verskillende rasse.

In Europa, die wieg van die Westerse beskawing, is daar reeds ‘n afname in die wit bevolking te bespeur. Die geboortekoers in Wes-Europa het ook oor die afgelope paar jaar skerp afgeneem, met slegs immigrante uit die Derde Wêreld wat ‘n geboortekoers van bo die vervangingskoers handhaaf. Die Moslembevolking in Wes-Europa het die afgelope 10 jaar verdubbel en sal van nou tot 2015 weer verdubbel. In Brussels in België is die ses babaname wat tans die gewildste is Mohamed, Adam, Rayan, Ayoub, Mehdi, Amine en Hamza. Dieselfde gebeur dus in Europa as in die VSA: Die wit bevolking krimp weens lae geboortekoerse en vermenging met ander rasse, terwyl die getalle van burgers van Derde Wêreldlande skerp toeneem weens ‘n konstante invloei, asook hoë geboortekoerse.

Wat in Europa en die VSA gebeur, gebeur ook in die ou kolonies soos Australië, Nieu-Seeland, Kanada en natuurlik ook Suid-Afrika. Dit is egter nie net immigrasie en die geboortekoers wat die Westerse beskawing bedreig nie, maar ook Westerlinge se totale onvermoë om ons literatuur, filosofiese denkrigtings, kuns, argitektuur, geskiedenis, geloof en politieke raamwerke aan ‘n volgende geslag oor te dra. ‘n Studie onder Britse hoërskoolleerlinge het getoon dat skaars 30% van die leerlinge weet waar die Boere-oorlog plaasgevind het en slegs 16% weet wie was in bevel van die Britse troepe by Waterloo. Plaaslike studies onder Afrikanerleerlinge het ookal hul totale onkunde oor ons eie Afrikanergeskiedenis, literatuur en algemene denke, tradisies en gewoontes uitgewys.

Ek onthou goed die kommentaar van twee kinders wat saam met hul ouers in die ry agter ons gesit het tydens ‘n vertoning van die Ons vir Jou-musiekblyspel ‘n paar jaar gelede. Die kinders wou die heeltyd by hul ouers weet hoekom die ouers nog nooit vir hulle van die Boere-oorlog vertel het nie. Wat ‘n skande!

Die realiteit waarmee Orania vandag werk, is ‘n vervallende Westerse beskawing wat slegs gestuit kan word deur die gebruik van eie arbeid, ‘n hoër geboortekoers en die konstante gefokusde oordrag van ons kultuur aan ‘n volgende generasie. Orania is binne die Westerse beskawing uitstekend hiervoor gerat omdat ons reeds deur ons eie instellings, eie kultuurgeleenthede en vakansiedae ‘n platform vir die behoud van ons Westerse identiteit begin skep het.

Die huidige verval van die Westerse beskawing is nie iets nuut nie. In die sesde eeu tydens die vroeë Middeleeue was daar ook ‘n groot verval van die Westerse beskawing. Een van die redes vir dié verval was juis ook migrasie uit Oos-Europa en die sogenaamde ‘barbaarse invalle’. Tog is die Westerse kultuur in kloosters en ander plekke in stand gehou en kon dit later weer groei en tot hernude ontwikkeling van Wes-Europa aanleiding gee.

Die Weste is nie gedoem nie, maar die Westerse beskawing word wel ernstig bedreig. Orania se voorbeeld van die gebruik van eie arbeid en die skep van eie instellings is ‘n goeie begin. Ons sal egter nog baie meer moet doen om werklik ‘n noemenswaardige rol in die behoud van die Westerse identiteit te speel.