fbpx

Hierdie brief het op 30 Junie in Rapport verskyn:

Hannelie Booyens se artikel oor Orania in MyTyd (23 Junie) laat my dink aan ’n fotograaf wat op Photoshop gespeel het en nie kon ophou om aan ’n goeie foto te torring nie.

Groot dele van die artikel is eerlik en in pragtige taal geskryf en wys tereg op talle mooi dinge en ook die leemtes in Orania se mondering, maar die ander helfte is ’n poging om deur afleidings en vooroordele haar eie ideo­logiese stempel af te druk op ’n gemeenskap wat lankal by die ou ideologiese skeidslyne verby is.

Uit die 1 000 inwoners in Orania is 300 skoolgaande in ons twee plaaslike skole. Hannelie dink egter hier is min kinders en dat Orania se ideaal saam met die klompie ou mense hier sal uitsterf. ’n Ernstige joernalis sou die aanname dat Orania net uit bejaardes bestaan, nagegaan het.

Twee helderoranje borde waarop die een besoekers verwelkom en die ander ons gemeenskap se verjaardag aankondig, word as “oranje-geskakeerde volkstaatpropaganda” afgemaak. Orania is juis gekant teen die eng propagandistiese wyse waarop gemeenskappe in Suid-Afrika vandag voorgesê word en het nog nooit so ’n strategie voorgestaan nie.

Ons poging om Kleingeluk, ’n ou woonbuurt vir bruines, te omskep in ’n plek waar Afrikaners uit alle inkomstegroepe tuis voel, word beskryf as ’n groeiende plakkerskamp. Wel, daar is geen plakkershuise in Orania en veral nie in Kleingeluk nie.

Oor die wêreld heen is daar toenemend steun vir minderhede se reg tot selfbeskikking. Minderheidsregte en die idee van vreedsame selfbeskikking (soos in Orania), word as ’n liberale beginsel beskou, maar Booyens beskryf dit as ’n “fanatiese en benouende Christelike lewensbeskouing”.

Sy het duidelik nog nie veel moeite gedoen om oor Quebec, Katalonië, Vlaandere en Suid-Tirool te lees nie. Selfbeskikking raak die inding en nie een of ander agterlike idee soos sy dit voorhou nie.