fbpx

FreedomDie Vryheidsparty van Suid-Tirool in die Noorde van Italië het ‘n pragtige bemarkingspamflet. Op die voorkant van die pamflet is die foto van ‘n swanger vrou met die byskrif: “Europa is swanger en sy verwag vyf nuwe state.” Die Vryheidsparty is die hoofopposisie in Suid-Tirool en strewe vir onmiddellike onafhanklikheid van Italië. In die onlangse verkiesing in Suid-Tirool het dié party se steun skerp toegeneem.

Die vyf nuwe state waarna die Vryheidsparty verwys is Suid-Tirool, Vlaandere, Katalonië, Skotland en Venesië. Al vyf hierdie gebiede streef tans na selfbeskikking van onderskeidelik Italië, België, Spanje en die Verenigde Koninkryk. Hierdie vyf streke het ook reeds ’n groot mate van outonomiteit. In Suid-Tirool kry die provinsiale regering reeds sowat 90% van sy belastinggeld van die Italiaanse regering terug. Die provinsie het volle beheer oor die meeste staatsdepartemente insluitende onderwys, kultuur en ekonomiese sake. In al vyf hierdie streke het die steun vir onafhanklikheid ten spyte van ‘n reeds groot mate van outonomiteit die afgelope paar jaar beduidend toegeneem.

Vroeër vanjaar het die drie partye in Vlaandere, wat vir onafhanklikheid van België staan, vir die eerste keer in jare meer as 50% van die steun van Vlaminge in ‘n peiling geniet. In Katalonië is die meerderheid parlementslede ten gunste van onafhanklikheid. Volgens peilings het steun vir onafhanklikheid onder Katalane van 34% in 1996 tot 55% in September vanjaar toegeneem.

Ook in Venesië in Italië is daar toenemend steun vir onafhanklikheid. Onlangse peilings toon dat tussen 70% en 80% van die inwoners van Venesië ten gunste daarvan is om ‘n onafhanklike staat tot stand te bring.

Skotland is tans die beste voorbeeld van ‘n streek wat na onafhanklikheid streef. Dié land beplan om volgende jaar op 18 September ‘n referendum te hou met die doel om onafhanklik van die Verenigde Koninkryk te raak. In die Skotse parlement is 55% van parlementslede ten gunste van onafhanklikheid. Die Skotse Nasionalistiese Party het in 2011 ‘n historiese meerderheid in die Skotse verkiesing behaal, en beskou dit as ‘n mandaat om onafhanklikheid te verwesenlik. Verlede week het die Skotse eerste minister, Alex Salmond, ‘n dokument van meer as 600 bladsye waarin sy party se strategie vir onafhanklikheid uiteengesit word, bekend gemaak. Skotland mag dalk net teen volgende jaar hierdie tyd onafhanklik van die Verenigde Koninkryk wees.

Nie een van hierdie streke wat na onafhanklikheid streef, hoort tuis in die lande waarvan hulle tans deel is nie. In die meeste van die gevalle is hierdie streke na oorloë by lande ingedeel waarvan hulle nooit deel wou wees nie.

Europa is dus tereg swanger en een of ander tyd gaan daardie vyf babastate gebore word.

Afrikaners wat selfbeskikking nastreef, kan gerus by hierdie streke gaan leer oor die bou van ‘n sterk onafhanklikheidsbeweging, en die belangrikheid van meerderheidsbesetting in ‘n geografies afgebakende gebied. Slegs dan sal ons ook ernstig oor onafhanklikheid kan begin dink. Sonder ‘n werklikheid op die grond bly die strewe na selfbeskikking net ‘n droom.